19 Junie 2022
Skrifverwysing en storielyn
1 Samuel 1 tot 7
Ons is almal baie bekend met die storie van Samuel se mamma Hanna, wat nie swanger kon raak nie. Dis ‘n verhaal van ‘n beantwoorde gebed en gee hoop vir duisende vroue. Ek wil nie vandag op daardie gedeelte van die verhaal fokus nie, maar op klein Samuel en hoe hy ‘n tipe is van die bruid van Christus, wat aan die einde van hierdie eeu kragtige dade in die Here Jesus Christus gaan verrig.
Kenners skat Samuel was so 3 tot 4 vier jaar oud toe sy ouers hom aan die Here afgegee het onder die priester Eli se toesig. Hy was maar nog bitter jonk gewees toe hy Eli se helpertjie geword het. Ons kan aanneem dat hy sekere take moes verrig het, onder andere, die tabernakel se deure oop en toe maak en help dat alles mooi, skoon en netjies was vir wanneer die volk kom offer het. Hanna het elke jaar vir Samuel ‘n mantel gebring. Die Hebreeuse woord vir mantel verwys na die tuniek wat die priesters gedra het wanneer hulle diens verrig het.
In die tweede hoofstuk van Samuel lees ons van Eli se twee seuns, Hofni en Pineas wat, alhoewel hulle priesters van die Here was, baie goddeloos gehandel het. ‘n Streng profesie van oordeel is uitgespreek teenoor hierdie jongmanne en hulle pa, en dit het in vervulling gekom tydens dieselfde gebeurtenis waar die ark van die Here deur die Fillestyne afgeneem was.
Ons lees van die pasgebore seuntjie van Pineas wat op daardie dag Ikabod genoem was omdat die heerlikheid en glorie van YHVH weggetrek het.
Hierdie vorm die agtergrond vir dit waaroor ons vandag gaan gesels.
Die ou priestergeslag moes plek maak vir ‘n nuwe geslag – ‘n geslag wat die God van Abraham, Isak en Jakob eer en Sy wil sou doen.
Die Hofni en Pineas priestergeslag
Hierdie twee jong manne was erkende priesters van die Here (1 Sam 1:3). Hulle het die posisie en amp deur middel van hulle familielyn (bloedlyn) verkry. Om as priesters te kon dien was ‘n voorreg en dit was hulle erfdeel.
Ten spyte van die ongelooflike voorreg om dag na dag die voorskrifte van die Here eerstehands te kon beleef en uitvoer, het Hofni en Pineas geen respek gehad vir hulle amp of vir die Een wat hulle aangestel het nie. Hulle het roekeloos omgegaan en hulle fokus was slegs op wat hulle uit hulle godsdiens kon kry. Hulle het die offer van die Here afgeneem by die volk en ons lees ook dat hulle gehoereer het met die vroue wat gedien het by die ingang.
Hierdie manne het veroorsaak dat mense ‘n afsku in die offers en voorskrifte van die Here gekry het. Dit was baie ernstig in die Here se oë.
Hoe lyk die Hofni en Pineas priestergeslag vandag?
Dieselfde minagting en gebrek aan Godsvrees bestaan ook vandag onder baie mense in die kerk. Ongelukkig kry ons dit ook onder leierskap. Dis diegene wat godsdiens gebruik tot eie verryking en dit wat hulle daaruit kan kry, of dit geld, eer, roem of status is. Hulle dink die Here sien dit nie. Hulle dink die Here oordeel en straf nie meer nie, hulle is dan ‘onder die genade’ (misbruik en verdraaing van die Skrifte). Dis ‘n geslag wat hulle vrees vir YHVH verloor het. Hulle het fisiese en geestelike prostitusie tot binne-in die heiligdom gebring.
