Terwyl ons in die tydperk van Pasga is, gaan ons bietjie ongesuurde brood van nader bekyk. Verlede week het ons na die pasga-ete self gekyk en wat dit beteken om op die Lam van God te voed (to feast on the Lamb). Jesus Christus is die totale vervulling van die pasga-ete. Alles gaan net oor Hom. Ons leefwyse moet wees om in en deur Hom te leef – dis wat dit beteken om op die Lam te voed. As jy daardie teaching gemis het, kliek hier.
Ons het so vinnig geraak aan die verskuiwing van die geestelike seisoen soos ons van die een jaar na die volgende beweeg. Dit is baie belangrik dat ons die Here se aangesig soek soos ons hierdie volgende tydperk inbeweeg.
Vandag gaan ons inzoem op suurdeeg, die fees van ongesuurde brode en hoe dit prakties op ons van toepassing is. Weereens is hierdie ‘n leefwyse-vervulling: ons suiwer die ou suurdeeg uit sodat ons ‘n ongesuurde brood kan wees.
Skrifte oor suurdeeg:
Sewe dae lank moet julle ongesuurde brode eet; alreeds op die eerste dag moet julle die suurdeeg uit julle huise verwyder. Want elkeen wat gesuurde brood eet, van die eerste dag af tot die sewende toe, dié siel moet uit Israel uitgeroei word. (Eks 12:15 )
Daarop sê Jesus vir hulle: Pas op en wees op julle hoede vir die suurdeeg van die Fariseërs en Sadduseërs. … Toe het hulle begryp dat Hy nie gesê het dat hulle moes oppas vir die suurdeeg van die brood nie, maar vir die leer van die Fariseërs en Sadduseërs. (Mat 16:6,12)
Pas veral op vir die suurdeeg van die Fariseërs, dit is geveinsdheid. (Luk 12:1)
‘n Ander gelykenis het Hy hulle vertel: Die koninkryk van die hemele is soos suurdeeg wat ‘n vrou neem en in drie mate meel inwerk totdat dit heeltemal ingesuur is. (Mat 13:33)
‘n Bietjie suurdeeg maak die hele deeg suur. (Gal 5:9)
Julle roem is nie mooi nie. Weet julle nie dat ‘n bietjie suurdeeg die hele deeg suur maak nie? Suiwer dan die ou suurdeeg uit, sodat julle ‘n nuwe deeg kan wees—soos julle inderdaad ongesuurd is—want ook ons paaslam is vir ons geslag, naamlik Christus. Laat ons dan feesvier, nie met die ou suurdeeg of met die suurdeeg van ondeug en boosheid nie, maar met die ongesuurde brode van reinheid en waarheid. (1 Kor 5:6-8)
Verwyder die suurdeeg
Die dag voor die fees van ongesuurde brode, moes die Jode al die suurdeeg uit hulle huise verwyder. Hulle doen dit met soveel ywer en erns – daar mag nie ‘n krieseltjie suurdeeg teenwoordig wees wanneer hulle die pasga eet nie. Dit is eintlik so mooi voorbeeld vir ons. Hoeveel te meer moet ons nie van die spesiale genade op hierdie dag gebruik maak om van die geestelike suurdeeg in ons lewe ontslae te raak.
Ek vra myself: hoeveel moeite doen ons? Maak ons regtig tyd om ons geestelike kamers te deursoek vir suurdeeg? Ons gaan ‘n tydperk in van publieke vakansie dae. Sit ons van hierdie dae eenkant om geestelike aan te wend of is ons fokus net op ontspanning en plesier?
Ons kan die Heilige Gees vra om harte te deursoek en Sy soeklig te skyn. Soos Hy vir ons die dinge uitwys, kan ons bely, ons bekeer, dit laat staan en verander word in die gelykenis van Jesus Christus. Hierdie is een gebed wat ons seker kan wees wat omtrent dadelik beantwoord word. Dis nie altyd lekker om die antwoord te kry nie, want baie keer bring die Here dan omstandighede oor ons pad om die lelik uit te wys. Iets gebeur, iemand behandel jou sleg, jy voel sommer omgekrap sonder rede, jy voel ewe skielik jaloers of kwaad – al hierdie dinge is rigtingwysers na die suurdeeg. Ons moet oplet hoe ons reageer, sodat ons met die wortel van ons optrede kan deel.
