(3 Julie 2022 – Yolandie Mostert)
Ons temateks vir hierdie lering kom uit Jeremia 1:11-12.
Verder het die woord van die HERE tot my gekom en gesê: Wat sien jy, Jeremia? En ek antwoord: Ek sien ‘n amandeltak. Toe sê die HERE vir my: Jy het goed gesien, want Ek is wakker oor my woord om dit te volbring.
Die woord sien kom 1 123 keer in die skrif voor. Die woorde oog, oë en aanskou gekombineerd, kom 1 121 keer voor. Tesame word daar dus oor die 2 000 keer gepraat oor dit wat ons met ons oë sien. Dis nie sommer maar net ‘n paar verwysings nie – dis baie keer en herhaling in die Bybel beklemtoon belangrikhede.
Wanneer ons dan hierdie Skrifte bestudeer, kan ons sien hoe belangrik dit is om oë te kan hê om te sien. Die Here vra telkemale vir Sy profete: “wat sien jy?”. Tussen Jeremia, Amos en Sagaria is hierdie vraag sewe maal gevra.
Sien ons goed?
Dis so mooi in Jer 1:11-12 waar die Here vir Jeremia sê dat hy goed gesien het. By implikasie kan ons dan aflei dat dit moontlik is om nié goed te sien nie, dus half te sien, sleg te sien of glad nie te kan sien nie. Hierdie vers in Markus sê dieselfde:
Mark 8:18 Het julle oë en sien julle nie? En het julle ore en hoor julle nie?
Wat belemmer ons sig?
Soos ek deur die Skrifte saam met die Heilige Gees gewerk het, kon ek hierdie ses dinge identifiseer wat keer dat ons nie so mooi kan sien nie. Ons gaan stapsgewys deur elkeen van hierdie belemmerings werk.
- Blindheid
- Verblind
- ‘n Sluier of bedekking
- Iets in ons oog
- Donkerheid
- ‘n Filter
Opregtheid van ons hart
Voordat ons deur hierdie belemmerings werk, wil ek dit duidelik maak. Geestelike blindheid en die opregtheid van ons harte het nie baie in gemeen nie. Baie keer dink mense omdat hulle opreg teenoor die Here is, dat hulle outomaties verlig is. Dis nie die waarheid nie. Daar is so baie mense met mooi, opregte harte wat in geweldige gebondenheid is. Jy kan toegewyd en getrou wees en steeds sukkel met geestelike verblindheid. Tot ‘n sekere mate kon ons hierdie blindheid geërf het, maar hoe ons lewe en glo het ‘n groot impak. Moenie jou opregtheid verwar met lig en hierdie lering eenkant toe skuif as nie op jou van toepassing nie.
Blindheid
Wanneer jy in die natuurlike blind is, het jy nie die fisiese vermoë om te kan sien nie. Dit werk dieselfde geestelik. Iemand wat geestelik blind is, kan letterlik nie die waarheid of situasie sien nie. Dit maak nie saak hoeveel keer iemand die waarheid verduidelik of hoeveel keer hulle ‘n saak oordink nie, hulle het letterlik nie die vermoë om te kan sien nie. Dis ‘n baie gevaarlike situasie om in te beland en ons moet regtig vir die Heilige Gees vra om ons te wys of ons dalk blind is vir sekere dinge.
So hoe raak ons geestelik blind?
Hierdie is nie ‘n lekker een om te erken nie, maar wanneer ons herhaaldelik ons harte toemaak vir die waarheid en vir die lig, dan sê die Skrif dat die Here self ons oë verblind sodat ons nie kan sien nie. Elke keer wanneer daar ‘n stukkie waarheid en lig aan ons verkondig of gedemonstreer word en ons dit verwerp, vorm daar ‘n harde lagie oor ons oë en oor ons harte. Ons kan nie die vyand blameer vir geestelike blindheid nie en maak nie saak hoeveel keer jy die vyand gaan weerstaan of wil veg nie, dit gaan absoluut niks help nie. Slegs die Here self kan ons van ons geestelike blindheid genees, maar ons gaan moet oopwees vir die moontlikheid dat daar dalk blindheid kan wees en vra dat Sy Heilige Gees dit vir ons uitwys.
