Deur Yolandie Mostert (17 July 2022)
Terwyl ek hierdie week in die sitkamer geloop en bid het oor die tema van hierdie week se lering, val my oog op ‘n afdruk van ‘n skildery deur Guy Mitchell. Hy het twee hande geskilder wat ‘n wierookbak vashou. Ek hoor toe die woorde: “Wat is in jou hand?”. Dit was die begin van my bid en soek. Onmiddelik daarna het die Heilige Gees my herinner aan die keer toe die Here vir Moses geroep het by die brandende braambos en vir Moses gevra het: “Wat is in jou hand?”
‘n Staf kry lewe
Toe antwoord Moses en sê: Maar as hulle my nie glo en na my stem nie luister nie, maar sê: Die HERE het nie aan jou verskyn nie? Daarop vra die HERE vir hom: Wat is daar in jou hand? En hy antwoord: ‘n Staf. En Hy sê: Gooi dit op die grond. Toe gooi hy dit op die grond, en dit het ‘n slang geword; en Moses het daarvoor gevlug. Toe sê die HERE vir Moses: Steek jou hand uit en gryp dit aan die stert. Hierop het hy sy hand uitgesteek en dit gegryp, en dit het ‘n staf in sy hand geword— sodat hulle kan glo dat die HERE, die God van hulle vaders, die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob, aan jou verskyn het. (Eks 4:1-5)
Ons lees hoe die Here vir Moses roep en Moses was vol verskonings, nes ons. Dan vra die Here vir Moses wat in sy hand is. Nou, Moses was op daardie stadium van sy lewe ‘n baie ervare herder. Behalwe vir die feit dat ‘n staf ‘n daaglikse gebruiksartikel was, was ‘n kleinvee herder sonder ‘n staf maar net nie ‘n herder nie. Ek wonder of het hy ooit twee maal gedink toe die Here hom vra wat in sy hand is. Miskien moes hy eers mooi kyk. Sy hand was dalk so gewoond aan die gevoel van die staf, dat hy nie eers meer ag daarop geslaan het nie. Nietemin, Moses antwoord die Here met twee eenvoudige woorde: ‘n staf.
Die gebeure wat hierop volg, moes regtig uitdagend vir Moses gewees het. Eers kry hy ‘n opdrag om sy staf op die grond te gooi. Moses is gehoorsaam en die staf kry lewe – dit word ‘n slang. Volgende moet Moses teen die normale natuur die slang aan sy stert gryp. Daar was geen waarborg dat die slang weer ‘n staf sou word nie. Moses het gehoorsaam in blinde geloof.
Die herderstaf word nou ‘n staf van waarheid. Ons lees dat die rede vir die wonderwerk was dat die volk sou glo.
Kom ons kyk na nog drie soortegelyke gebeurtenisse:
Olie kry lewe
En ‘n sekere vrou uit die vroue van die profete-seuns het na Elísa geroep en gesê: U dienaar, my man, is dood, en u weet self dat u dienaar die HERE gevrees het; nou het die skuldeiser gekom om my twee kinders vir hom as slawe te neem. Toe sê Elísa vir haar: Wat kan ek vir jou doen? Gee my te kenne wat jy in die huis het. En sy antwoord: U dienares het glad niks in die huis nie, behalwe ‘n flessie met olie. En hy sê: Gaan leen vir jou van buite af kanne, leë kanne van al jou bure; leen nie te min nie. Gaan dan in en sluit die deur agter jou en jou seuns toe, en giet in al daardie kanne en sit weg wat vol is. Sy het toe van hom af weggegaan en die deur agter haar en haar seuns toegesluit; en terwyl hulle vir haar aanbring, giet sy in. Sodra die kanne vol was, sê sy aan haar seun: Bring vir my nog ‘n kan aan; maar hy antwoord haar: Daar is geen kan meer nie. Toe gaan die olie staan. Daarop kom sy om dit die man van God te kenne te gee; en hy sê: Gaan verkoop die olie en betaal jou skulde; van die orige kan jy en jou seuns dan lewe. (2 Kon 4:1-7)
Die eerste vraag wat die profeet vir die vrou gevra het was: “wat het jy?”. Sy moes ‘n voorraadopname doen en dit wat sy in haar hand het te kenne gegee het. Eers nadat sy geantwoord het, kon die volgende instruksie kom. Weer soos in die geval met Moses het die instruksie glad nie sin gemaak nie. Blinde geloof was weereens nodig. Die laaste bietjie olie was soos saad en sy moes voorberei het vir ‘n groot oes. Stel jouself in haar posisie. Ons het die voordeel van retrospek, ons ken die einde van die storie. Sy het geen benul gehad van wat volgende gaan gebeur nie.
