Mattheus 24 en Openbaring 6

Deur Yolandie Mostert

Die einde van die eeu (Deel 6)

 

Agtergrond

Ons werk steeds ons pad deur al die Skrifte rakende die einde van hierdie eeu. Dis belangrik om hierdie leringe in volgorde deur te werk.

In die vorige twee dele het ons deur Mattheus 24 gewerk. Ons volgende stop is die boek van Daniël waarheen Jesus ons self verwys het.

Voordat ons soontoe gaan, wil ek graag die parallele tussen Mattheus 24 en Openbaring 6 uitwys. Wanneer ons hierdie langs mekaar gaan sit en die ooreenkomste sien, gaan dit baie maklik wees om jou eie tydlyn verder te voltooi.

 

Die nie moeilik nie

Ek glo dat die vyand ons oor baie jare beroof het deur eindtyd gebeure baie gekompliseerd te laat lyk. Ons kan natuurlik ook nie net die vyand daarvoor blameer sonder om ons eie nalatigheid te bely nie. Ons was nie net nalatig om die Skrifte te ondersoek nie, ons was lui en het ons eerder gewend na lesings, boeke en seminare. Dis immers baie makliker om iemand anders se opinie aan te neem as om self die moeite in te sit.

Wanneer ons logies die Skrifte laat sê wat dit sê sonder om allerhande interpretasies en betekenisse by te voeg, sal ons vind dat hierdie ‘n onderwerp is waaroor Jesus wil hê dat ons ingelig moet wees. ‘n Baie groot gedeelte van die Ou en Nuwe Testament praat oor die wederkoms van Jesus en die opstanding. Dit behoort daarom ook ons prioriteit te wees.

 

Openbaring konteks

Dis altyd noodsaaklik om eers die konteks te kry. Kom ons tel die gebeure in Openbaring op. In hoofstuk 4 beleef Johannes die troonkamer en alles wat daar gebeur. In hoofstuk 5 is hy steeds in die troonkamer en sien dat Jesus waardig is om die boekrol wat verseël is met sewe seëls oop te maak. Die fisiese oopmaak van die seëls gebeur in hoofstuk 6. Soos wat elke seël oopgemaak word, sien ons hoe dit gebeure op die aarde aktiveer. Die eerste seël word in hoofstuk 6, die eerste vers opgetel.

 

Die parallele

Hou jou Bybel oop by Mattheus 24 en Openbaring 6. Ons gaan nou vers vir vers deurgaan en die gebeure merk en pas.

 

Mattheus 24:5 stem ooreen met Openbaring 6:1-2:

Matt 24:5  Want baie sal onder my Naam kom en sê: Ek is die Christus! en hulle sal baie mense mislei.

Open 6:2  En ek het gesien, en kyk, daar was ‘n wit perd. En hy wat daarop sit, het ‘n boog; en aan hom is ‘n kroon gegee, en hy het uitgegaan as ‘n oorwinnaar en om te oorwin. 

Die eerste seël openbaar ‘n ruiter op ‘n wit perd. Die perdryer het ‘n boog en ‘n kroon wat dui op heerskappy. Hierdie ruiter gaan uit as oorwinnaar en om te oorwin.

Die ruiter stem ooreen met die gees van die antichris wat op aarde onder die vaandel van vrede (wit) misleiding veroorsaak. Misleiding is die eerste ding waarteen ons gewaarsku word. Dit vorm deel van die geboortepyne (die begin van die smarte).

 

Mattheus 24:6-7 stem ooreen met Openbaring 6:3-4:

Matt 24:6-7a  En julle sal hoor van oorloë en gerugte van oorloë. Pas op, moenie verskrik word nie, want alles moet plaasvind, maar dit is nog nie die einde nie. Want die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander

Open 6:4  En ‘n ander perd, ‘n vuurrooie, het uitgekom, en aan hom wat daarop sit, is dit gegee om die vrede van die aarde af weg te neem en dat hulle mekaar sou doodmaak; en ‘n groot swaard is aan hom gegee. 

Die tweede seël openbaar ‘n ruiter op ‘n vuurrooi perd. Die ruiter ontvang mag om vrede van die aarde af weg te neem. Die uitende is dat mense mekaar gaan doodmaak. Om sy werk te doen ontvang hy ‘n groot swaard. Hierdie ruiter vorm ook deel van die geboortepyne (die begin van die smarte).

 

Mattheus 24:7b stem ooreen met Openbaring 6:5-6:

Matt 24:7b  …en daar sal hongersnode wees…

Open 6:5-6  En toe Hy die derde seël oopgemaak het, hoor ek die derde lewende wese sê: Kom kyk! En ek het gesien, en kyk, daar was ‘n swart perd; en hy wat daarop sit, het ‘n skaal in sy hand. En ek het ‘n stem tussen die vier lewende wesens hoor sê: ‘n Rantsoen koring vir ‘n penning en drie rantsoene gars vir ‘n penning; en moenie die olie en die wyn beskadig nie. 

