‘n Oorsig van die boek Daniël

Deur Yolandie Mostert

Die einde van die eeu (Deel 7)

 

Agtergrond

Tot op hede het ons na Mattheus 24 en sommige van die gelykenisse gekyk. Die volgorde van studie is heel eerste om Jesus se woorde in Mattheus 24 te bestudeer. Jesus self het ons na Daniël verwys – spesifiek na die gruwel van verwoesting wat opgerig gaan word.

Daarna beweeg ons na die Ou Testamentiese profete se beskrywings van die Dag van die Here (die dag van Sy wraak). Dit is baie belangrik om hierdie gebeurtenis se kenmerke te verstaan. Ek het tot die oortuiging gekom dat dit onmoontlik is om enige iets van die eindtyd-gebeure in konteks te kan verstaan as ons nie die Dag van die Here verstaan nie. Die Bybel spandeer ongelooflik baie spasie aan hierdie onderwerp.

Wanneer ons hierdie beginsels verstaan, sal dit makliker wees om die apostels se beskrywings te verstaan en dit binne konteks te plaas. As ons fondasie verkeerd is, gaan ons verkeerd bou.

Ek glo dat ons eers dan gereed is om na die boek Openbaring te kyk. Ons gaan heelwat profesie en gebeurtenisse herken en dit gaan makliker wees om die boek in konteks te verstaan.

 

In konteks

Ek plaas heelwat klem op die term IN KONTEKS. Wanneer ons die Skrifte bestudeer kan ons nie hier pik en daar pik nie. Ons het nodig om die geheel te lees, die agtergrond te verstaan en dit wat gesê word in konteks te plaas. Dis bitter gevaarlik om Skrifte te lees en aan te haal sonder om te verstaan waaroor die geheel van die paragraaf gaan.

 

Filters

Wanneer ons Skrifte lees, onthou ons wat ons geleer is oor die Skrif.

Dit kan goed wees as die lering van toepassing was en die Skrifte reg verduidelik was. Maar dit kan ook beperkend wees wanneer ons vergeet dat die meeste Skrifte dieper lae betekenis het. Baie keer lees ons iets en ons brein maak ‘n konneksie onmiddelik met dit wat ons reeds weet. Dan spring ons amper oor die vers, want “ek weet wat hier staan”. As dit gebeur, kan ons waarhede mislees.

Dan kan dit ook sleg wees as indien die Skrif heeltemal verkeerd verduidelik was. Soos in die vorige opsie, spring ons weer vinnig oor die Skrif en lees eintlik heeltemal mis wat daar staan. Daar is baie sulke voorbeelde in eindtyd Skrifte. Ons is geleer op ‘n sekere manier en dis amper asof ons brein nie kan lees wat regtig geskryf staan nie.

 

Interpretasie

‘n Baie goeie beginsel by die lees en interpretasie van Skrifte is die volgende: indien iemand nie vir my die vers op ‘n sekere manier verduidelik of uitgelê het nie, sou ekself tot so ‘n gevolgtrekking kon kom deur bloot te lees wat daar staan.

Daarmee sê ek nie dat lering deur ander nie belangrik is nie. Wat ek wel sê is dat ons versigtig moet wees vir indoktrinasie en om bloot alles te glo wat almal vir ons vertel. Ons het nodig om vir onsself ondersoek in te stel en self te verstaan.

 

Die boek Daniël

Die Bybelboek Daniël bevat heelparty ander profesie ook rakende die einde van die eeu. My beplanning is om na elke hoofstuk te kyk en te sien hoe die drome en visioene inskakel met geskiedenis en toekomstige gebeure.

Ek gee geensins die indruk dat ek reeds alles verstaan nie. Wat ek wel kan agterkom is dat my insig begin vermeerder. Dit gee my moed en maak my opgewonde. Hoe meer en dieper ons soek, hoe meer sal ons vind. Die boek self sê immers die volgende:

Dan 12:4  En jy, Daniël, hou die woorde geheim en verseël die boek tot die tyd van die einde toe; baie sal dit deursoek, en die kennis sal vermeerder.

 

Indeling van die boek

Om die lewe vir myself makliker te maak, het ek ‘n kort indeling gedoen. Dit help om vinnig te kan oplees en dat al die drome en visioene nie inmekaar vloei en ons naderhand nie meer weet waar ons trek nie. Aanvanklik het dit vir my gevoel asof Daniël so baie drome en visoene gehad het, dit was skoon oorweldigend. Hierdie opsomming bring orde in my studie en maak die boek meer verteerbaar.

Daar is 12 hoofstukke, waarvan sommige met Daniël se verhaal deel. Omdat dit nie die omvang van die studie insluit nie, gaan ek dit net lys vir volledigheid.

Daniël 1 (aankoms in Babilon en gebeure in Daniël se lewe)

Daniël 2

Die droom en uitleg wat Nebukadneser van die beeld gehad het: die kop van goud, die bors van silwer, die buik van koper, die bene van yster en die voete van die mengsel van yster en klei. Die gesig gaan voort totdat die klip die beeld vernietig, wat natuurlik Jesus se koninkryk wat op aarde gevestig gaan word voorstel.