Joh 12:40 Hy het hulle oë verblind en hulle hart verhard, sodat hulle nie met die oë sou sien en met die hart verstaan en hulle bekeer en Ek hulle genees nie.
Maak of ons kan sien
As gevolg van trots en geestelike hoogmoed, wil ons baie keer nie erken kan dat ons geestelike blind is nie. Onthou ook dat ons geestelik blind in een opsig kan wees en duidelik in ‘n ander opsig kan sien. Dis nie óf die een óf die ander in hierdie geval nie. Geestelike blindheid het ook niks te doen met hoeveel jare jy al die Here dien, wie jou familie is en wat jou kerkverband is nie. Daar is so baie mense wat al jare gelede tot bekering gekom het en stokblind is. Wat hartseer is, is dat hulle nie weet hulle is blind nie.
As ons tog net kan erken en bely, kan die Here ons help. Maar nou hou ons hierdie perfekte prentjie voor en daarom kom ons nooit vry nie.
Joh 9:41 Jesus antwoord hulle: As julle blind was, sou julle geen sonde hê nie; maar nou sê julle: Ons sien! Daarom bly julle sonde.
Voorbeelde:
Ons kan blind wees vir sekere leringe byvoorbeeld bevryding. Dalk is ons die vals doktrine geleer van ‘alles is nuut’ en jy moet dit net glo. Mense gaan in selfverwyt en ongeloof want hulle lewens val uitmekaar. Hulle is sieklik, sukkel met gebondenhede en lewe ‘n val en opstaan lewe. Op ‘n dag word die waarheid verkondig en hulle stoot dit dalk weg. Of omdat hulle bang is om weer hulle pyn in die sig te staar of omdat hulle dit bloot net nie glo as waarheid nie. Ander sal sê: “alles is reg, ek fokus net op Jesus”, terwyl hulle lewe ‘n heel ander storie vertel. Hoe meer ons die waarheid wegstoot, hoe minder kan ons die waarheid insien. Met ander woorde, ons is geestelik blind. Maar nou sê so ‘n persoon dat hulle kan sien, en daarom word hulle nooit genees nie.
Nog ‘n voorbeeld is die doop van die gelowiges (in die volksmond: grootdoop). Keer op keer word die waarheid weggestoot. Dalk is daar aanvanklik ‘n filter van hoe die persoon geleer is, later raak dit dalk verblinding. Maar dan kom daar ‘n dag wat hulle net glad nie die waarheid kan herken of erken nie. Totale geestelike blindheid. Net die Here kan die oë van ‘n blinde open.
Verblind
In die natuurlike, word ons verblind deur skerp lig. Johannes vertel ons van ‘n heel ander soort verblinding – verblinding deur duisternis. Dis ‘n konsep wat vreemd vir ons klink – hoe kan duisternis jou oë verblind? Maar dis presies wat gebeur wanneer daar haat in ons hart is.
1 Joh 2:9,11 Hy wat sê dat hy in die lig is en sy broeder haat, is in die duisternis tot nou toe. Maar hy wat sy broeder haat, is in die duisternis en wandel in die duisternis en weet nie waarheen hy gaan nie, omdat die duisternis sy oë verblind het.
Ons mag dalk dink ons wandel in waarheid en lig. Ons mag selfs glo dat ons deur die Gees lewe en nie deur die vlees nie. Ons glo dalk werklik dat ons eerbaar is en die Here welbehaaglik is. Tog is die Skrif duidelik en leer ons anders: al glo, dink of sê ons dat ons in die lig wandel, maar ons haat ons broer (of suster), is ons eintlik vasgevang in duisternis. Net soos ‘n bokkie of haas in ‘n motor se skerp ligte vasgevang is, so vang hierdie haat ons in duisternis vas en ons kan nie links of regs beweeg nie. Die Skrif sê dat ons wandel, maar nie weet waarheen ons gaan nie. Ons is verblind.
