Die Here het my hierdie week besig gehou met die storie van Filemon en Onesimus.
Dis die jaar 62AD. Keiser Nero, met sy diep haat vir Christene, was aan bewind. Dit was ‘n tydperk van wrede vervolging. Paulus was in gevangenskap in Rome en vanuit hierdie plek ywer hy steeds om die blye boodskap te verkondig.
Filemon was ‘n ouderling, oftewel huiskerkleier, in Kollose. Hy was ‘n welaf man en het slawe besit (onthou, dit was ‘n algemene praktyk in daardie dae). Ons lees dat Filemon saam met Paulus en Timótheüs gearbei het. Een van Filemon se slawe was Onesimus. Sy naam beteken ‘handig’ of ‘bruikbaar’. Dit was blykbaar ‘n tipiese naam van ‘n slaaf wat op sy nering gewys het.
Uit die brief van Paulus aan Filemon, kan ons aflei dat Onesimus van sy eienaar gevlug het. Hy eindig op in Rome, oor die 2000km verder, waar Paulus hom aan Jesus voorstel. Onesimus maak sy lewe reg en dien Paulus getrou. Dit raak tyd vir Onesimus om terug te keer na sy eienaar en Paulus skryf ‘n brief aan Filemon om te in te tree vir Onesimus. Die wetgewing op slawe was baie streng en dit was binne Filemon se reg om Onesimus te straf of selfs dood te maak. Aangesien dit nie norm vir slawe was om finansies van hulle eie te gehad het nie, is dit ‘n logiese afleiding dat Onesimus geld of besittings van Filemon moes gesteel het om sy vlug Rome toe te finansier. Paulus pleit by Filemon om Onesimus terug te neem en sy skuld op Paulus se rekening te plaas.
Onesimus in ons lewe:
Ek wil ons elkeen vergelyk met Filemon – ons het ook ‘n Onesimus om te vergewe. Soms is dit iemand onbekend wat ons baie skade berokken het en ons pluk steeds die vrugte daarvan. Meestal is dit iemand baie naby aan ons wat ons diep teleurgestel of seergemaak het. Die teendeel is ook moontlik en ons is ‘n Onesimus vir iemand anders. Dalk het ons ‘n baie dom ding gedoen en iemand anders seergemaak of skade berokken. Dalk is daai iemand onsself.
Ons eerste reaksie is gewoonlik, “ek het niks teen niemand nie. Ek het reeds vergewe. Hierdie boodskap is nie vir my nie”. Dis ons vlees wat ‘n wal gooi, sodat ons nie by die diep wortels van bitterheid en haat kan uitkom nie.
So kom ons raak prakties:
Waarom draai ons gesprekke en gedagtes?
Dalk die regering – ou of huidige regering? Die slegte paaie, die gebrek aan dienslewering, jou belastinggeld wat gesteel word? Hoeveel mense is daar wat nou nog nie die vorige regering kan vergewe nie? Of nog verder terug – hoeveel Afrikaners het steeds ‘n wrok teen die Engelse?
Wat van die kerk of mede-Christene? ‘n Christen maak nie so nie. As dit is hoe ‘n Christen is, wil ek nie een wees nie. Dis hoe die gesprekke klink. Ek gaan nie meer kerk toe nie, want dis net vol skynheilige mense. Hoe kan ek saam met so-en-so aanbid as hy/sy dit aan my gedoen het? Die leraar het dalk net oë vir sekeres en jy word oorgesien. Jou gawes word nie herken en ontwikkel nie.
By die werk? Dalk is jy onregverdig aangekla en afgedank. Dalk is jy ‘n slagoffer van regstellende aksie of aflegging. Jou baas is miskien ongenaakbaar of oneerlik en jy kry swaar. Jou salaris is minder as jou kollegas sin en ander word bo jou bevorder. Jy werk harder, maar niemand sien dit raak nie en jy nie gewaardeer nie.
‘n Familielid of vriend was nie daar toe jy hulle op die nodigste gehad het nie. Dalk het jy in onkunde of goedertrou borg gestaan en is nou in finansiële moeilikheid. Miskien het jy vir iemand geld geleen en is nooit terug betaal nie. Jy sien hoe hoog hulle leef en jou kinders kan nie universiteit toe gaan nie.
Die ekonomie lyk sleg, dinge in die wêreld lyk nie belowend nie. Die petrolprys styg, inflasie styg en tussen alles wat net opgaan, neem jou lewenskwaliteit drasties af. Jy is bekommerd en iemand moet die skuld kry. Jy wens jy kon in ‘n ander tydperk leef en jy is kwaad.
