22 May 2022
Hierdie is die tweede gedeelte oor die Ester-bruid. In die vorige lering het ons gekyk na die tipes in die boek Ester en hoe Vasti ontroon moet word om plek vir Ester te maak. Ons trotse self of eie-ek moet van die troon afkom sodat ons in nederige afhanklikheid die Here kan dien. Die voorbereidingsproses om Ester gereed te kry om die koning te ontmoet het ‘n ses-maandelange mirre behandeling ingesluit. Mirre verteenwoordig dood in die Skrif, met ander woorde, ons sondige natuur wat moet sterf. Ons eie-ek word al hoe minder hoe langer ons besig is met hierdie voorbereidingsproses. Jy kan die hele lering hier lees.
Vandag wil ons dieper gaan en spesifiek kyk na ons Vasti-natuur: trots.
Voordat ek begin, wil ek iets baie duidelik maak.
Die Here soek nie na eksie-perfeksie kinders wat almal dieselfde lyk, dink en praat nie. Hy soek die wat nederig is van hart.
Die Here haat trots
Ons lees in Spreuke 6:16-19 dat trots nommer een op die lys is van die sewe dinge wat die Here haat. Die Skrif sê dis vir Hom ‘n gruwel. Dis baie sterk taal en behoort ons goed aan te moedig om van hierdie dinge ontslae te raak.
Nog ‘n baie sterk Skrif is Jakobus 4:6: Maar Hy gee groter genade; daarom sê Hy: God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade.
Die woorde weerstaan beteken om teen iemand te wees. Sommige van die Engelse sinonieme is: adverse, counter, disadvantageous, hostile, inimical, negative, prejudicial, unfavorable, unfriendly, unsympathetic, untoward, against, opposed. Ek dink nie daar is een van ons wat wil hê dat hierdie woorde die manier moet beskryf hoe die Here na ons kyk nie.
Proverbs 3:34 Though He scoffs at the scoffers and scorns the scorners, Yet He gives His grace [His undeserved favor] to the humble [those who give up self-importance].
Ons almal het trots
Ek wil hierdie punt sommer baie duidelik maak aan die begin van die skrywe. Daar is nie een enkele mens wat nie ‘n probleem het met trots nie. As ons dink ons het dit nie, het ek al geleer, dan is dit ons vleeslike natuur wat ons aan die slaap probeer sus. Dan het ons dit juis. So maklik so dit.
Waar kom trots vandaan?
Trots lê op die diepste vlak van ons menswees – in ons DNA. Dit het ingekom deur die saad van Satan tydens die sondeval. Dit was sy probleem en hy gebruik dit om die mens te bind. Trots is nie ‘n oortreding nie – dis ‘n kondisie van die hart. Dis deel van ons sondige natuur of ons vleeslikheid. Dit is ‘n ongeregtigheid (iniquity) wat deur elke generasie aangepaas word na die volgende. Ons het dit geërf en dis slegs die Bloed van Jesus wat ons ooit daarvan sal kan vrymaak.
Ek het iewers ‘n oulike maar baie waar gesegde gehoor. Trots is soos om ‘n slegte asem te hê. Almal om jou ruik dit, maar jyself is onbewus daarvan. En hierin lê die gevaar van trots. Dis slegs deur die Lig van die Heilige Gees dat ons ooit ons eie trots sal kan besef sodat ons ons daarvan kan bekeer.
Job 41
Daar is ‘n hoofstuk in die Bybel wat eksklusief oor die mag van trots praat. Wanneer ons hierdie hoofstuk lees, besef ons ons hulpeloosheid teen trots. Ons lees hiervan in Job 41 waar die Leviatan beskryf word. Ek wil jou regtig aanmoedig om die hele hoofstuk stadig en biddend deur te lees. Die Amplified Bybel stel dit veral baie maklik om te verstaan.
Twee verse wat altyd vir my uitstaan is die volgende:
Job 41:15-16 His strong scales are his pride, Bound together as with a tight seal. One is so near to another That no air can come between them.
Hier kry ons die prentjie van die skubbe van hierdie seemonster (wat maar eintlik ‘n baie sterk demoniese prinsipaliteit is). Sy skubbe is sy trots en hulle is so naby aan mekaar dat dit ‘n sterk seël vorm. En dan kom die gevaar: geen wind kan tussen hulle kom nie. Wanneer ons vasgevang is in die mag van trots, dan blokkeer dit die werking van die Heilige Gees in ons lewe.
