Terwyl ons besig was met die voorbereiding vir die pasga-ete, het die Here ‘n groot blydskap en opgewondenheid in my hart gesit. Die wete dat Jesus leef het my ewe skielik op ‘n dieper vlak as voorheen getref en ek kon nie ophou sing nie… because He lives…
Ek wens ek kon daardie vreugde in woorde oorsit en ek gaan my bes probeer vanoggend. Ons het hoop. Ons hoef nie te vrees nie. Ons kan boontoe kyk en weet dat ons weet dat ons weet: ons Verlosser leef.
Daar is so baie dinge waaroor ons kan praat op Opstandingsondag. Ons kan kyk na die vervulling van die fees van die eerstelinge en hoe Jesus die eerstelinggerf is. Ons kan oor die simboliek van die grafdoeke praat. Ons kan praat oor Maria wat in aanbidding voor haar meester geval het toe sy hom herken het. Daar is soveel wonderlike fasette rondom Jesus se opstanding. Ek wil regtig elkeen aanmoedig om vandag al vier evangelies te lees. Dan kan ons nie anders as om met opgewondenheid vervul te word nie.
Kom ons lees Mattheus se vertelling
Mat 28:1-10 en 18-20
En laat ná die sabbat toe dit begin lig word, teen die eerste dag van die week, kom Maria Magdaléna en die ander Maria om na die graf te gaan kyk. En daar kom ‘n groot aardbewing, want ‘n engel van die Here het uit die hemel neergedaal en gekom en die steen van die opening weggerol en daarop gaan sit. En sy gedaante was soos weerlig en sy kleding wit soos sneeu. En uit vrees vir hom het die wagte gebewe en soos dooies geword.
Maar die engel antwoord en sê vir die vroue: Moenie vrees nie, want ek weet julle soek Jesus wat gekruisig is. Hy is nie hier nie, want Hy het opgestaan soos Hy gesê het. Kom kyk na die plek waar die Here gelê het; en gaan haastig, sê vir sy dissipels: Hy het opgestaan uit die dode en gaan voor julle uit na Galiléa. Daar sal julle Hom sien. Kyk, ek het julle dit gesê.
En hulle het haastig weggegaan van die graf met vrees en groot blydskap, en gehardloop om dit aan sy dissipels te vertel. En terwyl hulle op weg was om dit aan sy dissipels te vertel, kom Jesus hulle meteens teë en sê: Wees gegroet! Toe kom hulle nader en gryp sy voete en aanbid Hom. En Jesus sê vir hulle: Moenie vrees nie. Gaan heen en vertel my broeders dat hulle na Galiléa moet gaan; en daar sal hulle My sien.
En Jesus het nader gekom en met hulle gespreek en gesê: Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde. Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. Amen.
Hierdie jaar se tema
Toe ek die Heilige Gees vra waaroor Hy wil hê ons vandag moet gesels, het die antwoord duidelik en dadelik gekom.
Die eenvoudige, suiwer, onverdunde feit dat Jesus Christus lewe.
Dis die rede vir die fees. Al die ander wonderlike dinge is bysake. Hierdie jaar moet ons alles eenkant skuif, ook ons eie probleme, vrese, bekommernisse en idees. Ons fokus moet wees op die Een wat lewe en wat lewe tot in alle ewigheid. Kom ons vra dat die Heilige Gees ons sal vervul met dieselfde vreugde en verwondering wat die dissipels gehad het toe hulle die leë graf ontdek het.
Ek stel myself voor dat hulle nie veel moes geslaap het nie. ‘n Hele sabbatdag van wag vir Sondagoggend. Ons lees dat Maria alreeds met sonop by die graf was. Dink net aan al die verskillende emosies. Ek glo daar was ook onsekerheid en vrees vir die toekoms in hulle harte.
Amper elke keer wat Jesus aan hulle verskyn het na Sy opstanding, was Sy woorde: “moenie vrees nie” of “vrede vir julle”. Ek ervaar regtig hoe Jesus vandag ook vir ons wil sê: “vrede vir jou”. Ons leef in ‘n kritiese tyd en ons lewens is gevul met spanning, druk van alle kante af, bekommernis vir die toekoms en vrees vir onsself sowel as ons geliefdes. Te midde van al hierdie dinge, kan ons ook vanoggend by ‘n leë graf staan, die opgerolde doek sien en ons verwonder aan die wonderwerk.
Ons kan ook vanoggend aan Jesus se voete val en soos Maria uitroep: “Rabboeni, my meester, my koning, my heer!”
