Deur Yolandie Mostert (2 Oktober 2022)
‘n Statige ritueel
Om ‘n granaat te eet, is amper soos ‘n statige ritueel vir my. Eers neem ek my skerppuntmes en druk ‘n klein gaatjie naby die kroon. Net groot genoeg om my vinger te kan inpas. Daarna begin ek om die granaat stadig oop te breek tot hy in twee dele in my hande lê. Dis geen maklike of vinnige taak nie. Ek is baie versigtig om nie die pitjies te beskadig nie. Sodra die granaat heeltemal oopgebreek is, begin ek om pitjie vir pitjie uit te haal en te bewonder. Eers dan word die pitjie in my mond gesit. Ek neem my tyd om die heerlike smaak te geniet wanneer die pitjie oopbars as ek daarop byt.
Wanneer ek ‘n hele ry pitjies een vir een geniet het en ek kom by die dun wit vliesie, vul dit my met soveel opgewondenheid vir dit wat onder die vliesie lê. Ek neem ook my tyd met vliesie en waardeer die perfekte nuwe ry pitte wat reglê vir eet.
Om waarhede in die Skrifte te ontdek, vul my met dieselfde verwondering. Ek wil dit stadig, pitjie vir pitjie, ondek, waardeer en geniet. En net wanneer ons dink nou het ons al die skatte ontdek, lê die wit vliesie daar vol belofte vir dit wat kom. ‘n Nuwe seisoen en ‘n nuwe laag se skatte wat net wag om ontdek te word.
as jy daarna soek soos na silwer en dit naspeur soos verborge skatte, dan sal jy die vrees van die HERE verstaan en die kennis van God vind (Spr 2:4-5)
Die internet is vol allerhande kortpaaie om maklik en vinnig die pitte van ‘n granaat uit te haal. Vinnig en maklik dien verseker ‘n doel in sekere industrieë, maar nie in die Koninkryk nie. Daar is geen plek in die Koninkryk vir ons gejaagdheid nie. Skatte word steeds op die ou manier geopenbaar, ontdek en waardeer. Individuele soeke, openbaring deur die Heilige Gees, waardering van die smaak en daarna dieselfde proses vir die volgende skat. Totdat elke skat deel van jou menswees word, geproe en geleef.
En Ek sal jou die skatte gee wat in die donkerheid is en die verborge rykdomme (Jes 45:3a)
Die geheime van God
Hierdie seënwens van Paulus aan die gemeente in Kollose bevat soveel diepte:
om die verborgenheid te leer ken van God en die Vader en van Christus, in wie al die skatte van wysheid en kennis verborge is. (Kol 2:2b-3)
Daar is weggesteekte geheime (In Engels: mysteries) in die Here. Hierdie geheimenisse, skatte van wysheid en kennis, kan ons slegs ontdek wanneer ons IN Hom is. Dis ‘n onuitputbare bron. Ons sal nooit moeg of verveeld word daarvan nie. En net wanneer ons dink ons begin nou iets van die Vader se hart te verstaan, trek die Heilige Gees die wit vliesie af en dieper verborgenhede wag vir ons ontdekking.
o Diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele en onnaspeurlik sy weë! (Rom 11:33)
Om Hom te ken
Net soos daar voeding binne elke granaatpit opgesluit is, is daar geestelike voeding in elke skat in die Skrif opgesluit. Die diepste vorm van voeding, is kennis van God. Hoe meer skatte ons ontdek, hoe meer volledig raak ons beeld van wie die Vader is. Dit opsigself, behoort ons grootste motivering te wees om dieper en dieper in die Skrifte te delf. Hosea moedig ons aan om kennis van God na te jaag. Om iets of iemand na te jaag, beteken om die vinnigste te hardloop wat jy moontlik kan, jou beste poging aan te wend sodat jy kan inhaal en oorrompel. Om iemand te jaag, kos moeite, dit kos deursettingsvermoë en jy het nodig om jou kragte in te span terwyl jou oë stip gefokus is op dit wat jy jaag.
En laat ons ken—laat ons dit najaag om die HERE te ken; sy opgang is so seker soos die dagbreek, en Hy sal tot ons kom soos die reën, soos die laat reëns wat die aarde besproei. (Hos 6:3)
Verlossing en wedergeboorte is gratis. Wanneer ons aan die anderkant van die gratis geskenk van die kruis gekom het, neem dit ‘n lewe van dissipline en toewyding. Nie omdat ons probeer om die gratis geskenk te verdien nie, maar uit dankbaarheid en liefde vir die Een wat soveel genade aan ons betoon het. Dis die rede waarom ons Hom wil ken – uit liefde vir Hom. Dis die rede vir ons soeke na skatte – Sy karakter is opgesluit in die skatte.
Konings soek skatte
Die Vader openbaar nie Sy dieptes en verborgenhede aan elkeen nie. Dis beskikbaar vir elkeen om te ontdek, nes die netjiese ry granaatpitte wat gereed lê vir ontdek. Ons lees in Spreuke dat dit die eer van konings is om skatte te soek. Ons is ‘n koninklike priesterdom en as konings vir ons God is dit ons eer om elkeen vir onsself die skatte in die Skrifte te ontdek.
Dit is die eer van God om ‘n saak te verberg, maar die eer van konings om ‘n saak na te speur. (Spr 25:2)