‘n Flessie olyfolie het lewe gekry en lewens gered.
Meel en olie kry lewe
Toe kom die woord van die HERE tot hom en sê: Maak jou klaar, gaan na Sarfat wat by Sidon is, en bly daar; kyk, daar het Ek aan ‘n weduwee bevel gegee om jou te onderhou. Daarop het hy hom gereedgemaak en na Sarfat gegaan; en toe hy by die ingang van die stad kom, was ‘n weduwee juis besig om daar houtjies bymekaar te maak. En hy roep haar en sê: Gaan haal tog vir my ‘n bietjie water in die kan, dat ek kan drink. Terwyl sy loop om dit te gaan haal, roep hy na haar en sê: Bring tog vir my ‘n stukkie brood saam. Maar sy antwoord: So waar as die HERE u God leef, ek het nie ‘n broodkoek nie, net maar ‘n handvol meel in die pot en ‘n bietjie olie in die kruik; en hier maak ek nou ‘n paar houtjies bymekaar; dan gaan ek en maak dit vir my en my seun klaar, dat ons dit kan eet en sterwe. En Elía sê vir haar: Wees nie bevrees nie, gaan heen, doen volgens jou woord; maar maak eers daarvan vir my ‘n broodkoekie en bring dit uit vir my; daarna kan jy vir jóu en jou seun iets klaarmaak. Want so sê die HERE, die God van Israel: Die meel in die pot sal nie opraak en die olie in die kruik sal nie minder word nie, tot op die dag dat die HERE reën op die aarde sal gee. En sy het gegaan en gehandel volgens die woord van Elía; en sy het geëet—sy en hy en haar gesin dae lank: die meel in die pot het nie opgeraak en die olie in die kruik nie minder geword nie, volgens die woord van die HERE wat Hy deur die diens van Elía gespreek het. (1 Kon 17:8-16)
Wat vir my so wonderlik uitstaan in hierdie verhaal is die Here se voorsiening. Hy het reeds die weduwee opdrag gegee en syself het dit nog nie eers besef nie.
Heel eerste word die vrou ‘n vraag gevra: “gee vir my iets om te drink en te eet”. Die vrou kom maklik haar hand toegemaak het en gesê het dat daar niks in haar hand is nie. Niemand sou haar kwalik geneem het nie, die bietjie meel was beswaarlik genoeg vir haar en haar seun. Maar sy steek nie weg wat sy het nie, sy kyk eerlik na dit wat in haar hand is en gee dit te kenne. Nou is die situasie ryp vir die volgende instruksie en die wonderwerk. Ons lees weer van ‘n irrasionele opdrag: goed, gebruik die bietjie bestandele wat jy het en bak eers ‘n broodjie om te gee en daarna kan julle eet. Het die man dan nie gehoor wat sy gesê het nie, daar is nie eers genoeg vir hulleself nie. Tog is sy gehoorsaam. ‘n Wonderwerk het gevolg en hulle het vir dae lank gegeët aan die oes wat uit haar gehoorsaamheid gegroei het.
‘n Handjie vol meel en ‘n bietjie olie het lewe gekry en ‘n gesin, sowel as ‘n profeet van die Here se lewe gered.
Sewe broodjies kry lewe
Ek voel innig jammer vir die skare, omdat hulle al drie dae by My bly en niks het om te eet nie. En as Ek hulle honger huis toe stuur, sal hulle op die pad beswyk, want sommige van hulle kom van ver. En sy dissipels antwoord Hom: Waarvandaan sal ‘n mens hulle hier in die woestyn kan versadig met brood? Toe vra Hy hulle: Hoeveel brode het julle? En hulle sê: Sewe. En Hy gee aan die skare bevel om op die grond te gaan sit; daarop neem Hy die sewe brode, en nadat Hy gedank het, breek Hy dit en gee dit aan sy dissipels om dit voor te sit; en hulle sit dit aan die skare voor. Hulle het ook ‘n paar vissies gehad; en nadat Hy gedank het, sê Hy dat hulle dit ook moet voorsit. En hulle het geëet en versadig geword en die oorskot van die brokstukke opgetel, sewe mandjies vol. En die wat geëet het, was omtrent vier duisend. En Hy het hulle weggestuur. (Mark 8:2-9)
Hierdie gebeurtenis begin deur ons ‘n stukkie van Jesus se hart te wys: innige jammerte vir mense wat so honger vir die Woord is, dat hulle vir drie dae kom uitkamp het in ‘n plek ver van winkels af. Dit laat my wonder hoeveel van ons sal vir selfs een dag sonder kos (en murmerering) gaan om vir ‘n hele dag lewende woorde te hoor. Nietemin… dis ‘n onderwerp vir ‘n ander dag.