Die derde seël openbaar ‘n ruiter wat op ‘n swart perd ry. Die ruiter het ‘n skaal in sy hand en die woorde wat een van die lewende wesens uitgeroep het, dui op hongersnood. Voedsel word afgeweeg en kos baie duur. Ons lees in Mattheus 20:2 dat ‘n penning ‘n dag se loon was.

Hierdie ruiter vorm ook deel van die geboortepyne (die begin van die smarte).

 

Mattheus 24:6-7 stem ooreen met Openbaring 6:7-8:

Matt 24:7c … en pessiektes en aardbewings op verskillende plekke…

Open 6:7-8  En toe Hy die vierde seël oopgemaak het, hoor ek die stem van die vierde lewende wese sê: Kom kyk! En ek het gesien, en kyk, daar was ‘n vaal perd. En hy wat daarop sit, sy naam is die dood, en die doderyk het hom gevolg. En aan hulle is mag gegee oor die vierde deel van die aarde om dood te maak met swaard en hongersnood en pes en deur die wilde diere van die aarde.

Die vierde seël openbaar ‘n ruiter wat op ‘n vaal perd ry. Die ruiter se naam is die dood en hy het toestemming ontvang om ‘n kwart van die aarde se bevolking dood te maak. Hierdie ruiter volg op die hakke van die vorige twee ruiter en gebruik ook hulle om sy doel te bereik. Daarom die oorvleuling van hongersnode en oorloë. Oorloë lei tot hongersnode. Dit maak weer die deur oop vir peste en dood volg outomaties.

Hierdie ruiter vorm ook deel van die geboortepyne (die begin van die smarte).

 

Die vier ruiters verteenwoordig die geboortepyne

Tot op hierdie punt is slegs die begin van die smarte. Dis nog nie die verdrukking nie.

Matt 24:8  Maar al hierdie dinge is ‘n begin van die smarte. 

 

Mattheus 24:9-14 stem ooreen met Openbaring 6:9-11:

Matt 24:9-14  Dan sal hulle jul aan verdrukking oorgee en julle doodmaak; en julle sal deur al die nasies gehaat word ter wille van my Naam. En dan sal baie tot struikel gebring word en mekaar verraai en mekaar haat. En baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei. En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel. Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word. En hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ‘n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.

Open 6:9-11  En toe Hy die vyfde seël oopgemaak het, sien ek onder die altaar die siele van die wat gedood is ter wille van die woord van God en die getuienis wat hulle gehad het. En hulle het met ‘n groot stem uitgeroep en gesê: Hoe lank, o heilige en waaragtige Heerser, oordeel en wreek U nie ons bloed op die bewoners van die aarde nie? En aan elkeen van hulle is wit klere gegee; en aan hulle is gesê dat hulle nog ‘n klein tydjie moes rus totdat ook hulle medediensknegte en hulle broeders wat nog gedood sou word soos hulle, voltallig sou wees. 

Die breek van die vyfde seël openbaar martelare onder die altaar. Hierdie mense roep en vra wanneer hulle bloed gewreek gaan word. Hulle ontvang elkeen wit klere en moes nog ‘n rukkie rus totdat die getal martelare voltallig is.

Uit hierdie Skrif is die maklik om af te lei dat daar ‘n bepaalde getal mense is wat vermoor gaan word vir hulle geloof in Jesus. Hierdie getal gaan in die laaste tyd vol word en die bloed van die heiliges gaan gewreek word tydens die Dag van God se wraak wat na die Groot Verdrukking volg.

 

Mattheus 24:15-28 – steeds deel van die vyfde seël

Tydens die gebeure van die vyfde seël moet die 3 en ‘n halwe jaar merk bereik word, want Jesus gaan voort en verduidelik die oprigting van die gruwel van verwoesting. Hierdie belangrike gebeurtenis is ‘n duidelike merk op die tydlyn en dui met presiesheid aan wanneer die Groot Verdrukking aanbreek.

Uit die verse in Mattheus en die gebeure in Openbaring (vyfde seël) kan ons sien dat daar nou ‘n volskaalse vervolging is. Beide die volgelinge van Jesus, sowel as die Joodse nasie word vervolg.

 

Dis hierdie tydperk van intense vervolging wat kortgeknip gaan word ter wille van die uitverkorenes.

Matt 24:22  En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word.

 

Mattheus 24:27-30 stem ooreen met Openbaring 6:12-17:

Matt 24:29-30  En dadelik ná die verdrukking van daardie dae sal die son verduister word, en die maan sal sy glans nie gee nie, en die sterre sal van die hemel val, en die kragte van die hemele sal geskud word. En dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemel verskyn, en dan sal al die stamme van die aarde rou bedryf en die Seun van die mens sien kom op die wolke van die hemel met groot krag en heerlikheid.

