Wanneer julle vas…

Deur Yolandie Mostert, 13 Mei 2023

John Piper het die volgende geskryf in sy boek: ‘Hunger for God’: “Christian fasting, at its root, is the hunger of a homesickness for God. Christian fasting is not only the spontaneous effect of superior satisfaction in God, it is also a chosen weapon against every force in the world that would take that satisfaction away.”

 

Hierdie is ‘n langer as gewoonlik lering. Ek het probeer om ‘n baie volledige lering saam te stel. Daar is altyd meer om te deel, maar hierdie behoort ‘n baie goeie grondslag te vorm oor vasting. Die Here het ons hierdie jaar (2023) gelei om ‘n korporatiewe tien dae vas tussen hemelvaart en pinkster te doen. Enige een is baie welkom om saam met ons te vas terwyl ons op die Here gaan wag. Terwyl ons besig is om voor te berei vir hierdie tien dae, het baie mense vra rondom vasting. Daarom hierdie lering.

 

‘n Inleiding

Vasting is ‘n normale kerk dissipline, net soos gebed. Dit behoort nie vir ons iets snaaks of vreemds te wees nie, dit behoort ons normale leefwyse te wees. Ongelukkig het hierdie kragtige wapen verlore geraak. Dis bitter min dat jy iemand raakloop wat ‘n leefwyse van vasting en gebed het.

Vasting het ‘n hoofrol gespeel in vorige herlewings. Wanneer ons gaan oplees oor die begin van herlewings en uitstortings van die Heilige Gees, het vasting en gebed dit altyd vooruit gegaan. Wanneer jy iemand sien wat regtig in die krag van die Gees van God beweeg, gaan jy gebed en vasting in hulle lewens kry.

Vas en gebed loop hand aan hand. Wanneer hierdie twee dissiplines saam werk, skuif dinge in die gees.

 

In die tyd wat Jesus op aarde was, was dit vreemd wanneer iemand nie gevas het nie. Ons lees hiervan in Lukas 5:33-35. Jesus was gevra waarom sy dissipels nie vas nie. Sy antwoord was dat daar ‘n tyd gaan kom wat hulle gaan vas. Daardie tydperk het aangebreek die dag toe Jesus in die wolke opgevaar het en het nog verander nie.

Toe sê hulle vir Hom: Waarom vas die dissipels van Johannes dikwels en doen gebede; so ook dié van die Fariseërs; maar u dissipels eet en drink? En Hy sê vir hulle: Kan julle die bruilofsgaste dan laat vas solank as die bruidegom by hulle is? Maar daar sal dae kom wanneer die bruidegom van hulle weggeneem word; dan sal hulle vas, in daardie dae. 

 

Wat sê Jesus oor vas?

En wanneer julle vas, moenie lang gesigte trek soos die geveinsdes nie; want hulle mismaak hul gesigte, sodat dit deur die mense gesien kan word dat hulle vas. Voorwaar Ek sê vir julle, hulle het hul loon weg. Maar jy, as jy vas, salf jou hoof en was jou gesig, sodat jy nie die mense laat sien dat jy vas nie, maar jou Vader wat in die verborgene is; en jou Vader wat in die verborgene sien, sal jou in die openbaar vergelde. (Matt 6:16-18)

Let op dat Jesus nie sê AS ons vas nie. Hy sê WANNEER ons vas. Net soos gebed en finansies saai, is vas een van die dinge wat van dissipels van Jesus verwag word.

 

Wat is vas?

Soos ek reeds hierbo gesê het: vas is ‘n geestelike dissipline wat ALLE volgelinge van Jesus moet doen. Niemand is uitgesluit nie. Ons sal bietjie later na praktiese en gesondheids reëlings kyk.

Vas, in sy suiwerste vorm is die vrywillige weerhouding van voedsel vir geestelike doeleindes. Maar dit sluit nie net voedsel in nie. Dis baie voordelig om vir tye sosiale media, selfone, televisie, leringe en preke of selfs kuiers en mense te vas.

Wanneer ons, onder die leiding van die Heilige Gees, onsself weerhou van voedsel, is dit ‘n baie sterk wapen om te help om ons vleeslike begeertes en natuur te kruisig. Die opoffering van die kruis lei altyd tot die vrystelling van krag van die kruis.

