‘n Binneste in beroering

Deur Yolandie Mostert (22 Maart 2023)

 

Hgl 5:4  My beminde het sy hand deur die deuropening gesteek; toe het my binneste oor hom in beroering gekom

 

Die Ou King James sê dit baie letterlik: and my bowels were moved for him. Dis vir my die mooiste en sterkste manier om die aksie en gevoel uit te druk. Die Amplified gee ook ‘n goeie beskrywing om vir ons ‘n idee te gee van die diepte van haar gevoel vir Hom: And my feelings were aroused for him. My binneste in beroering oor Hom.

Die Hebreeuse woord vir moved of beroering is hâmâh en dit beteken ondermeer:

to make a loud sound; to be in great commotion or tumult, to rage, war, moan, cry aloud, be disquieted, loud, mourn, be moved.

Ander verse waar hierdie woord gebruik word is die waters wat bruis en skuim, ‘n beer wat brul en branders wat breek. Hierdie is baie sterk taal vir watter binne ons gebeur wanneer ons hele wese die Lam van God begeer. Wanneer ons Hom soek en vind, sal ons nooit weer dieselfde kan wees nie.

 

Verandering

Ek het eendag ‘n baie goeie vergelyking gehoor en dit bly my by. Wanneer ‘n klein motorfietsie in ‘n kop aan kop botsing met ‘n massiewe trok beland, is daar absoluut geen manier waarop die motorfiets dieselfde aan die ander kan gaan uitkom nie. Sou die bestuurder van die motorfiets so ‘n botsing rapporteer en die motorfietsie geinspekteer word, maar geen skrape of duike gevind word nie, sal hy dadelik as ‘n leuenaar afgemaak word. Die blote feit dat daar nie ‘n verandering aan die motorfiets is nie, is die bewys dat hy nooit in die botsing was nie.

Dis presies dieselfde met ons en die Seun van God. Dis onmoontlik om dieselfde aan die ander kant uit te kom. Wanneer ons sê ons het Hom ontmoet of dat ons Hom ken, maar daar geen verandering in ons lewe sigbaar is nie, is die kans baie groot dat ons Hom inderdaad nooit onmoet het nie. Sy heerlikheid, heiligheid en majesteit is so groot dat geen mens dieselfde anderkant sal kan uitstap wanneer ons daarmee in aanraking gekom het nie.

 

In krag

Ek glo dis wat Paulus bedoel wanneer hy praat van die koninkryk wat nie in woorde bestaan nie, maar in krag. Ons kan baie praatjies maak, ons kan aan ‘n groot denominasie behoort, ons kan hoeveel kursusse bygewoon het, ons kan boeke vol teorie bestudeer het; die realiteit is dit is woorde. Kennis is goed. Ons moet kennis hê, anders gaan ons ten gronde. Maar kennis maak ook opgeblase. Die balans word gebring deur die krag van God.

Die krag van God kan slegs in ons lewens kom, wanneer ons direk in aanraking met die bron van alle krag gekom het.

Matt 6:13 Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid.

Wanneer ons binneste oor Hom in beroering kom, is dit nie ‘n ligte fladdering nie. Dit kom met krag. Dis ‘n oorweldigende gevoel. Jou wese word deur Hom ingeneem en jy kan nie anders as om voor Hom in aanbidding te val nie.

Ander kere kom dit met ‘n diep wroeging en uitroep vir ‘n verlore wêreld. En vir ‘n kerk wat vasgevang is in godsdienstige sisteme en programme. Vir opregte soekers wat mislei word deur wit-gepleisterde leuens wat hulle aan die slaap sus.

 

In heiligheid

Soms is die uitroep van aanbidding vanuit jou gees so groot en jou stem se “heilig, heilig, heilig”, voel bitterlik klein teen dit wat in die troonkamer gebeur. Hoe wens ek nie dat ons meer troonkamer ervarings kan hê nie. Dit verander ons. Die sentrale boodskap van die troonkamer is een van ‘n heilige God. Ons sal nooit met enige iets minder as heiligheid vervuld wees as ons eers daar was nie.

Dis so maklik om te praat van troonkamer belewenisse en ‘n begrip van ‘n heilige God. Waarom is daar kan nog soveel vrot vrug teenwoordig. Waarom is daar steeds laster, geskreeu, vloektaal, skinder, seksuele onreinheid, losbandigheid, begeertes na alkohol en ander verslawingsmiddels. Ek maak nie gebondenheid af tot niks nie. Maar wanneer ons in aanraking gekom het met Hom, die Rots van die eeue, sal ons huil en uitroep vir verlossing en bevryding. Want jou binneste sal in beroering kom en in wroeging roep teen die onheilige dinge binne jou.

