Ek deel graag my nuutste skildery sowel as die geestelike betekenis van die skildery met julle. Die skildery se naam is “Myself, as ‘n offer”.
Totdat die aandwind waai en die skaduwees vlug, sal ek gaan na die mirreberg en na die wierookheuwel. Alles is mooi aan u, my vriendin, en daar is geen gebrek aan u nie. (Hgl 4:6-7)
Wat is die wierookheuwel?
Heel eerste is dit ‘n heuwel. Dis ‘n plek waar opgeklim moet word. ‘n Heuwel is hoër as die res van die landskap. Die klim begin gewoonlik geleidelik, maar wanneer jy regtig tot by die top wil klim, gaan jy, wel moet klim. Dit neem energie, moeite en deursettingsvermoë. Dis soos om deur die skare te dring totdat jy aan Sy kleed kan raak.
Aan die voet van die heuwel is daar baie geraas in die gees. Daar is stemme, drade en dinge wat inmeng met ons geestelike ore. Al is ons nie daarvan bewus nie, of al glo ons nie daaraan nie, tel ons tog dit op wat in die geestesrealm aangaan. En dit beïnvloed hoe suiwer ons kan hoor. Ons het nodig om bokant hierdie geestelike geraas te kan uitstyg sodat ons vanuit ‘n posisie van suiwer instemming kan leef. Slegs dan kan ons effektief wees.
Maar vandag wil ek nie praat oor effektiwiteit in die Koninkryk nie, maar wel ons posisie van aanbidding. Wanneer ons sélf teen die wierookheuwel opklim en ons hele wese bring as ‘n offer. Dis wanneer ons in ons onvolmaakteid, ontoereikendheid en gebrokenheid besluit om Hom te aanbid omdat Hy dit waardig is.
Dit is die lieflike vrug van woestyntye. Jy kom aan die einde van jouself. Jou enigste roem is die Bloed van die Lam. En jou enigste hoop tot glorie is Jesus Christus. Dis ‘n wonderlike plek om te wees. Dis ‘n plek van lewe.
Hoe kom ons in die woestyn?
Ons lees in Hosea 2:13 dat dit die Here Homself is wat ons in die woestyn inlok. Nie tot straf of oordeel nie. Maar sodat Hy daar na ons hart kan spreek. Dit maak van die woestyn ‘n prys. Dis ‘n beloning vir die wat Hom werklik soek.
Daarom, kyk, Ek sal haar lok en haar in die woestyn lei en na haar hart spreek. (Hos 2:13)
Goed, so dit was ‘n kort verduideliking oor die heuwel en die woestynpad wat daarheen lei. Ek wil nou verder gaan en op die wierook gedeelte van die woord konsentreer.
In Openbaring 8 lees ons dat daar langs die altaar ‘n goue wierookbak staan. Wanneer hierdie bak gevul word met wierook, gebede en vuur, meng dit en die rook gaan voor die Vader op. ‘n Offer, op die regte manier berei, is ‘n aangename geur vir die Here.
Wierook het so baie simboliek. Ek kan nie nou in dit alles ingaan nie. Waarop ek wil fokus is wat is in ons wierookbak. Wat bring ons saam wanneer ons deur die sand stap tot by die wierookheuwel. Wat gaan ons offer? Die enigste aanneemlike offer is onsself as ‘n lewende offer van aanbidding. ‘n Offer wat uit eie keuse op die altaar klim en nie afspring wanneer die vuur kom nie.
Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer dit is julle redelike godsdiens. (Rom 12:1)
Een van die simboliese verduidelikings van wierook is dat dit die bruid van Christus verteenwoordig. Dit pas baie mooi by ons prentjie. Jy plaas jouself in die wierookbak. Jyself, jou wese en jou hele lewe is die offer. Saam met dit word die vuur ingemeng. Dis die proses van loutering en suiwering. Die kaf en dros word verteer terwyl die goud en silwer waarmee ons bou, behoue bly. Die rook van hierdie offer word ‘n aangename geur wat opgaan voor die Vader. Dis totale vertroue in die Een wat die offer aanvaar. Dis liefde. Dis die aflê van die eie-ek. Dis aanbidding in sy suiwerste vorm.
Ons lees in Hooglied dat sy hierdie heuwel dikwels besoek. En sy gaan voortgaan met hierdie besoeke totdat al die skaduwees in haar lewe uit die weggeruim is. Dit neem tyd en sy weet dit.
Die resultaat van die woestyn
Die uiteinde na die woestyntyd in Hosea, vind ons in vers 14. Ons mis dit dikwels omdat dit deur ‘n opskrif tot ‘n nuwe afdeling geskei word. Die vers begin met dan sal Ek haar daarvandaan…
En dan volg drie beloftes.
Die gevolge van woestynseisoene. Sy gaan wingerde ontvang. Wingerde is simbolies van ons eie persoonlike verhouding en geestelike groei, maar ook van ons roeping en bediening. Die woestyn berei ons voor vir vrugbaarheid.
Volgende word die dal van Agor ‘n deur van hoop. Ons het nodig om te weet wat Agor beteken en wat daar gebeur het. Volgens die Strongs woordeboek beteken Agor probleme en versteurings. Hierdie dinge word vir ons ‘n deur van hoop en verwagting.
Die derde ding wat in die woestyn gebeur is dat ons vanaf ‘n posisie van ver en onpersoonlik skuif na ‘n posisie van aanbidding, nader en dieper. Ons kennis van wie die Here is verander van kopkennis en menslike verstaan na ‘n diep bewondering van Sy lieflikheid. Dis om elke faset van Hom te leer ken en net nooit genoeg van Hom te kry nie. Dis hoe wonderlik Hy is. En dis waarom ons Hom wil aanbid.
Hoe dieper hierdie besef, hoe meer gereeld ons wierookheuwel besoeke en hoe soeter word die pad deur die woestyn tot daar. Ek wil graag eindig met die Hooglied 4:7. Omdat sy hierdie wierookheuwel-leefwyse het, daarom is daar geen gebrek aan haar nie. Sy is nie perfek in haar eie werke en pogings nie. Nee, die bruid van Jesus Christus is suiwer omdat sy totaal en al ingeneem is deur die wie Hy is. Sy kan nie anders as om Hom te aanbid nie.
Mag die uitbeelding in olieverf jou seën terwyl die Heilige Gees dieper insig bring.
Deur Yolandie Mostert (16 Maart 2023)
Skakel na die skildery. Die oorspronklike is reeds verkoop, maar daar is afdrukke beskikbaar.