Kom ons maak vandag ‘n wilsbesluit om ons nie op te hou met eksterne dinge nie. Op hierdie dag wil ons die feit dat Jesus Christus lewe, vier. Dis vir my baie opmerklik hoe die Heilige Gees hierdie jaar se feesvieringe slegs op Jesus laat fokus. Ons weet reeds die feeste gaan oor Hom, Hy is tog die vervulling van elke fees. Maar hierdie jaar is daar ‘n eenvoud in die manier hoe ons slegs op Hom moet fokus, sonder fieterjasies. Ons vier HOM. Met die pasga-ete het ons Sy dood en offer gevier en vandag vier ons Sy lewe.
Ons Verlosser lewe
Ons hoef nie ‘n beeld van hout of klip te maak nie. Ons het nie ‘n god wat ons moet ronddra nie. Ons lees in Jes 44:9-20 en Hab 2:18-19 die sinneloosheid hiervan.
Ons dien die God van Abraham, Isak en Jakob. Die boodskap van die engel behoort ons met soveel blydskap te vervul dat ons wil juig, in die lug op spring en hardop halleluja uitskreeu: “Waarom soek julle die Lewende by die dooies? Hy is nie hier nie, maar Hy het opgestaan.” (Luk 24:5-6)
Vat nuwe moed vandag. Kom ons vier die Koning van die konings. Hy leef en Hy leef tot in alle ewigheid. Ons behoort aan Hom. Hy het aan Maria gesê: “Ek vaar op na my Vader en julle Vader, en my God en julle God”. Daardie woorde is net so kragtig en van toepassing op ons vandag. En dis rede vir ‘n fees. Dis rede om te jubel en te juig.
Die keuse is ons sin. Ons kan in kinderlikheid ons verwonder of ons kan hierdie dag by ons laat verbygaan. Ons kan dink: “ag, ek ken die storie” of “ja, ek weet Jesus het opgestaan, ons vier hierdie dag dan elke jaar, dis niks nuuts nie”. Of ons kan die Heilige Gees vra om ons te vervul met nuwe verwondering, vreugde en hoop.
Ek gaan ‘n paar teksverse vir ons voorlees. Suiwer Skrif, sonder enige verduidelikings. Kom ons vra dat die Heilige Gees dit vir ons individueel sal oopbreek. Neem vandag die tyd en mediteer op die Skrifte. Maak die deur toe, kom op jou knieë of op jou aangesig voor die Een wat lewe. Hy is dit waardig. Gryp se voete vas en aanbid HOM. Al voel jou woorde gebrekkig en al wat jy kan uitkry is: “Rabboeni”. As die betekenis van hierdie woord diep uit ons hart kom, is dit genoeg. Hou aan om Hom te aanbid totdat jy voel hoe jy van vlees na gees oorskakel. Hy is ons aanbidding waardig.
Jesus Christus lewe
Openb 1:12-18
Toe draai ek my om, om te sien watter stem met my gespreek het; en toe ek my omgedraai het, sien ek sewe goue kandelaars, en tussen die sewe kandelaars Een soos die Seun van die mens met ‘n kleed aan wat tot op die voete hang, en gegord om die bors met ‘n goue gordel.
Sy hoof en hare was wit soos wit wol, soos sneeu, en sy oë soos ‘n vuurvlam, en sy voete soos blink koper wat gloei soos in ‘n oond, en sy stem soos die stem van baie waters.
En in sy regterhand het Hy sewe sterre gehou, en ‘n skerp tweesnydende swaard het uit sy mond uitgegaan, en sy aangesig was soos die son wat skyn in sy krag.
En toe ek Hom sien, val ek soos ‘n dooie aan sy voete; en Hy het sy regterhand op my gelê en vir my gesê: Moenie vrees nie; Ek is die eerste en die laaste en die lewende; en Ek was dood en kyk, Ek leef tot in alle ewigheid. Amen. En Ek het die sleutels van die doderyk en van die dood.
Prys die Here! Ons Koning leef!
Omdat Hy leef, sien ons kans vir dit wat more en elke dag daarna bring.
Omdat Hy leef, hoef ons nie te vrees of bekommerd te wees nie. Ons kan op Hom vertrou.
Omdat Hy leef, het ons ‘n hoop. Net soos Hy die eersteling uit die dode was, gaan ons Hom volg. Die dood het geen mag oor ons nie. Ons het die ewige lewe in Hom.
Omdat Hy leef, kan ons jubel en juig. Hy leef in en deur ons.
Joh 6:53-54 En Jesus sê vir hulle: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, as julle nie die vlees van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie, het julle geen lewe in julleself nie. Hy wat my vlees eet en my bloed drink, het die ewige lewe, en Ek sal hom opwek in die laaste dag.
Mag ons fokus vandag en elke dag in hierdie nuwe geestelike seisoen wees om in Hom te bly. Ons weet dat ons geen lewe in onsself het nie. Ons lewe is in Hom, as gevolg van Hom, en vir Hom.
