Deur Yolandie Mostert, 30 April 2023
En op hulle reis het Hy in ‘n sekere dorp gekom, en ‘n vrou met die naam van Martha het Hom in haar huis ontvang. En sy het ‘n suster gehad met die naam van Maria; dié het aan die voete van Jesus gesit en na sy woord geluister. Maar Martha was baie besig om alles klaar te maak. Sy kom toe daar staan en sê: Here, gee U nie om dat my suster my alleen laat bedien nie? Sê dan vir haar dat sy my moet help. Maar Jesus antwoord en sê vir haar: Martha, Martha, jy is besorg en verontrus oor baie dinge; maar een ding is nodig; en Maria het die goeie deel uitgekies wat van haar nie weggeneem sal word nie. (Luk 10:38-42)
Die Martha en Maria kamer
Ek wil hierdie boodskap begin met ‘n beeld wat ek in die omgewing van 2019 gekry het. Ek was besig om te bid en het myself in voor ‘n toe deur bevind. Deur die Heilige Gees se openbaring het ek geweet dat ek voor ‘n kamer in my hart staan. Ek het die deur oopgemaak en was dadelik bewus van ‘n slegte reuk. In die hoek van die vertrek het ‘n massiewe wiel gestaan. Baie soos die wat mens vind binne hamsters se hokke. Rondom die wiel op die grond was daar feses en dit het die slegte reuk veroorsaak. Op die muur bokant die wiel was daar ‘n naambord: ‘Martha’. Ek was geskok dat hierdie alles binne in my hart was. Die Heilige Gees het toe met my begin deel oor my Martha-natuur. Die vyand het my op hierdie wiel van werke, take en besigwees gehad en hy het hard gedryf. Ek kon nie stop of afklim nie. Ek het in elk geval nie geweet hoe om anders te wees nie; ek kon myself nie help nie. Die slegte reuk was die resultaat van my werke en prestasie-gedrewendheid. Ek was te besig en dit het ‘n slegte reuk in die gees afgegee.
Nadat die Heilige Gees hierdie gedeelte van die kamer vir my gewys het, het Hy my laat omdraai. Teen ‘n ander muur was daar ook ‘n naambord: ‘Maria’. Onder die naambord was ‘n bank, ‘n spierwit wollerige mat en ‘n sytafel. Dit was sag, lig en het my getrek. Die stoel was vir Jesus gewees en my plek was op die wit mat by Sy voete. Alles in my het begeer om vanuit daardie plek te kon leef.
Daarna het die Heilige Gees my aandag op ‘n boekerak teen ‘n ander muur gevestig. Daar was ‘n pragtige groot boek in die boekerak wat dadelik my aandag getrek het. Dit was amper asof lig uit die boek geskyn het. Ek het dit afgehaal van die rak en op instruksie van die Heilige Gees dit op die sytafel neergesit. Ek het toe op die wit mat gaan sit en dit was ‘n vredevolle en heilige plek. Soos wat ek hierdie tik, is daardie mat nog net so duidelik vir my as wat dit drie jaar gelede was. Die begeerte om net daar te mag sit is nog net so sterk as wat dit in die beeld was. Ek het toe bewus geraak van Jesus se teenwoordigheid op die stoel en hoe Hy vir my die boek gee om oop te maak. Toe ek dit oopmaak het die letters op die bladsye begin opstyg en in en deur my beweeg. Deur die openbaring van die Heilige Gees het ek op daardie oomblik geweet dat dit my roeping en Sy hart vir my verteenwoordig.
Die Heilige Gees het toe die volgende gesê: Hy sou my leer om van die wiel af te klim. Ek moet elke oggend op die wit mat by Jesus se voete gaan sit. Dan sal Hy die boek oopmaak by dit wat in Sy hart is vir daardie spesifieke dag. Dag vir dag – luister en doen. Deur belydenis en ‘n lewensverandering sou Hy ook vir my leiding gegee het om die feses en vuilheid van werke in die kamer skoon te maak.
Die verhewe plek by Sy voete
Dan deel ek ook hierdie Woord wat in Augustus 2022 by die Heilige Gees ontvang het.
