Deur Yolandie Mostert.
Audio weergawe beskikbaar op telegram: https://t.me/+1hYU7h46Jj1hZDc8
Vandag deel ek iets waaroor ek gereeld praat. Trots. Dis ‘n tema wat my baie naby aan die hart lê.
Die grootste rede is omdat dit die enkele grootste ding is wat ons blokkeer sodat ons nie in ‘n verbondsverhouding van vryheid met die Here kan wandel nie.
Ek was vir jare vasgevang in die kloue van hierdie vesting. Eers wanneer mens die lig sien en tot jou sinne kom, besef jy hoe vinnig hierdie vieslike vrug saad kan skiet, opkom en massiewe bome raak. Dan raak trots iets waarvoor mens bitter versigtig is. Ek wil nooit weer daarheen gaan nie. En daarmee sê ek nie dat ek daarteen immuun is nie. Niemand is nie. Maar ek waak en as ek sien ‘n saadjie het ontkiem, probeer ek hom nou dadelik uitroei deur belydenis.
Ek deel heelwat in tydens die Hooglied konferensies hieroor en dan deel ek my getuienis. Hierdie lering vorm ook deel van die lering oor die Ester-bruid waar ons kyk na die tipes in die boek Ester en hoe Vasti ontroon moet word om plek vir Ester te maak. Ons trotse self of eie-ek moet van die troon afkom sodat ons in nederige afhanklikheid die Here kan dien. Die voorbereidingsproses om Ester gereed te kry om die koning te ontmoet het ‘n ses-maandelange mirre behandeling ingesluit. Mirre verteenwoordig dood in die Skrif, met ander woorde, ons sondige natuur wat moet sterf. Ons eie-ek word al hoe minder hoe langer ons besig is met hierdie voorbereidingsproses. As jy dit wil gaan lees, dis beskikbaar op ons webblad onder die tema: Esther Preparation. Ek los die skakel hieronder.
https://www.dielighuis.co.za/esther-preparation/
Ek wil vandag diep gaan, spesifiek na ons Vasti-natuur toe: trots.
Nou voordat ek begin, wil ek iets baie duidelik maak: Die Here soek nie na eksie-perfeksie kinders wat almal dieselfde lyk, dink en praat nie. Hy soek die wat nederig is van hart.
Die Here haat trots
Ons lees in Spreuke 6:16-19 dat trots nommer een op die lys is van die sewe dinge wat die Here haat. Die Skrif sê dis vir Hom ‘n gruwel. Dis baie sterk taal en behoort ons goed aan te moedig om van hierdie dinge ontslae te raak.
Nog ‘n baie sterk Skrif is Jakobus 4:6: Maar Hy gee groter genade; daarom sê Hy: God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade.
Die woorde weerstaan beteken om teen iemand te wees. Sommige van die Engelse sinonieme is: adverse, counter, disadvantageous, hostile, inimical, negative, prejudicial, unfavorable, unfriendly, unsympathetic, untoward, against, opposed. Ek dink nie daar is een van ons wat wil hê dat hierdie woorde die manier moet beskryf hoe die Here na ons kyk nie.
Proverbs 3:34 Though He scoffs at the scoffers and scorns the scorners, Yet He gives His grace [His undeserved favor] to the humble [those who give up self-importance].
Ons almal het trots
Ek wil hierdie punt sommer baie duidelik maak aan die begin van die skrywe. Daar is nie een enkele mens op hierdie aarde wat nie ‘n probleem het met trots nie. As ons dink ons het dit nie, het ek al geleer, dan is dit ons vleeslike natuur wat ons aan die slaap probeer sus. Dan het ons dit juis. So maklik so dit. Die oomblik wat die gedagte by ons opkom: “ek het darem nie daai een nie”, moet ons ‘n nota maak sodat ons van ‘daai een’ wat wil wegkruip kan werk maak.
Waar kom trots vandaan?
