Deur Yolandie Mostert, 12 Februarie 2023
Om ‘n ware aanbidder van die Here te wees, is amper die kruks van ons verhouding met Hom. Hierdie tema is vir my baie gepas om mee af te skop. Hoe wonderlik sou dit nie gewees het as ons elkeen geintifiseer kon word as ware aanbidders nie. So baie Christene is net woorde, maar hulle aksies stel teleur. Dit bring oneer aan die Here se Naam. Maar wanneer ons Hom passievol aanbid, raak ons verhouding heilig, eg en laat dit geen ruimte vir skynheiligheid of louheid nie.
Die sleutelteks kom uit Johannes 4:23-24 uit:
Maar daar kom ‘n uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid. God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.
Ons is so bekend met hierdie Skrifgedeelte, dat ons soms die diepte mis. Die Vader is die Een wat ware aanbidders soek. Hy leer ons ook hier hoe ons Hom moet aanbid: in gees en in waarheid.
Die mens kan baie vermetel raak. Dis nie ons keuse hoe ons Hom wil aanbid nie. Ons kan nie ‘n vals vuur voor Hom bring nie. As ons Hom wil aanbid, moet dit gedoen word op Sy terme.
Wat is aanbidding?
Heel eerste kan ons sê dat dit die diepste eer is wat ons vir iemand kan gee. Dis eer en aanbidding vir wie die persoon is. Sommige woorde om dit te beskryf is: reverence, awe, respek, verwondering vir WIE en WAT die persoon is.
Dis die hoogste vorm van ons menswees. Daar is nie iets dieper as aanbidding nie. Ons kan lief wees vir iets of iemand en dit kan gemeng wees met ons termes van liefde. Maar nie aanbidding nie. Aanbidding gaan oor die ander persoon.
Die hoogste vorm van ons aanbidding is om deur ons leefwyse die Here te aanbid. Dis die diepste vorm van oorgawe.
Om die Here te volg in gehoorsaamheid is aanbidding. Om ons lewens en eie wil neer te lê in onderwerping aan Hom, is aanbidding. Die totale fokus is op die Here en nie op ons eie behoeftes en begeertes nie. Alles gaan oor Hom en die aanbidding van wie Hy is.
Ware aanbidding laat geen ruimte vir godsdienstigheid, hoë, maar leë woorde, rituele, kerke of geboue nie.
As ons Hom kan ken…
Ek glo ‘n logiese vraag sal wees of ons enige begrip het van wie God regtig is? Ken ons Hom net as Liewe Jesus in die Kinderbybel? Laat ons toe dat die Heilige Gees Sy volheid soos beskryf word regdeur die Bybel aan ons openbaar? Hoe meer ons ‘n ware besef kan kry van wie Hy regtig is, sal ons nie anders kan as om in aanbidding voor Hom neer te val nie. Ek verstom my hoe min wat aanspraak maak om ware aanbidders te wees nog nooit op hulle knieë of aangesigte voor Hom geval het nie.
Slegs die Heilige Gees kan die dieptes van die Vader aan ons openbaar. Sonder ‘n begrip daarvan, sal ons Hom nooit waarlik kan aanbid nie.
Maar God het dit aan ons deur sy Gees geopenbaar, want die Gees ondersoek alle dinge, ook die dieptes van God. (1 Kor 2:10)
Gees en waarheid
Die Vader soek diegene wat Hom aanbid in GEES en in WAARHEID. Die teenoorgestelde hiervan is VLEES en LEUEN. Dis waarteen ons moet waak. Hoe sterker ons vlees is, hoe minder is die aanbidding. Dit kan nie anders wees nie. Die volgende ding waarteen ons moet waak is die leuen. Aanbidders van die Here moet die waarheid liefhê.
Lewe deur die Gees
Om die Vader in Gees te kan aanbid, moet ons deur die Gees lewe en nie deur die vlees nie. Maak seker dat jy die Ou en die Nuwe Verbond verstaan. Om deel te hê aan die Nuwe Verbond, beteken dat ons nie stelle reëls en regulasies moet onderhou tot heiligheid nie. Ons moet dag vir dag gelei word deur die Heilige Gees. Sy wet is tydens die onderdompeling (doop van die gelowiges) op ons binneste geskryf en ons leef volgens daardie wet. Die Heilige Gees binne-in ons leer en interpreteer die wet vir ons. Om deur die Gees te lewe beteken dat ons toelaat dat die Heilige Gees deur ons werk en opereer. Dis om ‘n oop kanaal te wees.
Hierdie is alreeds aanbidding. Omdat ons ons vlees op die altaar plaas. In essensie offer ons ons vlees op vir gees sodat die Heilige Gees deur ons kan vloei.
In waarheid
Jesus Christus is die essensie van die waarheid. Hy is die Waarheid volgens Johannes 14:6. Ons het nodig om die waarheid te ken oor al Sy fasette sonder om aanstoot aan Hom te neem. Dis om bewondering te hê in die volheid van wie die Seun van mens is.
Die enigste aanbidding
Die enigste manier waarop ons die Vader kan aanbid is deur die openbaring van die Heilige Gees en deur die Seun wat die manifestasie van die Vader is.
Hy wat My gesien het, het die Vader gesien (Joh 14:9)
Die enigste vorm van aanneemlike aanbidding voor die Vader is as dit deur die Seun en die Gees kom.