Die probleem word geidentifiseer – mense kan van honger beswyk op die pad as hulle nie kos gaan kry nie. Om ‘n probleem in die Koninkryk van Lig te hanteer, word ‘n vraag gevra: “wat is in jou hand?”. Die dissipels het so ewe voorraadopname gedoen en Jesus te kenne gegee – hulle het sewe brode gehad.
Dieselfde proses word gevolg as in ons vorige voorbeelde. Volgende kom die irrassionele opdrag: breek die brode en deel dit op tussen al die mense. Radikale gehoorsaamheid en blinde geloof kos dapperheid. Maar meer as dapperheid glo ek dit kos ‘n vlees wat gekruisig is. Ons kan nie bekostig om bekommerd te wees oor wat die mense gaan sê van dit wat jy doen (en jy weet self dis bitter irrassioneel) en om in blinde geloof te volg nie. Die dissipels was gehoorsaam en ‘n wonderwerk het gevolg. Almal het meer as genoeg gekry om versadig te word.
Sewe brode en ‘n paar vissies het lewe gekry en ‘n skare mense gered.
So waar lê die krag?
Die volgende logiese vraag sou wees: waar kom die krag vandaan? Wat veroorsaak dat ‘n paar gebruiksartikels soveel lewe kry dat dit lewe vir ander kan bring? Wel, ons weet dat die krag nie in die brood, die olie en die herderstaf lê nie. Die Here plaas krag, lewe en outoriteit in gewone gebruiksartikels en wonderwerke gebeur. Maar ons het ook ‘n rol te speel. Bonatuurlike krag skop in wanneer ‘n mens in radikale gehoorsaamheid en blinde geloof ‘n (meestal) irrasionele aksie doen. Ons oog moet wees op die Here wat die mag het om lewe te gee aan die bietjie wat ons in ons hand het.
Die Here doen groot dinge wanneer mense voorraadopname hou van dit wat hulle het en dit vir Jesus aanbied.
Terug by Moses se staf
Uit die aard van die saak het die staf geen krag en lewe in homself gehad nie.Daar was ook geen krag in Moses se hand om ‘n staf in ‘n slang te verander nie.
Slegs die Here plaas lewe, krag en outoriteit in ‘n staf sodat Sy doel bereik kan word. Baie belangrik: Sy doel, nie ons doel nie. Slegs die Here kan ‘n herderstaf verander in ‘n staf van waarheid.
Let op: aanvanklik was Moses bang vir die krag en outoriteit en het gevlug daarvoor. Wanneer ons die Here se hand in beweging sien, raak ons ook bang en wil net soos Jona vlug. Maar Moses oorkom sy vrees en doen die volgende irrassionele ding: hy gryp die slang aan sy stert. Op instruksie, ten spyte van sy vrees, gryp hy die krag en outoriteit en die Here doen ‘n wonderwerk.
Hierna word die staf nie meer ‘n herderstaf genoem nie, maar die staf van God (Eks 4:20)
Verskonings
Neem bietjie tyd en lees die volledige dialoog in Eksodus 4. Moses het elke verskoning waaraan hy kon dink gebruik. Nou moet ons nie te vinnig wees om klippe sy kant toe te gooi nie. Kom ons kyk hoe lyk ons verskonings. Die Here vra elkeen van ons wat in ons hand is. Behalwe vir die feit dat ons soms ons hande styf toeknyp, kom ons ook op met elke verskoning in die boek.
