Wie is jou Beminde? (Deel 2 van Wie is die Bruidegom?)

Deur Yolandie Mostert (31 Maart 2023)

Hierdie is die tweede deel in ‘n reeks wat handel oor die openbaring van die Koning vanuit ‘n gedeelte in Hooglied hoofstuk 5. In elke boodskap gaan ek ‘n faset van die karakter van die Koning bespreek.

Voordat ons begin met die individuele karakter eienskappe is dit nodig dat ons konteks kry van waar ons in die verhaal in Hooglied trek. Vir die wat nie so bekend is met hierdie spesiale boek nie, daar is ‘n storielyn in Hooglied en ons reis na geestelike volwassenheid word in elke dialoog en gebeurtenis uitgebeeld.

Indien jy belangstel, kan jy meer inligting kry in my boek wat handel oor Hooglied.

 

Midde Getsémane

Die meisie (die bruid) is in die middel van ‘n Getsémane seisoen. Dis waar ons, nes Jesus, ons eie wil moet neerlê. Getsémane beteken oliepers en dit beskryf presies wat in hierdie tuin gebeur. Ons word gedruk deur omstandighede en die neerlê van ons eie wil, begeertes, ambisies en planne. Deel van die doel van Getsêmane is om die olie vry te stel. Die olywe word gepers in die olyfpers en die olie loop uit. Dis die enigste manier om salwingsolie te kry: persing.

Nog ‘n ding wat in ons Getsémane seisoene gebeur is dat die Here Homself vir ‘n tyd verberg. Die rede hiervoor is geestelike grootword. Uit gevoel in geloof.

Baie keer as die Here besig is om ‘n diep werk in ons binneste te verrig, lyk dit vir mense asof ons buite Sy wil is. Job is ‘n goeie voorbeeld. As gevolg van hierdie wanpersepsie, het die wagte wat vanonderstel was om oor haar siel te waak, ook teen haar gedraai. Wagte simboliseer geestelike leierskap. Ons lees in vers 7 dat hulle haar gewond het en die mantel van beskerming van haar weggeneem het. Getsémane stroop ons ook van afhanklikheid van mense en sisteme.

En dis waar sy trek in ‘n neutedop. Haar situasie lyk buite die Here se wil. Sy geniet nie meer die beskerming van geestelike leiers nie. Dit lyk asof die Here haar verlaat het. Hy is stil.

 

Soek Sy hart

Tog, te midde van dit alles, soek sy Hom. Sy soek nie Sy hand nie. Sy vra nie vir uitkoms nie. Sy soek Sy hart. Hoor hoe mooi stel sy dit – haar enigste boodskap aan Hom is dat Sy skoon siek voel van liefde en verlange na Hom.

Ek besweer julle, dogters van Jerusalem, as julle my beminde vind, wat sal julle hom vertel? Dat ek krank is van liefde. (Hgl 5:8) 

Wanneer ons steeds aan die Here vasklou al lyk dit asof Hy ons verlaat het, bewerk dit alreeds ‘n kragtige getuienis sonder om eers ‘n woord te spreek. Dis wanneer mense kan sien dat ons nie net aan ‘n geloof of godsdiens behoort nie. Nee, dis ‘n egte lewenswyse van ‘n verhouding met ‘n persoon. Dis persoonlik en dis hart tot hart.

Ons kan mekaar bemoedig met mooi versierde Bybelversies en boodskappies. Hoor my hart hier asseblief, daar is niks daarmee verkeerd om op so ‘n manier die Evangelie te bevorder nie. Maar as jy krag wil sien, kyk na iemand wat ongeag wat hulle padlangs kom, aan die Here vasklou in liefde. Dis dan nie meer kunsmatig nie. Dit raak dan eg (real).

 

Waar is Hy dan?

Die volgende logiese vraag wat mens gereeld hoor is: “waar is die Here dan?”. Party gaan self so ver om hierdie vraag verwytend te verwoord: “jy dien dan die Here, hoekom lyk jou omstandighede so?” of “hoe kan jy steeds glo?”. Wanneer ons vers 9 lees, is dit presies wat die dogters wil weet. Hoe is dit dat sy Hom steeds soek? Wat maak om beter as ander gelowe en sisteme:

Wat is u beminde meer as ‘n ander beminde, o skoonste onder die vroue—wat is u beminde meer as ‘n ander beminde, dat u ons so besweer het?  (Hgl 5:9) 

 

Sy getuig

Op ‘n antwoord op die vraag van die dogters, begin die meisie (die bruid) te getuig. Dis hierdie getuienis wat ons simbool vir simbool gaan deurwerk. Dis haar verduideliking van wie die Bruidegom vir haar persoonlik is.

 

Die uiteinde

Sonder om die storie te ver vooruit te hardloop, wil ek tog die uiteinde van haar getuienis vooraf noem. Haar leefwyse van totale oorgawe en liefde vir haar Bruidegom het die dogters aangesteek. Die dogters is diegene wat nog nie so ‘n diep pad van intimiteit met die Bruidegom stap nie. As gevolg van dit wat hulle in haar lewe sien en beleef, soek hulle Hom nou ook.

Waar het u beminde heengegaan, o skoonste onder die vroue? Waarheen het u beminde hom gewend, dat ons hom saam met u kan soek? (Hgl 6:1) 

 

Mag ons elkeen ‘n persoonlike openbaring van EK IS hê en mag dit ons oorrompel en inneem sodat ons altyd Sy hart sal soek in alle omstandighede. Dat ons altyd na Hóm sal verlang en nie net na uitkomste uit omstandighede nie.

En hulle het hom oorwin deur die bloed van die Lam en deur die woord van hulle getuienis, en hulle het tot die dood toe hulle lewe nie liefgehad nie. (Open 12:11) 

 

In die volgende deel begin ons met haar eerste beskrywing: “My beminde…”

 

Skakels

Om na die inleiding te luister asook die Woord deur die Heilige Gees rakende hierdie reeds, kliek hier.

Die audio weergawe van hierdie boodskap is beskikbaar op ons telegram kanaal: https://t.me/+1hYU7h46Jj1hZDc8

css.php