Trots lê op die diepste vlak van ons menswees – in ons DNA. Dit het ingekom deur die saad van Satan tydens die sondeval. Dit was sy probleem en hy gebruik dit tot vandag toe om die mens te bind. Trots is nie ‘n oortreding nie – dis ‘n kondisie van die hart. Dis deel van ons sondige natuur of ons vleeslikheid. Dit is ‘n ongeregtigheid (iniquity) wat deur elke generasie aangepaas word na die volgende. Ons het dit geërf en dis slegs die Bloed van Jesus wat ons ooit daarvan sal kan vrymaak.
Ek het iewers ‘n oulike maar baie waar gesegde gehoor. Trots is soos om ‘n slegte asem te hê. Almal om jou ruik dit, maar jyself is onbewus daarvan. En hierin lê die gevaar van trots. Dis slegs deur die Lig van die Heilige Gees dat ons ooit ons eie trots sal kan besef sodat ons ons daarvan kan bekeer.
Job 41
Daar is ‘n hoofstuk in die Bybel wat eksklusief oor die mag van trots praat. Wanneer ons hierdie hoofstuk lees, besef ons ons hulpeloosheid teen trots. Ons lees hiervan in Job 41 waar die Leviatan beskryf word. Ek wil jou regtig aanmoedig om die hele hoofstuk stadig en biddend deur te lees. Die Amplified Bybel stel dit veral baie maklik om te verstaan.
Twee verse wat altyd vir my uitstaan is die volgende:
Job 41:15-16 His strong scales are his pride, Bound together as with a tight seal. One is so near to another That no air can come between them.
Hier kry ons die prentjie van die skubbe van hierdie seemonster (wat maar eintlik ‘n baie sterk demoniese prinsipaliteit is). Sy skubbe is sy trots en hulle is so naby aan mekaar dat dit ‘n sterk seël vorm. En dan kom die gevaar: geen wind kan tussen hulle kom nie. Wanneer ons vasgevang is in die mag van trots, dan blokkeer dit die werking van die Heilige Gees in ons lewe.
Verskillende gesigte van trots
Vir die doel van hierdie lering wil ek trots opdeel in drie afdelings:
- doodgewone trots of hoogmoedigheid,
- geestelike hoogmoed en
- vals nederigheid.
Al drie het dieselfde wortel. Deel 2 sal deel met die eerste een en Deel 3 met geestelike hoogmoed en vals nederigheid. Aan die einde van die hierdie lering, sal ek ‘n gebed van belydenis deel wat jy kan bid.
Die pando boom
In Utah, Amerika, vind ons die wêreld se grootste boom: die pando boom. Hierdie boom bestaan uit 47 000 vertikale stamme wat elkeen soos ‘n boom in eie reg lyk. Die pando boom is die wêreld se grootste lewende organisme en beslaan 106 hektaar. Elke stam van hierdie boom is geneties identies en word verbind deur ‘n enkele wortelstelstel wat omtrent 80 000 jaar oud is.
Hierdie boom is vir my een van die beste maniere om trots te verduidelik. Die boom wat ons na kyk se naam is Leviatan en hy het baie vertikale takke wat elkeen soos ‘n afsonderlike boom lyk. Maar dit deel dieselfde wortelstelsel – dit deel dieselfde saad.
Trots het niks te doen met jou bankbalans nie
Hierdie is ‘n baie belangrike punt. Om een of ander rede het ons ‘n prentjie dat ‘n ryk persoon hoogmoedig is en ‘n arm persoon nederig. Dis bloot nie waar nie. Daar is verseker mense met ‘n stewige bankbalans wat nie deur hulle finansiële welvaart gedefinieer word nie. ‘n Bybelse voorbeeld is Lydia, die purperverkoopster. Dan ken ek ook arm mense wat baie trots is. Té trots om vir hulp te vra. Weereens, trots is ‘n kondisie van die hart.
Die blaasoppie
1 Kor 8:1 Die kennis maak opgeblase, maar die liefde stig.
Paulus gebruik ‘n praktiese voorbeeld om vir ons te verduidelik hoe trots werk. ‘n Blaasoppie-vis is eintlik maar ‘n klein vissie. Hy kan homself groot opblaas in ‘n poging om vir ander te wys dat hy groter is as wat hy regtig is. Dis presies wat trots doen. Ons regte grootte word weggesteek en ons blaas onsself groter op sodat dit die beeld is wat ander van ons moet hê. In die geval van vals nederigheid maak ons onsself kleiner as wat ons regtig is. In beide gevalle is dit ‘n leuen oor die ware ek – dis ‘n vals beeld, groter of kleiner.
