Yolandie Mostert (9 April 2023)
Vandag vier ons die fees van die eerstelinge soos beskryf in Levitikus 23:10-11. Hierdie fees was ‘n skadu van die opstanding van Jesus uit die dood. Jesus Christus was die eersteling uit die dood en ons volg Hom as die res van die oes by Sy koms.
Paulus verbind die skadu en die gebeurtenis in 1 Korintiërs 15:20-23:
Maar nou, Christus is opgewek uit die dode; Hy het die eersteling geword van die wat ontslaap het. Want aangesien die dood deur ‘n mens is, is die opstanding van die dode ook deur ‘n mens. Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word; maar elkeen in sy eie orde: as eersteling Christus, daarna die wat aan Christus behoort by sy koms.
Ou of nuwe wyn
Vandag merk nie net die opstanding van Jesus nie, maar ook die begin van die volgende geestelike seisoen. Die Woord wat die Heilige Gees vir my gegee het om te deel kan ek so opsom: “nuwe wyn vir ‘n nuwe seisoen”.
Jesus vertel die gelykenis in Lukas 5:36-38:
En Hy het ook aan hulle ‘n gelykenis vertel: Niemand sit ‘n lap van ‘n nuwe kleed op ‘n ou kleed nie; anders skeur dit die nuwe ook, en die lap wat van die nuwe af kom, pas nie by die oue nie. En niemand gooi nuwe wyn in ou leersakke nie; anders sal die nuwe wyn die sakke skeur, en dit sal uitloop, en die sakke sal vergaan. Maar nuwe wyn moet in nuwe sakke gegooi word, en altwee word saam behou.
Soos wat wyn se vlak in die wynsak laer word, droog die boonste gedeelte van die sak uit en vorm krake en voue. Die leer raak harder en begin uitdroog. Indien hierdie ou sak opgevul word met wyn, sal die harde, uitgedroogte sak kraak en skeur op die voue.
Alles wat ons tot op vandag geestelik bereik, beleef en gedoen het, is ou wyn. Daar is niks fout met ou wyn nie. Dit het ‘n doel gehad, maar daardie doel is nou uitgedien. Ons het ‘n nuwe seisoen inbeweeg en die Here wil nuwe wyn uitgiet.
Wat is die verskil tussen die ou en nuwe wyn? Terwyl ek hierdie week biddend was oor die boodskap van die nuwe seisoen, bring die Heilige Gees my in aanraking met ‘n gedeelte oor Símeon en Anna. Alhoewel daardie skrywe se tema iets anders was, het dit vir my soveel helderheid gebring oor dit wat die Here in hierdie seisoen in ons elkeen se lewe wil doen.
Símeon en Anna
Ons vind die gedeelte in Lukas 2:25-27 en ook vers 36 tot 38.
Símeon
Símeon verteenwoordig die ou wyn en Anna die nuwe wyn. Kom ons lees verse 24 tot 27 om te sien hoe lyk ou wyn.
En daar was ‘n man in Jerusalem met die naam van Símeon; en hierdie man was regverdig en vroom en het die vertroosting van Israel verwag, en die Heilige Gees was op hom. En aan hom was dit deur die Heilige Gees geopenbaar dat hy die dood nie sou sien voordat hy die Christus van die Here gesien het nie. En hy het deur die Gees in die tempel gekom; en toe die ouers die Kindjie Jesus inbring om met Hom te handel volgens die gebruik van die wet… (Luk 2:25-27)
Ek wil hê dat ons moet oplet dat daar absoluut niks verkeerd met die ou wyn was nie. Dis nie sondig of iets waarvan ons onsself moet bekeer nie. Símeon was woonagtig in Jerusalem, die stad van die Here. Geestelik beteken dit dat ons op die regte plek is, reeds in die Here. Hy was regverdig. Een van die woorde wat die Engelse vertaling gebruik is innocent. Hy was ook vroom, met ander woorde hy was ‘n toegewyde wetsgehoorsame Jood. As ons dit moet deurtrek na onsself toe, kan ons sien dat ons reeds in die Here is. Ons het al ‘n pad gestap van bekering, belydenis, genesing van ons innerlike pyn sowel as bevryding. Ons is toegewy om die Here te dien met ons hele hart en is gehoorsaam aan die wet wat Hy op ons binneste geskryf het – die wet van die Gees van die lewe. Símeon het ‘n openbaring ontvang deur die Heilige Gees. Hy kon die Here se stem hoor. Hy het ook die leiding van die Heilige Gees gevolg. Dis hoe hy op daardie dag in die tempel ingekom het – perfekte tydsberekening onder die leiding van die Heilige Gees. Ek dink dit sal regverdig wees om te sê: Símeon was ‘n man van God.
