Deur Yolandie Mostert.
Die audio boodskap is beskikbaar op telegram: https://t.me/+1hYU7h46Jj1hZDc8
Hierdie is die derde boodskap in die reeks oor trots. Ons is steeds besig om ons pad deur die boom van trots te werk. Ek het trots in drie afdelings gedeel:
- doodgewone trots of hoogmoedigheid,
- geestelike hoogmoed en
- vals nederigheid.
Ons het in deel 2 na verskillende vrugte van trots in die breë sin gekyk. Ek wil nou graag verder gaan en die vrugte van geestelike hoogmoed en vals nederigheid uitwys.
Voordat ons begin…
Waarom al die gepraat oor trots?
Ek is seker daar is mense wat al wens dat ons na die volgende onderwerpe kan begin beweeg. Ek wil self. Daar is soveel wonderlikhede wat ek uit Hooglied kan deel. Die probleem is dat hierdie ding ons pootjie. Hier praat ek nie eers van jou nominale Christen wat net tevrede is met redding en niks verder nie. My boodskappe is vir die wat hulleself wil voorberei as die bruid van Christus. Ons lees in Openbaring dat die vrou van die Lam haarself gereed gemaak het. Die woordkeuse is aktief, nie passief nie. Ons kan nie terugsit met ‘n sommer-maar-sommer houding nie. En dit help ook nie ons werk deur elke moontlik vesting waarvan ons weet nie. Ons weet van Isebel (Jezebel) en doen hopenlik iets daaraan. Ons weet van Vrymesselary en doen aflê gebede. Ensovoorts, ensovoorts. Maar wat van die vesting van Leviatan?
Vrymesselary beinvloed finansies, gesondheid en nog dinge wat fisies gesien kan word. Dis maklik om ‘n Isebel of ‘n Agab te herken. Maar Leviatan kruip weg agter ons natuur. Hy kruip weg binne sy eie skubbe. Hy is amper onsigbaar. Behalwe vir die wat sy reuk kan optel. En hulle so bitterlik min.
Hoekom kom so min mense vry?
Soos ek hier praat, het ons al meer as tien Hooglied konferensies agter die rug. In elkeen praat ek oor hierdie gevaarlike vesting. Tog is die vrug van vryheid so yl. Ek glo die rede hiervoor is dat almal dit verskuif na die persoon langs hulle. Niemand wil glo dat hulle hierdie probleem het nie. Aan die ander kant, herken mense dit. Sê dalk nie ‘amen’ nie, maar ‘eina’, maar doen niks daaromtrent nie. Dit gaan nie vanself weggaan nie. Ons het drasties nodig om die Heilige Gees te vra om ons ons eie geestelike reuk te laat ruik. Om vir ons die vrot vrugte van trots in ons lewens uit te wys.
‘n Lewe teen die bors van Jesus
In Januarie het die Heilige Gees my ‘n paar keer ons wandel met Jesus, of Yeshua gewys. Op hierdie punt, ek is nie godsdienstig nie. Jy kan Hom noem soos die Heilige Gees jou lei. Maak net seker dat jy Sy hart kan hoor klop. Dis waar ons moet wees. Net soos Johannes teen Sy bors gelê het, moet ons vanuit daardie plek leef. Maar daar is ‘n pasaangeër tussen ons en Hom. Ons dink dis Sy hartklop, maar dis nie. My hart huil terwyl ek hierdie tik. Slegs die Gees van die Lewende God kan Leviatan se skubbe laat lig sodat ons ons trots kan sien en herken. Voordat ons teen Sy bors kan lewe, moet ons op ons aangesig voor Hom val en uitroep dat die vals hartklop verwyder moet word. Die vesting van trots moet val. En ‘n enkele gebedjie gaan dit nie regkry nie. Opregte belydenis uit die hart is nodig.
Mag ons terugkeer na tye waar sondes uitgeroep word en die Naam van die Here tot verlossing aangeroep word. Mag trots nie in ons pad staan om vryheid te kry van trots nie.