Vasting is die Bybelse manier waarmee ons onsself kan verootmoedig. Hierdie effens outydse woord beteken om onnself nederig te maak. In Engels: to humble yourself. Hierdie beginsel van verootmoediging wat met vasting gepaard gaan was hoe die Israeliete in die Ou Testament die woord verstaan het. Vandag nog vas die Jode op dae waarop hulle tot verootmoediging geroep word deur die Torah. Dawid het dieselfde gedoen in Ps 35.

I humbled my soul with fasting, And I prayed with my head bowed on my chest.  (Ps 35:13b) 

Soms word die woord verootmoedig vertaal met verneder. Dis beteken dat ons ons nederig maak voor die Here. Vasting is ‘n baie effektiewe metode om dit te kan doen.

1 Pet 5:6  Verneder julle dan onder die kragtige hand van God, sodat Hy julle kan verhoog op die regte tyd.

Laastens, vasting is ‘n manier van aanbidding. Wanneer ons gehoorsaam is aan die beginsels, instruksies en orde van God se koninkryk, ten spyte van ons eie ongerief en vleeslike begeertes, is dit diep aanbidding. Ek glo hierdie is een van die hoofredes waarom vasting so ‘n kragtige wapen in die gees is. Dis nou wanneer ons die regte motief van gehoorsaamheid en aanbidding het.

 

Wat is vas nie?

Bybelse vasting is nie ‘n hongerstaking tussen jou en God nie. Dis nie ‘n manier om die Here se arm te draai nie. Baie mense gebruik vasting as ‘n manier tot manipulasie en om eintlik net hulle eie begeertes te kry.

Vasting is regting nie oor hoe God op ons gebede moet reageer nie, maar meer oor hoe ons ons gebede tot God bring. Ons is die afhanklike party. Dis dus ‘n nederige manier van bid.

Dis nie ’n manier om ons heilig of regverdiger te laat lyk nie. Vasting is ook nie ‘n geestelike ego ‘booster’ nie. Met ander woorde iets wat ons verkondig sodat ons meer geestelik in die oë van mense lyk nie.

 

Voordele en resultate van vas

Die mees ooglopendse voordeel is dat ons meer tyd kry om te spandeer in Sy teenwoordigheid wanneer ons etenstye en maaltyd voorberei tye vervang met gebedstyd.

Vasting maak ons meer sensitief in die gees. Tydens vasting wat met gebed gepaard gaan, hoor ons baie keer Sy Stem duideliker.

Wanneer ons liggaam swak is, raak ons gees meer dominant.

Vasting op die regte manier en met die regte motiewe help ons om te groei tot geestelike volwassenheid. Dit leer ons ook om te oorwin (to overcome). Geestelike deursettingsvermoë is ‘n belangrike vrug wat ons almal moet hê.

Sekere bevryding werk net met vas en gebed. Toe die dissipels nie die duiwel uit die seun kon kry nie, het Jesus geantwoord dat daar sekere gevalle is waar vasting en gebed nodig is. (Mark 9:28-29). Hierdie selfde gedeelte moes ons al vir iemand gee wat ons bedien. Die persoon het geweldig gesukkel om deurbraak te kry en moes ernstig vas en bid.

Ons kom nader aan God. Ons geloof raak sterker. Ons harte verander. Sonder dat ons dit baie keer agterkom, vind hierdie skuiwe in die gees plaas. Na die vas, veral ‘n vas wat langer as twee of drie dae is, begin ons veranderinge sien in ons geestelike lewe.

Tydens vasting wys die Heilige Gees vir ons die ware kondisie van ons harte en dit lei tot ‘repentance’ (bekering). Verskuilde sondes kom aan die lig; dinge waarvan ons dalk nie eers self bewus was nie.

Dit bewerk geestelike oorwinning oor die vyand. Ons kan vas vir spesifieke deurbraak en oorwinning of ons kan in die algemeen vas.

 

Vasting in Jesus se lewe

Een van die duidelikste resultate van vasting, vind ons in Lukas 4. Na Jesus se doop was Hy vol van die Heilige Gees. Die Gees het Hom in die woestyn gedryf en Hy het vir veertig dae gevas en was versoek deur die duiwel. Maar na die veertig dae het Hy in die krag van die Gees teruggekeer. Vanaf vol van die Gees na die krag van die Gees. Dis wat tydens vasting gebeur.