Iemand vir wie jy baie lief is sterf en jy kan nie verstaan hoe die Here so iets kon toelaat nie. Jy het geliefdes, mooi kinders van die Here, as gevolg van covid verloor en jy is kwaad. Jy verloor jou werk, jou kinders raak die pad byster, jou gesondheid is ‘n probleem, ‘n storm verwoes jou huis of voertuig. En jy raak kwaad vir die Here, want Hy kon dit mos gekeer het.
- Wat is die gebeure en wie is die mense waaroor jy net nie uitgepraat kan raak nie. Of as jy jou weer kry, gaan jou gedagtes soontoe.
- Wie of wat gee vir ons daar vies en ongelukkige gevoel – die slegte smaak in ons mond?
- Wie of wat probeer ons vermy?
- Waaroor raak ons steeds emosioneel as ons net daaroor dink? Om emosioneel te raak is nie net trane nie, dis ook opgewerk, ongelukkig, vies, of sommer net ‘n slegte, negatiewe gevoel.
- Waaroor raak ons afgestomp, amper ongeergd en koud. Waar party mense maklik huil, hou ander dit binne en raak hard.
- Oor watter dinge is dit so belangrik dat ander my pyn moet verstaan of my kant van die saak moet insien. Hoeveel keer bespreek ons dieselfde gebeurtenis oor en oor en probeer die teëparty in ‘n slegte lig stel?
Wat kom by ons mond uit (aan ons vrug word ons herken):
- “Ek het vergewe, maar sal nie weer vertrou nie”
- “Ek sal vergewe, maar…”
- “Dis onvergeeflik wat daardie persoon gedoen het”
- “Ek is klaar met hom/haar”
- “Ek wil nie daaroor praat nie”
- “Ek weier om daaraan te dink”
- “Ek het reeds daarmee gedeel”
- “Ek het dit laat gaan”
- “Ek gaan nie weer daar nie”
- “Die Here sal met hom/haar afreken”
- “Dit was nou die blindesambok”
- “Elke hond kry sy dag – sy dag sal kom en dan sal ek daar wees om te kyk”
- “Wat jy saai gaan jy maai.” Ons kan Skrifte kwoteer so veel as ons wil, maar as die motief van ons hart wraak is, is dit verkeerd. Ander gebruik weer die Oosterse terme: ‘dis karma’. Dis ‘n slagspreuk wat nie hoort by ‘n kind van die Allerhoogste nie.
Hoe lyk en voel ware vergifnis
Terwyl ons nou na baie van die vrugte van onvergifnis gekyk het, sal ons vlees altyd verdedig en sê, ek is darem nie so sleg nie. Wanneer ons daardie gedagte kry, moet ons hom dadelik herken en weet hier is nou ‘n slang in die gras (letterlik). Hier is iets wat die vyand nie wil hê ek moet herken nie. Nou moet ek juis ondersoek instel en werk maak.
Daar is ‘n gesegde dat tyd genees. Dis nie waar nie. Tyd maak wel seer sagter, maar tyd neem dit nooit weg nie. Slegs die Bloed van Jesus kan ons werklik genees.
Pyn wat diep begrawe is, is nie genesing nie.
Dis nodig om ‘n meetsnoer te hê van hoe die ware lyk, so kom ons kyk hoe lyk ware vergifnis.
- Ek raak nie meer emosioneel / koud daaroor nie
- Ek kan kalm en sonder emosionele lading daaraan dink
- Jou eerste gedagte aan die persoon is nie dit wat hulle gedoen het nie
- Ek kan met diep jammerte en liefde vir die persoon bid en pleit
- Ek wil goed doen aan die persoon
- Ek verlekker my nie in hulle pyn nie (hierdie steek ons baie diep weg)
- Die atmosfeer is nie meer styf rondom die person nie
- Ek praat / dink nie meer so baie daaroor nie
- Ek weet dit het gebeur, maar dit voel of dit ‘daar ver’ is
- Ons kan objektief en eerlik na ons aandeel / reaksie kyk. Hoekom het dit gebeur? Hoekom het ek so reageer? Dan deel ek met wortels en slegte vrug in my lewe.
Wat sê die Skrif?
Kol 3:13 Verdra mekaar en vergewe mekaar as die een teen die ander ‘n klag het; soos Christus julle vergeef het, so moet julle ook doen.
Ef 4:32 Maar wees vriendelik en vol ontferming teenoor mekaar; vergeef mekaar soos God ook in Christus julle vergewe het.
Heb 12:14-15 Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie; en pas op dat niemand in die genade van God veragter nie; dat geen wortel van bitterheid opskiet en onrus verwek en baie hierdeur besoedel word nie.
1 Pet 4:8 Maar bo alles moet julle mekaar vurig liefhê, want die liefde sal ‘n menigte sondes bedek.
Spr 19:11 Die verstand van ‘n mens maak hom lankmoedig, en dit is vir hom ‘n eer om die oortreding te vergewe.