Bevrydingsbediening
Die enkele vesting wat direk staan teenoor die bevrydingsbediening is Leviatan. En hier opereer hy nie in die sommer maar net doodgewone hoogmoed nie. Ja, dit ook. Maar dis die geestelike hoogmoed wat die sterkste weerstand bied. Die oposisie kom van binne diegene wat hulleself Christene noem. Waar daar teen die belydenis van sonde en diep bevryding gepraat word, sit Leviatan agter die deur. Waar daar gesê word: ‘alles nuut gemaak, geen heiligmaking nodig nie’, is dit die stem van Leviatan.
Goed, genoeg gepleit. Kom ons werk ons pad deur die eienskappe.
Geestelike hoogmoed
Hierdie is ‘n baie spesifieke afdeling van hoogmoed en ek lys dit apart omdat dit so relevant op kinders van die Here is. Ons kry dit nogal reg om die simptome van die boonste lys weg te steek onder ‘n lagie nederige veneer. Die realiteit is die boom van trots, net soos die pando boom, het vertikale stamme en ons geval is dit wat bo die oppervlak gesien kan word geestelike hoogmoed. Dis amper een van die lelikste vorme van trots. Dis een ding om hoogmoedig te wees omdat jy geld, gawes of skoonheid het, maar dis baie leliker om hoogmoedig te wees as gevolg van jou gratis redding deur die Bloed van die Lam.
Hier volg ‘n paar voorbeelde. Wanneer ons deur hierdie lys werk, moet ons regtig vir die Heilige Gees vra om deur Sy krag die skubbe van Leviatan te lig sodat Sy wind daardeur kan waai en ons die waarheid oor onsself kan besef. Ons sal nooit hierdie in ons eie lewe kan herken as dit nie vir die Heilige Gees openbaring is nie.
- Die super-Christene, eksie perfeksie, doen alles reg volgens die letter. Weereens praat ek nie hier van iemand wat die Here in gees en waarheid dien nie. Ek praat van ‘n vleeslike vertoning. Om vir mense te wys dat hulle meer geestelik is as die res.
- Die aksent of stemtoon wanneer mense met geestelike dinge besig is.
- Die geoefende openbare gebed. Ek verwys hier na hoë woorde wat nie normaalweg gebruik word nie. Die gebed kom nie net uit die hart nie, maar moet mooi klink vir die aanhoorders.
- Belangrik om sekere rolle en funksies te vervul om vir ander te wys dat hulle geestelik bekwaam is.
- Die apostels en profete ‘hype’. Die nuwe tendens is dat almal of ‘n apostel of ‘n profeet is en behoede jou as jy hulle nie op hulle titel aanspreek nie. My vraag is waar is die dienskneg? Hoekom stel niemand hulleself voor as Dienskneg so en so nie? (Let wel, ek het groot respek vir hierdie funksies en gawes in die liggaam, maar wanneer hulle reg en in nederigheid hanteer word)
- Wil voor in die koor wees. Hierdie een spreek vanself. Dis ook om jou identiteit te vind in watter geestelike posisie jy beklee. Hetsy jy die klankman, die spreker of die sekretaresse is. Wanneer daardie dinge van ons weggeneem word, wie bly oor?
- Almal moet weet hoe baie hulle vas. Of watter ookal geestelike dissipline hulle doen. Ook hoe baie die Here met hulle praat. Dis goed om te deel, maar soms deel die Heilige Gees dinge wat nie oorvertel moet word nie. Sal ons dit regkry om soos Paulus vir veertien jaar te wag?
- Kyk neer op ander Christene of denominasies wat minder verlig is. Dis een ding om dit as ‘n feit raak te sien en te erken, maar ‘n ander om te dink jy is beter as gevolg daarvan. Pasop vir val. Sonder genade is dit baie maklik om terug te val tot ‘n vlak laer as die wat geminag word.
- Geestelike ‘jargon’ (Christianese). Ons het al hierdie geestelike terme wat gewone mense nie verstaan nie, en dit plaas ons net so bietjie hoër as die res.