En Jesus het vol van die Heilige Gees teruggekeer van die Jordaan af, en is deur die Gees in die woestyn gelei, waar Hy veertig dae lank deur die duiwel versoek is; en Hy het niks geëet in dié dae nie; en toe hulle verby was, het Hy naderhand honger geword. (Luk 4:1-2)

En Jesus het in die krag van die Gees na Galiléa teruggekeer. (Luk 4:14)

 

Voorbeelde van vas uit die Skrif

Ek wil graag nou uit die Bybel verskillende voorbeelde van vasting en die resultaat daarvan bespreek. Uit elke situasie kan ons ‘n rede, sowel as die resultaat van vasting sien.

Esra

Esra het van die Here se beskerming getuig voor die koning van Babel. Om hierdie rede sou hy oneer gebring het deur nou vir menslike beskerming te vra. Tog was hy diep bewus van sy afhanklikheid van die Here vir ‘n veilige reis. Sy oplossing tot hierdie probleem: vas. En die Here het gehoor en geantwoord.

Toe het ek daar ‘n vastyd uitgeroep aan die rivier Ahawa, om ons te verootmoedig voor die aangesig van onse God ten einde van Hom ‘n voorspoedige reis te vra vir ons en ons families en al ons goed. Want ek was skaam om van die koning ‘n leër en perderuiters te vra om ons te help teen vyande op die pad, omdat ons met die koning gespreek en gesê het: Die hand van onse God is ten goede oor almal wat Hom soek, maar sy krag en sy toorn oor almal wat Hom verlaat. So het ons dan gevas en onse God dit gevra, en Hy het ons verhoor. (Esra 8:21-23) 

 

Ester

Die vas wat Ester opgeroep het, was amper een van die moeilikste vastings – drie dae en drie nagte sonder kos en water. ‘n Desperate situasie het ‘n radikale reaksie nodig. Hierdie was seker die naaste wat die Joodse nasie nog ooit aan uitwissing was. Daarom hierdie streng en ernstige vas. Die vasting het al die stappe tot deurbraak in beweging gebring.

Gaan heen, versamel al die Jode wat in Susan te vinde is, en vas julle om my ontwil; en julle moet nie eet en drink nie, drie dae lank, nag en dag; ek ook met my dienaresse sal net so vas; en so sal ek na die koning ingaan, wat nie volgens wet is nie, en as ek omkom, dan kom ek om. (Est 4:16) 

 

Dawid

Ek wil jou aandag vestig op die manier waarop Dawid hom voor die Here verootmoedig het. Hy het nie geëet nie, maar het voor die aangesig van die Here gelê, die hele nag deur.

Toe gaan Natan na sy huis. En die HERE het die kind wat die vrou van Uría vir Dawid gebaar het, getref, sodat dit ernstig siek geword het. En Dawid het die aangesig van God gesoek vir die kind, en Dawid het ‘n tyd lank gevas en na binne gegaan en die hele nag deur op die grond gelê. Daarop kom die oudstes van sy huis na hom en wou hom van die grond laat opstaan, maar hy wou nie; ook het hy geen brood saam met hulle geëet nie. (2 Sam 12:15-17) 

Nog ‘n les wat ons uit hierdie verhaal kan neem is dat vas nie altyd ons begeerte of wil tot gevolg het nie. Dawid en Batseba se seun het steeds gesterf net soos die Here deur sy profeet Natan gespreek het. Daar het ‘n dieper skuif plaasgevind as gevolg van Dawid se berou en verootmoediging voor die Here. Batseba het weer swanger geword en Salomo is gebore. Vers 25 is baie mooi:

and He sent word through Nathan the prophet, and he named him Jedidiah (beloved of the LORD) for the sake of the LORD [who loved the child]. (2 Sam 12:25 AMP)

 

Josafat

Juda se vyande het teen hulle opgetrek en koning Josafat het besef dat dit ‘n oormag teen hulle is. Sy oplossing tot hierdie lewensbedrygende gevaar: ‘n korporatiewe vasdag om by die Here hulp te soek. Vasting toon ons afhanklikheid van die Here.