Party van hulle klink so:
- Ek is onbekwaam
- Ek is te oud / jonk
- Ek is ‘n man / vrou
- Ek kan nie voor mense praat nie
- Hulle sal my nie glo nie
- Hulle sal dink “wie dink jy is jy”
- Ek het niks om te gee nie
- Ek kan nie ‘n bydrae lewer nie
- Ek is nie so slim / vaardig nie
- Daar is niks in my hand nie
- Ek is nie ryk genoeg om ‘n verskil te maak nie
- Ek het nie geld nie
- Ek het nie tyd nie
- Ek het nie ‘n stem nie
- Ek is nog nie ‘skoon’ of vry genoeg nie
- Ek ken die Bybel nie goed genoeg nie
- Ek kan nie voor mense bid nie
- My geloof is te swak
- My gesondheid gee probleme
- Ek is bang
- Ek is bang die Here kom nie vir my deur nie
- Hierdie is te groot vir my
- Ek is bang ek gaan simpel lyk
- Ek het/weet nie so baie soos hy/sy nie
Wat is in jou hand
Dis tyd vir elkeen van ons om ‘n voorraadopname te hou. Gaan kyk bietjie wat is in jou hand, wat is in jou huis en wat is in jou hart. Ons kan nie kyk met ‘n toegeknypte hand nie. Herken wat in jou hand is en gee dit hardop te kenne vir die Here. Offer die bietjie wat jy het vir die Here. As jy dalk nie kan sien wat in jou hand is nie, vra die Gees van Wysheid, Kennis en Raad om jou oë te open. Wanneer Hy jou wys, wees dapper en gee dit te kenne. Wanneer ‘n mens hardop te kenne gee wat die bietjie is wat hy het, kom die Here se Hand in beweging.
Volgende stap is om ‘n instruksie te verwag. Maak jou maar gereed, dit gaan jou strek. Dit gaan heel waarskynlik irrasioneel wees en mag dalk vir almal om jou (en vir jouself natuurlik) belaglik voorkom. Wees in elk geval gehoorsaam. Wees radikaal gehoorsaam. Dis die resep vir wonderwerke. Dis hoe die Here lewe aan gewone gebruiksartikels gee. Nie omdat ons so oulik of gelowig is nie. Omdat Hy die Here is en Sy krag word volbring in ons swakheid.
Saai en oes
Daar is ‘n Bybelse beginsel waarby ek en jy nie verby gaan kom nie. Dis hoe God se Koninkryk werk: dis die beginsel van saai en maai.
Ons MOET ‘n klein saadjie in die grond sit om ‘n oes te verwag. Ons moet die bietjie wat in ons hand is, vir die Here gee voordat ons ‘n wonderwerk kan verwag. Wanneer ons ‘n saadjie in die grond sit, hoop en vertrou ons in geloof dat die saadjie sal ontkiem en dat ‘n oes sal opkom. Ons kon eerder al die saadjies of pitte geëet het. Maar dis juis waar die beginsel van saai en maai so wonderlik is. Geloof bring vermenigvuldiging.
- Moses moes sy noodsaaklike, belangrike staf op die grond gooi. Hy moes gee – met ander woorde, hy moes saad in die grond sit.
- Die twee weduwees moes hulle laaste bestanddele gee. Weereens was daar geen waarborg nie. Hulle moes in radikale gehoorsaamheid hulle olie en meel as saad in die grond sit.
- Die sewe broodjies en paar vissies was saad in die grond wat ‘n vermenigvuldiging tot gevolg gehad het.
Die beginsel van saai en oes klink vir ons baie ‘onveilig’. Daar is geen waarborg dat ons opbrengs op ons belegging gaan kry nie. Ons gebruik dieselfde redenasie wanneer die Here dinge van ons vra wat irrassioneel vir die mens lyk. “Hoe weet ek dit gaan werk?” Die antwoord is eenvouding: ons weet nie. Maar wanneer ons oor die boot se rand trap en ons gewig op die water sit, verklaar ons dat ons glo Hy is wie Hy sê Hy is.
Wat is in jou hart?
Elkeen van ons het ‘n roeping – ‘n spesiale taak wat ons moet uitvoer. Soms het ons ‘n idee wat dit is omdat ons in daardie rigting neig en droom. Vir ander, is hierdie droom dalk so diep begrawe onder westerse sisteme en die ‘regte of logiese ding om te doen’. Miskien het mense vir jou droom gelag en dit het gemaak dat jy dit meer deel of selfs lugtyd gee nie.
Die feit van die saak is dat ons nie net leef om ‘n lewe te maak, pensioen bymekaar te maak sodat ons kan doodgaan en kinders dit kan erf en hulle al dieselfde stappe herhaal nie. Daar is soveel meer.
Gee dit wat in jou hart lê vir die Here te kenne. Vra Hom of Hy dit daar geplaas het. Vra dat as dit nie van Hom af is nie, dat Hy dit sal wegneem. Miskien is dit ‘n vals droom wat die vyand daar geplaas het om jou te weerhou om jou goddelike roeping te vervul.
