Om ‘n offer te wees

Dis Yolandie Mostert en dis vandag die 18e Februarie 2023.

 

Terwyl ek vanoggend in die kombuis besig is, luister ek op my audio Bybel na Levitikus. Die baie spesifieke voorskrifte vir die verskillende offers het my opgeval. Ons Vader is ‘n God van detail. Hy beplan dinge in die fynste detail en niks is sommer maar net nie. Alles het betekenis en waarde.

 

Sy voorskrifte

Elke offer wat volgens die Vader se voorskrifte berei word, word ‘n lieflike offer, ‘n aangename geur vir Hom. Ons kan nie self besluit hoe ons Hom wil aanbid en dien nie. Hy besluit. Wanneer ons daardie voorskrifte volg, kan ons nie anders as om Hom te behaag nie. Ons sê so maklik dat ons welgevallig wil wees vir die Here. Dat ons Hom wil behaag. Dat ons wil hê dat Hy oor ons lewe moet glimlag. Maar tog wil ons Hom dien op ons terme. Ons wil kies watter voorskrifte ons wil nakom en watter nie. En wanneer die mens aangespreek word, word argumente soos “God se genade” of “God is God van liefde” of “Jy mag nie oordeel nie” gebruik.

 

Romeine 12:1

Ons lees in Rom 12:1 dat ons ons liggame moet stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer. Dit is ons redelike godsdiens. Na die wonderlike vryheid wat die Bloed van Jesus vir ons gekoop het, is dit net redelik dat ons dit sal doen. Dis die minste wat ons uit dankbaarheid kan doen.

Dit klink baie romanties om hierdie vers in Romeine te kwoteer, maar kom ons breek dit af in sy basiese elemente en dan verbind ons dit met die voorskrifte van die spysoffer in Levitikus 2.

‘n Offer is iets wat bo-op ‘n altaar geplaas word. ‘n Offer is iets wat dood moet gaan sodat dit geoffer kan word. Offers in die Ou Testament was almal doodgemaak voordat hulle verbrand was. In die geval van onsself as ‘n Nuwe Testamentiese offer, moet ons self ons lewe neerlê. Volgens die vers in Romeine, moet ons lewende offers wees. Ons moet self op die altaar klim. En wanneer die vuur aangesteek word, moet ons deur ‘n wilbesluit op die altaar bly. Hoeveel keer vra ons nie vir meer van die Here nie, vir ‘n dieper openbaring of vir groter salwing nie. Maar wanneer die Here in ‘n antwoord op ons gebed die vuur aansteek of warmer maak, dan spring ons van die altaar af.

 

‘n Heilige offer

Ons moet ook heilige offers wees. Menslik gesproke klink dit so onmoontlik. Baie mense probeer uit eie poging ‘n lys van reëls, moets en moenies onderhou om heilig te word. Reëls gaan ons nooit kan heilig maak nie. Slegs die Bloed van die Lam kan. Dis al waarop ons kan roem en dis al wat maak dat ons toegang kan verkry tot ons heilige Hemelse Vader. As dit nie vir die Bloed was nie, sou ons nooit met vrymoedigheid voor Hom kon verskyn nie. Dan sou ons al die voorskrifte van die wet moes onderhou sodat God se heiligheid ons nie verteer nie.

Ons lees in Mattheus 23:19  dat dit die altaar is wat die gawe heilig. Prys die Here daarvoor. Die blote feit dat ons deur ‘n wilsbesluit ons lewens neerlê op die altaar en ‘n totale toewyding aan die Here maak, maak ons heilig. Die voorskrifte en reëls volg uit liefde in gehoorsaamheid, maar dis nie wat ons heilig nie. Dis die altaar wat besprinkel is met die Bloed van die Lam. Dis al waarop ons kan roem. Heiligmaking onder die leiding van die Heilige Gees, stap vir stap, totdat ons groei tot die volle mate van Christus.

 

‘n Aangename offer

Ons moet ook ‘n welgevallige offer wees. ‘n Offer wat lekker ruik vir die Vader. Die enigste manier hoe ons dit kan doen is heel eerste deur vrywilliglik op te klim. Dit beteken dat ons ons eie ambisies, begeertes, opinies en prioriteite aflê en eerste Sy Koninkryk soek. Ons lewe ‘n lewe van heiligmaking saam met die Heilige Gees. En ons volg die Vader in gehoorsaamheid. Nie ‘n kerk of denominasie se lys van doktienes nie. Ons spandeer tyd in Sy teenwoordigheid. Ons bestudeer die Skrifte sodat ons Sy leiding en lering vir ons lewe kan vind. Dan volg ons Sy stem in radikale gehoorsaamheid.

 

Kom ons trek dit alles terug na die spysoffer in Levitikus toe. Ek gaan so vier punte uit hoofstuk twee uitlig.