Kom ons lees ‘n paar Skrifte:
Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in ‘n nuwe lewe kan wandel. Want as ons met Hom saamgegroei het deur die gelykvormigheid aan sy dood, sal ons dit tog ook wees deur dié aan sy opstanding (Rom 6:4-5)
Want as ons lewe, leef ons tot eer van die Here; en as ons sterwe, sterf ons tot eer van die Here; of ons dan lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die Here. Want hiervoor het Christus ook gesterwe en opgestaan en weer lewend geword, om oor dode sowel as lewende te heers. (Rom 14:8-9)
En God het ook die Here opgewek en sal ons opwek deur sy krag. (1 Kor 6:14)
Want ons weet dat Hy wat die Here Jesus opgewek het, ons ook deur Jesus sal opwek en saam met julle voor Hom sal stel. Want dit is alles om julle ontwil, sodat die genade, wat groter geword het deur so baie mense, die danksegging oorvloedig kan maak tot die heerlikheid van God.
Daarom gee ons nie moed op nie, maar al vergaan ons uiterlike mens ook, nogtans word die innerlike mens dag ná dag vernuwe. Want ons ligte verdrukking wat vir ‘n oomblik is, bewerk vir ons ‘n alles oortreffende ewige gewig van heerlikheid; omdat ons nie let op die sigbare dinge nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig. (2 Kor 4:14-18)
Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat na sy grote barmhartigheid ons die wedergeboorte geskenk het tot ‘n lewende hoop deur die opstanding van Jesus Christus uit die dode, sodat ons ‘n onverganklike en onbesmette en onverwelklike erfenis kan verkry, wat in die hemele bewaar is vir ons wat in die krag van God bewaar word deur die geloof tot die saligheid wat gereed is om geopenbaar te word in die laaste tyd. (1 Pet 1:3-5) Lees ook die res van die hoofstuk, dis gepak met kosbare waarheid op waarheid.
Maar wat vir my wins was, dit het ek om Christus wil skade geag. Ja waarlik, ek ag ook alles skade om die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus, my Here, ter wille van wie ek alles prysgegee het en as drek beskou, om Christus as wins te verkry en in Hom gevind te word, nie met my geregtigheid wat uit die wet is nie, maar met dié wat deur die geloof in Christus is, die geregtigheid wat uit God is deur die geloof; sodat ek Hom kan ken en die krag van sy opstanding en die gemeenskap aan sy lyde terwyl ek aan sy dood gelykvormig word, of ek miskien die opstanding uit die dode kan bereik. (Fil 3:7-11)
En as die Gees van Hom wat Jesus uit die dode opgewek het, in julle woon, dan sal Hy wat Christus uit die dode opgewek het, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon. (Rom 8:11)
Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het. (Gal 2:20)
‘n Lofprysing is gepas
o Diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele en onnaspeurlik sy weë!
Want wie het die gedagte van die Here geken, of wie was sy raadsman gewees?
Of wie het eers iets aan Hom gegee, dat dit hom vergeld moet word?
Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge.
Syne is die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.
(Rom 11:33-36)
Gebed
Vader, ons harte loop oor van dankbaarheid. U is so goed vir ons! Dankie dat ons fees kan vier – dat ons die dood en lewe van Jesus Christus, ons Messias, kan vier. Ons kom verklaar vandag: Jesus – U is ons alles. Ons wil in en deur U lewe. Leer ons hoe asseblief.
Heilige Gees, vul ons opnuut met vreugde en kinderlike verwondering. Help ons dat ons nooit gewoond sal raak aan Goddelike waarhede nie.
Vul ons met vrede wat ons harte en sinne sal bewaar.
Vul ons met alles oorweldigende liefde, want die volmaakte liefde dryf die vrees uit ons harte uit.
Ons wil lewe in en deur die opstandingskrag van Jesus Christus en ons verstaan dat ons ook aan Sy dood gelykvormig moet word. Breek hierdie waarheid nog dieper vir ons oop en gee ons genade om onsself neer te lê, ons eie opinies en ons eie ek.
Ons bring vandag alle lof, eer en aanbidding vir U. Ons woorde sal nooit ooit genoeg kan wees om vir U dankie te sê dat U ons in die lewe oorgebring het nie. Dankie dat ons U mag ken. Dankie vir die voorreg om U kind te mag wees. Dankie vir die genade van redding. Help ons om vas te hou tot aan die einde. Dankie vir die belofte dat U met ons is tot aan die voleinding van die wêreld.
Abba, ons Vader, Jesus, ons Koning en Messias, soete, dierbare Heilige Gees, ons is vir U baie baie lief. Ons kom lê opnuut ons lewe neer. Ons wil U dien en liefhê met alles binne ons.
Amen