Nadat jy dit Hom te kenne gegee het, vra Hom wat jy daarmee moet doen. Neem die eerste stap, maak nie saak hoe onrealisties dit klink nie. Die Here is die een wat dit wat in jou hart is lewe gee, nie jy nie. Hy is die Een wat wonderwerke laat gebeur vir die doel van Sy koninkryk. Dis belangrik vir ons om die onderskeid te maak – Sy roeping of my planne. Dit waaroor ons hier praat is Koninkryksdoel.
Wees getrou
Ons elkeen het ‘n klein bietjie in ons hand. Wees getrou met daardie bietjie. Dis ook soos om saad in die grond te sit. Baie mense wag vir die groot deurbrake en minag die klein dingetjies. Dis die klein saadjies wat groot oeste oplewer. Moenie klein saadjies minag nie. Gee dit wat in jou hand is. Maak ‘n begin.
Luk 16:10 Hy wat getrou is in die minste, is ook in die grote getrou; en hy wat onregverdig is in die minste, is ook in die grote onregverdig.
Jak 2:26 Want soos die liggaam sonder gees dood is, so is ook die geloof sonder die werke dood.
Alles wat ons nodig het is reeds binne ons
Hierdie is een van my gunsteling Skrifte en vul my elke keer met soveel bemoediging en hoop. Ons is reeds toegerus vir alles waarmee ons ooit te doen gaan kry. Goed of sleg – die Here ken mos die toekoms. In Sy wil of nie – Hy weet mos watter keuses ons gaan maak. Steeds het Hy alles binne ons ingebou wat ons gaan nodig hê om godsvrugtig te leef.
For His divine power has bestowed on us [absolutely] everything necessary for [a dynamic spiritual] life and godliness, through true and personal knowledge of Him who called us by His own glory and excellence. (2 Pet 1:3)
‘n Onderstebo Koninkryk
Die Here se koninkryk werk andersom as die wêreldse manier waaraan ons gewoond is. Dis sommer maklik vir my om te sê dis werk onderstebo. As jy wil lewe, moet jy sterwe. As jy wil ontvang, moet jy gee. As jy aflê, kry jy meer.
Matt 16:24-25 Toe sê Jesus vir sy dissipels: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg. Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, sal dit vind.
Matt 19:29-30 En elkeen wat huise of broers of susters of vader of moeder of vrou of kinders of grond ter wille van my Naam verlaat het, sal honderd maal soveel ontvang en die ewige lewe beërwe. Maar baie wat eerste is, sal laaste wees, en wat laaste is, eerste.
‘n Verwagte opbrengs
Ons het elkeen ‘n spesifieke roeping en as gevolg van ons besluit om ons hand toe te hou en veilig en gemak te kies, kan ons dit mis. Dis ongelukkig die waarheid.
Maar daar is ook ‘n ander verwagte opbrengs en dit word deur die bank van elkeen van ons verwag – om dissipels te maak. Selfs om hierdie taak te volbring is ons maar vol verskonings. Uit hierdie twee Skrifte het ek ‘n opsomming gemaak van dit wat van elke gelowige verwag word. Kom ons maak ons hand oop en kyk wat is daarin. Ek praat nie van geld nie. Verseker is finansies ook deel van die saad, maar daar is soveel meer dinge in ons hand. Die probleem is ons het ‘n gelykaan teken tussen saad en geld geplaas. Dis bloot verkeerd om dit te doen. Ek praat van jou gawes, talente, ligging, liefde en voorkeure, dit wat in jou hart is ensovoorts. Dis tyd dat ons ophou om hierdie opbrengs voor die deur van ‘n paar geestelike werkers te plaas. Dis tyd dat ons elkeen oor die boot se rand klim en ons roeping volbring.
Gaan heen
Nie noodwendig Noord-Afrika of Indië nie, dalk sommer net na jou buurman se huis toe. Onthou die beginsel van getrouheid in die minste. Baie mense dink die sendingveld is iewers ver oorsee. Jou sendingveld is dalk by jou werk of in jou buurt. Die probleem is dit klink baie minder romanties en minder belangrik as om werk oorsee as ‘n sendeling te doen.
Maak dissipels van al die nasies
‘n Dissipel is ‘n student of leerling. Dit beteken dat jyself eers by Jesus leer sodat jy dan weer ander kan leer om studente van Jesus te wees. Hulle moet dan weer ander leer en so groei die koninkryk. Dis nie net ‘n paar leraar se werk nie.