Die eie ek in ons sal nou vinnig opstaan en sê “ek haat nie”. Hoor bietjie die betekenis van die woordjie haat: om haatdraend teen oor iemand te wees, om ‘n afsku in iemand te hê, om iemand te vervolg, om iemand minder lief te hê. Dit beweeg nou bietjie nader aan huis – wanneer ons as gevolg van omstandighede iemand minder lief hê, beweeg ons stadig maar seker oor van die pool van liefde na die pool van haat. Voor ons ons kry, begin ons sleg praat van die persoon. Hoe meer ons sleg praat, hoe meer kry ons ‘n afsku en skielik is ons verblind deur die duisternis.
Om verblind te wees beteken dat jy niks anders kan sien as dit wat jou verblind nie. In hierdie geval: duisternis.
‘n Voorbeeld:
Jou broer of suster in die Here het jou dalk skade berokken. Hy mag dalk daarvan bewus wees, of dalk glad nie. Wanneer jy as gevolg hiervan minder lief vir die persoon is, beweeg jy nader aan die pool van haat en duisternis kom in. Die duisternis verblind jou geestelik en blokkeer die heerlikheid van Christus wat jy moet aanskou sodat jy in Sy beeld kan groei. Letterlik is jy vasgevang soos die voorbeeld van die bokkie in ‘n kar se ligte. Jy staan geestelike stil en kan nie vorentoe beweeg nie. Daar is voorgeskrewe maniere in die Skrif om onenigheid uit te sorteer en moet haastig werk maak daarvan.
‘n Sluier of bedekking
Net soos ‘n sluier in die fisiese dit wat ons sien beperk, net so werk dit in die geestelike. ‘n Geestelike sluier veroorsaak dat wanneer ons na ‘n situasie, persoon of waarheid kyk, ons slegs stukkies van die waarheid kan sien. Die weefwerk van die sluier steek gedeeltes van die waarheid weg. Ons dink ons sien die volle prentjie en besef nie dat daar ‘n beperking is nie. Sommige sluiers is so dik dat jy nie eers deur die weefwerk kan sien nie.
Paulus beskryf so ‘n bedekking aan die kerk in Korinte. Omdat die Jode nie Jesus Christus herken en erken het nie, het daar ‘n bedekking oor hulle gekom. Daardie bedekking kan slegs deur die Een vernietig word wat hulle nie wou erken nie. Die hardheid van hulle godsdienstigheid het veroorsaak dat hulle nie die volle waarheid kon sien nie, maar slegs stukkies.
2 Kor 3:14 Maar hulle sinne is verhard. Want tot vandag toe bly by die lesing van die Ou Testament dieselfde bedekking sonder dat dit opgelig word, die bedekking wat in Christus vernietig word.
Wanneer ons nie deur die Heilige Gees lewe nie, maar deur wette, reëls en regulasies, kom daar ook ‘n bedekking oor ons wat veroorsaak dat ons nie Jesus Christus in Sy volheid kan ken nie. Ons loer deur die gaatjies van die weefwerk en sien ‘n beperkte beeld. Slegs ‘n lewe wat direk en eerstehands gelei word deur die Heilige Gees, bring vryheid.
Ons kan slegs verander word in die beeld van Jesus Christus wanneer ons Hom met onbedekte oë kan aanskou.
2 Kor 3:18 En terwyl ons almal met onbedekte gesig soos in ‘n spieël die heerlikheid van die Here aanskou, word ons van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid, as deur die Here wat die Gees is.
Daar is ‘n paar Skrifte in die Bybel wat my laat sidder. Hierdie is een van hulle. Ek glo dit verduidelik die kruks van ‘n geestelike bedekking. Wanneer ons keer op keer die waarheid verwerp, dan stuur God die krag van die dwaling sodat ons die leuen sal glo. Nie die duiwel nie. Die Here self. Dit vorm ‘n lagie oor ons oë en al staan die waarheid lewensgroot voor ons, is ons bloot nie instaat om dit te herken as die waarheid nie.