 

‘To moarn’

Om te kla en te sug… Wanneer ons binneste in beroering is sal ons ook soos Jeremia huil oor die goddeloosheid rondom ons. Jy kan nie anders nie. Dit skuif jou nie vanuit jou plek van goddelike vrede nie. Dit maak nie van jou ‘n neerslagtige persoon nie. Dis nie wat hier bedoel word nie. Die mooiste vreugde en lof verse vind ons immers in Jeremia en die Klaagliedere van Jeremia. Maar jou binneste roer. Jy sien onreinheid, jy sien leuens en gebondenheid en terwyl jy nie sterk genoeg taal het om teen dit te huil nie, roer jou binenste daaroor. En dit dryf jou tot kragtige intreegebede. Uit jou gees. Nie netjies uitgetikte bladsye gebede wat met dwalende gedagtes gelees word nie. Jy bid uit die krag van die beroering binne jou.

En die HERE sê vir hom: Trek dwarsdeur die stad, dwarsdeur Jerusalem, en maak ‘n teken op die voorhoofde van die manne wat sug en steun oor al die gruwels wat daarin gedoen word. (Eseg 9:4) 

 

‘To be moved’

Wanneer ‘n sterk storm die waters in beroering bring, word dinge geskuif. Die glorie van die Lam se heerlikheid, bring ons beweging. Die beroering binne ons, kring uit en dwing ons tot aksie. Heel eerste, om ons self in lyn te bring met Sy orde. Hierdie is ‘n kenmerk van ‘n ware ontmoeting met Hom. Jy raak intens bewus van jou eie ontoereikendheid. Solank as wat ons nog dink ons het iets om na die tafel te bring, is dit heel waarskynlik dat ons met godsdiens in aanraking gekom het, maar nog nie met die Seun nie. Geen sonde kan wegkruip in die helderheid van Sy glorie nie. Sy Lig wys dit uit en Sy Gees lei ons tot berou, vergifnis en vrymaking. Dis altyd die uiteinde – verlossing deur die Bloed van die Lam.

 

Daar is ‘n verskil tussen godsdiens en die Lam. Ons behoort nie aan die Christen geloof nie. Ons behoort aan YHVH. Sy manier lyk anders as die van sisteme.

Sisteme kan jou tuis laat voel, ‘n lekker smakie in jou hart gee. ‘n Vredevolle gesus van goeie-Christen wees. Dis ‘n vals vrede. Ja, ons het die gemeenskap van die heiliges nodig, dis waar. Die verskil lê in die motief. Ons gaan nie na ‘n byeenkoms toe omdat dit van ons verwag word of omdat dit ‘n goeie leefwyse is nie. Of omdat ons so grootgeword het nie. Ons gaan nie omdat ons dit kan afmerk as iets wat gedoen is nie. Ons behoort ook nie aan ‘n kerk sodat iemand ons kan trou of begrawe nie. Ons gaan omdat ons die Here ons God lief het met alles in ons en die rondom ons met dieselfde liefde. Ons gaan tot versterking. Ons gaan tot bemoediging. Ons gaan uit Gees en nie uit vleeslike vals vrede nie. Ons gaan waarheen Hy ons lei. Nie waarheen tradisie, familie, vriende en die samelewing ons wil hê nie.

 

Sy pad is ‘n eensame pad. Daar is werklikwaar min wat dit vind. Daar is baie wat dink hulle het dit gevind. Tog lyk hulle scootertjies perfek, sonder duik of skraap. In realiteit het hulle nooit die Lam gevind nie. Hulle het ‘n sisteem gevind en stap vrolik op daardie pad. Hulle het hulleself nog nooit vasgeloop teen die Seun van die mens nie.

Matt 7:14  Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind. 

 

Bring Hy nog ons binneste in beroering? Net Hy kan dit doen. Dan is die pad nie eensaam nie. Want jy word geheel en al ingeneem deur Hom.

Wanneer ons aan Hom dink, Hom sien, skuif dit ons uit vleeslike gemak tot in ‘n plek van lewe aflê. Dit kan nie anders nie.

Wanneer jy ware beroering beleef, sal jy altyd onvergenoegd wees met enige iets anders as die Seun Homself.

css.php