Doop die nuwe dissipels
Daar is nie net sekere geallokeerde persoon wat bemagtig is om iemand te doop nie. Elke dissipel van Jesus het daardie outoriteit by Jesus self gekry.
Leer hulle om alles te onderhou wat Jesus jou leer
Om mense te leer, beteken dat jy by die Heilige Gees eerstehands moet leer. Dan moet jy met en voor ander kan praat. Dit kos dapperheid.
Verkondig die evangelie aan die hele mensdom
Die mensdom begin by jou eie dorp, familie, vriendekring en werk. Jy het nie ‘n vliegtuigkaartjie of ‘n borg nodig nie. Jou dag tot dag manier van lewe moet Jesus aan mense demonstreer. Die wêreld is al so moeg preke gehoor, hulle het nodig om preke te sien. Ek en jy is ‘n preek in aksie – elke oomblik van die dag.
Dryf duiwels uit en bid vir siekes
Dis ons almal se werk. Ons almal het outoriteit by Jesus gekry. Dit kos dapperheid om te weet dat die Here die krag en lewe in die staf plaas. Die krag lê nie in jou hand nie. Jy tree uit in geloof en vertrou dat die Here vir jou gaan deurkom.
Spreek in nuwe tale
Hierdie is absoluut noodsaaklik. Raak desperaat as jy nie in ander tale spreek nie. Lê in die nagte voor die Here en sê ek sal U nie laat los voordat U my seën nie. Die eerste paar lettergrepe kos moed, want vir die menslike verstand maak dit glad nie sin nie.
En Jesus het nader gekom en met hulle gespreek en gesê: Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde. Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. Amen. (Mat 28:18-20)
En Hy het vir hulle gesê: Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom. Hy wat glo en hom laat doop, sal gered word; maar hy wat nie glo nie, sal veroordeel word. En vir die wat geglo het, sal hierdie tekens volg: in my Naam sal hulle duiwels uitdryf, met nuwe tale sal hulle spreek, slange sal hulle opneem; en as hulle iets dodeliks drink, sal dit hulle geen kwaad doen nie; op siekes sal hulle die hande lê, en hulle sal gesond word. (Mar 16:15-18)
Die Here is hier en Hy roep jou
Kom ons lees die roeping van Jeremia saam. Terwyl jy lees, kyk in jou hand – wat is daar?
Jer 1:5-10
Roeping
Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken; en voordat jy uit die liggaam voortgekom het, het Ek jou geheilig; Ek het jou tot ‘n profeet vir die nasies gemaak.
Elkeen van ons het ‘n roeping wat vasgestel is voor ons konsepsie. Jeremia se roeping was om ‘n profeet vir die nasies te wees. Ons elkeen se roeping lyk verskillend. Miskien wys die Here dalk nie vir ons die hele roeping soos vir Jeremia nie. Miskien moet ons eers begin met die bietjie wat in ons hand is.
Verskonings
Toe het ek gesê: Ag, Here HERE, voorwaar, ek kan nie praat nie, want ek is jonk.
Ons kan sommer die hele verskoninglys hierbo hierso invul.
Die Here se antwoord
Maar die HERE het vir my gesê: Moenie sê: Ek is jonk nie; want na wie Ek jou ook al stuur, moet jy gaan; en wat Ek jou ook al beveel, moet jy spreek. Wees vir hulle nie bevrees nie, want Ek is met jou om jou uit te red, spreek die HERE.
Hier volg die instruksie. Moenie vrees nie en wees radikaal gehoorsaam.
Die Here bekragtig
Toe het die HERE sy hand uitgestrek en my mond aangeroer; en die HERE het vir my gesê: Hiermee lê Ek my woorde in jou mond. Kyk, Ek stel jou vandag aan oor die nasies en oor die koninkryke om uit te ruk en om te gooi en te vernietig en te verwoes, om te bou en te plant.
‘n Hart soos Jesaja
Daarop hoor ek die stem van die Here wat sê: Wie sal Ek stuur? En wie sal vir ons gaan? Toe antwoord ek: Hier is ek, stuur my. (Jes 6:8)
Mag elkeen van ons ‘n hart hê soos Jesaja. Hy het in sy hand gekyk, na sy hart geluister en oor die boot se rand geklim. Dit was baie moeilik om ‘n profeet van die Here in die Ou Testamentiese tyd te wees. Elke profeet is vermoor. Tog het hy uitgeroep: “Stuur my!”