Luk 17:1-4 En Hy het vir sy dissipels gesê: Dit is onvermydelik dat die struikelblokke kom, maar wee hom deur wie hulle kom. Dit is beter vir hom as ‘n meulsteen aan sy nek gehang en hy in die see gegooi word, as dat hy een van hierdie kleintjies sou laat struikel. Pas op vir julleself. En as jou broeder teen jou sondig, bestraf hom; en as hy berou kry, vergewe hom. En as hy sewe maal op ‘n dag teen jou sondig en sewe maal op ‘n dag na jou terugkom en sê: Ek het berou—moet jy hom vergewe.
Mat 5:44 Maar Ek sê vir julle: Julle moet jul vyande liefhê; seën die wat vir julle vervloek, doen goed aan die wat vir julle haat, en bid vir die wat julle beledig en julle vervolg
Wat gebeur as ons nie vergewe nie
Ons vermy baie keer hierdie gedeeltes in die Bybel. Dis harde woorde wat ons aankla en omdat ons nie van die gevoel van verkeerd wees hou nie, ignoreer ons dit. Die realiteit is dat ons elkeen so desperaat vergifnis nodig het, dat ons nie kan bekostig om haat en bitterheid in ons harte te hê nie. Die Skrif is duidelik – wie nie vergewe nie, word nie vergewe nie.
Mar 11:25-26 – En wanneer julle staan en bid, vergeef as julle iets teen iemand het, sodat julle Vader wat in die hemele is, ook julle jul oortredinge mag vergewe. Maar as julle nie vergewe nie, sal julle Vader wat in die hemele is, ook julle oortredinge nie vergewe nie.
Mat 18:35 – So sal ook my hemelse Vader aan julle doen as julle nie elkeen sy broeder van harte sy oortredinge vergewe nie.
Die vergeefde vergewe
Filemon se wedergeboorte was te danke aan Paulus se verkondiging. Met ander woorde, Filemon skuld vir Paulus. Paulus gebruik hierdie skuld om vir Filemon te oortuig om Onesimus te vergewe. Baie sê dat Paulus vir Filemon gemanipuleer nie. Ek stem nie daarmee saam nie en sien ‘n dieper betekenis in hierdie brief.
Ons elkeen is soos Filemon – ons is so afhanklik van ons vergifnis van Jesus en het ons ewige lewe te danke aan die Bloed van die Lam. Jesus het ons aangeneem as Sy eie en het ons vergewe, daarom kan Hy ons beveel om te vergewe. So het ons elkeen het ‘n Onesimus – iemand wat ons skuld. Deur die genade en krag wat ons by die kruis kry, is ons instaat om te vergewe.
Besef ons regtig die genade van die vergifnis wat ons ontvang het?
Hoe ons ons eie vergifnis beleef, reflekteer direk op hoe vining ons is om ander te vergewe. Wanneer daar diep trots in ons harte is, dink ons dat ons nie so sleg is nie. Ons kom in selfregverdiging, al sal ons dit nooit erken nie, nie eers teenoor onsself nie. Gedagtes soos: “Ek gaan gereeld kerk toe, ek bid elke dag, ek gee vir die armes, ek is ‘n goeie mens, ek doen dit en ek sondig darem nie so nie.”
Maar wanneer ons in diep dankbaarheid en afhanklikheid voor die Here staan en soos die tollenaar in Lukas 18:13 vra vir genade omdat ons aan die einde van onsself gekom het, raak dit maliker om vir Onesimus te vergewe.
‘n Pleit vir vergifnis
Net soos Paulus 2000 jaar gelede vir Onesimus gepleit het, staan die Heilige Gees vandag voor my en jou en pleit vir elke Onesimus in ons lewe. Nie omdat Onesimus dit verdien nie, maar omdat ons nie kan bekostig om nie te vergewe nie.
Fil 1:10-12, 18-19 Ek pleit by jou vir my kind, Onésimus, wat ek verwek het in my boeie, wat vroeër vir jou nutteloos was, maar nou baie nuttig vir jou en vir my. Ek stuur hom terug; maar neem jy hom, dit is my eie hart, aan. En as hy jou benadeel het of iets skuld, sit dit op my rekening— ek, Paulus, het dit met my eie hand geskrywe: ek sal betaal—om nie te sê jou rekening nie, want jy is daarby jou eie persoon ook aan my verskuldig.
Jakob het op dieselfde manier by Josef gepleit vir sy broers. Hulle het ook nie sy vergifnis verdien nie. Ek het groot waardering dat Jakob nie die verkeerd wat aan Josef gedoen is afgewater het nie; hy is kwaad aangedoen. Maar steeds vra hy Josef om te vergewe.