“Ek roep julle en bring julle tot ‘n leefwyse van ‘n Maria – iemand wat vanuit die plek van by My voete leef. ‘n Lae plek, maar die hoogste plek in My Koninkryk. Ek rig julle op tot ‘n verhewe plek by My voete. Daar waar Ek diep kan werk en spreek.
Koop die tyd uit en gee My Gees geleentheid om My hart aan julle te openbaar. Dis julle plek, my bruid. Met julle aangesig teen My voete. Julle trane, toewyding en gebede op ‘n plek van totale toewyding aan My. Julle hare teen My voete.
Daar is nie in die natuurlike ‘n laer plek vir die mens nie. Vir die vlees is dit ‘n plek van vernedering. Maar dis die sleutel om ‘n Maria leefwyse te leef.
Julle vra: “maar hoe Here? Hoe doen ek dit prakties in hierdie gejaag?” Laat toe dat My Gees jou leer.
Neem die tyd uit elke dag en manifesteer dit. Gaan lees wat Maria aan My gedoen het. Manifesteer dit in die fisiese en dit sal tot verwerkliking kom in die gees.”
By Sy voete
Die volgende ervaring help ook om die agtergrond te skets van dit waaroor ek vandag gesels. Verlede week, voor ons weeklikse bymekaarkom, was ek en Louis in gebed. Ek kies altyd vir my die stilte van my studeerkamer uit. Nadat ek ernstig gebid en gelei was in geestelike oorlogvoering; ek doen dit gewoonlik staande of al lopende, het ek ‘n diep begeerte gehad tot aanbidding. Deur die gebed en oorlogvoering, was die atmosfeer geheilig en voorberei vir wat volgende sou kom. Ek het by die rusbank gaan kniel en net woorde en kreuninge van aanbidding gespreek. Sy teenwoordigheid het so intens geraak dat ek van niks anders bewus was as net Sy soetheid en lieflikheid nie. Op daardie oomblik het ek ‘n beeld gesien van Maria by Jesus se voete. Dit was asof ek van bo af op die gebeure ingekyk het. Martha was besig om kos te bedien. Die dissipels en ander mense in die vertrek het rondgesit en met mekaar gesels. Dit was ‘n vrolike, rustige atmosfeer. Die Heilige Gees het my posisie toe geskuif tot waar Maria by Hom gesit het. Amper asof ek nou in haar skoene gestaan het en kon beleef wat sy beleef het. Haar oë was stip op sy mond gerig. Sy het elke woord ingedrink. Sy was bewus van sy reuk en van sy lieflikheid. Alles anders het vervaag tot nutteloos. Hy was die sentrale punt van haar fokus en sy wou nie eers vir ‘n oomblik haar oë, ore en hart van Hom afhaal nie. Hy het haar ingeneem. Mense het begin inkom en mekaar gegroet en gesels. Dit was ‘n vrolike vredevolle atmosfeer rondom my. Niks wat in die gees gehinder het nie. Ek wou net nie dat die oomblik ophou nie. Dit was amper vreemd om te dink almal gesels met mekaar terwyl Jesus op die stoel in die vertrek sit. Die volgende gedagtes het by my opgekom en ek het gewonder of Maria ook dieselfde gewonder het. Hoe mis ons Hom? Hy sit in die vertrek in Sy volheid, Sy soetheid, liefde en heerlikheid. Hoe is dit dat mense nie eers van Hom bewus is nie. My hart het ‘n paar keer uitgeroep: ‘hoe is dit dat ons U mis, hoe is dit dat ons nie eers bewus is van U nie, hoeveel keer gebeur dit dat ons almal U net mis, net ignoreer asof U nie eers hier is nie, of net nie weet nie!’.
Ek wil net noem: daar is niks daarmee verkeerd om liefdevol teenoor mekaar te wees en vriendelik te gesels en te groet nie. Dit hoort tog so. Maar in daardie heilige oomblik en in daardie spesifieke ervaring het dit net baie vaag en amper ydelik gevoel teen die intensheid van wie Hy is.
