Kaleb – die man met die ander gees

Verlede Sondagnag hoor ek kort-kort dieselfde woord: ‘Identiteitskrisis’. Maandagoggend in my gebedstyd bid ek oor hierdie woord en vra die Here wie in die Bybel het ‘n identiteitskrisis beleef. Ek kry geen antwoord nie, maar die Heilige Gees lei my om die vraag anders te vra: “Vader, wie in die Bybel het nié ‘n identiteitskrisis gehad nie?”. Dadelik kom die antwoord: ‘Kaleb’. Ek moet erken dis nou nie wie ek ingedagte gehad het nie.

 

Ek begin toe oplees oor Kaleb en verder bid oor dit wat Vader vir my wil kom leer oor wat dit beteken om nie ‘n identiteitskrisis te hê nie.

Nou kyk, niemand van ons hou van die gedagte dat ons miskien hieraan skuldig kan wees nie. Ek meen, wie sal sommer ronduit erken: “ek sukkel met my identiteit”. Maar, ek is dankbaar vir die Heilige Gees wat ons altyd dieper en dieper neem; wat elke keer nog ‘n lagie van ‘self’ kom openbaar. So gebeur dit dat die Heilige Gees ons hierdie week kom konfronteer het deur sekere gebeure wat die woord ‘identiteitskrisis’ in groot letters oor ons huis kom skryf.

 

‘n Seun van Esau

Kaleb het alle rede gehad om te sukkel met sy identiteit. Alhoewel hy genoem word as deel van die stam van Juda, was Kaleb ‘n Kenissiet. Kenissiete was nie egte seuns van Jakob gewees nie. Daar is twee moontlikhede om sy afkoms te verduidelik. Die mees algemeenste was dat hy ‘n afstammeling van Esau was. Ons lees van Esau se seuns in Gen 36:40. Die ander verduideliking is dat hy kon afstam van die oorspronklike volke wat Abraham in Kanaan teegekom het (Gen 15:19). Hoe dit ook al sy, Kaleb kon maklik sy skouers opgetrek het en gereken het dat hy in elk geval nie egte seun van Jakob was nie, so daarom kon hy maar net ‘n saamloper gewees het.

 

Kaleb se naam

Daar is twee opsies wanneer ons kyk na die betekenis van Kaleb se naam. Sommige reken dit kom vanaf die Hebreeuse woord kelev wat hond beteken. Ek is seker sy ouers het nie hierdie naam vir hom gegee nie. Dit moes ‘n slegsê woord gewees het van die ‘egte seuns van Jakob’. Alhoewel hierdie opsie nie so lekker vir ons klink en voel nie, is dit baie waarskynlik dat dit so was.

Dan is daar die ander moontlikheid. Sy naam kon gevorm geword het uit twee verskillende Hebreeuse woorde: kal en lev. Saam vorm dit die konsep van ‘n hele hart.

Ongeag, Kaleb het hom nie van skryk laat bring deur sy bloedlyn nie. Ons lees dat hy volhard het om die Here te dien.

 

Waar lê ons identiteit?

Baie keer roem mense op hulle goeie familielyn. Ons sien dit ook in die kerk. Hoeveel pastoorsvriende of familielede word getel? Hierdie persoon kom uit so-en-so kerk of familie. Hierdie persoon is gedoop dus sus of so. Niks van hierdie dinge maak saak nie. Wanneer ons identiteit lê in ons familie, ons kerk, ons tradisies en gewoontes en in ons self, beweeg ons op dryfsand. Die enigste maatstaf vir ons identiteit moet wees: weet ons regtig wie is ons God en bly ons in Hom (abide). Slegs dit mag bepaal wie ons as mens is. Die enigste basis vir ons identiteit moet lê in wie YHVH vir ons persoonlik is.

 

Wat het Kaleb gehoor, gesien en beleef?

Soos wat die Israeliete uit Egipte getrek het, het elkeen van hulle of self die wonderwerke gesien of hulle het daarvan gehoor. Daar was sekere tekens soos die wolkkolom, die vuurkolom, die water uit die rots en die verskyning van die manna wat elkeen persoonlik beleef het.

