‘n Oog wat goed sien

10 Julie 2022 – Yolandie Mostert

Verlede week se onderwerp was: “Wat sien jy mensekind?” Dit was waar die Here vir Jeremia gevra het wat hy sien. Hy het ‘n amandeltak gesien en die Here het geantwoord dat Jeremia goed gesien het. Jy kan dit gaan lees in Jeremia 1:11-12.

Ons het gekyk na verskillende dinge wat ons verhoed om goed te kan sien. Dinge soos sluiers, filters, balke in ons oog, duisternis rondom ons en geestelike blindheid. Omdat hierdie skrywe ‘n opvolg is, wil ek jou sterk aanbeveel om eers daardie pos te lees. Kliek hier.

 

Woord deur die Heilige Gees

Hierdie skrywe is gebasseer op Woord wat die Heilige Gees hierdie week vir my gegee het. Ek plaas dit onderaan die skrywe.

 

Filters wat ons beeld van die Vader beperk

Die Heilige Gees het my die hele week besig gehou met filters in my eie lewe en ek het besef die onderwerp oor SIEN is nog nie afgehandel nie. Die Here het my met vra gekonfronteer soos:

  • Hoe sien ons die Here?
  • Wie is die Here vir ons?
  • Vertrou ons Hom?
  • Ken ons Sy beloftes
  • Is dit MY beloftes ook?

Daar is baie dinge wat verhoed dat ons nie in die volle waarheid en vryheid van die Heilige Gees kan wandel nie. Ons beeld van wie die Vader is, word ook beperk deur die duisternis rondom en binne ons. Ons kyk na die Vader deur filters van ons ervaring met ons aardse vader en met mense.

 

Hoe sien ons die Vader?

Ken en verstaan ons regtig ons Hemelse Vader se hart? Of is hierdie dalk die beeld wat ons van Hom het:

  • Hy is vinnig om te oordeel en te straf
  • Hy is ‘n pretbederwer
  • Hy verlekker Hom in ons swaarkry

Dit sal vir ons onmoontlik wees om ‘n verhouding van vertroue met die Here te hê as ons Hom so sien.

 

Lig of duisternis binne my?

Dit wat by ons oogpoort ingaan, bring duisternis of lig in ons binneste. Dis maklik om te weet of daar lig of donkerte binne ons is. Ons moet net luister wat by ons monde uitkom. Let op jou gedagtes en luister na jou woorde. Dink en praat jy woorde van lewe? Of sien jy net donkerte, swaar, probleme en negatiwiteit. Wanneer ons voor ‘n uitdaging te staan kom, sien ons ‘n potensiaal van ‘n wonderwerk or klink ons soos die res van die wêreld – moedeloos en hopeloos? As ons na toekomstige voedseltekorte kyk, of na die huidige prysstygings, is ons vertrou outomaties op ons hemelse Vader wat die Voorsiener is, of kyk ons ook met natuurlike oë. Ons moet ‘n gewoonte kweek om te glo, te dink en te sê: “Ja, maar my God…”.

 

Die Wetmaker se hart

Wanneer ons deur die Skrif lees, kry ons ‘n kykie in die genadige en barmhartige hart van die Vader. Hier is ‘n hele klompie Skrifte wat jy op jou eie tyd kan opsoek. Die meeste daarvan kom uit die Ou Testamentiese wette. Dit gee ons ‘n prentjie van die dinge wat vir ons Vader belangrik is. Dinge soos dat mense moet warm slaap, dat ons na diegene moet omsien wat nie finansieël instaat is om dit vir hulleself te doen nie, soos die weduwees en weeskinders. Die Vader is genadig op diere, op arbeiders en daarom is daar ‘n rusdag vir mense om asem te skep.

Al die volke rondom Israel het wrede en harde afgode gedien; gode wat die offers van babas verwag het. Ons God is nie so nie. Sy gebooie is nie hard nie. Sy hart is goed teenoor die wat Hom dien en eer.