Ek hoop jy kan hieruit sien hoe wonderlik die wyn van die vorige seisoen was. Hoe baie is daar nie wat hierdie wyn begeer nie. Om te kan hê, sien en hoor wat ons beleef. Maar as hierdie wyn dan so wonderlik is, hoekom dit verander? Ons dien dan die Here so mooi, ons beleef Sy seëninge, hoor Sy stem en kry selfs openbarings. Wat kan beter wees as dit?
En niemand wat ou wyn gedrink het, wil dadelik nuwe hê nie; want hy sê: Die oue is beter. (Lukas 5:39)
Tog eindig die Here Símeon se seisoen. Hy eindig op ‘n goeie nuut. Dis tyd om die stokkie oor te gee vir Anna. Ons nuwe wyn in nuwe wynsakke.
Nou laat U, Here, u dienskneg gaan in vrede volgens u woord, omdat my oë u heil gesien het (Luk 2:29-30)
Anna
Kom ons kyk na Anna. Lukas 2:36-37:
En daar was Anna, ‘n profetes, die dogter van Fánuel, uit die stam van Aser. Sy was op baie ver gevorderde leeftyd en het van haar maagdom af sewe jaar lank met haar man saamgelewe; en sy was ‘n weduwee van omtrent vier en tagtig jaar. Sy het nie weggebly van die tempel nie, en met vaste en gebede God gedien, nag en dag.
Anna het uit die stam Aser gekom. Ons gaan nou na die beloofte seëninge kyk wat oor hierdie stam uitgespreek is en sien hoe dit ons nuwe seisoen moet definieer. Sy was al oud, vier en tagtig jaar. Geestelik kan ons die volwassenheid sien wat van die nuwe seisoen verwag word. Die tyd vir geestelik baba-wees is uitgedien. Ons moet nou ernstig geestelik grootword. In teenstelling met Símeon wat na die tempel gegaan het, het Anna dag en nag daar gebly. Sy het vanuit hierdie plek die Here gedien met vasting en gebed. Ons kan haar geestelike volwassenheid weer sien in hierdie dissipline. Kyk, die tempel was nie die maklikste plek om te vas nie. Stel jouself net voor al die geure van diere wat geoffer word. Dit moes die heeltyd soos braaivleis geruik het. Anna het vanuit die Here se teenwoordigheid geleef. Sy het nie in en uit gegaan nie. Hier lê alreeds ‘n baie groot verskil. Anna was ook ‘n profetes. Net soos Símeon het sy openbarings ontvang en die Here se stem gehoor. Die verskil was dat Anna ook gespreek het dit wat sy gehoor het. Dis tog wat ‘n profeet doen. Hoor en spreek.
Daar was ‘n kort tyd waar Símeon en Anna se seisoen oorvleuel het. Dit was met hierdie geleentheid terwyl Jesus na die tempel gebring was as ‘n baba nadat Maria se reiningstyd verby was. Hier kon Símeon die stokkie vir Anna oorgee. Hy kon in vrede gaan. Sy werk was klaar. Anna het voortgegaan en met almal gespreek oor die Messias.