Open 6:12-14  En ek het gesien toe Hy die sesde seël oopgemaak het, en kyk, daar was ‘n groot aardbewing; en die son het swart geword soos ‘n harige sak, en die maan het geword soos bloed; en die sterre van die hemel het op die aarde geval, soos ‘n vyeboom wat deur ‘n groot wind geskud word, sy navye laat afval; en die hemel het weggewyk soos ‘n boek wat toegerol word, en al die berge en eilande is uit hulle plekke versit

Die oopmaak van die sesde seël bring ons by die Dag van die Here.

Ons lees in Openbaring 6:17 want die groot dag van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?

Alles wat hierop volg is nie meer deel van die Groot Verdukking nie (Mattheus 24:29 sê vir ons dat die Groot Verdukking klaar is.)

 

Die Groot Verdrukking en die Dag van Sy toorn is nie dieselfde nie

Wanneer ons hierdie twee gedeeltes in die Skrif bo-oor mekaar sit, is die volgorde en ooreenstemming verstommend. As ons Jesus se benamings van die verskillende tydperke vergelyk met dié van Openbaring, is dit baie maklik om te sien dat die Dag van die Here se toorn (of wraak) direk na die Groot Verdrukking aanbreek. Voordat die Vader sy toorn gaan uitgiet op die aarde, word die uitverkorenes versamel. Hulle gaan deel vorm van die tydperk van verdrukking en die groot verdrukking, maar nie van die tydperk van God se toorn nie.

Die groot verdrukking tydperk is ‘n genade tyd – die laaste kans vir mense om hulle tot die Here te bekeer. Wanneer die groot dag van die Here aanbreek, is die genade tyd verby, dan word die oordele (bakke) uitgegiet.

 

Kenmerke van die Dag van die Here

Op hierdie punt wil ek graag die natuurverskynsels lys rakende die Dag van die Here. Ander terme wat die Bybel hiervoor gebruik is ook die Dag van Sy toorn of die Dag van Sy wraak. Hierdie lys is belangrik wanneer ons in volgende studies die profete gaan bestudeer.

  • ‘n Groot aardbewing / kragte van die hemel word geskud
  • Die son word swart soos harige sak / die son word verduister
  • Die maan word soos bloed / die maan gee nie sy glans nie
  • Sterre van die hemel val op die aarde (soos vyeboom wat geskud word)
  • Hemel wyk weg soos boek wat toegerol word
  • Berge en eilande word versit
  • Mense weet hierdie verskynsels is nie natuurlik nie

Hierdie natuurverskynsel is slegs die eerste, amper soos ‘n aankondiging dat die Dag van die Here aangebreek het. Die volgende seël wat oopgemaak word bring ons by die trompette (finale waarskuwing en laaste kans tot bekering) en dan die bakke wat die Here se toorn is wat uitgegiet word.

 

Die seëls in konteks

Alles tot en met die sesde seël is geboortepyne, verdukking en die groot verdrukking. Tot op hierdie punt is die uitverkorenes op aarde. Die sesde seël behels die aankondiging van die Dag van die Here.  Die trompette wat geblaas word waarsku die mensdom dat die dag van die Here nou hier is. Wanneer die laaste basuin blaas, word die oorblyfsel versamel (1 Kor 15:52). Daarna volg die bakke wat uitgegiet word – dit is die wraak en toorn van God.

 

Die versameling van die uitverkorenes

1 Kor 15:52 in ‘n oomblik, in ‘n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word.

Matt 24:31  En Hy sal sy engele uitstuur met harde trompetgeluid, en hulle sal sy uitverkorenes versamel uit die vier windstreke, van die een einde van die hemele af tot die ander einde daarvan. 

In die volgende hoofstuk in Openbaring (hoofstuk 7) lees ons van die verseëldes en in vers 9 lees ons van ‘n menigte mense in wit gekleed. Johannes was baie nuuskierig oor hierdie mense en kry ‘n verduideliking in vers 14:

Open 7:14  En ek sê vir hom: My heer, u weet dit. En hy sê vir my: Dit is hulle wat uit die groot verdrukking kom, en hulle het hul klere gewas en hul klere wit gemaak in die bloed van die Lam. 

Hierdie stem ooreen met die uitverkorenes wat na die Groot Verdrukking versamel word en nou voor die troon die lof van die Lam besing in Openbaring 7:14.

 

Afsluiting

Dit bring ons aan die einde van ons studie oor die ooreenkomste tussen die gedeeltes in die Skrif. In ‘n volgende lering sal ek bietjie meer aandag gee aan die trompette en hoe dit die finale waarskuwing en kans vir bekering is. Die teken aan die son en die maan is ongelooflik belangrik. Dit word herhaal in die profete asook in Openbaring en dui die aanbreek van die Dag van die Here aan. Net soos wat die gruwel van die verwoesting wat in die tempel opgerig gaan word, ‘n kritiese mylpaal is wat sonder twyfel op die tydlyn ingevul kan word, so is die teken van die son en die maan wat verduister ook so ‘n mylpaal.

css.php