Woord deur die Heilige Gees, 25 Maart 2023
“Soos wat die donkerste gedeelte van die nag vinnig nader kom is daar so baie van my mense wat nog nie eers opgemerk het dat dit skemer geword het nie. Die nagwaak het reeds begin. Die wagters op die mure roep waarskuwings uit. Maar my mense gee nie ag nie. Elkeen is besig met sy eie afgewaterde godsdiens om sy gewete te sus. Die oorblyfsel wat ag gee en hulle lampe aansteek is min. Sê My Woord nie dat Ek vir ‘n oorblyfsel sal agter hou nie? Vanuit daardie klein klompie sal Ek kragtig My wese laat manifesteer.
Soos wat die minute aanstap, gaan Ek My majesteit, heerlikheid, heiligheid en karakter meer en meer openbaar. Die ‘Dieper skatte in Hooglied’ is een van My metodes. Dit moet ekstra olie vir My bruid voorsien.
Wanneer die mens My werklik sien, vloei aanbidding. Aanbidding bewerk outoriteit en salwing.
Deel die openbaring van wie Ek is haastig. Ekself sal die klankgolwe wat in November begin uitkring het, verder laat gaan. Ek het die boodskap van My wese in die arend se teenwoordigheid daardie dag bevestig. Ek is wakker om My Woord te volbring.
Vir sommige gaan dit onverstaanbaar wees. Andere gaan dit minag. En nog ‘n groep gaan dit afmaak as teorie. Maar My oorblyfsel sal dit ten harte neem. Ek stuur My engele uit met olie vanuit die troonkamer om die lampe wat gereed wag daarmee te vul: diep openbaring van wie EK IS.
Spandeer toenemend tyd in My teenwoordigheid in aanbidding. Verklaar My karakter totdat jou wese daarvan straal.”
Konteks:
In November 2022 het ek ‘n gedeelte uit Hooglied gedeel wat handel oor die wie die Bruidegom is. Dis die eerste keer dat ek dit in soveel detail kon deel. Tydens ons konferensies is die tyd altyd beperk. Die bruid word gevra wat so besonders is aan haar bruidegom en sy begin getuig. Dis ‘n kragtige en persoonlike getuienis. Geen teorie of doktrienes nie. Sy vertel van al die fasette van Sy karakter is ryk simboliese taal. Ons lees hiervan in Hooglied 5:10-16. Sy eindig haar getuienis met hierdie pragtige stelling: Dit is my beminde en dit is my vriend, dogters van Jerusalem.
‘n Paar dae voor die praatjie, terwyl ek biddend was, wys die Heilige Gees my ‘n klippie wat in die water val en begin uitkring. Die klankgolwe van hierdie spesifieke getuienis het in Witrivier begin uitkring en gaan verder en verder versprei.
Tydens die gee van die Woord, het ‘n arend agter my gevlieg. Ek het met my rug na groot vensters gestaan en was nie eers hiervan bewus nie. Die gehoor kon die arend sien en het fotos geneem. Dit is die arend waarna die Heilige Gees in die Woord hierbo verwys. (Die foto aan die bokant van hierdie boodskap in een van die fotos wat geneem is daardie dag)
Die Heilige Gees het nie spesifiek gesê watter nagwaak het reeds begin nie. Daar is vier nagwake; vier periodes van drie ure elk. Die eerste nagwaak is vanaf 6pm tot 9pm, die tweede tot middernag, die derde tot 3am en die vierde tot 6pm. Uit die konteks, kan ons aflei dat Hy gespreek het van die tweede nagwaak. Ons is reeds in die nagwaak wat oppad is na die donkerste gedeelte van die nag.
‘Dieper skatte in Hooglied’ is nog dieper lesse en openbarings uit die boek Hooglied wat ek tans neerpen.
Bykomende Skrifte:
Jes 62:6 o Jerusalem, Ek het wagte op jou mure uitgesit wat gedurigdeur die hele dag en die hele nag nie sal swyg nie.
Rom 9:27 En Jesaja roep oor Israel uit: Al is die getal van die kinders van Israel soos die sand van die see, net die oorblyfsel sal gered word
Rom 11:5 Net so is daar dan ook in die teenwoordige tyd ‘n oorblyfsel, ooreenkomstig die verkiesing van die genade.
Matt 24:43-44 Maar weet dit: as die huisheer geweet het in watter nagwaak die dief sou kom, sou hy gewaak en nie toegelaat het dat in sy huis ingebreek word nie. Daarom moet julle ook gereed wees, want die Seun van die mens kom op ‘n uur dat julle dit nie verwag nie.
Mat 25:4 Maar die verstandiges het olie in hulle kanne saam met hul lampe geneem.
Die audio weergawe is beskikbaar op ons telegram kanaal: https://t.me/+1hYU7h46Jj1hZDc8
Yolandie Mostert