Deur Yolandie Mostert.
Audio weergawe: https://t.me/+1hYU7h46Jj1hZDc8
Ons is steeds besig om ons pad deur die boom van trots te werk. In my vorige boodskap het ek gesê dat daar drie hoofafdelings van trots is:
- doodgewone trots of hoogmoedigheid,
- geestelike hoogmoed en
- vals nederigheid.
Ek wil in hierdie deel na sommige van die vrugte van die eerste afdeling kyk: sommer net doodgewone trots in die breë sin. Die ander twee afdelings sal volg in Deel 3 en moontlik Deel 4. Vir ons as mense wat graag in ‘n dieper verhouding met ons Hemelse Vader, ons Bruidegom Koning en die Gees van Waarheid wil wandel, is dit van kardinale belang dat ons hierdie boom wortel en tak uitroei. Dit is die nommer een ding wat ons blokeer.
Aanvanklik het ek gedink om ‘n verloëningsgebed te skryf, maar ek het gevind dat hierdie vesting slegs val wanneer ons saam die Heilige Gees in diepte hierdie dinge as sonde bely. Wanneer ons uitroep om redding omdat ons nie onsself kan help nie, breek oorwinning deur. Solank as wat ons ‘n resep het, het ons nog nie aan die einde van onsself en ons pogings gekom nie.
My gebed is dat die Heilige Gees diep in ons elkeen se hart sal werk en die geheime aan die lig sal bring. En die belangrikste, dat dit ‘n dieper bekering sal bewerkstellig. Sodat ons kan los kom van die dinge wat ons vashou en kan groei tot die volle maat van geestelike volwassenheid in Jesus Christus, ons Messias.
Moenie in veroordeling gaan nie. Dis die vyand se stem wat vir ons sê: “ja sien jy, jy is so sleg, jy kan maar net so wel ophou”. Die Heilige Gees se stem is altyd een van oortuiging wat ons lei tot berou en belydenis sodat ons vergifnis en vrymaking kan ontvang.
Hoogmoed
Omdat dit in ons natuur is om hoogmoed en trots te ontken, het ek ‘n hele klompie voorbeelde gelys. Dit help altyd om spesifiek te raak sodat ons die vrugte van trots in ons eie lewe kan herken. Hierdie is natuurlik nie ‘n volledige lys nie, maar dit behoort jou aan die gang te kry met introspeksie.
Wees tog versigtig om nie dadelik te dink hierdie klink net soos my buurvrou, of my skoonma nie. Kyk heel eerste binnetoe. Die vyand wys ons op ander se trots sodat ons nie dit in ons eie lewe kan herken nie.
Op die geskrewe dokument is baie meer vrug, maar om die audio weergawe nie te lank uit te rek nie, verduidelik ek net ‘n paar punte.
- Weet alles van alles. Trots maak ons baie beterweterig.
- Weet reeds alles waaroor ‘n spreker gaan praat. Wanneer ons hierdie houding het nog voor die spreker sy mond oopgemaak het, sal ons nooit oop kan wees om te leer nie.
- Dink sekere take is benede jou.
- Te trots om vir hulp te vra.
- Behoefte om konstant mense te wil leer.
- Praat baie oor jouself en jou lewe.
- Dink jy is beter as ander (beter klas).
- Neem nie die raad van ander aan nie.
- Konstant krities (vind fout met almal om jou). Hierdie punt is ‘n maklike rooi vlag om te herken. Trots maak ons baie krities op ander en die vrug kom by ons monde uit: voordurende foutvind.
- Konstante behoefte vir validasie, aandag en komplimente.
- Kan nie opbouende kritiek hanteer nie.
- Obsessie met fisiese voorkoms (ook van besittings).
- Hier bedoel ek nie netheid of om ‘n taak met inbors goed af te handel nie. Hierdie is ‘n oordrewendheid om alles uiters perfek of netjies te hê. Een van die wortels van hierdie té, lê in verwerping. Omdat ons nooit goed genoeg voel teenoor ander nie, probeer ons opmaak deur eksie-perfeksie te wees. Dit steel jou lewensvreugde wanneer jy die heeltyd moet skoonmaak en blink vryf.
- Weier om aan outoriteit onderdanig te wees – glo jy weet beter as jou leiers en dat jy maar op jou tande moet kners in vals onderdanigheid.
- Ignoreer sekere mense se kommunikasie omdat jy hulle sien as minderwaardig en nie jou tyd of energie werd nie.
- Verdedig en/of regverdig jou verkeerde optrede.
- ‘Name-dropping’. Wanneer iemand ander mense se name gebruik as ‘n validasie dat hulle die regte mense in hoë plekke ken.
- ‘Wat sal die mense sê?”
- Dink jy is meer spesiaal as die res. Wanneer iemand geseënd is met talente of vaardighede, kan dit maklik ‘n basis van roem word. So ‘n persoon kan maklik hierdeur gedefinieer word.
- Glo net hoër status mense sal jou kan verstaan.
- Jaloers op ander. Dis gewoonlik geheimlik en sal bitter min erken word. Afgebreek in sy mees eenvoudigste vorm sê jaloesie: “jy het iets wat ek behoort te hê”.
- Dink heeltyd mense is jaloers op jou – dit plaas jou in ‘n hoër of beter posisie.
- “Dis maar hoe ek is” word gebruik as ‘n verontskuldiging om nie te moet verander nie.
- “Ek het my kerk”. Ons vind hierdie gesegde nogal baie onder Afrikaners.