Hierdie dinge vorm nou die agtergrond sodat ons bietjie dieper kan kyk; hoe lyk Martha in praktyk en dieselfde met Maria. Ons praat baie keer diep en hoog en bring nie konsepte na ‘n praktiese uitvoerbare vlak toe nie. Die eerste beeld van die Martha en Maria kamer – hierdie is die heel eerste keer wat ek dit regtig deel. Ek het nog net vir twee mense hiervan vertel. Die rede was omdat ek self nog besig was om deur dit te werk en die oorwinning te verkry. En hiermee sê ek nie dat ek dit nou het nie; dis nogsteeds ‘n daaglikse leerproses. Ek raak party dae soos vies vir myself as ek my weer op die hamsterwiel kry. Maar dis die beste plek om te wees – wanneer ons so keelvol raak vir ons vleeslike natuur. Wanneer ons regtig weet dat ons nie onsself kan help nie. Dan besef ons eers regtig die waarde van die vergifnis en genade. As dit nie vir die Bloed van die Lam was nie!
Hoe lyk ons Martha-vleeslike kant?
Ons is altyd besig met iets. Ons het volgepakte programme en wanneer iemand vra hoe dit gaan, is dit antwoord altyd ‘besig’. Dit het mode geword om besig te wees. Dis nie noodwendig slegte dinge waarmee ons besig is nie. Martha was immers besig om kos te bedien vir honger mense – belangrike werk.
In ‘n Martha leefwyse is daar nie tyd vir stil raak by Jesus se voete nie. Daar is altyd iets wat eers gedoen moet word. Dis wasdag of die strykwerk wag. Daar moet permanent laat gewerk word om die ewige onbereikbare afsnydatums te bereik. Oor naweke is dit uitstappies, nog meer werk of net tyd vir ontspan. Gebed en alleentyd saam met die Here gaan moet wag tot alles eers afgehandel is.
Gebed en studie kry net ‘n sekere tydgleuf. Vir party is dit tien minute en vir ander darem ‘n uur of so. Een ding wat ek van die Here geleer het: ons fyn uitgewerkte programme en skedules is nie Syne nie. Wanneer Sy voete roep, dan roep dit. Of dit nou wasdag, inkopiesdag of ‘n kuierdag is.
Martha het ‘n baie streng roetiene. Daar is amper geen beweegruimte nie. Alles is fyn uitgewerk. Waar gaan Hy inpas as Hy jou roep om te kom sit en luister?
Die Martha-deel in ons is die foutvinderige, kritieserende een. Veral met die wat nie so besig soos hulle is nie. Dit klink dalk so: “maar jy kan maklik praat, jy het nie al my verantwoordelikhede nie”.
Ons trotse natuur word gevoed deur ons Martha-dinge. Ons raak tog so trots as ons meer kan vermag as die volgende persoon. Besige mense is baie trots op hulle vermoë om so baie balle gelyktydig in die lug te kan hou. Het ons al gestop en gevra wie elke bal in ons hand gesit het – Ons Vader of ons vyand?
Besige gedagtes. Baie aktiwiteite, take, stokperdjies, uitstappies, verantwoordelikhede het besige gedagtes tot gevolg. Hoe besiger ons gedagtes, hoe minder kan ons Sy soetstem herken. Ons vleeslike natuur, Martha, sukkel om stil te raak. Baie mense verkies ‘n program of roetiene vir hulle stiltetye. Eers lees ek ‘n stukkie, dan bid ek my paar sinne en dan is ek klaar. Of hulle sal ‘n lering luister in die plek van gebed – spreek en hoor.
Omdat Martha so resultaat gedrewe is, voel sy skuldig om byvoorbeeld vir twee, drie of selfs vier ure net tyd met die Here te spandeer. Dit voel soos tydmors. Gee eerder ‘n audio om te luister. Dan kan Martha aftiek dat sy drie ure met die Here gespandeer het terwyl al die doen-dinge eintlik maar prioriteit gekry het. Hoor asseblief mooi – daar is niks verkeerd om ‘n audio boodskap of lering te luister deur die dag terwyl jy jou dagtake doen nie. Ons almal het moet-dinge. En dis ‘n wonderlike manier om ons gedagtes met Skrif en waarheid te vul deur die dag. Maar audio-luister tyd is nie by die voete van Jesus sit tyd nie. Dit kan dit nooit vervang nie.
