My Beminde… (Deel 3 van Wie is die Bruidegom?)

Yolandie Mostert (3 April 2023)

Ons is besig om ons pad deur Hooglied 5 vers 8 tot 16 te werk. Vandag se gedeelte kom uit die eerste gedeelte in vers 10. Dis regtig belangrik om eers al die vorige dele te luister anders gaan hierdie boodskap en die wat volg glad nie vir jou sin maak nie. Die skakels na die vorige boodskappe kan jy heelonder hierdie boodskap vind.

Ter wille van tyd gaan ek ook nie weer die konteks gee nie. Haar antwoord op die dogters van Jerusalem se vraag begin in vers 10.

 

Sy begin haar getuienis met: “My beminde…”. Slegs twee woorde met soveel diepte.

My

Eerstens is Hy haar beminde. Hy is nie net iemand daar ver nie. Sy ken Hom persoonlik. Sy is nie net ‘n Christen omdat sy so groot geword het nie. Of sodat sy die geloof blokkie kan tiek op ‘n vraelys nie. Sy behoort nie aan die Christengeloof of aan so-en-so se kerk nie. Nee, sy behoort aan Hom en Hy aan haar. Dis haar sekerheid en dis die vertrekpunt van haar getuienis. Dis persoonlik.

Dis nie teoreties nie. Dis nie iets wat sy by iemand gehoor of in ‘n boek gelees het nie. Sy vertel haar eerstehandse ervaring van wie Hy is. Sy ken Hom as haar eerste liefde. Hy is haar alles en haar hele lewe behoort aan Hom.

Beminde

Die Hebreeuse woord vir beminde is dôd en kom van ‘n wortelwoord af wat beteken om te kook. Die woord self beteken ‘n vriend, ‘n geliefde en ‘n liefling. Dit is wie Jesus Christus vir haar is. Haar liefling.

Sy bemin Hom met haar hele wese. Sy wil oorborrel daarvan. Almal moet weet hoe wonderlik Hy is.

‘n Meisie met ‘n wonderlike liefling, voel veilig. Dis hoe die meisie in Hooglied by haar Beminde voel. Sy kan terugleun in Sy arms en weet dat sy weet Hy het haar lief.

Dis vir baie mense moeilik om regtig hierdie tipe geliefdheid by die Here te beleef. Ekself was daar. Ek weet hoe dit voel om te sing: “Jesus loves me yes I know”, maar diep in jou hart te wonder of dit regtig so is. Hierdie twyfel word deur ‘n paar dinge veroorsaak, onder andere ‘n gebroke identiteit, verwerping, perfeksionisme en trots. Eintlik loop al hierdie dinge maar saam.

Moenie in selfverwyt gaan en dink dat jy nooit hierdie tipe geborgenheid in Hom sal vind nie. Onthou dat teen die tyd dat ons in hoofstuk vyf van Hooglied trek daar al met baie gebondenhede en onsekerheid gedeel is.

 

 Niemand anders sin nie

Regdeur die boek Hooglied vind ons die tema van duiwe oë. Die meisie in Hooglied (die bruid) het net oë vir haar geliefde. Haar leefwyse bestaan daaruit om in Sy oë te kyk. Duiwe oë dwaal nie rond nie. Iemand met dwaal oë soek altyd iemand anders wat meer opwindend as hulle beminde is. Geestelik beteken dit dat Jesus Christus nie meer ons eerste liefde is nie. Hieronder tel enige iets wat vir ons meer interessant voorkom gemeet teen tyd in Sy teenwoordigheid.

Wanneer sy haar getuienis begin met “My beminde” dui dit ook op haar toewyding. Haar hele lewe behoort aan Hom en aan geen ander nie.

dit is hulle wat die Lam volg waar Hy ook heengaan; dit is hulle wat gekoop is uit die mense as eerstelinge vir God en die Lam. (Open 14:4)

 

‘Die Bybel onder die arm’

Hierdie stelling is nogal iets wat mens gereeld hoor. Dit word nooit in ‘n goeie konteks gebruik nie, maar altyd vir iemand wat nie leef wat hulle preek nie. Dis maklik om Bybelverse te kwoteer en ‘n beeld voor te hou as ‘n groot Christen. Maar mense is nie dom nie. Oneerlikheid en skynheiligheid kan ‘n myl ver herken word. Dit stoot mense weg van Jesus af.

Die getuienis wat die meisie in Hooglied gee, spreek van iets totaal en al verskillend. Haar handel en wandel het eerste gespreek, lank voordat sy haar mond oopgemaak het. Dit was haar eerste en belangrikste getuienis. Eers wanneer mense in ons leefwyse Jesus Christus kan herken, al kan hulle dalk nie ‘n naam koppel aan dit wat hulle sien en beleef nie, eers dan het ons die reg om ons mond oop te maak en van Hom te getuig. Anders doen ons Sy Naam en koninkryk oneer aan. Sê ek dat ons eers mag getuig wanneer ons uitgesorteer en perfek is? Nee, wat ek sê is dat ons leefwyse dit wat by ons monde uitkom moet bevestig.

 

Dis persoonlik vir ons ook

My hart is dat hierdie boodskap jou met opgewondenheid vul vir wie die Koning is. Hy is nie net die Seun van God nie. Hy is nie net die Lam en die Leeu nie. Hy is nie net die Waarheid en die Lewe nie. Hy is nie net die Wreker en Hoëpriester nie. En so kan ek aangaan. Ons gaan nog by al daardie fasette en nog meer uitkom.

Hy is ook MY BEMINDE. Ek behoort aan Hom. Ek kan veilig voel in Sy liefde. Sy hart kan nie dubbelhartig wees nie. Al dwaal ons oë nog soms, kan Hy nie ontrou wees aan Sy karakter nie. Hy is die Onveranderlike. En daarin vind ek sekuriteit. Al wat ek moet doen is om in Hom te bly, dan sal hy my Beminde wees tot in ewigheid.

Soos die Vader My liefgehad het, het Ek julle ook liefgehad. Bly in hierdie liefde van My. As julle my gebooie bewaar, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die gebooie van my Vader bewaar en in sy liefde bly. Dit het Ek vir julle gesê, dat my blydskap in julle kan bly en julle blydskap volkome kan word. (Joh 15:9-11) 

 

Skakels

Om na die inleiding te luister asook die Woord deur die Heilige Gees rakende hierdie reeds, kliek hier.

Die audio weergawe van hierdie boodskap is beskikbaar op ons telegram kanaal: https://t.me/+1hYU7h46Jj1hZDc8

Deel 1 – Wie is die Bruidegom (agtergrond)

Deel 2 – Wie is jou beminde?

css.php