2 Thess 2:10b-11 omdat hulle die liefde tot die waarheid nie aangeneem het om gered te word nie. En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo
Voorbeelde:
‘n Ooglopende voorbeeld sal wees ‘n sluier wat ‘n sekte oor sy lidmate gooi. Die wat buite staan, kan baie duidelik die vals leringe en eie gewin herken, maar die persoon binne die sekte kan nie sien nie. Daar is ‘n sluier oor so ‘n persoon en moet verwyder word deur berou en bekering.
‘n Nader aan die hart voorbeeld: ‘n sluier van vals leringe binne die kerk. Dink byvoorbeeld hoeveel mense gee hulle hele maand se salaris weg omdat ‘n voorspoedsprediker seëninge belowe. Ander beland onder ‘n sluier van godsdienstigheid en probeer allerhande reëls en regulasies onderhou omdat dié of daai prediker dit as wet voorskryf. Die Kundalini gees gooi ook so ‘n sluier oor kinders van die Here deur vals gawes en manifestasies. Hierdie sluier blokkeer so ‘n persoon op alle gebiede en verwar die stem van die ware Gees van die lewende God met die van ‘n bose gees. Die persoon dink hy of sy hoor die Here se stem, maar die teendeel is ongelukkig waar.
Iets in ons oog
Ek besef al hoe meer dat trots en geestelike hoogmoed sy lelike vingers orals indruk – ook in geestelike blindheid en blokkasies. Omdat ons gewond is, gebruik ons trots om ons seer vir die wêreld weg te steek. Ons gee voor dat ons nie gewond is nie of dat dit ons nie affekteer nie. Partymaal vertel ons hierdie leuen so baie keer vir onsself, dat dit ons waarheid word. Omdat die seer steeds daar sit (net diep weggesteek), hou ons ‘n beeld voor wat gegrond is in die leuen van ‘ek kan self’ in plaas van dat ons net in ons gebrokenheid uitroep: “Here, help my, ek kan myself nie help nie.”
Die volgende verdedigingsmeganisme is om na ander te kyk in plaas van binnetoe kyk. Ons sien al die probleme, gewondheid, trauma, reaksies en gebondenheid in ander raak, maar is nie instaat om ons eie dinge raak te sien nie. Trots maak van ons kritiese mense wat baie vinnig vingers na ander wys terwyl ons nie eers bewus is van ons eie kondisie nie. Jesus verduidelik dit so:
Luk 6:41-42 En waarom sien jy die splinter in die oog van jou broeder, maar die balk wat in jou eie oog is, merk jy nie op nie? Of hoe kan jy vir jou broeder sê: Broeder, laat my toe om die splinter wat in jou oog is, uit te haal, terwyl jy self die balk wat in jou oog is, nie sien nie? Geveinsde, haal eers die balk uit jou oog uit, en dan sal jy goed sien om die splinter wat in jou broeder se oog is, uit te haal.
Stel jouself voor om iets in jou oog te hê, iets so groot soos ‘n balk, maar jy kom dit nie eers agter nie. Terwyl daardie groot blokkasie in jou eie oog sit, sien jy die klein splintertjie raak in die persoon voor jou se oog. Is dit nie waarvan die Skrif praat dat ons wat oordeel, skuldig is aan dieselfde dinge nie? ‘n Balk en ‘n splinter kom beide van hout. Die realiteit is dat my eie gebondenheid dalk baie groter is as die persoon waarmee ek foutvind.
Rom 2:1 Daarom is jy, o mens wat oordeel, wie jy ook mag wees, sonder verontskuldiging; want waarin jy ‘n ander oordeel, veroordeel jy jouself; want jy wat oordeel, doen dieselfde dinge.