En sy het in dieselfde uur daar gekom en die Here geprys en van Hom gespreek met almal in Jerusalem wat die verlossing verwag het. (Luk 2:38)
Twee ander vroue
Ons kon nou mooi in Símeon die ou wyn verstaan. Maar die nuwe seisoen se wyn is nog nie so helder nie. Ons het nodig om na twee ander vroue te kyk om werklik te verstaan waartoe ons geroep word. Hierdie vroue is die twee susters, Martha en Maria. Ook in Lukas. Hoofstuk 10:38-42.
En op hulle reis het Hy in ‘n sekere dorp gekom, en ‘n vrou met die naam van Martha het Hom in haar huis ontvang. En sy het ‘n suster gehad met die naam van Maria; dié het aan die voete van Jesus gesit en na sy woord geluister.
Maar Martha was baie besig om alles klaar te maak. Sy kom toe daar staan en sê: Here, gee U nie om dat my suster my alleen laat bedien nie? Sê dan vir haar dat sy my moet help. Maar Jesus antwoord en sê vir haar: Martha, Martha, jy is besorg en verontrus oor baie dinge; maar een ding is nodig; en Maria het die goeie deel uitgekies wat van haar nie weggeneem sal word nie.
Martha verteenwoordig die oue. Net soos Símeon was sy besig met goeie en noodsaaklike dinge. Martha het die Here gedien op die manier hoe sy dit verstaan het. Maria verteenwoordig die nuwe wynsakke wat ons moet bring sodat die nuwe wyn ingegooi kan word. In plaas van net die Here dien, roep Hy ons na tyd by Sy voete. ‘n Nuwe manier van leef vanuit hierdie plek van aanbidding.
Johannes 12 vers 1 tot 3 asook Markus 14:3 gee vir ons verdere besonderhede van Maria se manier van aanbidding. Die woord offer beskryf die essensie van die seisoen eintlik die beste. Maria het ‘n pond suiwer nardussalf in ‘n albastefles gebring en alles vir Jesus gegee met geen moontlikheid op terug ontvang, vermenigvuldiging of seëning nie. Hierdie houer suiwer parfuum kon vir 300 pennings verkoop word. Een penning was ‘n dagloon. Dus was 300 pennings amper ‘n hele jaar se salaris. Sy bring hierdie geweldige duur item, breek dit en giet dit op Jesus uit. Vir die res van die mense in die vertrek, moes dit na oordadigheid gelyk het. Asof sy uit balans was. Onlogiese verkwisting.
Vir mense rondom jou, gaan die tyd wat jy by Sy voete spandeer, dalk ook na onlogiese uit-balans vermorsing van tyd lyk. Wees voorbereid op die kritiek. Maar dis waartoe Hy ons oproep. Totale oorgawe van ons finansies, tyd, gewoontes en leefwyse. Van ons hele wese – broken and poured out.
Hoe gaan hierdie seisoen prakties lyk?
Jou gebedstye gaan begin anders lyk. Dit gaan dalk langer in tyd wees, maar daar gaan minder praat en meer aanbidding wees. Dit neem tyd om op Hom te wag.
Jou roetienes gaan verander. Iets wat ek reeds agtergekom het is dat die Here nie inval by ons roetiene nie. As Hy jou oproep tot tyd aan Sy voete, gaan verskonings soos: “maar Here, dis Maandag, dis wasdag” nie deug nie. Hy mag dalk jou langnaweek vra of jou Saterdag nadat jy reeds gereël het om jou sport of stokperdjie te beoefen. Soms maak Hy ons wakker in die nag en moet slaap en gerief opgeoffer word. Ons verwag baie keer ‘n wonderlike ervaring. Tog het Maria die parfuum uitgegiet sonder om enige iets terug te verwag. Dalk het jy reeds ‘n gevestigde roetiene van Bybelstudie en bid en is nie lus om dit te verander nie. In die nuwe seisoen gaan dit dalk anders lyk.
Jy gaan minder afhanklik van ander begin raak vir geestelike voedsel. Dis ‘n seisoen van direk hoor. Maar nie net hoor soos Símeon nie, maar hoor en verkondig soos Anna. Nie wat jy by ander gehoor het nie. Dit wat jy self gehoor het, moet uitgedeel word.