Suurdeeg is altyd negatief
Regdeur die Bybel, word suurdeeg altyd in ‘n negatiewe konteks gebruik. Dit verwys nooit na iets goeds nie. Sommige van die betekenisse van suurdeeg is:
- Aktiewe sonde en sondige natuur
- Verkeerde leefwyse
- Werke, prestasie, hoogmoed
- Vleeslikheid
- Doktrine (leer)
- Ons ou lewe / gedagtes / woorde / aksies
- Gedagtes, woorde en optrede wat aan koninkryk van duisternis behoort
As ons na elke konteks kyk waarin daar na suurdeeg in die Skrif verwys word, kan ons sien dat suurdeeg ook die volgende verteenwoordig:
- Die Fariseërs het ‘n klomp ekstra reëls en wette gemaak wat hulle self nie eers kon onderhou nie. Hulle was skynheiligheid, vol trots en geestelike hoogmoed en sonder liefde en genade. Al was hulle die geestelike leiers, kon hulle nie eers die Messias herken toe Hy voor hulle gestaan het nie. Godsdienstigheid sal ons nie baie ver bring nie.
- Die Sadduseërs het weer tekens gesoek. Hulle koppe was vol vleeslike redenasie. Ook hulle kon nie dinge van die gees onderskei nie en wou daarom ‘n teken gehad het sodat hulle kon glo. Hulle was vol ongeloof.
- Herodus was so bly toe hy Jesus uiteindelik kon onmoet, maar hy het nie vir Jesus gesoek nie, hy wou net die tekens en wonderwerke sien. Ons moet versigtig wees om ervarings, tekens en wonders bokant ‘n persoonlike verhouding met Jesus Christus te plaas.
- Die Herodiane was politiese godsdienstige Jode wat ook Herodus gevolg het. Hulle het met hulle voete op twee paaie gestaan – die ‘kerk’ en die wêreldse sisteem van die tyd. Hoeveel keer wil ons vir Jesus volg, maar is nie bereid om die voordele van die Babiloniese stelsel op te gee nie.
Wat doen suurdeeg?
Soos ons ‘n klein bietjie suurdeeg afmeet en in die deeg inknie, word die suurdeeg deel van die deeg. Dit affekteer elke gedeelte van die deeg en jy kan dit later nie meer uitken nie. Wanneer die deeg gevorm is, is dit onmoontlik om die suurdeegkorrels uit die deeg te haal.
Suurdeeg maak die deeg ‘opgepof’. Dis natuurlik wat brood so lekker sag en donsig maak, maar in ‘n geestelike konteks is ons nie vanonderstel om opgepof en groot in onsself te wees nie. Daar is iets mooi en rein in die eenvoud van slegs water en meel om ‘n brood mee te bak. Daar is baie krag in eenvoud en nederigheid.
Gesuurde brood gaan vinniger ‘af’ as ongesuurdebrood. Na ‘n paar dae, is brood wat met suurdeeg gebak was, suur en begin sleg proe. Ongesuurde brood aan die ander kant, kan tot ‘n maand gebêre word.
Wanneer jy twee hope deeg het, een met suurdeeg en een sonder suurdeeg, sal jy aanvanklik nie die verskil kan agterkom nie. Wanneer die temperatuur begin styg tot ‘n gemaklike hitte, begin jy die verskil agterkom. Die deeg met suurdeeg begin sy werk te doen en die deeg begin rys. Die deeg met suurdeeg begin anders te lyk as die ongesuurde deeg in sy suiwer en oorspronklike vorm. Onder die regte kondisies, kan ‘n deeg met suurdeeg maklik uitgeken word; jy hoef nie eers ‘n vreeslike kennersoog of onderskeidingsvermoë te hê nie.