Martha maak ‘n skeiding tussen die geestelike en die lewe. Handel maar gou vinnig die stiltetyd af dat die dag kan begin en die lewe kan aangaan.
Die Martha in ons hou van die ou-wynsak manier van Christenwees. Dit voel veilig in die roetiene van lees jou Bybel en bid elke dag en gaan eenkeer ‘n week kerk toe. Omdat Martha van beheer hou, is nuwe wyn en nuwe wynsakke ‘n uitdaging. Dis onbekend en vreemd. Besigwees raak ‘n gemaksone.
Omdat Martha altyd voel daar moet resultate wees, iets moet gebeur of iets moet gedoen word, sukkel daardie gedeelte van ons om gemaklik te wees met die konsep van net by Jesus sit en Sy teenwoordigheid geniet in aanbidding.
Martha op geestelike gebied
Martha verteenwoordig werke in plaas van liefde. Die volgorde is verkeerd om. Deur al die bediening van die kos, met ander woorde die doen-dinge te doen, probeer Martha Jesus se guns kry. Gehoorsaamheid is belangrik en geloof sonder werke om ons geloof te bewys is dooie geloof. Maar die liefde vir die Here kom eerste.
As ons hierdie volgorde verkeerd kry, beland ons in ‘n prestasie-gedrewe godsdiens waar ons voel dat ons eers ‘n sekere geestelike standaard moet bereik sodat ons goed genoeg vir Hom kan wees. Dit lei tot geestelike minderwaardigheid, want ons sal nooit daardie standaard kan bereik nie. Die teenpool is geestelike hoogmoed; ‘n trots omdat alles geestelik onder beheer is. Die ‘ek het geestelik gearriveer’ mentaliteit.
Die Martha deel in ons wil altyd geestelik sterk, goed en bekwaam voorkom. Niemand moet tog net nie die swakplekke sien nie.
Dis ons vleeslike-Martha deel wat altyd roeping gefokus is. ‘Wat kan ons vir Hom doen’ in plaas daarvan dat ons Hom net wil ken.
Hoe lyk Maria dan?
Maria het heeltemal ander prioriteite. Sy weet wat gedoen moet word en wat maar gelos kan word om eerder by Sy voete te sit. Haar fokus is nie op kos en haar maag nie, maar op elke woord wat uit Sy mond kom. Sê ek ons mag nie eet en smaaklike etes voorberei nie. Nee, maar as dit meer tyd neem as dit tyd saam met Hom, is ons prioriteite nie reg nie.
Maria heg hoë waarde aan die tyd saam met Hom. Dis nooit tydmors nie. Sy verwag nie iets terug nie. Dit hoef nie hoendervleis-ervarings te wees nie. Hy is genoeg. Die Maria-deel van ons is tevrede om net by Hom te mag wees.
Maria-ore luister na Sy Stem. Sy spandeer tyd om Sy woorde aan haar te lees en te bestudeer. Tyd in die Skrifte is ook nooit gemorste tyd nie.
En dan, ‘n Maria hart aanbid Hom. Sy is intens bewus van Sy lieflikheid en wil dit aan Hom vertel. Gebed is nie net lysies en petisies nie. Soms is dit net aanbiddende woorde en ander kere ‘n aanbiddende hart wat nie eers ‘n woord uitkry nie.
Vir die wêreld en ons Martha-natuur lyk Maria baie onproduktief. Sy kan nie noodwendig iets vir haar tyd wys nie. Daar is nie onmiddelike resultate nie.