Maria se kosbare, duur nardussalf kon verkoop word vir baie geld. Dit was ‘n groot opoffering en het haar gekos. Hierdie seisoen roep ons op vir radikale roekelose aanbidding by Sy voete. Om sonder om oor die koste te bekommer, onsself uit te giet as ‘n offer vir Hom. Hy is dit waardig!
Die resultaat
Anna was uit die stam van Aser. Kom ons lees twee profesieë oor hierdie stam. Ek lees in Engels:
Gen 49:20 “Asher’s food [supply] shall be rich and bountiful, And he shall yield and deliver royal delights.
Deut 33:24- 25 Of Asher he said, “More blessed than sons is Asher; May he be favored by his brothers, And may he dip his foot in oil. “Your strongholds will be iron and bronze, And as your days are, so will your strength, your rest and security be.
Dis die resultaat van ons Maria seisoen. Ons gaan gevoed word met die beste geestelike voedsel. Eerstehands en voedsaam. Ons gaan koninklike lekkernye ontvang om aan ander te kan uitdeel.
Die volgende wonderlike ding wat gebeur is dat ‘n aangename geur die hele vertrek vul. Dit wat in eensaamheid by Sy voete gebeur, gaan ‘n uitwerking hê op mense rondom ons en op ‘n verlore wêreld. Die Maria seisoen is wat ons gaan voorberei en sterk maak vir die komende verdrukkingstydperk. Hierdie seisoen bevat ook ‘n sekere salwing. Aser is die een wat sy voet in die olie steek. Hierdie salwing vind ons by die lieflike voete van Jesus Christus.
Ons is tans in die oorgangsweek waar Símeon die stokkie oorgee aan Anna. Soos wat ons die fees van ongesuurde brode vier en van die suurdeeg in ons lewens ontslae raak, so moet ons ook boeke vat en die koste bereken.
Is ons bereid? Kan ons vertrou word met nuwe wyn? Of gaan ons die seisoen by ons laat verby gaan? Gaan ons gehoorsaam wees en die tyd uitkoop te midde van ander se kritiek en oordeel? Of gaan ons verwag dat Hy die nuwe wyn in ons huidige sakke moet gooi. Hy gaan dit nie doen nie. Hy gaan nie Sy heerlike nuwe wyn in sakke wat Hy weet gaan skeur nie. Jy gaan dan rondom jou kyk en ander se nuwe wyn vurig begeer, maar dit nie proe nie. Nuwe wyn kos ‘n prys. Dit word slegs uitgegiet by Sy voete.
Ek wil afsluit met Woord wat ek reeds in Augustus 2022 by die Heilige Gees ontvang het. Terwyl ek besig was met hierdie voorbereiding, het die Heilige Gees my hieraan herinner.
“Ek roep julle en bring julle tot ‘n leefwyse van ‘n Maria – iemand wat vanuit die plek van by My voete leef. ‘n Lae plek, maar die hoogste plek in My Koninkryk. Ek rig julle op tot ‘n verhewe plek by My voete. Daar waar Ek diep kan werk en spreek.
Koop die tyd uit en gee My Gees geleentheid om My hart aan julle te openbaar. Dis julle plek, my bruid. Met julle aangesig teen My voete. Julle trane, toewyding en gebede op ‘n plek van totale toewyding aan My. Julle hare teen My voete.
Daar is nie in die natuurlike ‘n laer plek vir die mens nie. Vir die vlees is dit ‘n plek van vernedering. Maar dis die sleutel om ‘n Maria leefwyse te leef.
Julle vra: “maar hoe Here? Hoe doen ek dit prakties in hierdie gejaag?” Laat toe dat My Gees jou leer. Neem die tyd uit elke dag en manifesteer dit. Gaan lees wat Maria aan My gedoen het. Manifesteer dit in die fisiese en dit sal tot verwerkliking kom in die gees.”