Gen 50:15-17 Toe die broers van Josef sien dat hulle vader dood was, het hulle gesê: Sê nou Josef gaan ons as vyande behandel en hy gaan ons werklik vergelde al die kwaad wat ons hom aangedoen het! Daarom het hulle hierdie boodskap na Josef gestuur: U vader het voor sy dood bevel gegee met hierdie woorde: So moet julle vir Josef sê: Ag, vergewe tog die oortreding van jou broers en hulle sonde, want hulle het jou kwaad aangedoen. Maar nou, vergewe tog die oortreding van ons wat die God van u vader dien. En Josef het geween toe hulle met hom spreek.
Onesimus beteken handig
Wanneer ons verby die skade wat Onesimus ons berokken het en verby die teleurstelling kan kom, dan word hy vir ons handig (soos sy naam sê). As ons dapper is en diep selfondersoek instel, kom ons deur die Heilige Gees se leiding by vrae uit soos:
- Hoekom is daar van my gesteel – is dit die effek van onbelyde sondes van my voorgeslagte wat dalk uitbetaal het?
- Hoekom reageer ek so heftig op hierdie situasie – het dit aan ‘n ou wond geraak?
- Hoekom is ek so kwaad – is daar dalk nog wortels van verwerping in my lewe?
Hierdie vrae is baie nuttig want dan kan ons met iets dieper as net vergifnis deel. Dit bring bevryding op ‘n baie dieper vlak.
Ons lees in Psalm 119:91b: ‘want alle dinge is u knegte’. Of iets in die Here se volmaakte wil vir ons is of nie, alles wat met ons gebeur, gebruik Hy tot Sy eer. Ons kan saam met Hom werk of in rebellie staan en weier om te vergewe. Op die einde van die dag is dit ons wat verloor.
Wat as ekself Onesimus is?
Daar is ook situasies waar ons die een is wat oortree het. In daardie geval is die Skrif duidelik – dis ons verantwoordelik om te gaan reg maak, maak nie saak hoe moeilik dit is nie.
Mat 5:23-24 As jy dan jou gawe na die altaar bring en dit jou daar byval dat jou broeder iets teen jou het, laat jou gawe daar voor die altaar bly en gaan versoen jou eers met jou broeder, en kom dan en bring jou gawe.
‘n Mooi voorbeeld is Jakob en Esau in Gen 32-33. Voordat Jakob vir Esau ontmoet het, het hy dit met die Here deurgeworstel. Ek glo dat as Jakob nie daardie nag met die Engel van God geworstel het nie, sou hy nie so lig afgekom het van Esau se wraak nie. Die Here kan die gees van haat teen ons breek, mits ons bereid is om met Hom te worstel en werklik berou het oor ons aandeel in ‘n saak.
Slegs Jesus maak vergifnis moontlik
Kyk bietjie na hierdie groot kontras tussen twee mense wat die wreedheid van die Nazi’s tydens die tweede wêreldoorlog beleef het.
Elie Wiesel, “I cannot and I do not want to forgive the killers of children; I ask God not to forgive.”
Corrie Ten Boom se suster Betsie: ‘No hate Corrie. No hate.’
Slegs Jesus Christus maak die onmoontlike vir ons moontlik – om waarlik te kan vergewe. Omdat ons vergewe is.
Relevansie op huidige wêreldomstandighede
Paulus en sy tydgenote het geleef in ‘n tydperk van wrede vervolging hulle geloof. Kinders van die Allerhoogste is bomenslik wreed behandel. Hulle het bitter swaar gekry, maar te midde van hierdie omstandighede, kon Paulus bemoedig: vergewe, wees bly en staan vas. As dit toe moontlik was, is dit nou ook moontlik.
Net soos ons ook moeilike tye ingaan, moet ons haastig werk maak met enige wortel van bitterheid, haat, onvergifnis en onvrede. Ons het nodig om ons vervolgers dadelik te kan vergewe en vir hulle te bid. Ons kan nie bekostig om kwaad en verbitterd te word wannneer ons lewenskwaliteit nie meer is wat dit was nie. Sou chemiese wapens gebruik word en ons ons geliefdes sien siek word en sterf, mag daar nie haat in ons harte kom nie. Wanneer ons swaarkry en armoede sien toeneem, moet ons ‘n vaste vertrou hê op die Een wat meel en olie vermeerder. Wanneer ons vir ons geloof uitgekryt en uitgeskei word, moet ons seën en nie vervloek nie. Ons moet nou met verwerping deel. Ons moet nou vergewe en regmaak.
Om te vergewe is deel van die proses om ekstra olie bymekaar te maak. Dit beteken nie ons aanvaar of keur dit wat die teëparty doen, goed nie. Dit beteken ons is sterk in Christus en oorwin die kwaad deur die goeie.
Mag die Here ons genade gee om vandag te vergewe.
Baie liefde, Yolandie