  • Eks 22:25-27
  • Jer 7:31
  • Eks 23:4-5
  • Jer 32:35
  • Eks 23:12
  • Obad 1:12-13
  • Deut 24:12-15
  • Matt 15:32
  • Deut 24:19-21
  • Jer 31:20
  • Deut 25:17-18
  • Hos 11:8
  • Lev 19:13-14
  • Jes 30:18
  • Lev 19:10
  • Lev 19:32

Hierdie volgende twee Skrife is vir my van die mooistes om die hart van die Vader te wys. Ons lees dat die tien stamme se afgodery en maniere erger was as die van die heidense nasies rondom Israel. Hulle het tot hulle babatjies lewendig op brandende oonde geoffer aan Molog en Baal. Maar ten spyte van hulle uiterste afgodery, sê die Here die volgende oor hulle:

Jer 31:20  Is Efraim vir My ‘n dierbare seun of ‘n troetelkind? Want so dikwels as Ek teen hom spreek, dink Ek nog altyd aan hom; daarom is my ingewande oor hom in beroering; Ek sal My sekerlik oor hom ontferm, spreek die HERE. 

Hos 11:8  Hoe kan Ek jou oorgee, o Efraim, jou prysgee, o Israel? Hoe kan Ek jou maak soos Adma, jou gelykstel met Seboïm: my hart is omgekeer in My, tegelykertyd is my medelyde opgewek. 

Ons menslike verstand sal nooit die Here se groot genade op mense kan verstaan nie. Ons is so vinnig om klippe na ander te gooi, maar die Here se hart is dat die sondaars hulle moet bekeer.

 

Dawid het goed gesien

Dawid was iemand wat die Here se hart geken het. Regdeur die Psalms verklaar Hy sy vertroue in die Here se barmhartigheid. Toe hy gesondig het en die Here vir hom ‘n keuse van drie dinge as straf voorgehou het, was sy keuse die Here. Dit was vir hom beter dat die Here met hom sou intree as mense. Hy het geweet hoe min genade mense op mekaar het.

2 Sam 24:14: Daarop sê Dawid vir Gad: Ek is baie benoud; laat ons tog val in die hand van die HERE, want sy barmhartighede is groot, maar laat my in die hand van mense nie val nie.

 

Hoe beskryf die Here Homself

Alhoewel daar so baie Skrifte is wat vir ons ‘n kykie in die Vader se hart gee, staan hierdie gedeelte uit. Dis waar die Here ‘n beskrywing van Homself gee. Let op die woorde wat Hy gebruik: Hy is barmhartig. Hy is genadig. Hy is geduldig. Hy is groot van goedheid. Hy is getrou.

En toe die HERE by hom verbygaan, het Hy geroep: HERE, HERE, barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou; wat die goedertierenheid bewaar vir duisende, wat ongeregtigheid en oortreding en sonde vergewe, maar nooit ongestraf laat bly nie; wat die ongeregtigheid van die vaders besoek aan die kinders en aan die kindskinders, aan die derde en aan die vierde geslag. (Eks 34:6-7)

 

Wie is die Vader

Hier is nog ‘n lys verklarings en beloftes oor die wie onse God is. Ons kan Hom maar vertrou. Gaan soek die Skrifte op vir jouself. Lees dit. Oordink dit. Herkou daaraan totdat jy dit glo in die diepste van jou wese.

Ps 103:13-14  Soos ‘n vader hom ontferm oor die kinders, so ontferm die HERE Hom oor die wat Hom vrees. Want Hy, Hy weet watter maaksel ons is, gedagtig dat ons stof is. 

  • Deut 32:4
  • Jer 31:3
  • Ps 103:13-14
  • Sef 3:17
  • Ps 103:8
  • Jes 55:7
  • Matt 7:11
  • Eseg 18:23
  • Ps 33:18
  • Ps 86:5
  • Ps 147:11
  • Ef 2:4
  • Jes 49:10
  • Joel 2:13
  • Jak 2:13
  • 1 Joh 5:3
  • 1 Joh 3:1
  • Matt 11:28-30

 

Sien Sy heerlikheid

Die Heilige Gees nooi ons elkeen uit om diep in die Vader se hart te kyk. Vra Hom om Sy hart aan jou te openbaar. Net Sy Heilige Gees kan ons blindekolle uitwys. Dis slegs deur die krag van Sy Gees dat die filters en sluiers kan lig. Dis slegs Sy Lig wat die duisternis kan verdryf. Ons het nodig om Hom te kan aanskou sonder enige beperkings, filters en sluiers – met ‘n onbedekte gesig. Dan kan Hy ons verander na die beeld van Jesus Christus – van heerlikheid tot heerlikheid.