Prostitusie is wanneer ‘n sekere funksie van ‘n liggaam verkoop word vir geld, netso is geestelike prostitusie wanneer die funksies van die liggaam van Christus verkoop word vir geld. Hoeveel mense is moes al ‘n fooi betaal om ‘n woord of ‘n profesie te ontvang. Hoeveel meer moes al betaal het vir ‘n gebed tot genesing. Hierdie is niks anders ‘n hoereloon nie (as ek nou die terminologie van die Ou Vertaling mag gebruik). En dis presies dieselfde as wat Hofni en Pineas gedoen het. Hulle het die Here se beginsels, gawes en werk gebruik om hulle self te verryk en hulle eie sinlike begeertes te bevredig.
Dit maak dat mense niks met Jesus te doen wil hê nie. Dit maak die werking van die kosbare Heilige Gees goedkoop en lagwekkend. Mense lag vir die ware kinders van die Here en die ergste – hulle minag die Here Homself. Dit is baie ernstig.
1 Sam 2:17, 24, 29
v17. En die sonde van die jongmanne was baie groot voor die aangesig van die HERE, want die mense het die offer aan die HERE verag.
v24 Dit moenie wees nie, my seuns, want dit is geen goeie gerug wat ek hoor nie; julle maak dat die volk van die HERE oortree.
v29. Waarom verag julle my slagoffer en my spysoffer wat Ek in my woning beveel het, en eer jy jou seuns meer as vir My deur julle vet te voer met die beste van elke offergawe van my volk Israel?
Die uiteinde van die Hofni en Pineas priestergeslag
Ons sien uit die Skrif dat ‘n geboortereg-amp (of reg as jy wil) jou net so ver gaan neem. Daar gaan ‘n dag kom wat die Here gaan intree en selfs Sy eie beloftes gaan terugtrek. Die Here sal diegene wat Hyself aangestel het, uit hulle posisies verwyder. Ons lees hiervan in 1 Sam 2:30.
Daarom spreek die HERE, die God van Israel: Ek het wel duidelik gesê: Jou huis en die huis van jou vader sal voor my aangesig wandel tot in ewigheid. Maar nou spreek die HERE: Dit is ver van My; want die wat My eer, sal Ek eer; maar die wat My verag, sal veragtelik wees. (1 Sam 2:30)
Ikabod
Daar het ‘n dag aangebreek wat die woorde waarmee die Here die huis van Eli gewaarsku het, uitgekom het. Die Hofni en Pineas priestergeslag het tot op ‘n einde gekom. Daar is min woorde in die Skrif so vreesaanjaend soos Ikabod – wanneer die heerlikheid en glorie van die Here wegtrek as gevolg van goddeloosheid binne Sy kerk.
Die Here word nooit onkant betrap nie.
Hierdie vir my so ‘n groot berusting. Die Here is nooit verras of verbaas nie. Hy ken die einde van die begin. Wanneer dit vir ‘n mens soos die einde, soos Ikabod, lyk, het die Here lankal reeds ‘n ander plan in werking gestel. ‘n Nuwe priesterorde – een na Sy hart – is reeds gebore. Die Samuel-geslag!
‘n Nuwe geslag word opgelei
Die Here het reeds jare voor Hofni en Pineas se dood ‘n nuwe priester-profeet-rigter uitgekies. Hierdie jong seun is afgestaan van voor sy konsepsie af aan die Here. Van ‘n jong ouderdom het Samuel in die tabernakel grootgeword. Ons lees dis waar sy bed was. Hy het waarskynlik begin met klein takies soos potte en rookpanne skoonhou en blinkhou, deure oop en toe maak, skoon maak en om na die ou priester om te sien. Hierdie is die tipiese take waarop neergekyk word deur die Hofni en Pineas priestergeslag. Hulle is dan dié wat die offers slag en die gesiene, belangrike werk doen.
toe die lamp van God nog nie doodgegaan het nie, en Samuel lê en slaap in die tempel van die HERE waar die ark van God was… (1 Sam 3:3)
Groei agter die skerms
Die Samuel-priestergeslag word opgelei deur die Heilige Gees daar waar niemand regtig ag slaan nie. In die permanente teenwoordigheid van die Here, in die skuilplek van die Allerhoogste (the secret place), op die berg van die Here (sien laasweek se lering) – dis waar die opleiding plaasvind. Die daaglikse take is dalk nie noemenswaardig nie, maar dis ‘n kragtige gereedskap wat ‘n nederige, afhanklike geslag brei en vorm totdat hulle ‘n voorwerp tot eer is.