Toe hulle kom en aan Jósafat berig bring en sê: Daar kom ‘n groot menigte teen u van anderkant die see, van Edom af, en kyk, hulle is al in Háseson-Tamar—dit is Éngedi— het Jósafat bevrees geword en sy aangesig daarop gerig om die HERE te soek, en hy het oor die hele Juda ‘n vasdag uitgeroep. En Juda het byeengekom om van die HERE hulp te soek; selfs uit al die stede van Juda het hulle gekom om die HERE te soek. (2 Kron 20:2-4) 

 

Die stad Nineve

Hierdie goddelose stad se vernietiging was aangekondig deur die profeet Jona. Ons ken die storie van Jona en die vis baie goed en mis soms die reaksie van hierdie geweldige goddelose mense op die woord van oordeel van YHVH. As mense vandag tog so wou reageer wanneer die Here deur Sy profete waarsku. Luister hoe drasties het hierdie koning en sy volk gevas. En al was die oordeel reeds uitgespreek en hierdie was nie eers die Here se volk nie, het die Here hulle vasting, berou en bekering geëer en hulle gespaar.

En die manne van Ninevé het God geglo en ‘n vasdag uitgeroep, en groot en klein het hulle met rougewaad beklee. En toe die berig die koning van Ninevé bereik, het hy opgestaan van sy troon en sy mantel afgehaal en in rougewaad gehuld in die as gaan sit. En hy het in Ninevé laat uitroep en sê: Op las van die koning en sy groot manne—geen mens of dier, beeste of kleinvee mag aan iets proe nie, hulle mag nie wei of water drink nie; maar mens en dier moet ‘n rougewaad om hê, en hulle moet ernstig tot God roep, en elkeen moet hom van sy verkeerde weg bekeer en van die onreg wat aan sy hande kleef. Wie weet of God nie sal omkeer en berou sal hê nie, sodat Hy Hom afwend van die gloed van sy toorn en ons nie vergaan nie? En God het hulle werke gesien dat hulle hul bekeer het van hulle verkeerde weg; toe het God berou gehad oor die onheil wat Hy gesê het dat Hy hulle sou aandoen, en Hy het dit nie gedoen nie. (Jon 3:5-9) 

 

Daniël

Hierdie gedeelte is die basis vir wat baie mense die Daniël-vas noem. Ek sal bietjie later meer daaroor sê. As ons verby al die boeke, resepte en opinies kan kom, kan ons by die kruks van Daniël se vasting uitkom. Hy het ‘n gesig gesien oor die eindtyd gebeure wat hom ontstel het. Dit het tot ‘n drie weke gedeeltelike vas gelei. Hy het nie vleis geëet nie en hy het nie wyn gedrink nie. In daardie tydperk het hy homself verootmoedig voor die Here en ag gegee op dit wat met hom gedeel was. Ons lees hiervan in vers 12. Na hierdie drie weke tydperk van vasting het die deurbraak gekom en die engel het deur die oposisie gebreek om vir hom die res van die inligting gegee.

In die derde jaar van Kores, die koning van die Perse, is ‘n woord geopenbaar aan Daniël wat Béltsasar genoem is, en die woord is waarheid maar groot swarigheid; en hy het die woord verstaan en insig gehad in die gesig. In daardie dae het ek, Daniël, drie volle weke getreur. Smaaklike spys het ek nie geëet en vleis en wyn het nie in my mond gekom nie; en ek het my glad nie gesalf nie, totdat drie volle weke om was. (Dan 10:1-3)

 

Daniël

Nog ‘n voorbeeld uit Daniël se lewe. Hy het die brief van Jeremia aan die ballinge gelees. Ons moet nou mooi oplet wat hier gebeur het. Ons is baie keer so ongeerd wanneer dit kom by vervulling van beloftes en profesie. Amper asof ons aanneem dat dit vanself gaan gebeur en dat ons geen rol te speel het nie. Uit hierdie gedeelte kan ons sien dat Daniël nie so geredeneer het nie. Die Here het die woorde deur Jeremia belowe. Die sewentig jaar was nou om en die woord moes in vervulling kom. Sy reaksie hierop: vasting, gebede, smekinge en belydenis van sondes. Mis ons baie keer dalk vervulling omdat ons niks daaromtrent doen nie en bloot verwag dat dit vanself gaan gebeur net omdat die Here dit gespreek het?