Verskillende gesigte van trots
Vir die doel van hierdie lering wil ek trots opdeel in drie afdelings:
- · doodgewone trots of hoogmoedigheid,
- · geestelike hoogmoed en
- · vals nederigheid.
Al drie het dieselfde wortel.
Die pando boom
In Utah, Amerika, vind ons die wêreld se grootste boom: die pando boom. Hierdie boom bestaan uit 47 000 vertikale stamme wat elkeen soos ‘n boom in eie reg lyk. Die pando boom is die wêreld se grootste lewende organisme en beslaan 106 hektaar.
Hierdie boom is vir my een van die beste maniere om trots te verduidelik. Die boom se naam is Leviatan en hy het baie vertikale takke wat elkeen soos ‘n afsonderlike boom lyk. Maar dit deel dieselfde wortelstelsel – dit deel dieselfde saad.
Trots het niks te doen met jou bankbalans nie
Hierdie is ‘n baie belangrike punt. Om een of ander rede het ons ‘n prentjie dat ‘n ryk persoon hoogmoedig is en ‘n arm persoon nederig. Dis bloot nie waar nie. Daar is verseker mense met ‘n stewige bankbalans wat nie deur hulle finansiële welvaart gedefinieer word nie. ‘n Bybelse voorbeeld is Lydia, die purperverkoopster. Dan ken ek ook arm mense wat baie trots is. Té trots om vir hulp te vra. Weereens, trots is ‘n kondisie van die hart.
Hoogmoed
Omdat dit in ons natuur is om hoogmoed en trots te ontken, het ek ‘n hele klompie voorbeelde gelys. Dit help altyd om spesifiek te raak sodat ons die vrugte van trots in ons eie lewe kan herken. Hierdie is natuurlik nie ‘n volledige lys nie, maar dit behoort jou aan die gang te kry met introspeksie.
- · Weet alles van alles. Trots maak ons baie beterweterig.
- · Weet reeds alles waaroor ‘n spreker gaan praat. Wanneer ons hierdie houding het nog voor die spreker sy mond oopgemaak het, sal ons nooit oop kan wees om te leer nie.
- · Dink sekere take is benede jou.
- · Te trots om vir hulp te vra.
- · Behoefte om konstant mense te wil leer.
- · Praat baie oor jouself en jou lewe.
- · Dink jy is beter as ander (beter klas).
- · Neem nie die raad van ander aan nie.
- · Konstant krities (vind fout met almal om jou). Hierdie punt is ‘n maklike rooi vlag om te herken. Trots maak ons baie krities op ander en die vrug kom by ons monde uit: voordurende foutvind.
- · Konstante behoefte vir validasie, aandag en komplimente.
- · Kan nie opbouende kritiek hanteer nie.
- · Obsessie met fisiese voorkoms (ook van besittings).
- · Perfeksionisme. Hier bedoel ek nie netheid of om ‘n taak met inbors goed af te handel nie. Hierdie is ‘n oordrewendheid om alles uiters perfek of netjies te hê. Een van die wortels van hierdie té, lê in verwerping. Omdat ons ooit goed genoeg voel teenoor ander nie, probeer ons opmaak deur eksie-perfeksie te wees. Dit steel jou lewensvreugde wanneer jy die heeltyd moet skoonmaak en blink vryf.
- · Weier om aan outoriteit onderdanig te wees – glo jy weet beter as jou leiers en dat jy maar op jou tande moet kners in vals onderdanigheid.
- · Ignoreer sekere mense se kommunikasie omdat jy hulle sien as minderwaardig en nie jou tyd of energie werd nie.
- · Verdedig en/of regverdig jou verkeerde optrede.
- · ‘Name-dropping’. Wanneer iemand ander mense se name gebruik as ‘n validasie dat hulle die regte mense in hoë plekke ken.
- · Argumenterend.
- · Steek jou gevoelens weg. Hierdie punt dui op die gebrek aan deursigtigheid.
- · ‘Wat sal die mense sê?”
- · Dink jy is meer spesiaal as die res. Wanneer iemand geseënd is met talente of vaardighede, kan dit maklik ‘n basis van roem word. So ‘n persoon kan maklik hierdeur gedefinieer word.
- · Glo net hoër status mense sal jou kan verstaan.
- · Jaloers op ander. Dis gewoonlik geheimlik en sal bitter min erken word.