In die begin kan jy die suurdeeg in jou lewe nog maklik wegsteek, maar namate die tyd verloop, raak die effek van die suurdeeg baie ooglopend. Dit is lekkerlik soos die gesegde sê: “wat die hart van vol is, loop die mond van oor”. Ons gedagtes, woorde en aksies sal die suurdeeg in ons lewe weggee. Die werkling van die suurdeeg is die vrug waaraan ons uitgeken word.
Hoe raak ons van suurdeeg ontslae?
Paulus skryf dat ons die ou suurdeeg moet uitsuiwer, maar hoe doen ons dit? Dis onmoontlik om dit korrel vir korrel uit die deeg te haal nadat dit eers ingemeng is.
Ons sal nooit die suurdeeg in ons eie lewe deur vleeslike pogings of eie krag kan uitkry nie. Hierdie suiweringsproses kan slegs met die hulp van die Heilige Gees reggekry word.
Volgens my navorsing, is hitte die mees effektiefste manier om suurdeeg dood te maak. Teen sowat 50°C begin suurdeeg doodgaan. Teen 60-70°C en hoër is alle suurdeeg morsdood. Dis wat ons vir onsself geestelik wil hê.
In hierdie konteks moet ons die louteringsvuur van die Heilige Gees verwelkom. Ek glo dis waarom Petrus kon skryf dat ons ons moet verheug wanneer ons gelouter word deur omstandighede. Wanneer die wêreld om ons warmer raak, kan ons die suurdeeg in ons lewe duidelik herken en werk daarvan maak. Deur die vuurkrag van die Heilige Gees, kan hierdie suurdeeg sterf. Met elke beproewing, sterf nog ‘n stukkie suurdeeg en nog ‘n stukkie suurdeeg totdat ons ‘n eenvoudige, suiwer, ongesuurde deeg is.
1 Pet 1:6 Daarin verheug julle jul, al word julle nou—as dit nodig is—’n kort tydjie bedroef onder allerhande beproewinge, sodat die beproefdheid van julle geloof, wat baie kosbaarder is as goud wat vergaan maar deur vuur gelouter word, bevind mag word tot lof en eer en heerlikheid by die openbaring van Jesus Christus; vir wie julle, al het julle Hom nie gesien nie, tog liefhet; in wie julle, al sien julle Hom nou nie, tog glo en julle verbly met ‘n onuitspreeklike en heerlike blydskap, en die einddoel van julle geloof, die saligheid van julle siele, verkry.
1 Kor 3:13 elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is.
Hoe moet ons feesvier?
Kom ons kyk weer na die vier voorskrifte wat Paulus vir ons in 1 Kor 5:6-8 gee oor hoe ons die fees van ongesuurde brode moet vier.
- Die ou suurdeeg moet weg
- Ons moet dit vier as nuwe ongesuurde deeg
- Nie met ondeug en boosheid
- Vier die fees met reinheid en waarheid
-
Verwyder die suurdeeg
Net soos tydens die fisiese skoonmaak proses, is die geestelike proses van suurdeeg verwyder ‘n aktiewe proses. Ons het die soeklig van die Heilige Gees nodig om in elke hoeke te skyn. Ons moet die suurdeeg identifiseer en verwyder. Soms lyk die suurdeeg nie soos ons dink dit moet lyk nie. Net soos daar suurdeeg in koekiekrummels en allerhande kosse is, so is die sonde in ons lewe ook versteek in iets wat dalk mooi lyk. Dis slegs die Heilige Gees wat ons kan wys dat hierdie optrede of daardie selfregverdiging eintlik maar versteekte suurdeeg is.
Soos die Heilige Gees se soeklig skyn en dinge in ons lewe uitwys, doen ons opregte belydenis en bekeer onsself. Om te bekeer is om om te draai en te verander. Dit help niks ons gaan deur die skoonmaakproses, maar verander nie ons gedagtepatrone en optrede nie.
Hierdie is ‘n konstante proses, maar tydens die sewe dae van die fees van ongesuurde brode het ons ‘n ekstra genade. Hierdie is ‘n vasgestelde tyd deur ons Hemelse Vader vir ‘n spesifieke rede. Hy het ‘n afspraak met ons en ons kan dit nie by ons laat verbygaan nie.