- Oe, hier mag ek dalk op tone trap. Terwyl daar niks verkeerd daarmee is om na die oorspronklike betekenis van ‘n woord te kyk vir beter verduideliking nie, is daar baie mee verkeerd om Hebreeus links en regs in te gooi terwyl die aanhoorder nie ‘n idee het wat die woorde beteken nie. Kyk na die motief van jou hart: is dit nie maar om slim te klink nie?
- Saam met hierdie punt wil ek ook die heilige Name inbring. Ek haal aan uit Sarah van Vuuren se Shama boek. “Daar is mense wat my Jesus noem en hulle harte is ver van My en daar is mense wat my Yeshua noem en hulle harte is ver van My”. Ek lees soms kommentaar tussen die wat hulleself sien as die bruid en dan huil my hart oor die harde kritiese woorde. Elkeen verdedig die Naam wat hy gekies het om te gebruik. Ons mis die Koning se hart totaal en al in dit.
- Kompenseer vir die ontbreking van die Heilige Gees stem en leiding deur reëls en wette. Omdat mense nie die Heilige Gees se stem direk kan hoor om die wet wat op hulle binneste geskryf is vir hulle te leer en te interpreteer nie, maak hulle saak op lyste en lyste van moets en moenies. Die tweede probleem is hier dat almal wat nie aan die lys van moets en moenies gehoorsaam is nie, as lou of koud afgemaak word.
- Wetties / Godsdienstigheid / rituele. Probeer die Here se guns of eie geregtigheid te kry deur dinge te doen en wette te onderhou. Sommige van hierdie dinge is deur mense voorgeskryf en geleer en word nie deur die Gees gedryf nie. Vra die Heilige Gees watter feeste jy moet vier en watter jy nie moet vier nie. Vra Hom hóé Hy wil hê jy dit moet doen. En as dit anders lyk as hoe die deursnee persoon, of hoe die Jode dit doen, besluit aan wie jy gehoorsaam wil wees. Die Heilige Gees of mense.
- Deel van ‘n “elite” groep met meer waarheid en lig as die res. Sekere kerke het ‘n oorheersende gees van meerderwaardigheid (‘superiority’). ‘Omdat ons aan hierdie kerk behoort, is ons beter as die res’, en daar word neergekyk op die res van die dorp.
- Tradisie, “ons doen dit nog altyd so”. Die Here bring nuwe waarhede. Nuwe wyn wat in nuwe sakke moet kom, maar ons klou verbete vas aan die ou manier. Hy gaan nie Sy nuwe wyn in ons ou, verharde sakke mors nie.
- Skynheiligheid (voorgee voor ander). Ons kry so baie hiermee te doen. Ek is al op die punt om te dink dat die meeste, indien nie alle ongelowiges (en gelowiges) dink dat ‘n dubbele lewe normaal is. Dat almal maar so lewe. Voor die mense is ons tog so geestelike en godsdienstig. Die tipiese Bybel onder die arm gesegde. Maar binne in ons huise, wanneer die deure toegemaak word, is dit ‘n ander storie. Ons kinders is die wat die meeste hieronder ly. Dit steel hulle geloof en skep ‘n standaard van ‘n dubbele pad stap.
Die kruks van die saak lê altyd in die motief van ons hart. Doen ons die ‘dinge’ sodat die Here ons moet liefhê of is ons gehoorsaam omdat ons Hom liefhet? Dis ‘n fyn lyn en soms moeilik om die onderskeid te herken in ons eie lewe. Vra die Heilige Gees om die motief van jou hart aan jou te openbaar. Slegs Hy kan ons help.
My oorspronklike plan was om vals nederigheid ook in hierdie deel te hanteer, maar ek sien die boodskap raak langer as wat ek beplan het. Dit sal dus in die volgende deel volg.
Op hierdie noot eindig ek dan met die laaste gedeelte van Rom 11:20
… maar jy staan deur die geloof. Moenie hoogmoedig wees nie, maar vrees.
Vrede en genade vir jou!
Skakel na Deel 1, Deel 2 en Deel 4