‘n Maria leefwyse is tweeledig. Eerstens so veel tyd as wat ons kan koop sodat ons by Sy voete kan gaan sit. En tweedens is dit ‘n permanente plek. Jesus raak haar sentrale fokus in elke taak en aktiwiteit. Of dit is wat aangetrek moet word, hoe haar voorkoms moet lyk, watter kos gemaak moet word en waarheen die gesin vir ‘n uitstappie of vakansie moet gaan. Hy is die middelpunt van elke besluit en elke aktiwiteit.
Die Maria-deel in ons is die lewendige geesdeel. Hierdie kort sin het nou baie diepte bevat. Mag die Gees vir jou insig gee. Hierdie deel is soms so onderdruk en aan die slaap dat Martha die kitaar slaan. Maar hierdie deel het ‘n diep smagting om Sy hart te mag ken, om Sy stem te mag hoor en in Sy oë te mag kyk. Na die mate wat ons vlees swakker word deur al die geestelike dissplines waarvan ons in die sendbriewe lees, na daardie mate word hierdie deel sterker en raak dit die oorweldigende begeerte van ons hart. Alles anders vervaag tot nutteloosheid en ydelheid.
Teen ‘n prys
Alles in die lewe kom altyd teen ‘n koste van iets anders. Daar is altyd ‘n prys om te betaal. Altyd ‘n opoffering om te maak. Dit kom neer op ons prioriteite. Op dit wat regtig vir ons belangrik is. Daaraan sal ons aandag gee, maar teen ‘n koste van iets anders. ‘n Praktiese voorbeeld. Ek is lief vir skilder, maar nie so lief vir oefening nie. Die koste lê in my armspiere wat nie so sterk is nie, maar my kwasvaardigheid verbeter met elke skildery. Los ek die skilder en begin ‘n uur elke dag oefen, gaan ek die voordeel van sterk spiere hê, maar teen die koste van skildervaardighede. Ons het nodig om die koste te bereken. Is dit iets waarmee ons kan saamleef? Die besluit lê by ons.
Die hamsterwiel behoort aan satan se koninkryk. Dis deel van die Babiloniese stelsel wat van mense slawe van ‘n struktuur maak. Ons God is ‘n God van orde en vrede. Hy gee ons rus. Sy juk is sag.
Ek dink baie aan ‘n getuienis van Heidi Mitchell. Die Here maak haar elke oggend wakker op ‘n afgesproke tyd. Hulle besluit die vorige aand hoe laat sy moet opstaan. Die eerste oggend het Hy haar vyftien minute vroeër wakker gemaak. Sy was effe verbaas en Het Hom gevra daaroor. Sy antwoord was dat Hy nie van ‘n gejaag hou nie. Dit het vir my soveel insig gegee oor ons Vader se orde. En wanneer ek gejaag raak, weet ek dat dit nie van Hom af kom nie. Ek moet die aanpassing maak sodat ek in Sy orde kan beweeg.
Hoe werk dit prakties?
Dis maklik om deur die Martha en Maria eienskappe te werk, maar ons moet dit prakties maak sodat ons die nuwe leefwyse kan implementeer. Hier is ‘n paar punte wat kan help. Die belangrikste is maar om soveel tyd as moontlik by Sy voete te kan sit en om ons leefwyse aan te pas sodat ons dit kan doen. Werk genoeg alleentyd in jou dag se beplanning in.
Wees aanpasbaar. Soos ek reeds gesê het, Hy val nie by ons roetienes in nie. Ek het al gaan sit om te skryf, want ek het dan tyd en dan gebeur daar niks. Ek kan nie skryf sonder inspirasie nie. Maar dan onderbreek die Here soms iets waarmee ek besig is en ek kan die skryfsalwing ervaar en die woorde vloei. Dan moes ek alles los en gaan sit en skryf.
Tyd saam met Hom lyk ook nooit dieselfde nie. Daar is nie ‘n roetiene nie. Soms onderbreek Hy my gebed en vra my om aanbiddingsliedere te sing. Ander kere moet ek net in tale bid en trek die Gees my in tale sing in. Vanoggend was dit om die dagbreek in Sy teenwoordigheid op die stoep te geniet. Ek het ‘n paar versies gelees, maar verder was dit gedagtewisselings en Hy het baie meer gepraat as ek. Elke gebedstyd is verskillend.