Vra vir die Heilige Gees soeklig en vra vir die hitte. Wanneer ons saam met die Heilige Gees werk en aandagtig oplet na dit wat Hy ons wys, is dit nie eers nodig vir Hom om die hitte baie hoog te stel nie. Die oomblik wanneer ons ‘n borreltjie sien, maak ons werk van daardie stukkie suurdeeg. Ons herken die vrug in ons lewe. Miskien voel ons wanhopig, dalk kom daar vrees vir die toekoms in ons harte. Dalk kry ons ‘n woede-uitbarsting wat onsself nie eers weet waar dit vandaan kom nie. Iemand jak ons dalk af en ons reageer baie sterk daarop. Enige gebeurtenis, gedagte, emosie of woorde, is borreltjies wat die effek van suurdeeg uitwys. Sodra ons die vrug (borreltjie) sien, kan ons dadelik vir die Heilige Gees vra wat die wortel van hierdie reaksie is. Ons sorteer die wortel uit en so suiwer ons die gesuurde deeg, stukkie vir stukkie, uit totdat ons ongesuurd is.
-
Nuwe ongesuurde deeg
As wedergebore kinders van die Allerhoogste, leef ons baie keer asof daar nie ‘n verandering by ons plaasgevind het nie. Toe ons onder die water gegaan het met die dood, is ons saam met Christus begrawe. Ons kan nie meer ‘n sondige leefwyse hê nie. Ja, ons het steeds ‘n sondige natuur – Paulus skryf self dat hy ook agtergekom het dat ‘n ander krag in hom werk wat hom gedurig wil trek na sonde toe. Maar dan skryf hy dat die oorwinnig is deur die krag van Jesus Christus.
Ons het nog nie ten bloede weerstand gebied teen die sonde nie. Ons mag nie toelaat dat sonde aanhou oor ons heers nie.
die sonde lê en loer voor die deur, en sy begeerte is na jou; maar jy moet daaroor heers. (Gen 4:7)
Dis moontlik vir ons om in ‘n nuwe lewe wandel deur Jesus se volmaakte werk.
Wat sal ons dan sê? Sal ons in die sonde bly, dat die genade meer kan word? Nee, stellig nie! Ons wat die sonde afgesterf het, hoe kan ons nog daarin lewe? Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie? Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in ‘n nuwe lewe kan wandel. (Rom 6:1-4)
Ons is dood vir die sonde en lewend vir God. Ons mag nie meer ons gedagtewêreld, tong en ander ledemate beskikbaar stel vir die sonde om deur ons te opereer nie.
So moet julle ook reken dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewend is vir God in Christus Jesus, onse Here. Laat die sonde dan in julle sterflike liggaam nie heers dat julle aan sy begeerlikhede gehoorsaam sou wees nie. En moenie julle lede stel tot beskikking van die sonde as werktuie van ongeregtigheid nie, maar stel julleself tot beskikking van God as mense wat uit die dode lewend geword het, en julle lede as werktuie van geregtigheid in die diens van God. (Rom 6:11)
Wanneer ons saam met die Heilige Gees werk en die wortel van die sonde uitsorteer, kan ons in blywende oorwinning wandel. Wanneer ons net elke keer sê: “jammer Here, ek het gejok”, dan identifiseer ons die borreltjie en druk ‘n gaatjie om die borreltjie te laat weggaan. Die borreltjie is net die werking van die suurdeeg wat rys. Ons moet die borreltjie identifiseer en besef dat die rede dat daar ‘n borreltjie is, is omdat daar suurdeeg in die deeg is en dis die werklike oorsaak – die wortel. Die wortel is dalk mense-vrees of vrees vir verwerping. As ons by die wortel kan uitkom, kan ons saam met die Heilige Gees daarmee deel en dan haal ons korreltjies suurdeeg uit.
-
Ondeug en boosheid
Hierdie is twee woorde wat Paulus noem, waarmee ons nie die fees van ongesuurde brode moet vier nie. Ons moet ontslae raak van hierdie dinge – dis suurdeeg.