Hierdie is belangrik om die geskiedenis te ken en vorm ‘n basis vir van die latere drome en visioene. Daar is ook ‘n gedeelte wat nog in die toekoms moet gebeur. Ons gaan dus in ‘n aparte studie hierna kyk.

 

Daniël 3 tot 6 (gebeure in Daniël en sy vriende se lewe)

 

Daniël 7

Daniël se droom: Die vier diere uit die see.

Die vier diere is die leeu met vlerke soos ‘n arend, die beer met die ribbes tussen sy tande, die luiperd met vier vlerke en die vreeslike dier met die tien horings. Die nuwe klein horing stel die antichris aan ons bekend en vertel die gebeure totdat hy geoordeel word en Jesus die heerskappy ontvang.

Hierdie droom volg op die droom wat Nebukadneser van die beeld gehad het, maar gee verdere details oor die eindtyd gebeure. Dis ‘n baie belangrike droom om ons te help met ons tydlyn onder andere. As ons hierdie hoofstuk grootliks kan verstaan, gaan baie ander dinge sin maak.

Ons gaan in ‘n aparte studie hierna kyk.

 

Daniël 8

In hierdie hoofstuk sien Daniël die visioen van die 2 ramme. Ons kry nog ekstra inligting oor die antichris.

Vir my persoonlik is daar nog baie dinge in die hoofstuk wat ek moet verstaan, spesifiek waar hou geskiedenis op en begin die toekoms. Dalk word dit as tipes bo-oor mekaar gelê. Nietemin, ek gaan nie ophou studeer nie.

Hier word na 2300 dae verwys wat langer is as die 7 jaar periode (laaste week). Dis gelykstaande aan 7 jaar en ‘n bietjie meer as 7 maande. Hierdie verwysing na tyd is een van daardie dinge waaroor baie spekuleer. Ek bid nog vir dieper insig om hierdie periode van tyd se begin en eindpunt met waarheid te kan verstaan.

 

Daniël 9

Hierdie hoofstuk deel met die bekende sewe sewetalle profesie wat ‘n belangrike sleutel is om eindtyd gebeure te verstaan. Dit begin met geskiedenis en beweeg dan na toekomstige gebeure.

Ons ontvang ‘n baie belangrike tydlyn inskrywing in vers 27. Ek glo ook dat hierdie een van die verse is waarna Hy ons verwys het in Mattheus 24:15.

In die volgende deel gaan ons hierdie hoofstuk bestudeer.

 

Daniël 10 en 11

Die koning van die noorde en van die suide

Hierdie twee hoofstukke is een visioen en verduideliking daarvan.

Wanneer ons die verse lees spring die woorde, die koning van die noorde en die koning van die suide kort-kort uit. Daarom gebruik ek dit as ‘n omskrywing van die profesie, alhoewel daar baie meer inligting gegee word.

Ons kry nog meer inligting oor die tydperk wanneer die antichris aan bewind gaan wees en die impak wat dit op die heiliges gaan hê.

 

Daniël 12

In hierdie laaste hoofstuk word die laaste gebeure geopenbaar. Die ergste tyd wat die Joodse nasie nog ooit beleef het en ook die redding van die Jode.

Ons kry ook inligting oor die opstanding in vers 2.

 

Opsomming van drome en visioene

Om ‘n kortlikse opsomming te gee. Daar is slegs 6 hoofstukke wat met drome en visioene deel.

  • Die eerste is die droom van die beeld waarin ons die interpretasie in die Skrif kry. Al wat ons moet doen is om nasies te koppel aan die liggaamsdele.
  • Daarna die vier diere uit die see. As ons reeds die nasies gekoppel het aan die beeld se liggaamsdele, moet ons dieselfde toepassing hier doen om die raamwerk te bou. Ons kry meer detail, maar met die raamwerk in plek is hierdie ook nie ‘n moeilike visioen om te verstaan nie.

So ver, nog nie te moeilik nie.

  • Dan die 2 ramme. Die engel gee ‘n oorhoofse verduideliking van wie is watter ram sodat ons kan konteks kry. Ek stoei nog met hierdie hoofstuk.
  • Die sewe sewetalle. Dis nodig om datum en geskiedenis bymekaar te bring om die raamwerk te bou. Hierdie hoofstuk neem die meeste werk, maar bring ongelooflike vervulling om te verstaan. Dit vorm ‘n belangrike grondslag vir eindtyd studies.

As ons hier trek, verstaan ons al baie. Nou nog net vir die laaste twee gesigte.

  • Die koning van die noorde en die suide. Nog ‘n hoofstuk waarmee ek nog nie klaar gestoei het nie.
  • Die tyd van benoudheid vir die Jode

 

Dis moontlik om te verstaan

Baie mense hanteer die boek Daniël nes Openbaring. Maak oop en trek weg met baie moed en hoop. En sodra hulle nie kan sin maak van die simboliek nie, maak hulle die boek toe en glo dat dit nie vir hulle beskore is om te verstaan nie.

Soos ek reeds gesê het, daar is baie wat ek nog nie verstaan nie. Maar ek verstaan baie meer as wat ek ‘n paar jaar gelede verstaan het. Ek weet daar is baie intelligente studies en boeke vol geskryf oor hierdie Bybelboek. Ek probeer my studie eenvoudig hou, sodat ekself dit kan verstaan en dit vir ander ook verstaanbaar kan maak.

css.php