In die troonkamer
Openbaring 4 beskryf die troonkamer van die Vader vir ons. Die troonkamer is die hoogste plek in die heelal en in die ganse skepping.
Deur die Heilige Gees, word die beskrywing van die troonkamer vir ons lewendig. Ons lees van die Vader se troon omring deur ‘n reënboog. Daar is weerligte en donderslae. Rondom die troon is die trone van die 24 ouderlinge. Ons lees ook van die vier lewende wesens. Voor die troon is die see van glas. Daar is die lampstaander wat die volheid van die Heilige Gees verteenwoordig.
Die vier lewende wesens roep dag en nag, sonder ophou uit: “Heilig, heilig, heilig is die Here God, die Almagtige, wat was en wat is en wat kom!” Ek glo die heiligheid en heerlikheid wat vrygestel word deur hierdie woorde, maak dat die ouderlinge nie anders kan as om hulle krone neer te gooi nie. En dan roep die vier lewende wesens weer uit en alles gebeur weer van voor af.
Ons het aan die einde van 2022 so ‘n klein smakie gekry van die heiligheid van die Here toe ek ‘n boodskap gegee het oor die heiligheid van die Here. Ek weet dat dit wat ons beleef het bitterlik vaal is teen dit wat beleef word in die troonkamer. Maar onder die indruk van die Vader se heiligheid kon ons nie anders as om op knieë neer te val en ook “heilig, heilig, heilig” uit te roep nie. Hoeveel te meer as ons die volheid van die troonkamer kon beleef het.
Die hoogste
Die troonkamer belewenis is die hoogste wat die Vader vir mens en wese aanbied: Sy permanente heilige teenwoordigheid. Daar is niks hoër in die heelal as dit nie. Die ‘ultimate’ (hoogste) van alles is om permanent in die teenwoordigheid van die Vader te wees. Dit moet ons smagting word.
Wanneer ons na die vertelling van Openbaring 4 luister, klink dit vir ons vervelig? Dan wil ek ronduit sê dat ons dan nog nooit ‘n stukkie van die heilige teenwoordigheid van die Allerhoogste beleef nie. Dis onmoonlik om Sy teenwoordigheid en lieflikheid te proe en nie vir altyd te wil hê nie.
Die resultaat
Wanneer die troonkamergebeure nie meer vir ons vervelig klink nie, maar ons bring tot ‘n punt om met ons hele wese te smag na Sy permanente heilige teenwoordigheid, begin ons ware aanbidding regtig te verstaan. Dan word ons hele leefwyse aanbidding.
‘n Lewe deur die Gees en ‘n openbaring van die troonkamer van die Vader vloei deur na hoe ons optree tydens aanbidding. Dan voel dit asof jou liggaam nie oor die kapasiteit beskik om uiting te gee aan die Vader se heiligheid nie. Ons hef nie dan hande op of sê halleluja uit vlees nie, maar kom diep onder die indruk van ons eie ontoeganklikheid en dankbaarheid vir die Bloed van die Lam wat toegang gee tot die Vader se heiligheid.
Aanbidding vloei
Ware aanbidding vloei deur na ons hele lewe toe. Alles wat ons dan doen is aanbidding vir die Vader. Elke keer wanneer ons ons vlees op die altaar plaas, aanbid ons die Vader. Elke keer wat ons onsself nederig maak (“to humble myself”) deur vasting en gebed, is dit aanbidding. Wanneer ek my daaglikse take met uitnemendheid verrig, aanbid ons die Vader. Wanneer ek in gesprek met mense is, is dit ook aanbidding. Alles wat ek doen, word aanbidding.
Ons liggaam reageer
Ware aanbidding vloei ook deur na ons liggame toe. Ons posisies tydens aanbidding kom vanuit die troonkamer, deur die Heilige gees in ons gees. Dit vloei oor na ons siel, ons emosies en gedagtewêreld. Ook oor ons wil wat die oorgang tussen ons siel en gees is. Wanneer ons wil buig onder die gesag en heiligheid van die Here, spoel dit oor na ons liggaam en kan ons nie anders as om met ons ledemate uiting te gee nie.
Ons behoort te leef, te loof en te prys vanuit die troonkamer. Die vier-en-twintig ouderlinge kan nie anders as om neer te val, krone neer te gooi en te aanbid nie. My vraag is, hoekom is ons anders? Hoe kry ons dit reg om te lyk asof ons laaistokke ingesluk het?
Twee realms
Die Here het ons geesmens wonderlik gemaak. Ons gees het ook afdelings, organe en funksies. Die mens is die enigste geskape wese wat twee realms gelyktydig kan beleef. Ons het die potensiaal om hier te wees in ons liggaam terwyl ons gees in troonkamer is. Ons word bemagtig deur die Heilige Gees. Hierdie is die potensiaal elke keer wat ons in gees en waarheid aanbid in die Here se teenwoordigheid.
Slegs deur die Gees
Mag die gebed van ons hart wees dat ons ‘n dieper openbaring van die Waarheid – die Seun van God sowel as dieper leiding deur die Gees van God verkry. Ware aanbidding kan slegs op hierdie manier plaasvind. Slegs deur die Gees en deur die Seun, kan ons die Vader waarlik aanbid.
Gee aan die HERE die eer van sy Naam; aanbid die HERE in heilige sieraad! (Ps 29:2)