- · Dink heeltyd mense is jaloers op jou – dit plaas jou in ‘n hoër of beter posisie.
- · “Dis hoe ek is” word gebruik as ‘n verontskuldiging om nie te moet verander nie.
- · “Ek het my kerk”. Ons vind hierdie gesegde nogal baie onder Afrikaners.
- · Super-geestelik / ‘n Super-Christen. Hier word nie bedoel iemand wat die Here in gees en waarheid dien nie. Wat ons hier van praat is ‘n uiterlike vertoning – almal moet weet hoe hoogs geestelik die persoon is.
- · Dadelik op verdediging wanneer aangevat word.
- · Onleerbaar, altyd reg.
- · Baie opinies oor baie dinge.
- · “Ek wil nou nie oordeel nie, maar…”
- · Sit in oordeel op ander.
- · Oorbehep met ander se opinie oor jou.
- · Behoefte om belangrik te wees.
- · Voel bedreig deur ander se sukses.
- · Oorsensitief, fyngevoelig.
- · Praat meer as wat jy luister.
- · Val mense konstant in die rede.
- · Moet die gesprek beheer.
- · Wil meestal oor jouself praat, gee nie ander kans nie.
- · “Entitlement”, hierdie kom my toe.
- · Ondankbaar.
- · Sarkasties met mense (ook neerhalende opmerkings).
- · Neem alles persoonlik op.
- · Oor-onafhanklikheid / Té self-afhanklik.
- · Krities.
- · Wil nie eerste jammer sê nie.
- · Spog. Hierdie kan baie subtiel gedoen word.
- · “It’s my way or the highway”.
- · Steek jou sonde vir ander weg. Hierdie dui weereens op ondeursigtigheid – die tipiese “wat sal die mense van my dink”.
- · Skinder en kwaadpraat. Ons skinder van mense wanneer ons dink ons is of weet beter.
- · Self-gesentreerd.
- · Self-regverdigend.
- · Altyd reg of moet altyd reg wees.
- · Moet altyd wen of die beste wees.
- · Sien nie die nut om baie te bid nie. Wanneer ons bid, betoon ons ons afhanklikheid van die Here.
- · Wil nie onderwerp aan die Here se wil nie.
- · Hou nie daarvan om ander te dien nie.
- · Wil bedien word.
- · Hardkoppig.
- · Verharde hart.
- · Baie geheime (geraamtes in die kas), nie deursigtig nie.
- · Hou daarvan om jouself voor te druk.
- · Probeer om jou agenda voor te druk.
- · Neem baie ‘selfies’ (meestal met ‘n filter).
- · “Workaholic” – vind jou selfwaarde daarin.
- · Vind selfwaarde in hoe goed jy presteer.
- · Dink dat almal jou of jou hulp nodig het.
- · Gee nie komplimente vir ander nie.
- · Moet deur ander genoem of erken word.
- · Voel vinnig minderwaardig.
- · Voel maklik uitgeskakel.
- · Voel vining verwerp.
- · Skaam.
Die vrug van hoogmoed is baie uitlopend. Die rede hiervoor is dat hoogmoed in sy mees basiese vorm ‘n verkeerde perspektief van onsself is. Dit kan na beide kante van die pendulum gaan en presenteer in of duidelik herkenbare hoogmoedige gedrag of die teenoorgestelde soos om minderwaardig te wees. Wanneer ons meerderwaardig is het ons ‘n verkeerde perspektief van onsself – ‘n oordrewe beeld en wanneer ons minderwaardig voel, het ons ook ‘n verkeerde perspektief van onsself – ‘n laer beeld.
Geestelike hoogmoed
Hierdie is ‘n baie spesifieke afdeling van hoogmoed en ek lys dit apart omdat dit so relevant op kinders van die Here is. Ons kry dit nogal reg om die simptome van die boonste lys weg te steek onder ‘n lagie nederige veneer. Die realiteit is die boom van trots, net soos die pando boom, het vertikale stamme en ons geval is dit wat bo die oppervlak gesien kan word geestelike hoogmoed. Dis amper een van die lelikste vorme van trots. Dis een ding om hoogmoedig te wees omdat jy geld, gawes of skoonheid het, maar dis baie leliker om hoogmoedig te wees as gevolg van jou gratis redding deur die Bloed van die Lam.