Daar is ‘n Engelse woord wat hierdie plek so mooi beskryf: obscurity. Dit beteken ‘n staat van onbekend wees, onbelangrik, nie aandag trek nie en om in die agtergrond te wees. Dis in hierdie staat van obscurity waar die Samuel-priesterorde opgelei word.
Stadige, konstante groei en getrouheid lei tot guns. Dit neem tyd om ‘n Samuel-priestergeslag op te lei en die proses kan soms lank en uitgerek voel. Dis ‘n tydperk van nederige afhanklikheid, gehoorsaamheid en geestelike dissipline.
Maar die seun Samuel het toegeneem in grootte en in guns by die HERE sowel as by die mense. (1 Sam 2:26)
Die Here kon Samuel vertrou
Alhoewel Hofni en Pineas elke dag met die ‘dinge van die Here’ besig was, was dit om net deur die stappe of aksies te gaan (going through the motions). Dit was dood godsdiens.
Omdat Samuel nie net deur die daaglikse ‘motions’ gegaan het nie, maar geleer het om die Here te eer, kon die Here Samuel met soveel meer vertrou. Afhanklikheid bring nederigheid en nederigheid maak dat die Here ons kan vertrou.
Die Hofni en Pineas priestergeslag was slegs priesters. Die Samuel priestergeslag is soveel meer. Samuel word die Here se:
- Betroubare profeet (1 Sam 3:20)
- Priester (reeds vanaf hy ‘n kind was – 1 Sam 2:18)
- Rigter (‘judge’) (1 Sam 7:15)
- Militêre leier (1 Sam 12-14)
En die hele Israel van Dan tot Berséba het erken dat Samuel betroubaar was as ‘n profeet van die HERE. (1 Sam 3:20)
Kragtig in eenvoud
Daar was nie ‘n skielike aankondiging of inhuldiging nadat Hofni en Pineas dood was nie. Samuel het in sy rol ingegroei. Toe die tyd ryp was, kon hy natuurlik oorneem en van daardie punt af verder groei in die krag en sterkte van Sy God.
Ons lees nêrens dat Samuel wagte (‘body-guards’) gehad het nie. Tog het hy van plek-tot-plek gereis om die Here se werk te doen. Hy het in geen paleis gebly nie en het ook nie buitensporige belastings gehef nie.
Tog het hy ‘n outoriteit gehad soos min. Hy het in God se orde en reg gewandel en was betroubaar. Samuel se outoriteit as leier oor die twaalf stamme het nie eers opgehou tydens Saul se regeringstydperk nie. Dit was ‘n Godgegewe outoriteit, nie die tipiese ‘jy-sal-my-eer’ soort wat ons vandag raakloop nie.
Die resultaat van hierdie eenvoudige begin was ‘n typerk van openbaring, krag, die Here se seën en beskerming. Samuel se outoriteit en leierskap het ‘n groot invloed gehad. Wanneer ons dit lees, laat hy dit einlik so maklik klink. Dis die seën van die Here. Samuel was ‘n bruikbare voorwerp en die Here kon Sy doel deur Samuel bereik.
En die HERE het weer verskyn in Silo; want die HERE het Hom geopenbaar aan Samuel in Silo deur die woord van die HERE. (1 Sam 3:21)
Die rede vir die voorbereiding
Ek glo die Here is besig om ‘n Samuel-priestergeslag op te lei. Die Hofni en Pineas priestergeslag se tyd is uitgedien. Daar was tyd vir bekering, maar nes die twee manne is Mammon baie belangriker as die eer van YHVH. Ons lees in die King James vertaling dat hulle seuns van Belial genoem word.