- Super-geestelik / ‘n Super-Christen. Hier word nie bedoel iemand wat die Here in gees en waarheid dien nie. Wat ons hier van praat is ‘n uiterlike vertoning – almal moet weet hoe hoogs geestelik die persoon is.
- Dadelik op verdediging wanneer aangevat word.
- Onleerbaar, altyd reg.
- Baie opinies oor baie dinge en dit word ongevraag met almal gedeel. Opinies is goed, maar maak seker hulle word bevestig deur feite en nie spekulasie of eie gevoel nie.
- “Ek wil nou nie oordeel nie, maar…”
- Sit in oordeel op ander.
- Oorbehep met ander se opinie oor jou.
- Behoefte om belangrik te wees.
- Voel bedreig deur ander se sukses.
- Oorsensitief, fyngevoelig.
- Praat meer as wat jy luister.
- Val mense konstant in die rede.
- Moet die gesprek beheer.
- Wil meestal oor jouself praat, gee nie ander kans nie. Pasop ook hier vir raad gee. Soms wil iemand net praat, en die gesprek word gedraai na eie ervarings en die persoon wat eintlik hulle storie wil deel, kry bloot nie kans om te praat nie.
- “Entitlement”, hierdie kom my toe.
- Sarkasties met mense (ook neerhalende opmerkings).
- Neem alles persoonlik op.
- Oor-onafhanklikheid / Té self-afhanklik.
- Wil nie eerste jammer sê nie.
- Hierdie kan baie subtiel gedoen word.
- “It’s my way or the highway”.
- Steek jou gevoelens weg. Hierdie punt dui op die gebrek aan deursigtigheid.
- Steek jou sonde vir ander weg. Hierdie dui weereens op ondeursigtigheid – die tipiese “wat sal die mense van my dink”.
- Baie geheime (geraamtes in die kas), nie deursigtig nie.
- Skinder en kwaadpraat. Ons skinder van mense wanneer ons dink ons is of weet beter.
- Self-gesentreerd.
- Self-regverdigend.
- Altyd reg of moet altyd reg wees.
- Moet altyd wen of die beste wees.
- Sien nie die nut om baie te bid nie. Wanneer ons bid, betoon ons ons afhanklikheid van die Here.
- Wil nie onderwerp aan die Here se wil nie.
- Hou nie daarvan om ander te dien nie.
- Wil bedien word.
- Verharde hart.
- Hou daarvan om jouself voor te druk.
- Probeer om jou agenda voor te druk.
- Neem baie ‘selfies’ (meestal met ‘n filter).
- “Workaholic” – vind jou selfwaarde daarin.
- Vind selfwaarde in hoe goed jy presteer.
- Dink dat almal jou of jou hulp nodig het.
- Gee nie komplimente vir ander nie.
- Moet deur ander genoem of erken word.
- Voel vinnig minderwaardig.
- Voel maklik uitgeskakel.
- Voel vining verwerp.
Die vrug van hoogmoed is baie uitlopend. Die rede hiervoor is dat hoogmoed in sy mees basiese vorm ‘n verkeerde perspektief van onsself is. Dit kan na beide kante van die pendulum gaan en presenteer in of duidelik herkenbare hoogmoedige gedrag of die teenoorgestelde soos om minderwaardig te wees. Wanneer ons meerderwaardig is het ons ‘n verkeerde perspektief van onsself – ‘n oordrewe beeld en wanneer ons minderwaardig voel, het ons ook ‘n verkeerde perspektief van onsself – ‘n laer beeld.
Wat nou?
Hopenlik herken jy ‘n paar vrugte in jou eie lewe. Onthou dat een persoon nie al hierdie vrugte sal hê nie. Net omdat daar dalk ‘n paar is wat jy nie in jou lewe herken nie, beteken nie dat jy nie vry is van trots nie. Ongelukkig nie. Hierdie is ‘n proses wat gaan aanhou en aanhou soos wat ons al hoe minder word en Hy al hoe meer. Hoe dieper ons pad van heiligmaking stap, hoe fyner begin die Heilige Gees dinge in ons lewe uit te wys.
My voorstel is: druk hierdie lys uit. Gaan op jou knieë voor die Here en werk onder die leiding van die Heilige Gees deur al die punte. Wees ernstig, opreg en bereid om diep introspeksie te doen. Dis nie lekker om hierdie eienskappe in onsself te herken nie, maar kies om eerlik te wees sodat jy kan vrykom.
Wanneer die Heilige Gees vir jou iets uitwys, skryf dit neer. Bely dit as sonde en vra vergifnis. Dis ook ‘n goeie idee om vir die Gees te vra waar hierdie vandaan kom. Kom dit al saam met jou van geboorte af, of het daar iets gebeur soos ernstige verwerping waar trots die verdedigingsmeganisme geword het. Vat dit stadig, een vir een. Soms gaan dit nodig wees om iemand anders wat eerlike inspraak kan lewer te vra of hulle dit in jou lewe kan herken.
Die belangrikste, vra die Here om die skubbe van Leviathan te laat lig, sodat Sy Ruach deur jou kan waai. Slegs dan kan die trotse skille van ons oë afval en ons die trots in ons kan raaksien.
Die doel hiervan is nie veroordeling, maar ‘n pleit tot vrymaking sodat ons baie naby aan ons Vader se hart kan leef.
Shalom vir jou en joune!
Skakels na Deel 1, Deel 3 en Deel 4