Fynmeel

‘n Spysoffer moet van fynmeel wees. Om as fynmeel te kwalifiseer moes daar ‘n aantal siftings plaasgevind het. Met elke sifting raak die gaatjies van die sif al hoe fyner. Ons moet al hoe minder en minder in onsself raak, sodat ons deur die gaatjies van die sif kan pas. Ons begin as weergebore, pas gedoopte, Bloedgewaste mense en dan na die mate wat ons die Heilige Gees toelaat, begin Hy ons hart aan ons te openbaar. Eers die ooglopende dinge, verkeerde gewoontes, vriende, taal, verslawings ensomeer. Ons bely dit en lê dat af. Dan kom die volgende sifting. Hy begin ons dinge soos twis, jaloesie en onvergifnis uit te wys. As ons ons nek verhard en weier om te buig, is ons te groot in onsself en sal nie deur die gaatjies van die sif pas nie. Sommige mense hak by een fase van sifting hulle hele lewe vas omdat hulle weier om hulleself neer te lê. Die siftings raak al hoe fyner. Later begin die Heilige Gees werk met die vrese in ons lewe. Dis diep diep weggesteek. Nog later raak dit die motiewe van ons hart. Die trots in ons lewe. Die geestelike hoogmoed. Elke keer nog ‘n sifting, kleiner gaatjies. En om deur te pas, moet ons aflê, bely en laat staan. Dis wat dit beteken om minder in jouself te word. Die einddoel is om fynmeel te mag wees. Fynmeel wat ‘n welgevallige offer voor die Vader sal wees wanneer die vuur daaroor gaan.

 

Olie

Die fynmeel moet met olie gemeng word. Olie verteenwoordig die Heilige Gees en salwing. Sonder die leiding van die Heilige Gees sal dit onmoontlik wees om minder te word sodat ons deur die gaatjies van die sif kan pas. Sonder die Heilige Gees leiding sal ons nooit die wet wat op ons hart geskryf is, kan lees of verstaan nie. Sonder die Gees van God sal ons nooit weet hoe om die Vader te dien, te gehoorsaam en te behaag nie.

 

Ongesuurd

Regdeur die Bybel verteenwoordig suurdeeg sonde. ‘n Klein bietjie daarvan kan ‘n hele deeg affekteer. Op die dag voordat die Fees van ongesuurde brode begin, moet alle suurdeeg reeds uit die huise verwyder word. Dis ‘n aktiewe proses om van die suurdeeg in ons lewens ontslae te raak.

Hitte vernietig suurdeeg. Die reinigingsvuur is die beste resep. Wanneer daar hitte, oftewel moeilike omstandighede in ons lewens kom, kan ons die manier waarop ons dink, reageer en optree opmerk. As dit nie in lyn is met die Skrif nie, kan ons dit voor die Vader neem en vra wat dit is wat nou hier in ons opgestaan het. Dan bely ons dit. As dit ‘n dieper wortel het, kan ons hulp kry in terme van innerlike genesing en bevryding. Maar ons moet daarmee deel.

Vir ‘n offer om welgevallig te wees, mag daar nie suurdeeg in wees nie. Hiermee sê ek nie dat ons eers ‘n offer mag wees wanneer ons van al die suurdeeg ontslae geraak het nie. Dis juis die vuur van die altaar wat ons ook daarmee help. Wat ek sê is dat ons sterk daarna moet streef om die heiligmaking van God te volbring. Dit beteken dat ons ‘n aktiewe lewenswyse van suurdeegvernietiging moet hê. Ons kan nie vir jare en jare aangaan en op die dieselfde manier reageer en niks daaromtrent doen nie. Ons kan nie sê: “ek is nou maar so gemaak en so gelaat staan nie”. Nee, die Bloed van die Lam het duur betaal sodat ons vry kan kom.

1 Joh 1:9  As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.

 

Sout

Alle offers moet sout bevat. Sout as preserveermiddel, geneesmiddel en smaakmiddel. ‘n Lewe wat toenemend vryer raak van die sondige natuur, het smaak. Dit gee smaak aan die mense rondom. ‘n Lewe vol van die eie ek met sy opinies en stem wat die heeltyd gehoor wil word, bring ‘n slegte smaak.

Daar is eintlik so baie wat gesê kan word oor sout, dat dit nie alles vandag sal inpas nie. Ek sal moontlik ‘n latere opvolg boodskap net daaroor doen.

Mark 9:49-50  Want elkeen sal met vuur gesout word en elke offerande sal met sout gesout word. Die sout is goed, maar as die sout souteloos word, waarmee sal julle dit smaaklik maak? Julle moet sout in julle hê en vrede hou met mekaar. 

 

Alle spysoffers moes ook wierook bevat, maar geen heuning nie. Ek sal in ‘n latere boodskap ook meer met die simboliek van hierdie twee elemente deel.

 

Ek eindig met:

Ps 51:19  Die offers van God is ‘n gebroke gees; ‘n gebroke en verslae hart sal U, o God, nie verag nie! 

Dis vir my lekker om na verskillende vertalings en die oorspronklike Hebreeuse en Griekse woord betekenisse te kyk. Hoor hoe mooi beskryf die Passion Translation dit in vers 16 en 17:

For the source of your pleasure is not in my performance or the sacrifices I might offer to you. The fountain of your pleasure is found in the sacrifice of my shattered heart before you. You will not despise my tenderness as I humbly bow down at your feet. 

css.php