Die Engelse woorde is: Malice / wickedness. Die twee woorde se betekenisse is:
- Sleg, verkeerd, boos, oneerlik, lelik, duiwels
- Moedswillig
- Bitterheid, haat
- Vyandigheid, slegte gevoel teenoor iemand
- Ongeregtigheid (iniquity), sondig
- Korrupsie, Immorreel
Die effek van hierdie dinge word teenoor mekaar gesien, hoe ons teenoor mekaar optree – ons horisontale verhoudings.
-
Reinheid en waarheid
Hierdie twee woorde som die mooi dinge op waarmee ons die fees van ongesuurde brode moet vier.
Die Engelse woorde is: Sincerity / truth. Die twee woorde se betekenisse is:
- Afwesigheid van pretensie of voorgee
- Deursigtig, eerlik, ‘genuine’, eg
- Nie skynheilig, nie hoogmoedig
- Integriteit, erns, toegewyd
- Betroubaar, sag, vriendelik
- Glo, dink, praat, doen waarheid (wat is feite)
Net soos met ondeug en boosheid, word die effek van hierdie twee woorde teenoor mekaar gesien, hoe ons met mekaar is – ons horisontale verhoudings.
Jesus stel die eerste twee gebooie gelyk aan mekaar. Dis net so belangrik om ons naaste lief te hê as wat dit is om die Here lief te hê. Ek glo dis omdat ons liefde vir die Here outomaties sal vloei na mense toe. Ons kan nie die Here liefhê en die uitvloeisel word nie gesien in hoe ons teenoor mekaar optree nie. Miskien moet ons meer ernstig bid dat die Here ons sal vol maak met liefde vir Hom, want dan sal ons nie ander kan as om vir mekaar lief te wees nie.
Weggesteekte suurdeeg
Voordat ek afsluit, wil ek gou ‘n draai gaan maak by die gelykenis van die vrou wat suurdeeg in drie mate meel ingewerk het.
Die Engelse vertaling gee vir ons ‘n bietjie meer duidelikheid:
Another parable He spoke to them: “The kingdom of heaven is like leaven, which a woman took and hid in three measures of meal till it was all leavened.” (Mat 13:33)
Die heel eerste verwysing na drie mate meel is in Gen 18:6:
Toe loop Abraham haastig in die tent na Sara en sê: Maak gou, knie drie mate meel, die beste, en maak roosterkoeke.
Ons sien hier dat Abraham vir Sara gevra het om ongesuurde brode te bak van drie mate van die beste fynmeel. Net die beste was goed genoem om voor te sit aan sy hemelse besoekers.
Die volgende verwysing is die offer wat in die eerste maand van die jaar gebring moes geword het. Presies dieselfde geestelike tydperk waarin ons huidiglik is. Die offer was drie tiendes van ‘n efa fynmeel. Net soos in die voorbeeld van Abraham hierbo, mag hierdie offer geen suurdeeg bevat het nie.
Toe Jesus hierdie gelykenis vertel het, het Hy dit vir Jode vertel. Hulle het geweet van die drie mate meel van Abraham. Die konteks was daar – hierdie deeg mag nie suurdeeg bevat het nie.
Waarom het hierdie vrou dan die suurdeeg in die deeg weggesteek? Het sy dalk gedink niemand sal haar geheime sonde agterkom nie. Die realiteit is dat suurdeeg altyd herken word. Sodra die temperatuur gemaklik is, dan begin die werking van die suurdeeg en die hele deeg rys. Suurdeeg affekteer alles rondom ons.
Net so word die effek van die sondeval steeds in ons herken. ‘n Bietjie suurdeeg, al word dit weggesteek in die deeg, maak die hele deeg suur. Dis slegs deur die Bloed van die Lam en die krag van die Heilige Gees, dat ons die ou suurdeeg kan uitsuiwer sodat ons ‘n ongesuurde deeg kan wees. Eenvoudig, nederig, suiwer – bruikbaar vir Sy doel.
Dis tyd om van die geheime suurdeeg in ons lewe ontslae te raak. Ons sal altyd aan ons vrug geken word. Daar is geen plek vir pretensie en hoogmoed in die Koninkryk van die Lig nie. In God se Koninkryk, is daar deursigtigheid en eerlikheid.
Baie seën en liefde
Yolandie Mostert