Hier volg ‘n paar voorbeelde. Wanneer ons deur hierdie lys werk, moet ons regtig vir die Heilige Gees vra om deur Sy krag die skubbe van Leviatan te lig sodat Sy wind daardeur kan waai en ons die waarheid oor onsself kan besef. Ons sal nooit hierdie in ons eie lewe kan herken as dit nie vir die Heilige Gees openbaring is nie.
- · Die super-Christene, eksie perfeksie, doen alles reg volgens die letter.
- · Dink hulle is meer geestelik as die res.
- · Die aksent of stemtoon wanneer hulle met geestelike dinge besig is.
- · Belangrik om sekere rolle en funksies te vervul om vir ander te wys dat hulle geestelike bekwaam is.
- · Die apostels en profete ‘hype’. Die nuwe tendens is dat almal of ‘n apostel of ‘n profeet is en behoede jou as jy hulle nie op hulle titel aanspreek nie. My vraag is waar is die dienskneg? Hoekom stel niemand hulleself voor as Dienskneg so en so nie? (Let wel, ek het groot respek vir hierdie funksies en gawes in die liggaam, maar wanneer hulle reg en in nederigheid hanteer word)
- · Almal moet weet hoe baie hulle vas.
- · Kyk neer op ander Christene of denominasies wat minder verlig is.
- · Probeer die Here se guns kry deur dinge te doen en wette te onderhou.
- · Die geoefende openbare gebed. Ek verwys hier na hoë woorde wat nie normaalweg gebruik word nie. Die gebed kom nie net uit die hart nie, maar moet mooi klink vir die aanhoorders.
- · Wil voor in die koor wees. Hierdie een spreek vanself.
- · Geestelike ‘jargon’ (Christianese). Ons het al hierdie geestelike terme wat gewone mense nie verstaan nie, en dit plaas ons net so bietjie hoër as die res.
- · Hebreeus. Oe, hier mag ek dalk op tone trap. Terwyl daar niks verkeerd daarmee is om na die oorspronklike betekenis van ‘n woord te kyk vir beter verduideliking nie, is daar baie mee verkeerd om Hebreeus links en regs in te gooi terwyl die aanhoorder nie ‘n idee het wat die woorde beteken nie. Kyk na die motief van jou hart: is dit nie maar om slim te klink nie?
- · “Performance” / werke.
- · Wetties / Godsdienstigheid / rituele.
- · Deel van ‘n “elite” groep met meer waarheid en lig as die res.
- · Tradisie, “ons doen dit nog altyd so”.
- · Skynheiligheid (voorgee voor ander).
- · Kompenseer vir die ontbreking van die Heilige Gees stem en leiding deur reëls en wette.
Die kruks van die saak lê in die motief van ons hart. Doen ons die ‘dinge’ sodat die Here ons moet liefhê of is ons gehoorsaam omdat ons Hom liefhet. Dis ‘n fyn lyn en soms moeilik om die onderskeid te herken in ons eie lewe. Vra die Heilige Gees om die motief van jou hart aan jou te openbaar.
Vals nederigheid
Hierdie een is baie subtiel en weereens moet ons diep gaan soek na die motief van ons hart. Vals nederigheid is die lagie veneer wat ons bo-oor ons hoogmoed en trots plak. Dit lyk en klink soos nederigheid, maar dis eintlik ook maar trots.
Voorbeelde:
- · Ons maak ons doelbewus minderwaardig om nederig te lyk.
- · ‘Humblebrag’
- · Vertel vir almal dat hulle nie materialisties is nie.
- · Vis vir komplimente.
- · Wys eer af wanneer ons dit verdien.
- · Praat oor hoe nederig ons is.
- · Valse beeld dat jy nie iets kan doen nie. Om jou doelbewus hulpeloos te laat lyk in ‘n verdraaide beeld dat jy dan nederig is.
- · Self-afbrekende humor.
- · Praat hulle gawes weg.
- · Kyk neer op welaf / suksesvol mense.
- · Vertel graag wat hulle alles opgegee het.
- · Obsessie om hulle goed weg te gee.
- · ‘Brag’ oor hulle swaarkry (verwronge idee dat dit die Here se wil vir hulle is).
- · “In my nederige opinie…”
- · Wys seëninge af, verkies swaarkry en/of armoede sodat hulle hierdeur hulle nederigheid kan bewys.
