Wie is die Bruidegom – Deel 1

Deur Yolandie Mostert (27 Maart 2023)

 

Ons is leef tans in die tydperk van die afsluiting van die huidige eeu. Nou, meer as ooit tevore is dit noodsaaklik dat ons die Bruidegom in al Sy fasette moet leer ken en liefkry. Om Hom werklik te ken maak ons identiteit en outoriteit vas. Dit hou ons ook gegrond in nugterheid.

Nog ‘n belangrike rede, maar nie so bekend nie, is sodat ons nie aan Hom sal aanstoot neem nie. Ons eerste reaksie sal net soos die dissipels wees: “Here, ek sal nooit aan U aanstoot neem nie”. Tog hoor mens gereeld uitsprake soos: “Die Here gaan jou straf”, “Hoe kan ‘n God van liefde dit toelaat?” of “Die Here sal dit nooit laat gebeur nie”. Hierdie is alles uitsprake gebasseer op die mens se beeld van hoe die Here is.

 

‘n Eie beeld

Vir sommige mense is Hy Liewe Jesus van die Kinderbybel met die skapies en kindertjies op Sy skoot. Vir ander is Hy ‘n harde God met ‘n sweep wat net wag om te straf. So het meeste mense ‘n beeld gevorm van wie hulle dink die Here is. Dis ‘n harde stelling wat ek nou gaan maak, maar dan word daardie beeld aanbid en nie die Here self nie.

Kom ons sê dat iemand ‘n baie harde beeld van die Vader het en daar word teen die persoon oortree met iets baie ernstig. In die persoon se seer en woede word die woorde geuiter: “die Here gaan jou straf”. Maar die Here straf dalk nie soos wat daar van Hom verwag word nie. Die Here is dalk genadig op die persoon. Mense raak dan kwaad vir die Here. Die wortel van die rede is dat die Here nie opgetree het binne die raamwerk van ‘n menslike verwagting nie.

Nog ‘n voorbeeld is iemand wat glo dat die Here slegs genade en liefde is en dat Hy verander het tussen die Ou en Nuwe Testament. So ‘n persoon neem dan kwaai aanstoot wanneer daar van vloeke, reg en geregtigheid gepraat word. “’n God van liefde sal tog nie dit of dat doen nie”. Ek dink nou sommer aan ‘n voorbeeld wat ek onlangs beleef het. Die persoon kon net nie insien dat dit die Here self is wat die dwaling stuur sodat die leuen geglo word na mense wat die waarheid verwerp. Hulle glo dat alles wat ongemaklik vir die mens is van die duiwel kom en alles wat seën en wonderlik is van die Vader kom. Die probleem is dat dit menslike begrippe van seën en wonderlik is. In hulle prentjie van hoe die Here behoort op te tree sluit verseker nie die stuur van dwaling in nie.

Al drie hierdie voorbeelde is van persone wat nie die volheid van die Here se karakter en wese leer lief kry het nie. Hulle ken slegs die faset wat by hulle persoonlikheid en verwysingsraamwerk van hoe ‘n God behoort op te tree inpas.

En salig is elkeen wat aan My nie aanstoot neem nie. (Matt 11:6) 

Daar is soveel fasette aan die die Here se karakter dat ons dit nooit sal regkry om alles van Hom te ontdek nie. Tog openbaar Hy baie van Homself deur die Skrifte. Hy is altyd getrou aan Sy totale karakter. Hy is liefde, maar Hy is ook oordeel. Hy is genadig, maar hy is ook regverdig.

Ons het nodig om elke fasset van Sy karakter intens lief te kry, anders gaan ons dalk aan Hom aanstoot neem wanneer Hy anders lyk of optree as wat ons verwag. Hy waarsku ons immers nie verniet daarteen nie.

 

Die Bruidegom in Hooglied

Hierdie volgende paar boodskappe gaan handel oor die fasette van die Bruidegom wat in Hooglied uitgewys word. Dis versteek in ryk simboliek en ek gaan dit oopsluit met die sleutels wat ek huidiglik by die Heilige Gees ontvang het. Onthou, daar is altyd nog dieper openbarings wat vir die wag wat soek.

Dit is die wil van die Vader om die Seun aan ons te openbaar. Maar daar is twee vereistes: liefde en gehoorsaamheid.

Wie my gebooie het en dié bewaar, dit is hy wat My liefhet; en wie My liefhet, hóm sal my Vader liefhê, en Ek sal hom liefhê en My aan hom openbaar. (Joh 14:21)

Alles is aan My oorgegee deur my Vader; en niemand weet wie die Seun is nie, behalwe die Vader, en wie die Vader is nie, behalwe die Seun en hy aan wie die Seun dit wil openbaar. (Luk 10:22)

 

Goddelike openbaring is nodig

Ons sal nooit die Bruidegom se diepste essensie kan ontdek sonder Goddelike openbaring nie. En die Vader gaan dit nie openbaar aan die wat nie in radikale liefde en gehoorsaamheid wandel nie. Na die mate wat ons luister en doen en na die mate wat ons Vader, Seun en Heilige Gees sowel as ons naaste liefhê, gaan ons dieper openbarings van die Seun ontvang.

In die vorige boodskappe het ek heelwat gedeel oor ons trotse natuur. Hierdie vyand steek sy vieslike kop orals uit. En net soos wat dit ‘n dieper verhouding met die Here blokkeer, so verhoed dit ook dieper openbarings van die volle karakter van die Here.

Hierdie eerste gedeelte in Jesaja 57:15 spreek altyd diep tot my hart:

For the high and exalted One He who inhabits eternity, Whose name is Holy says this, “I dwell on the high and holy place, but also with the contrite and humble in spirit.

Die ewigheid is nie groot genoeg om ons heilige, wonderlike, groot God te bevat nie. Tog kies Hy wat op hoë en heilige plekke leef om ‘n woning te maak met die nederige van gees.

 

Skakels

Om na die inleiding te luister asook die Woord deur die Heilige Gees rakende hierdie reeds, kliek hier.

Die audio weergawe van hierdie boodskap is beskikbaar op ons telegram kanaal: https://t.me/+1hYU7h46Jj1hZDc8

css.php