Soen my

Audio en PDF weergawe beskikbaar op Telegram: https://t.me/+1hYU7h46Jj1hZDc8

 

Let him kiss me with the kisses of his mouth (Hgl 1:2a NKJV)

 

Vir elkeen van ons behoort daar ‘n dag aan te breek waar ons vanaf ‘n vreemdeling beweeg na ‘n dogter. Dit sluit natuurlik beide geslagte in. Ek gebruik die term dogter omdat dit in Hooglied so aangewend word.

Om vanaf vreemdeling te beweeg na dogter beteken ons beweeg vanaf die plek in die straat, na die voortuin van die paleis. Die enigste toegang is deur die Bloed van die Lam. Wedergeboorte en doping in water. Twee stappe van dieselfde proses. Dis wanneer die Vader Sy wette op ons binneste skryf sodat ons deur die Gees kan leef.

Dan behoort daar nog ‘n dag aan te breek waar ons vanaf die voortuin teen die trappe ophardloop en hierdie gebed uitroep. “Ek soek meer, dieper en nader”. Dis wat die woorde in hierdie vers beteken. Ons almal begin as dogters, maar hierdie uitroep skuif ons vanaf dogter na vriendin en bruid.

 

Die Vader het die verlore seun gesoen met ‘n vaderlike soen wat terug verwelkom. Ons ontvang hierdie soen wanneer ons deur die Bloed van die Lam toegang verkry tot die paleis se voortuin. Maar dis nie daardie soen waarvan in hierdie vers gepraat word nie. Hierdie is ‘n vurige soen tussen twee geliefdes. Dis persoonlik en intiem.

 

Wanneer ons vra vir Sy soene, vra ons vir ‘n dieper pad saam met Hom. Ons is nie meer net tevrede met die gewone Christelike lewe nie. Ons gees weet reeds daar is meer en begeer vurig om Sy lieflikheid te aanskou. Ons gees weet daar is dieper skatte in Hom en is nie meer tevrede met gemiddeld nie.

Die meisie in Hooglied vra vir dit waarvoor Dawid in Psalm 27 gevra het:

One thing I have asked of the Lord, and that I will seek: that I may dwell in the house of the Lord [in His presence] all the days of my life, to gaze upon the beauty [the delightful loveliness and majestic grandeur] of the Lord and to meditate in His temple. (Ps 27:4 Amp)

 

Hoe jammer is dit dat so baie dogters se enigste getuienis hulle wedergeboorte is. En dan het dit dertig of veertig jaar gelede gebeur! Dalk ook toe hulle met die Heilige Gees gedoop was. As jy gelukkig is, sal jy dalk ‘n getuienis of twee van genesing en voorsiening ook hoor. Maar dis sover soos wat dit gaan. As jy so iemand vra wie Jesus vir hulle persoonlik is of hoe hulle geloof prakties in hulle lewens werk, gaan jy heel waarskynlik ‘n teoretiese verduideliking of die oordra van ‘n boodskap wat hulle by iemand anders gehoor het, kry. Op ‘n dag tot dag praktiese noot, gaan ‘n verhouding met YHVH Elohim dalk weeklikse byeenkomste en daaglikse Bybellees en bid behels.

 

Maar waar is die krag?

Sê die Skrif nie in 1 Korintiërs 4:20 dat die koninkryk nie in woorde bestaan nie, maar in krag? Hoekom sien ons so min daarvan in die lewens van die meeste gelowiges? Dis amper asof gelowiges dink, of dalk so geleer word, dat hierdie tipe krag en intimiteit net beskore is vir geestelike leiers.

 

Waar is die bewyse van Sy lieflikheid in die lewens van Sy mense?

Hoekom sien ons soveel liefdelose hardheid, kritiek, godsdienstigheid, onvrede en jaloesie onder gelowiges? Kan dit wees dat die grootste gedeelte van dié wat hulleself as in Christus beskou, Hom nog nooit persoonlik onmoet het nie?

As Sy lieflikheid nie met ‘n desperaatheid gesoek word nie, sal ons nooit nie voorreg kry om dit te kan aanskou nie. Ons word verander in die beeld van dit wat ons aanskou. As ons nie Jesus Christus aanskou nie, wie aanskou ons dan? ‘n Beeld wat ons of ander vir ons dalk gevorm het van wie Hy is?

Ons sal nie Sy lieflikheid kan geniet en vreugde daarin vind as ons dit nie aanskou nie. Ons sal ook nie in die daardie beeld verander nie.

Ek kan nie help om te wonder of die hardheid en onenigheid wat ons vandag in die kerk beleef, te wyte is aan ‘n verwronge beeld van Jesus wat voorgehou word en aanskou word.

 

Dit bring my by ‘n volgende vraag:

Hoe proe Sy soene?

Wanneer die Seun van die lewende God, jou uitroep na Sy soene beantwoord het met ‘n intieme soen, gaan jy nooit weer dieselfde kan wees nie. Jy kan nie dan net nominaal wees nie. Dit vervul jou met ‘n begeerte na Hom, na Sy hart en om Hom waarlik te ken. Die begeerte na eenwees met Hom oorrompel jou en neem jou in. Hy raak die rede vir jou bestaan. Hy en niks anders nie.

As jy die soetheid van Sy lippe geproe het, het Sy heiligheid aan jou afgegee. Enige iets anders as die skoonheid van heiligheid sal jou dan afstoot. Jou lippe wíl dan net Sy lof besing.

Sy soene dra ook liefde oor; goddelike liefde, vir Hom en vir mense. Na die mate wat ons Hom toenemend soek, sal ons meer en meer van Sy soene ontvang wat dan lei tot nóg meer heiligheid en liefde.

 

Wanneer die Messias Koning, Jesus Christus, Yeshua HaMaschiah, maak nie saak wat jy Hom noem nie, jou lippe met Syne aangeraak het, sal jy nooit ooit weer dieselfde kan wees nie.

Jy hoef nie te wonder of jy al daardie kus ontvang het nie. Kyk binnetoe. Ondersoek jou begeertes. Neem Hy jou gedagtes en lewe in? Lyk jou leefwyse en die vrug in jou lewe soos die res van die kerk (die dogters) rondom jou of leef jy anders? Ek hou daarvan om hierdie vergelyking, wat ek by iemand anders gehoor het, te gebruik. Dis soos wanneer ‘n klein motorfietsie in ‘n kop-aan-kop botsing met ‘n trok was. Die motorfietsie sal nooit weer dieselfde wees nie.

Dis die resultaat van Sy soene.

 

Altyd meer soene

Hierdie is nie net ‘n eenmalige gebeurtenis nie. Daar moet ‘n eerste keer wees sodat die pad van dieper en nader kan begin. Maar daarna gaan daar vele kere wees waar ons weer gaan vra vir nog dieper, nog meer intiem, nog nader.

 

Hierdie is ‘n uittreksel uit die boek: Diep skatte in Hooglied deur Yolandie Mostert.

css.php