‘n Voorbeeld:
‘n Persoon wys dalk ‘n vinger na iemand wat op ‘n sekere manier optree, dalk kinderagtig of oordrewe. Baie moonlik het die veroordeelde persoon soveel seer en trauma beleef en reageer vanuit sy of haar wonde. Die een wat die vinger wys, het sy eie pyn, maar hanteer dit dalk op ‘n heel ander manier. Dalk deur sterk te staan, dalk deur uitblok of ignoreer, miskien deur aggressie of oordrewe perfeksionisme. Alhoewel die vrug baie anders lyk, is die wortel van die optrede dieselfde. Dis baie makliker om ‘n splinter raak te sien, iemand wat jou irriteer. Wat die irritasie eintlik moet doen, is om ons te lei tot selfondersoek. Hoekom irriteer die persoon my? Is daar dalk iets in myself wat dieselfde dink, glo of doen?
Donkerheid
Wanneer daar ‘n blokasie in ons oog is wat ons sig belemmer, keer dit die hoeveelheid lig wat kan inkom. Na die mate wat ons reg kan sien, is daar lig in ons gees en siel. Wanneer dit so donker rondom ons is en ons geen lig deur ons oë kan inlaat nie, kom daar ‘n duisternis binne ons. Die probleem kom in wanneer ons nie wil erken dat daar ons oog dalk nie so mooi sien of dat daar dalk duisternis binne ons mag wees nie. Die Skrif waarsku ons dat ons moet seker maak dat dit wat wel binne ons is lig is en nie duisternis nie. Ons wandel dalk in selfregverdiging en ontkenning en glo regtig dat ons uitgesorteer is, maar in werklikheid is daar duisternis binne ons.
Luk 11:34-35 Die lamp van die liggaam is die oog. As jou oog dan reg is, is jou hele liggaam ook verlig; maar as dit verkeerd is, is jou liggaam ook donker. Pas dan op dat die lig in jou nie duisternis is nie.
Die Amplified vertaling verduidelik dit so:
Luk 11:34-35 (AMP) The eye is the lamp of your body. When your eye is clear [spiritually perceptive, focused on God], your whole body also is full of light [benefiting from God’s precepts]. But when it is bad [spiritually blind], your body also is full of darkness [devoid of God’s word]. Be careful, therefore, that the light that is in you is not darkness.
Die enigste manier waarop ons 100% seker kan wees dat ons oog lig inlaat is om oop te wees vir die moontlikheid dat ons oog dalk duisternis inlaat. As ons nie oop daarvoor is nie, sal ons nooit saam met die Heilige Gees werk maak nie en sodoende in duisternis bly.
Onthou, net soos met blindheid, kan jy op sekere gebiede lig inlaat en ons ander gebiede duisternis. Hierdie Skrifgedeelte is nie op ongelowiges van toepassing nie, maar op ek en jy.
‘n Filter
Die laaste moontlikheid wat veroorsaak dat ons nie die volle prentjie kan sien nie, is ‘n filter oor ons oë. Dis amper soos ‘n sonbril of die sonfilters wat ons gebruik het om na die sonsverduistering te kan kyk. Party filters het ander kleure en jy sien die wêreld as skakerings van rooi, blou of watter kleur ookal.
In geestelike taal beteken dit dat ons na die wêreld kyk vanuit ons perspektief. Ons mag dalk ‘n bril of filter ophê van pyn, haat, kompromie of misplaaste identiteit. Wanneer ‘n situasie ons padlangs kom en ons met ‘n filter kyk, versag of verhard dit die waarheid en ons vorm ‘n opinie oor die situasie wat nie waar is nie. Met ander woorde, ons glo ‘n leuen.
Die Skrif noem hierdie filter ‘n oog wat verkeerd kyk
Dis ‘n oog wat deur ‘n filter kyk en gewoonlik is daardie filter ons eie opinie, belang of verwysingsraamwerk.
In die volgende vers het die persoon in die gelykenis deur ‘n filter van sy eie regstelsel (reg en verkeerd) na die situasie gekyk en tot ‘n slotsom gekom.
Matt 20:15 Of staan dit my nie vry om met my eie goed te maak wat ek wil nie? Of is jou oog verkeerd, omdat ek goed is?
Hierdie situasie speel hom elke dag in ons lewens af. Mense kyk na ‘n persoon of situasie en gebruik hulle interne kompas om ‘n oordeel te vel. Soms sonder al die feite of deur sommige van die feite te ignoreer. Dis nie ‘n regverdige uitspraak of oordeel nie. ‘n Persoon se identiteit lê dalk in sy geld, sy werk, sy familie of vriende. Wanneer iets sy padlangs kom wat daardie identiteit bevraagteken, reageer so ‘n persoon vanuit daardie filter.
Dis nie maklik om die suiwer, harde waarheid in die oë te staar en daarvoor lief te wees nie. Maar dit en niks minder as dit is wat Jesus van ons verlang nie. Slegs wanneer ons ‘n pad van genesing, bevryding en restourasie saam met die Heilige Gees gestap het, sal ons tot geestelike volwassenheid kan groei en instaat wees om dit te kan doen.
Joh 7:24 Moenie oordeel volgens wat julle sien nie, maar oordeel ‘n regverdige oordeel.
Mense soos bome
Ons lees van die blinde man wat genees is deur Jesus, maar wat steeds die wêreld deur ‘n filter gesien het. Dit was sy waarheid. Ons eie waarheid is baie eg (real) vir onsself. Dis dan wat ons met ons eie oë sien, net soos hierdie man geglo het mense en bome lyk dieselfde. Dit was nodig vir verdere herstel sodat sy interpretasie van die waarheid ook reg kon wees.
Mar 8:24-25 En hy kyk op en sê: Ek sien die mense, want ek sien hulle soos bome rondloop. Daarna lê Hy weer die hande op sy oë en laat hom opkyk, en hy is herstel en het almal van ver af duidelik gesien.
“Wat sien jy Jeremia?”
Jerermia antwoord: “Ek sien ‘n amandeltak”
Die Here sê: “Jy het goed gesien…. Want…“ en die uitleg volg.
Ons sien dat die Here ‘n beeld of gesig vir Jeremia wys en hom vra wat hy sien. Indien Jeremia geestelik blind of verblind was, sou hy dalk geantwoord het dat hy niks sien nie. Jeremia kon dalk deur ‘n filter gekyk het en ‘n kersiebloeisel tak gesien het of dalk net ‘n tak of ‘n bloeisel.
Vir Jeremia om presies te kon sien wat die Here hom wys, niks minder en niks meer nie, moes daar nie ‘n balk in sy oog gewees het nie, hy moes in liefde met sy broers geleef het en hy moes erkentelik gewees het vir moontlike duisternis in sy eie hart.
Jeremia het goed gesien. Hierdie paar woorde vul my met soveel hoop en opgewondenheid. “Abba Vader, skyn U lig in en oor my en wys enige vorm van duisternis uit wat veroorsaak dat ek nie goed kan sien nie”. Ek wil ook soos Jeremia goed kan sien. Ek wil kan sien sonder filters, sonder balke of splinters, geen verblinding; net suiwer Goddelike lig en waarheid sonder belemmerings.
‘n Ander amandeltak
Die Skrif vertel ons van ‘n ander amandeltak. Toe die oudstes in rebellie gekom het teen die Here se orde, het die Here ‘n duidelike openbare teken gedoen. Aäron se uitverkiesing as priester is bevestig en ‘n bloeiende amandeltak was die teken.
Num 17:8 En toe Moses die volgende dag in die tent van die Getuienis ingaan, kyk, daar het die staf van Aäron, vir die huis van Levi, gebloei: dit het bloeisels laat uitspruit en blomme laat oopgaan en amandels laat ryp word!
Om ‘n amandeltak te kan uitken, moet daar amandelbloeisels, blare of neute op wees. Anders lyk dit maar net soos enige gewone tak. ‘n Amandeltak wat bloeisels of neute dra spreek van Goddelike lewe, wonderdade en die Here se orde. Dit spreek van die Here se wil en raadsplan. Dit spreek van Sy woord wat nooit ledig kan terugkeer nie. Hy is wakker is om Sy woord te volbring.
Die oudstes was in geestelike blindheid. Hulle was opstandig teen die Here se orde en aanstellings. Geestelike blindheid is baie keer as gevolg van trots. Hulle was oudstes, leiers van die volk, maar hulle oë was verblind deur die duisternis van rebellie teen God se orde. Die uiteinde was ‘n lewelose amandeltak – geen blare, geen bloeisels, geen vrug.
Wat is Sy woord?
Die Here gee self die betekenis van die gesig vir Jeremia: ‘n amandeltak want die Here is wakker oor Sy woord om dit te volbring.
Daar is beloftes en profesieë opgeteken in die Skrif en die woorde van die Here keer nooit leeg terug nie. Hy is wakker oor Sy woord en sal dit volbring. Een van die beloftes waarop ek vandag wil fokus is:
Fil 1:6b Hy wat ‘n goeie werk in julle begin het, dit sal voleindig tot op die dag van Jesus Christus
Die dag toe ons weergebore was en erns begin meen het met die Here, het daar ‘n belofte ingeskop, of ons nou daarvan bewus is of nie. Die Here sal ons bewaar en Hy sal die goeie werk wat Hy in ons begin het, voltooi. Sy woord sal volbring word – Hy sal dit voltooi.
Daar is seer en gebondenheid binne ons, soms soveel lae op lae, en ons is nie eers behoorlik daarvan bewus nie. Ons mag dalk bewus daarvan wees, maar onderdruk dit. Of ons glo dalk net regtig die leuen dat almal anders met dit sukkel, net nie ons nie. Ongeag ons posisie rondom ons eie heiligmaking, Sy woorde staan vas en Hy sal dit volbring.
Vrug dra
Joh 15:2 Elke loot wat in My nie vrug dra nie, neem Hy weg; en elke loot wat vrug dra, dié maak Hy skoon, sodat dit meer vrug kan dra.
Net soos die Vader wakker is om Sy woord te volbring, net so is Hy ernstig dat ons moet vrug dra. So ernstig, dat wanneer ons nie vrug dra nie, loop ons die risiko om uitgekap of weggeneem te word. Daarom maak Hy ons skoon en doen al die dinge wat ‘n landbouer doen sodat sy wingerdstok oorvloedig vrug kan dra.
Wanneer die vrug van bekering nie in ons lewe aanwesig is nie, mag die lewe dalk vir ons ongemaklik begin raak. Hoekom? Want die Here is wakker om Sy woord te volbring en die dag toe ons Jesus Christus tot redding aangeroep het en ons lewe vir Hom gegee het, het ons pad van heiligmaking begin. Die skoonmaakproses raak met tye pynvol, maar na die mate wat ons saam met die Heilige Gees werk, vergemaklik ons dit. Dis wanneer ons in trots, hoogmoed, rebellie, murmering en ondankbaarheid kom, wat die Here meer dinge oor ons toelaat sodat ons die kondisie van ons trotse harte kan raaksien en ons bekeer.
En wanneer ons vrug dra? Wel, dan maak Hy ons skoon sodat ons nog meer vrug kan dra. Dis ‘n konstante proses van skoonmaak en meer vrug dra.
Job
Job was iemand wat baie vroom was. Sy hart was opreg en hy het probeer om die regte ding te doen. Uit die Skrif lyk dit nie asof Job bewus was van enige tekortkominge in homself nie. Alles het mooi geloop. Hy was geseënd en beskermd. Hy het na die armes gekyk en vir sy kinders gebid.
Maar… die Here kyk dieper as ‘n mens en Hy kyk baie dieper binne ons eie harte as wat ons ooit kan sien. Die Here het diep in Job se hart onder andere vrees en trots gesien. Omdat die Here wakker is oor Sy woord om dit te volbring en ons nooit net sal los soos ons is nie, het die Here ingetree.