In die eerste jaar van sy regering het ek, Daniël, in die boeke gemerk dat die getal jare waaroor die woord van die HERE tot die profeet Jeremia gekom het met betrekking tot die puinhope van Jerusalem, sewentig volle jare was. En ek het my aangesig tot die Here God gerig om met vas, en in roukleed en as, my aan gebed en smekinge te wy. (Dan 9:2-4)

 

Paulus

Paulus se reaksie na sy ontmoeting met Jesus was ‘n drie dae lange vas – hy het niks geëet of gedrink nie. Ek glo hy was baie diep geskok met die besef dat hy dit so verkeerd gehad het. Sy geestelike pad begin met ‘n vas terwyl hy op die Here gewag het. Onthou dat Jesus gesê het hy moet na die stad gaan en daar sal aan hom gesê word wat hy moet doen.

Toe staan Saulus van die grond af op, en alhoewel sy oë oop was, het hy niemand gesien nie; en hulle het hom aan die hand gelei en in Damaskus ingebring. En drie dae lank het hy niks gesien nie, en niks geëet of gedrink nie. (Hand 9:8) 

 

Die eerste kerk

Vir die eerste kerk was vasting niks snaaks nie. Ons kan uit hierdie gedeelte sien hoe vasting deel gevorm het van elke besluit en aksie. Hulle was besig om te vas. Let op hoe vasting en die dien van die Here saam genoem word. Terwyl hulle vas het die Heilige Gees ‘n instruksie gegee. Nadat hulle die instruksie ontvang het, het hulle weer gevas en gebid voordat daar hande opgelê was. Hoe ver het die kerk uit die Here se orde beweeg. Vandag word mense in leierskapposisies gestem sonder enige vasting of gebed.

En terwyl hulle besig was om die Here te dien en te vas, het die Heilige Gees gesê: Sonder nou Bárnabas en Saulus vir My af vir die werk waarvoor Ek hulle geroep het. En toe hulle gevas en gebid het en hulle die hande opgelê het, laat hulle hul gaan. (Hand 13:2-3)

Hier is nog ‘n voorbeeld. Die leiers van gemeentes was ouderlinge genoem. Hierdie mense was na gebed en vasting aan die Here opgedra.

En hulle het in elke gemeente vir hulle ouderlinge gekies, en hulle, ná gebed en vas, opgedra aan die Here in wie hulle geglo het. (Hand 14:23)

 

Vroeë kerk en moderne voorbeelde

Daar is so baie voorbeelde van vasting uit die ou kerkgeskrifte, maar ook van meer onlangse predikers. ‘n Vinnige soektog op die internet en al die voorbeelde kan gelees word. Ter wille van tyd en spasie gaan ek net enkeles deel.

Volgens die ou geskrifte het die eerste kerk twee 2 maal per week gevas as ‘n mimimum. Hierdie gebruik maak sin wanneer ons dit met die Joodse gebruike van daardie tyd vergelyk. Onthou dat die eerste bekeerlinge hoofsaaklik uit Jode bestaan het. Ons kan hierdie gebruik van twee maal per week vas sien al die pad tot in die tyd van John Wesley. Hy het ook twee maal per week gevas van sonop tot laatmiddag.

Charles Finney het ook gereeld weekliks gevas en ook soms vir drie dae vir herlewing en bekerings. Wanneer hy ervaar het dat sy prediking krag en salwing begin kort het, het hy gevas totdat die salwing en krag weer daar was.

Derek Prince skryf ook van ‘n 21 dae vastyd wat ‘n groot verdieping in sy bediening tot gevolg gehad het. Hy het ook een tot twee maal per week getrou gevas.

 

Verskillende manier van vas

Kom ons raak nou prakties. Hierdie is antwoorde op die vrae wat ons die meeste kry rakende vasting.

‘n Totale vas behels die onthouding van alle soorte kos en vloeistof, insluitende water. Hierdie vas kan slegs vir ‘n maksimum van drie dae gedoen word. Die geen vloeistof aspek maak hierdie die moeilikste soort vas. Ons beveel dit nie aan vir vas-beginners nie. Doen hierdie soort vas slegs onder direkte instruksie van die Heilige Gees.

Die algemeenste manier van vas is die onthouding van voedsel. Water en/of water en vrugte en groente sappe word ingeneem. Hierdie vas kan vir ‘n periode van tot 40 dae gedoen word. Korter vastings op hierdie manier word gewoonlik gedoen. Daar is nie ‘n regte of verkeerde hoeveelheid dae nie. Volg die leiding van die Heilige Gees.

Die sogenaamde Daniël vas is gedeeltelike vas waar sekere kosse uitgeskakel word. Daniël het smaaklike spyse uitgesny – vleis en wyn). Daar het al baie boeke, resepte en eetplanne verskyn onder hierdie naam wat dit maar eintlik ‘n manier van dieët of ‘n gesonde lewenswyse maak. Dit kan werk as ‘n goeie manier vir ‘n beginner om te leer om te vas, maar al die moets en moenies van watter kosse geëet mag word en watter nie, kan al jou gebedstyd opvreet. Daar is ongelooflik baie resepte met die heerlikste geregte wat binne die mensgemaakte riglyne val. Dit mors tyd en mis die hele doel van vasting. Pasop vir modes, giere en vleeslikheid. Hou dit eenvoudig. As jy ‘n gedeeltelike vas wil doen, besluit dat jy bevoorbeeld slegs groente en vrugte gaan eet. Eet dit rou of vinnig opgekook sodat jy nie te veel tyd aan kosmaak spandeer nie.

Daar is mense wat op kroniese medikasie is of wat byvoorbeeld diabeties is. Hierdie manier van vas, maak dit moontlik dat almal van ons kan vas. Groente en dalk neute kan geëet word sonder om bloedsuikervlakke deurmekaar te maak. As jy gesondheidskondisies het, bespreek jou manier van vasting met ‘n mediese persoon wat kennis van vasting het vir raad en leiding.

Die Joodse manier, en eintlik maar die Midde-Oosterse manier van vas is van die oggend tot omtrent so 6pm (sononder). Hierdie manier van vas het oorgevloei na die kerk en kan ook gesien word in die lewens van sommige vroeëre predikers. Hierdie is die manier waarop ons self die meeste van die tyd vas. Wanneer ons byvoorbeeld ‘n sewe dae lange vas doen, sal ons geen voedsel inneem van die oggend tot na ses nie. Ons sal wel water of kruie tee deur die dag drink. Geen koffie of enige ander drinkgoed wat slimulante bevat nie. Na ses sal ons ‘n sop of ‘n ‘smoothie’ maak. Nie ‘n groot ete nie en geen suiker nie. Ek deel ons manier van vas as ‘n illustrasie, nie as ‘n reël nie.

Vasting kan persoonlik of korporatief wees. Elke persoon behoort sy eie vastye te hê. Dis ook goed om saam as ‘n gemeente, dorp of land te vas. Ons vind beide maniere in die Skrif.

Daar is nie ‘n reël of regte manier nie. Baie mense hou van boksies met streng raamwerke en dit is dan moeilik om te verstaan dat die Bybel regtig nie ‘n spesifieke manier van vas voorskryf nie. Ek deel ‘n paar moontlikhede, maar elke persoon moet self by die Here hoor. Lewe deur die Gees – kry persoonlike leiding by die Heilige Gees en nie by mense nie.

 

Praktiese reëlings

As jy nog nooit gevas het nie en ‘n hele dag of week sonder kos klink baie rof, begin met een ete. Gebruik daardie tyd om te bid. Vas dalk aandete, dan is die verpligtinge van die dag verby. Of oor ‘n naweek – dalk ‘n Saterdagmiddag. Die belangrikste saam met die vas – soek die Here se aangesig en bid.

Besluit op die rede vir jou vas. Geestelike dissipline en aanbidding is ook ‘n rede, vasting hoef nie elke keer vir iets spesifieks te wees nie.

Voor ‘n vas

Besluit op tipe vas en tydsduur. Maak jou reëls vas saam met Heilige Gees – wat jy gaan eet en drink en watter tye jy gaan vas. Besluit ook hoe en wanneer jy jou vas gaan breek.

Begin om ligter te eet. Verminder jou kafeïen inname en drink meer water. Baie mense skrik vir die hoofpyne en ontrekkingsimtome tydens die eerste drie dae van vas en dink dis gesondheidskwessies. Kafeien, suiker en chemikalië neem tyd om uit ons liggame te werk en dit gaan gepaard met rowwe hoofpyne. Hoe sterker jou verslawing, hoe erger die hoofpyne en soms lyfpyne. Dit behoort na drie dae te bedaar.