Ons moet die heiligmaking van God volbring, maar ons kan dit slegs bereik wanneer die Heilige Gees ons verander. Ons kan slegs verander wanneer ons sig nie meer bedek is nie. Ons het nodig om in die oë te kyk van EK IS sodat ons in Sy beeld kan groei.

 

Ons kan Hom vertrou met ons lewe

Joh 1:14 – En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon—en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom—vol van genade en waarheid. 

Joh 1:4-5  In Hom was lewe, en die lewe was die lig van die mense. En die lig skyn in die duisternis, en die duisternis het dit nie oorweldig nie. 

Ps 112:4  Vir die opregtes gaan Hy op as ‘n lig in die duisternis: genadig en barmhartig en regverdig.

Ps 25:12 Wie tog is die man wat die HERE vrees? Hy sal hom leer aangaande die weg wat hy moet kies.

 

Woord deur die Heilige Gees

6 Julie 2022 – Hoe lyk jou oog?

Sien jy lig, lewe en hoop? Of sien jy duisternis, dood en hopeloosheid? Dit wat jou oë aanskou reflekteer in jou lewenswyse. Sien jy ‘n Koning en Heerser op die troon? Of sien jy ‘n vyand wat in beheer is?

Waarmee is jou binneste gevul, met lig of met duisternis? Dis maklik om te toets. Luister na jou gedagtes en woorde.

My lewe het Ek self binne julle geplaas. Glo julle dit? Lewe, Lig, Oorwinning, Blydskap – Alles wat jy nodig het. Aanskou jy My? En wanneer jy My aanskou, is dit met ‘n onbedekte gesig? Of kyk jy deur ‘n filter van vrees en ongeloof?

Wanneer Ek julle aanskou, is dit met My liefdevolle oë. Ek kyk na die wat aan My behoort met genade en ontferming. My gedagtes is goeie gedagtes wanneer Ek na jou kyk – nie gedagtes van haat en woede nie.

Ek is ‘n goeie Vader wat omgee vir My kinders. Ek het julle lief met ‘n ewige liefde en niks sal julle uit My Hand ruk nie. Waarom is dit vir julle so moeilik om My liefde te aanvaar? Daar het ‘n harde, kritiese gees ingekom en dit vorm ‘n lagie donkerte in jou binneste. Jy kyk na ander en na jouself deur hierdie filter. En jy kyk na My deur dieselfde filter.

Ek is liefde en geregtigheid. Maar sê My Woord nie dat My liefde teen My oordele roem nie. Ek is die regter, maar Ek is ook ‘n Vader. Sê My Woord nie dat Ek ‘n regverdige regter is nie?

Maak werk om van hierdie laag van foutvind, kritiek en hardheid ontslae te raak. Dit bind julle en julle kan nie in My volheid inkom nie. Breek korporatief hierdie laag af na belydenis en vra My Gees om Lewe en Lig te laat deurbreek. Sê My Woord nie dat Ek deurbreek soos water nie?

Julle moet erns maak om julle gedagtes te vernuwe. Spandeer tyd in My Woord. Bestudeer My karakter en laat toe dat My Gees EK IS aan julle openbaar. Ek nooi julle uit om My te aanskou. Ek wil My heerlikheid oor julle uitgiet. Ken My! Ken My hart en jy sal nooit weer twyfel in My beloftes, voorsiening, liefde en omgee nie.

EK IS van ewigheid tot ewigheid en My beloftes staan vas. Sê My Woord nie dat Ek wakker is om dit te volbring nie?

Ek kyk diep in julle harte en sien julel vrees, bekommernis, minderwaardigheid, wanhoop, pyn en hartseer raak. Ek kyk daar waar niemand kan sien nie, ook nie jyself nie. Ek kyk nie met ‘n oog van verwyt nie. Ek is die Here en My oog kyk reg. Sê My Woord nie dat Ek weet julle is mens en stof nie? Ek verwag nie van julle om perfek te wees nie. Ruk af die jukke van gedrewenheid. Ek soek jou hart en jou lewe. Gee My jou hart. Gee My jou blinde oë, die filters en die sluiers.

Laat EK IS Lig en Lewe in jou skyn. Ek het elkeen van julle lief met ‘n ewige liefde en EK IS nie ‘n mens dat Ek sou lief nie.

EK IS DIE HERE!

css.php