Vir 40 hoofstukke lank sien ons hoe Job met God worstel. Dit was nodig sodat die Here lagie vir lagie se belemmering van Job se oë kon afhaal. Job moes sy eie hopelose kondisie sien en besef. Daarmee saam sal ons nooit die Here se heerlikheid kan sien en Hom kan ken as ons oog nie goed sien nie.
Die laaste belemmering wat verwyder moes word was trots.
Die hele hoofstuk 41 vertel ons van die onmoontlikheid om oorwinning oor trots (Leviatan) te kan kry. Dit vul jou amper met ‘n hopeloosheid – hoe sal ons ooit kan vrykom van hierdie magtige invloed. Dan besef ons regtig dat dit slegs die Bloed van die Lam is wat ons kan help.
Eers nadat Job met trots afgereken het, kom ons by Job 42 uit, die laaste hoofstuk. Eers tóé was Job se oog helder en skoon sodat hy goed kon sien. En, ó, hoe goed het hy nie gesien nie! Hy vertel hoe hy eers nou vir die eerste keer met sy oog die Here kon sien. Dit bring ons altyd uit tot berou en bekering.
Job 42:3-6 Wie verberg die raadsbesluit daar sonder kennis? So het ek dan gespreek sonder om te verstaan, dinge te wonderbaar vir my, wat ek nie begryp nie. Hoor tog, en ék sal spreek; ek sal U ondervra en onderrig U my! Volgens hoorsê het ek van U gehoor; maar nou het my oog U gesien. Daarom herroep ek en het berou in stof en as.
Daar is dinge wat ons nie nou al kan sien nie
Ons het nodig om in realiteit te bly – verseker gaan ons nie nou al alles van alles kan sien en verstaan nie. Vir party van ons is dit waar dat om meer te sien diepere geestelike hoogmoed sal veroorsaak. Trots en hoogmoed is ons grootste vyand en blokkasie teen die volheid wat vir ons bestem is.
Maar… ek glo ons behoort baie beter te kan sien as wat ons huidiglik sien. Daar is nie een van ons wat kan kleim dat daar nie ‘n mate van geestelike verblindheid, balk in die oog of belemmering is nie.
1 Kor 13:12 Want nou sien ons deur ‘n spieël in ‘n raaisel, maar eendag van aangesig tot aangesig. Nou ken ek ten dele, maar eendag sal ek ten volle ken, net soos ek ten volle geken is.
Herstel van gesig – ons moet vra
Elkeen van ons het ‘n desperate behoefte na herstel van ons geestelike visie. Die noodsaaklike ding is dat ons dit self moet erken. Solank ons in ontkenning is, gaan ons geestelik blind bly.
Net soos die blinde man in Mark 10:51, moet ons ook vra vir ‘n wonderwerk
En Jesus antwoord en sê vir hom: Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen? En die blinde man sê vir Hom: Rabbóni, dat ek mag sien.
Beloftes van sig
Die beloftes is daar. Die Bloed van die Lam het reeds betaal vir verlossing van sluiers, bedekkings, balke en filters. Mag ons desperaat wees en ons eie hulpeloosheid besef en erken. Sonder hierdie stap gaan die beloftes vir ewig opgeskryf wees met geen wesenlike toepassing op ons lewens nie.
Jes 42:6-7 Ek, die HERE, het U geroep in geregtigheid, en Ek vat u hand en behoed U en gee U as ‘n verbond van die volk, as ‘n lig van die nasies, om blinde oë te open; om gevangenes uit die kerker uit te lei, uit die gevangenis diegene wat in die duisternis sit.
Ps 146:8 Die HERE open die oë van die blindes; die HERE rig die wat geboë is, op; die HERE het die regverdiges lief.
Jes 42:16 En Ek sal blindes lei op ‘n weg wat hulle nie ken nie, hulle laat loop op paaie wat vir hulle onbekend is; Ek sal die duisternis lig maak voor hulle uit en die hobbelagtige plekke gelyktes. Dit is die dinge wat Ek doen en nie nalaat nie.