Leer om Hom te aanbid. Daar is so baie van Sy kinders wat nie weet hoe om te aanbid of wat om te sê nie. Aanbidding is nie die drie laaste stadige liedjies op ‘n Sondag nie. Dit lê baie dieper as dit. Dis ‘n leefwyse, maar dis ook woorde om te beskryf hoe wonderlik Hy is.
Raak gemaklik om te kniel en voor Sy aangesig te lê. Nie alle gebed kan in hierdie posisies gedoen word nie. Oorlogvoering behels meer mobiliteit. Maar aanbidding en manifestering van ons Maria hart aanbidding hoort laag by Sy voete. Dis nie benede ons om plat op ons aangesigte voor Hom te lê nie.
Huisgodsdiens is wonderlik, maar dit kan nooit ons alleentyd saam met Hom vervang nie. Tyd by Jesus se voete is een-tot-een. Daar is nie plek vir ‘n derde persoon nie.
‘n Moeiliker een: ons moet al die balle wat ons in die lug probeer hou in oënskou neem en besluit watter moet gaan. Jy gaan een laat gaan teen ‘n koste van iets anders. Dalk finansies, dalk iets waarvoor jy werklik lief is. Hierdie was ‘n baie moeilike en swaar les vir my gewees, want ek is lief vir ‘n groot verskeidenheid dinge. Ek moes kies om sekere dinge en aktiwiteite minder te maak om vir my tyd te koop om by Sy voete te kan wees. Ons moet mooi gaan sit en dink hoe ons vir ons meer tyd kan koop.
Nog moeiliker was die stemme van veroordeling binne my. Martha het my goed skuldig laat voel. Ek moes doelbewus die stem van: ‘jy kan niks vir jou tyd wys nie’ doelbewus stilmaak.
Ons gaan opofferings moet maak. Dalk kos, kosmaak, huiswerk roetienes, oortydure vir ekstra geld, slaap, ontspanning, sport, stokperdjies ensomeer. Wat van party naweekuitstappies, televisie, sosiale media wat in elk geval tydvreters is, party kuiergeleenthede, sommige vakansietye. Om in ruil daarvan, tyd by Sy voete te kan spandeer. Vas dalk sommer ook vir ‘n tydperk alle leringe en sosiale media – laat Hy jou voed.
Slegs een ding is nodig – tyd by Sy voete – fisiese tyd asook ‘n lewenswyse. Dis die goeie deel. Wanneer ons dit kies, sal dit nie van ons weggeneem word nie. Dis nie verlore tyd nie. Dit gaan veelvoudige vrug oplewer.
Jesus se voorbeeld vir ons
Jesus het vir ons pragtige voorbeelde gestel van alleentyd op die berg saam met Sy Vader. Ek gaan nie al die Skrifte lees nie, ek los die verwysings hier onder vir jou eie studie. Tog wil ek hierdie een aanhaal:
En nadat Hy die skare weggestuur het, klim Hy op die berg om in die eensaamheid te bid. En toe dit aand geword het, was Hy daar alleen. Maar in die vierde nagwaak het Jesus na hulle gekom, al wandelende op die see. (Matt 14:23 en 25)
‘n Leefwyse van ure alleen in Sy teenwoordigheid, gaan wonderwerke in die toekoms tot gevolg hê. Ons wil op die water loop, maar sien nie eers kans om een nag saam met Hom in eensaamheid te spandeer nie. Hoe meer tyd ons gaan uitkoop, hoe meer gaan ons in die toekoms die nuwe wyn in die nuwe wynsakke in ons lewens sien gebeur. En al was daar ook nie eers enige belofte aan tyd by Sy voete gekoppel nie, is Hy steeds genoeg.
Om Hom te mag ken, oortref elke belofte, seën en heerlikheid.
Additionele Skrifgedeeltes:
Luk 6:12; Joh 6:15; Matt 14:13, Mar 6:31-32
Die audio weergawe van hierdie boodskap is beskikbaar op ons telegram kanaal: https://t.me/+1hYU7h46Jj1hZDc8