Paulus skryf aan die kerk in Korinte in hierdie verband. Wanneer ons net ‘n klomp kennis ingeprop word, dan maak dit ons hoogmoedig. Dit blaas ons op soos hierdie klein vissie en ons klink en lyk groter en slimmer as wat ons regtig is. Hy het ‘n goeie manier gekry om hierdie te toets: waar is die krag? God se koninkryk bestaan in krag. As daar net ‘n klomp kennis is, maar geen toepassing in krag nie, dan weet ons ons is besig met opblaas-dinge. Ons kort waaragtig meer van die krag van die Heilige Gees in ons lewens.
1 Kor 4:19-20 tog sal ek gou na julle kom, as die Here wil, en dan sal ek te wete kom, nie die woorde van die wat opgeblase is nie, maar hulle krag; want die koninkryk van God bestaan nie in woorde nie, maar in krag.
So wat is ware nederigheid dan?
Dis die kwaliteit om vry van arrogansie en trots te wees en om ‘n akkurate beskouing van jou eie waarde te hê. Dis nie om te dink jy is minderwaardig teenoor ander nie. Jy ken jou gawes, talente en perke, maar dink nie jy is beter as ‘n ander as gevolg daarvan nie. Dis nie om jou gawes en salwing weg te steek of weg te praat nie in vals nederigheid nie.
Dis die herkenning en aanvaarding van die realiteit deur ‘n oop-gemoed tot die waarheid te hê. Jy weet waartoe jy instaat is in ‘n situasie. In ware nederigheid is daar geen voorgee nie. Ons het ‘n gesegde in Engels: “what you see is what you get”. Dit beteken nie: so gemaak en so gelaat staan nie. Die sleg wat dan uit ons harte kom, kan ons mee deel deur bekering en verandering.
Wees oop om te luister en te leer. Laastens: “Be real” (wees eg) – wees vry om die ware jy te wees wat daar diep binne wegkruip.
Die Here se manier van verheffing
Ek het hierdie praktiese verduideliking van verheffing by iemand anders geleer. Wanneer ons onsself verhef, is dit soos om ‘n leer op ‘n stoel, bo-op ‘n tafel dit sit om by die dak by te kom. Dit gaan eindig in ‘n groot geval. Maar wanneer die Here ons verhef, lig hy die platform onder ons op (dink aan ‘n ‘scissor-lift’). Ons voete is steeds stewig gegrond op die basis. Daar skop iets onder die basis in wat dit lig en ons daarmee saam. Dis baie veiliger. Ons bly in nederigheid afhanklik en die ophef werk behoort slegs aan die Here.
1 Pet 5:6 Verneder julle dan onder die kragtige hand van God, sodat Hy julle kan verhoog op die regte tyd.
Wat verlang die Here van ons?
Ons maak dit soms so moeilik om die Here te dien. Ons het allerhande wette, reëls en dinge bygesit en ek glo baie daarvan is om op te maak omdat ons nie die krag van God beleef nie. Die Skrif stel dit so eenvoudig vir ons in Miga 6:8: Hy het jou bekend gemaak, o mens, wat goed is; en wat vra die HERE van jou anders as om reg te doen en liefde te betrag en ootmoedig te wandel met jou God?
Die woord ootmoedig beteken om nederig te wees. Ons moet net drie dinge doen: reg doen, liefhê en nederig wandel.
Rus
Ek glo elkeen van ons smag na rus in hierdie dag en eeu wat ons leef. Wanneer ons in ware nederigheid leef – eg aan wie ons is met die regte perspektief van onsself en van ander, dan sal ons rus en vrede vind.
Ps 37:11 Die ootmoediges daarenteen sal die aarde besit en hulle verlustig oor groot vrede.
Mat 11:29 Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele
Mag hierdie inligting jou seën. En mag dit lei tot geestelike verdieping soos nog voorheen nie.
Seën, vrede en die genade van die Lam van God
Skakels na Deel 2, Deel 3 en Deel 4