Daar gaan ‘n dag kom, en dis nie meer ver in die toekoms nie, wat dit ook gaan lyk soos Ikabod. En op daardie dag gaan die Samuel-priesterdom sonder enige afkondiging en formele inhuldigings natuurlik in hulle posisies inskuif.
Dis die Samuel-priestergeslag waarvan ons lees in Daniël 11:32-35. Die konteks is wanneer die gruwel van verwoesting opgerig word en die ware kerk vervolg word. Ek haal die laaste gedeelte van vers 32 in Engels aan:
but the people who know their God shall be strong, and carry out great exploits.
Gaan lees asseblief die hele paragraaf – konteks is baie belangrik.
Hoe lyk die Samuel-priestergeslag?
- Die Here leer en voed hulle in nederigheid op deur Sy kosbare Heilige Gees.
- Hulle ken Sy stem.
- Hulle is nie bang om Sy Wil bekend te maak nie.
- Hulle ken die reg en God se orde
Waar leer hulle dit?
Op die berg – eerstehands, in die skuilplek van die Allerhoogste. Dis vir my so wonderlik hoe die Heilige Gees ons elke week nog ‘n stukkie leer en hoe die boodskappe op mekaar bou.
‘n Paar weke gelede het ons gepraat oor ‘n lewe gelei deur die Gees van God. Gees en nie vlees nie. Voor dit het ons oor die Ester-voorbereiding gepraat. Dit begin tyd raak vir die soet speserye en wierook. Die tyd van mirre-behandeling begin verby gaan. Die vorige week het ons oor ‘n lewe op die berg gepraat – ‘n permanente blyplek in die teenwoordigheid van die Allerhoogste. Dis van kardinale belang dat ons uit vlees moet kom en begin lewe deur die Gees.
Soos Samuel moet ons die Here se stem leer ken en leer gehoorsaam.
Moenie ‘n nederige begin verag nie
Die Here het in elkeen van ons ‘n roeping ingebou. Ons heel eerste roeping is die hoë roeping – om gelykvormig te raak aan die Seun van God. Daarna volg ons unieke werk wat ons moet uitvoer in hierdie tyd. Maak seker dat jy nie deel vorm van die Hofni en Pineas priestergeslag nie. Bekeer jou haastig van enige vorm van geestelike prostitusie.
Moenie na jou lewe kyk en dink dis so eenvoudig en nutteloos nie. Die kans is goed as jou hart onverdeeld op die Here gerig is, dat jy deel is van die Samuel-priestergeslag en dat jy op hierdie oomblik in opleiding is. Neem dit ernstig op. Voer jou opdragte deeglik uit. Wees getrou in elke klein opdrag wat die Here jou gee. Maak seker dat jy tyd spaneer in die Tabernakel – maak Sy teenwoordigheid jou permanente blyplek en luister na Sy Stem.
Moet nooit ‘n nederige begin en stadige, maar konstante groei verag nie.
For who has despised the time of insignificant things? They will rejoice to see the plumb line in the hand of Zerubbabel. (Zec 4:10)
‘n Hart soos Samuel
Ek sluit af met hierdie pragtige vers in 1 Sam 2:25:
En Ek sal vir My ‘n getroue priester verwek wat sal handel soos dit in my hart en in my siel is, en Ek sal vir hom ‘n bestendige huis bou, sodat hy al die dae voor die aangesig van my gesalfde kan wandel.
My gebed is dat ons getrou sal wees en deel sal vorm van die Here se eindtyd Samuel-priestergeslag. Die geslag wat kragtige dade in die Here sal doen. Wat nie sal terugdeins vir die gees van die Antichris nie. Wat die Lam volg waar Hy mag lei.
dit is hulle wat die Lam volg waar Hy ook heengaan; dit is hulle wat gekoop is uit die mense as eerstelinge vir God en die Lam. (Open 14:4b)