Die blaasoppie
Paulus gebruik ‘n praktiese voorbeeld om vir ons te verduidelik hoe trots werk. ‘n Blaasoppie-vis is eintlik maar ‘n klein vissie. Hy kan homself groot opblaas in ‘n poging om vir ander te wys dat hy groter is as wat hy regtig is. Dis presies wat trots doen. Ons regte grootte word weggesteek en ons blaas onsself groter op sodat dit die beeld is wat ander van ons moet hê. In die geval van vals nederigheid maak ons onsself kleiner as wat ons regtig is. In beide gevalle is dit ‘n leuen oor die ware ek – dis ‘n vals beeld, groter of kleiner.
Paulus skryf aan die kerk in Korinte in hierdie verband. Wanneer ons net ‘n klomp kennis ingeprop word, dan maak dit ons hoogmoedig. Dit blaas ons op soos hierdie klein vissie en ons klink en lyk groter en slimmer as wat ons regtig is. Hy het ‘n goeie manier gekry om hierdie te toets: waar is die krag? God se koninkryk bestaan in krag. As daar net ‘n klomp kennis is, maar geen toepassing in krag nie, dan weet ons ons is besig met opblaas-dinge. Ons kort waaragtig meer van die krag van die Heilige Gees in ons lewens.
1 Kor 8:1 Die kennis maak opgeblase, maar die liefde stig.
1 Kor 4:19-20 tog sal ek gou na julle kom, as die Here wil, en dan sal ek te wete kom, nie die woorde van die wat opgeblase is nie, maar hulle krag; want die koninkryk van God bestaan nie in woorde nie, maar in krag.
So wat is ware nederigheid dan?
Dis die kwaliteit om vry van arrogansie en trots te wees en om ‘n akkurate beskouing van jou eie waarde te hê. Dis nie om te dink jy is minderwaardig teenoor ander nie. Jy ken jou gawes, talente en perke, maar dink nie jy is beter as ‘n ander as gevolg daarvan nie. Dis nie om jou gawes en salwing weg te steek of weg te praat nie in vals nederigheid nie.
Dis die herkenning en aanvaarding van die realiteit deur ‘n oop-gemoed tot die waarheid te hê. Jy weet waartoe jy instaat is in ‘n situasie. In ware nederigheid is daar geen voorgee nie. Ons het ‘n gesegde in Engels: “what you see is what you get”. Dit beteken nie: so gemaak en so gelaat staan nie. Die sleg wat dan uit ons harte kom, kan ons mee deel deur bekering en verandering.
Wees oop om te luister en te leer. Laastens: “Be real” (wees eg) – wees vry om die ware jy te wees wat daar diep binne wegkruip.
Die Here se manier van verheffing
Ek het hierdie praktiese verduideliking van verheffing by iemand anders geleer. Wanneer ons onsself verhef, is dit soos om ‘n leer op ‘n stoel, bo-op ‘n tafel dit sit om by die dak by te kom. Dit gaan eindig in ‘n groot geval. Maar wanneer die Here ons verhef, lig hy die platform onder ons op (dink aan ‘n ‘scissor-lift’). Ons voete is steeds stewig gegrond op die basis. Daar skop iets onder die basis in wat dit lig en ons daarmee saam. Dis baie veiliger. Ons bly in nederigheid afhanklik en die ophef werk behoort slegs aan die Here.
1 Pet 5:6 Verneder julle dan onder die kragtige hand van God, sodat Hy julle kan verhoog op die regte tyd.
Wat verlang die Here van ons?
Ons maak dit soms so moeilik om die Here te dien. Ons het allerhande wette, reëls en dinge bygesit en ek glo baie daarvan is om op te maak omdat ons nie die krag van God beleef nie.
Die Skrif stel dit so eenvoudig vir ons in Miga 6:8: Hy het jou bekend gemaak, o mens, wat goed is; en wat vra die HERE van jou anders as om reg te doen en liefde te betrag en ootmoedig te wandel met jou God?
Die woord ootmoedig beteken om nederig te wees. Ons moet net drie dinge doen: reg doen, liefhê en nederig wandel.
Rus
Ek glo elkeen van ons smag na rus in hierdie dag en eeu wat ons leef. Wanneer ons in ware nederigheid leef – eg aan wie ons is met die regte perspektief van onsself en van ander, dan sal ons rus en vrede vind.
Ps 37:11 Die ootmoediges daarenteen sal die aarde besit en hulle verlustig oor groot vrede.
Mat 11:29 Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele