Trots – ons grootste vyand (Deel 4)

Deur Yolandie Mostert.

Die audio weergawe is beskikbaar op telegram: https://t.me/+1hYU7h46Jj1hZDc8

Hierdie is al die vierde boodskap in die reeks oor trots. Ons is steeds besig om ons pad deur die boom van trots te werk. Julle sal onthou dat ek trots in drie afdelings opgedeel het:

  • doodgewone trots of hoogmoedigheid,
  • geestelike hoogmoed en
  • vals nederigheid.

Ons het reeds deur die eerste twee gewerk. In die vorige deel het ek geestelike hoogmoed bespreek. Iets wat ek nie toe genoem het nie, was dat die godsdiensgees in die vesting van Leviatan opereer. In die toekoms sal ek nog meer verduidelik oor die verskillende vestings wat die vyand binne mense oprig. Een van die sterkste en beste weggesteekte vesting is dié van Leviatan. Dis dan ook die vesting wat die grootste blokkasie in die pad van ‘n intieme verhouding veroorsaak.

 

Die pasaangeër

Julle sal onthou dat ek verlede keer genoem het van die pasaangeër wat die vyand plaas tussen ons en Jesus. Ons stap ingehaak saam met Hom. Ons wandel met Hom. Ons kan Sy stem hoor. Maar daar is ‘n dieper vlak van wandel beskikbaar en dis om teen sy bors te leun terwyl ons stap. In hierdie posisie kan ons Sy hartklop hoor en voel. Die ritme van Sy hart stem ons in op Sy Wil. En ook op die huidige geestelike tye en hoe ons daarop moet reageer. Wanneer die vesting van Leviatan nog nie geval het in die lewens van Sy bruid nie, skuif Leviatan ‘n ander hartklop tussen ons en Jesus in. Ons kom dit nie agter nie, want ons wandel steeds met Hom. En ons kan steeds Sy stem hoor. En daarin lê die gevaar.

Dis die diepste wat ons ooit gaan kom. En daar is dieper in Hom. Daar is nog nader beskikbaar vir Sy bruid. Hy wil ons tot binne Sy hart bring. Mag ons genade ontvang om van alle blokkasies met erns ontslae te raak.

 

Ek wil vinnig aan die derde afdeling raak en dit is vals nederigheid. Daarna wil ek graag so bietjie deel uit die boek van Job.

 

Vals nederigheid

Hierdie gesig van trots is baie subtiel en weereens moet ons diep gaan soek na die motief van ons hart. Vals nederigheid is die lagie veneer wat ons bo-oor ons hoogmoed en trots plak. Dit lyk en klink soos nederigheid, maar dis eintlik ook maar trots.

Voorbeelde hiervan:

  • Ons maak ons doelbewus minderwaardig om nederig te lyk.
  • ‘Humblebrag’. Dis wanneer ons spog oor ons sogenaamde nederige en opofferende dade. Of om in ‘n gesprek ‘n duur ‘brandnames’ of voertuigmodelle in te werk. Op ‘n meer geestelike front: om terloops ons gawes en ampte in ‘n gesprek in te werk met die doel om belangrik voor te kom.
  • Praat oor hoe nederig ons is.
  • “In my nederige opinie…”
  • Vertel vir almal dat hulle nie materialisties is nie. Indien ons regtig nie is nie, sal mense dit vanself agterkom, dit sal nie nodig wees om dit te noem nie.
  • Vis vir komplimente.
  • Wys eer af wanneer ons dit verdien. Hierdie is soms ‘n moeilike een om te verstaan. Maar onthou dat trots ons beeld óf groter óf kleiner maak. Wanneer iemand jou komplimenteer oor jou mooi rok of goeie werk, aanvaar die kompliment en sê dankie. Moenie sê: “ag hierdie ou ding nie”.
  • Praat ons gawes weg. Hierdie punt sluit aan by die vorige een. Elkeen van ons het ‘n gawe waarmee ons die liggaam moet bedien. Dis nie nederigheid om te maak asof ons nie die gawe het nie.

Rom 12:3  Want deur die genade wat aan my gegee is, sê ek vir elkeen wat onder julle is, dat hy nie van homself meer moet dink as wat ‘n mens behoort te dink nie; maar dat hy daaraan moet dink om besadig te wees na die maat van geloof soos God dit aan elkeen toebedeel het. 

  • ‘n Valse beeld dat ons nie iets kan doen nie. Dit is om doelbewus hulpeloos te lyk in ‘n verdraaide beeld van nederigheid.
  • Self-afbrekende humor.
  • Kyk neer op welaf / suksesvol mense.
  • Vertel graag wat hulle alles opgegee het.
  • Obsessie om hulle goed weg te gee.
  • ‘Brag’ oor hulle swaarkry (verwronge idee dat dit die Here se wil vir hulle is).
  • Wys seëninge af, verkies swaarkry en/of armoede sodat hulle hierdeur hulle nederigheid kan bewys.

 

Op hierdie noot… dis vir my so lekker wanneer die Heilige Gees met dieselfde tema op dieselfde tyd besig is met lede van die liggaam wat mekaar nie eers ken nie. In hierdie tyd terwyl ek hiermee besig was, deel iemand wat baie mooi by die Here hoor en wat al hierdie pad van vrymaking van trots gestap het, iets oor vals nederigheid. Ek lees ‘n uittreksel daarvan:

True Humility deur Pieter Kirstein:

Humility is a divine virtue of the nature of God which only He can work and impart into man, for we are His workmanship. Humility is not part of the nature of the flesh because man is a prideful sinner within himself and humility comes not by performance, because you can be so humble that you are proud of it.

If you knew what true humility looks like, then your only boast shall be in the Lord. When someone tells you how humble they are, then be sure that such are only declaring the level of deception of their own self-righteous pride.

Apart from God, we have no good and all of our righteousness are as filty rags.

Be careful that false humility causes you to be proud and boastful of how humble you think you are, when in fact you are steeped in the ugliness of devilish pride.

Stay humble before God by realizing your own poverty of spirit, that within yourself you have no virtue.

Tot so ver.

 

Job

Ek wil graag vir ‘n oomblik na Job toe gaan. Job was ‘n vrome, opregte en Godsvresende man wat wat die kwaad afgewyk het. Dis hoe die boek vir Job in die eerste vers voorstel. Ek glo dat die bruid van Jesus dieselfde voorstelling kan kry. Ons harte is opreg, ons wil graag die Vader behaag. Ons is vroom, mense van integriteit. Daar is Godsvrees in ons harte, alhoewel dit ons sal betaam om beter te doen in hierdie afdeling. Dis ‘n gesprek vir later. En laastens, mense wat van die kwaad afwyk. Ons herken die verkeerde in ons lewens, bely en laat staan in ‘n groot mate. Nes Job.

Maar daar was trots diep weggesteek in Job se hart. Wanneer ons deur die boek lees, kom subtiele verwysings na eie werke, goedheid en prestasies op. Ons is nie verhewe bokant Job nie. Dis dieselfde met ons.

Al die omstandighede, redenasies en worstel met die Here was nodig om die trots in Job se lewe na die oppervlak te bring. Vir amper veertig hoofstukke lank regverdig Job homself. Die drie vriende was verkeerd, die Here het nie vir Job gestraf vir ‘n spesifieke daad wat hy gedoen het nie. Hulle het self nie die Here se hantering van ons aard verstaan nie. Wanneer ons vra vir dieper en nader, antwoord die Here ons en begin dinge aan die lig bring waarmee ons moet deel. Dis die voorreg en prys vir vroom en opregtheid. Dis amper soos ‘n gevorderde klas. Baie baie dieper geestelike werk.

In hoofstuk 40 en 41 begin Job die amper onmoontlikheid van oorwinning oor trots besef in die gesprek oor Leviatan. Dis ‘n wonderlike plek om geestelik te bereik. Die besef van jou eie ontoereikendheid. Dit maak ons desperaat dankbaar vir die Bloed van die Lam. Dis nie net ‘n aandoenplek nie. Wanneer ons eers daardie waarheid vir die eerste keer geproe het, los daardie besef dat ons nie onsself kan help nie ons nooit weer nie. Dit raak net al hoe meer intens: ‘n leefwyse van enigste roem op die Bloed, niks anders nie. Dis ook ‘n baie veilige plek. Jy staan nie op ‘n onstabiele stellasie wat enige oomblik inmekaar kan tuimel nie, maar staan op ‘n stewige platform. Onthou die ‘scissorlift’ wat die platform onder jou beheer. Die Vader bepaal jou eer. Jou voete bly op een plek.

Eers nadat Job verby trots kon kom, kon hy die volgende woorde sê in hoofstuk 42:

Hoor tog, en ék sal spreek; ek sal U ondervra en onderrig U my! Volgens hoorsê het ek van U gehoor; maar nou het my oog U gesien. Daarom herroep ek en het berou in stof en as. (Job 42:4-6)

Tóé eers kon die seëninge deurbreek. Ons hou daarvan om Job 1 te lees en dan te spring na Job 42 vir die gelukkige einde. Maar al die hoofstukke tussen-in beskryf ons worstelinge met die dinge wat ons terughou. En spesifiek ons diep gewortelde trotse natuur.

 

Kom ons neem die tyd uit en deel hiermee. Wees dapper en begin om die ui te skil. Eers die ooglopende dinge en dan dieper en fyner. Altyd saam met Heilige Gees.

En al die bome van die veld sal weet dat Ek, die HERE, die hoë boom verneder, die nederige boom verhoog het; die groen boom laat verdroog en die droë boom laat bloei het. Ek, die HERE, het dit gespreek en gedoen. (Eseg 17:24) 

 

Vrede en genade vir jou!

 

Skakels na Deel 1, Deel 2 en Deel 3

css.php