Begin om swaarder kos bv. vleis uit te skakel en verminder. Moenie die fout maak om ‘n laaste feesmaal te eet reg voor jou vas nie. Berei jou maag en spysverteringstelsel voor dat minder kos oppad is.

Berei jouself ook psigies (‘mentally’) voor. Vas is moeilik, jy gaan honger word en die vyand gaan jou weerstaan. Partykeer is vasting makliker as ander kere. Daar is kere wat dit regtig swaar is en jou liggaam protesteer. Wees voorbereid daarop.

Tydens ‘n vas

Fokus op God en op aanbidding. Ruim genoeg tyd in vir gebed en Bybellees. Sit doelbewus tyd opsy; ook tyd om op Hom te wag.

Hou dalk ‘n notaboek byderhand en skryf nuwe insigte, drome, woord, idees en antwoorde neer. Nie elke vas kom met diep openbarings en wonderlike ervarings nie. Partykeer skuif dinge stilweg in die gees en kom jy eers die effek weke later agter.

Drink baie water, rus en slaap genoeg.

Eerste paar dae is die moeilikste, maar byt vas (overcome). Vas is ook ‘n goeie manier om die vrug van selfbeheersing in ons lewens te toets.

Eindig ‘n vas

Om ‘n vas te eindig kos baie dissipline, want ons wil sommer dadelik alles inryg wat voorkom. Moenie dit doen nie, dit gaan jou siek maak.

Die eerste maaltyd na ‘n vas moet iets ligs wees soos vrugtesap, sop of ‘n ‘smoothie’. Daarna word vaste kosse geleidelik bygevoeg (eers jogurt, sop, vrugte, gekookte groente en daarna vleis).

Eet klein hoeveelhede. Onthou jou spysverteringstelsel was in ‘n periode van rus. Kenners reken dat ‘n sewe-dae vas gevolg moet word met drie dae oorgaanperiode waar net groente, vrugte en suiwelprodukte ingeneem moet word. ‘n Veertig dae vas moet met ‘n sewe dae oorgaanperiode gevolg word.

Hier is ‘n skakel na ‘n website met nog meer goeie, praktiese raad:

https://www.cru.org/us/en/train-and-grow/spiritual-growth/fasting/personal-guide-to-fasting.1.html

 

Is kos ons baas? Is ons vlees aan die stuur?

Derek Prince het die volgende gesê:

Paul realised that he had to bring his carnal nature into subjection if he was going to succeed in his divine calling. This leaves everyone of us with a question: Which is the master and which is the servant in each of us? Is the body the master and the spirit just the slave? Or is the spirit the master and the body the servant? I will tell you this: your body makes a wonderful servant, but a terrible master.

Ons vlees is baie sterk en vasting wys ons hoe sterk ons vlees regtig is. Ons vlees wil hê ons moet tou opgooi en kom met gedagtes soos: “breek net die vas, dis tog nie so erg nie”. Dan kos dit regtig wildskrag om die vlees te onderwerp en nie sy sin te gee nie. Partykeer gee ek sommer my maag ‘n klap en sê vir hom “jy is nie my baas nie, die Here is my baas”.

 

Uitreksel uit ‘n lering deur Pieter Kirstein

Physical abstaining from food, under the guidance and unction of the Holy Spirit, is a very powerful spiritual discipline that can assist in crucifying fleshly passions because the principle of sacrifice releases the power of the cross, by the Spirit’s operation, into our lives.

From the beginning of my personal mentorship of the Holy Spirit in my life 21 years ago, God clearly and distinctly showed me how the power of the cross, operating through the discipline of fasting, destroys the carnal fleshly mind of man.

Hier is die skakel vir diegene wat die hele lering wil gaan lees.

https://www.facebook.com/profile/100004384542553/search/?q=fasting

 

Ek sluit af met hierdie stelling:

As ons regtig die krag van God in ons lewens wil sien, gaan ons ‘n leefwyse van vasting en gebed moet hê.

 

Die audio weergawe van hierdie boodskap is beskikbaar op ons telegram kanaal. https://t.me/+1hYU7h46Jj1hZDc8

css.php