Ek glo dat Kaleb hierdie wonders in sy gebêre het en dit het sy geloof in die Here gebou. Vir Kaleb was niks vir die Here onmoontlik nie. Kaleb het verstaan wié sy God is.

Dieselfde geld vir ons. Elke wonderwerk, elke beantwoording van gebed, elke verhaal opgeteken in die Skrif moet ons geloof bou. Ons het nodig om soos Dawid ons te versterk in die Here. Ek wil byvoeg: in WIE die Here is. Niks is vir Hom te moeilik nie. Wanneer ons daardie begrip begin vorm, gaan ons ook soos Kaleb deur die woestyn stap en uitkyk vir die potensiaal vir ‘n volgende wonderwerk.

 

Uitgestuur

Ons weet dat Kaleb een van die twaalf verspieders was. Die doel van hulle missie was nie om te kyk OF hulle die land sal kan inneem nie, maar net hoe die land lê. Ek glo hulle doel was om opgewondenheid vir die volk te bring oor die potensiaal van die Here se belofte vir hulle.

Hulle het onder in Kades Barnea begin, verby Jerusalem, verby Hebron, al die pad op tot verby Damaskus in die noorde. Die tog het veertig dae geduur.

Ek stel my voor soos hulle verby Hebron gegaan het, het Kaleb hierdie massiewe stad gesien. Dit moes baie groot gewees het, want die Enakiete het daar gebly. Die Enakiete was reuse. Waar Hebron die ander tien verspieders vreesbevange gemaak het, het hierdie amper-onmoontlik-om-in-te-neem-stad vir Kaleb opgewonde gemaak. Dis waar hy wou bly. Ek dink hy kon nie wag om te sien hoe die Here hierdie stad vir hulle gaan gee nie. Uit die Skrif kan ons aflei dat Kaleb nie net verby geloop het nie, hy moes op ‘n manier binne gegaan het, want hy het sy voet op die berg gesit waarop Hebron gebou was.

 

Ons woorde gee ons weg

Nadat die twaalf manne terug gekom het, lees ons dat hulle vertel het van al die wonderlike dinge wat hulle gesien en beleef het.

Die woorde van die tien het dit wat in hulle harte was, hulle identiteit, weggegee. “Ja, alles is wonderlik, maar daar is reuse.” Ons sien dit soveel keer vandag, kinders van die Here, wat uit ‘n plek van vrees leef en praat. Luister bietjie mooi na gesprekke, hoeveel keer word slegs slegte omstandighede, hoër pryse en alles wat negatief is bespreek sonder om een keer te onthou dat die Bybel vol beloftes is vir diegene wat YHVH volg.

 

Vrees is soos suurdeeg

Hierdie tien manne het ‘n hele volk van meer as ‘n miljoen mense beinvloed met hulle praatjies van vrees. Die gees van vrees het soos suurdeeg deur die laer gewerk en teen die volgende oggend was die hele volk vergiftig met vrees. ‘n Mens kan sê dat die vrees hulle verlam het. Hulle kon nie meer die wonders en tekens onthou en hulleself daarmee versterk nie. Of dalk wou hulle nie? Dis baie moeiliker om jou in die Here te versterk as om met die stroom van vrees saam te gaan.

Hoe versigtig moet ons nie wees nie. Dis die potensiaal wat negatiwiteit het. ‘n Skamele tien mense het meer as ‘n miljoen mense beinvloed in ‘n enkele dag.

 

Wat die hart van vol is…

Kaleb se verslag het anders geklink. Hy het nooit die uitdagings weggepraat of geignoreer nie. “Ja, daar is reuse, maar YHVH…”. Hierdie was die onderliggende boodskap wat uit Kaleb se mond gekom het. Vir Kaleb was die beloofte land presies wat die woord sê; dit was ‘n belofte solank hulle die Here gevolg het. “It was a given”. Daar was niks om oor te twyfel nie. Ek dink hy het homself reeds gesien sit onder een van die vye of granaatbome. Hy het dalk gedroom oor hoe sy kleinkinders die massiewe druiwe trosse gaan pluk.

En Josua, die seun van Nun, en Kaleb, die seun van Jefúnne, twee van die wat die land verken het, het hulle klere geskeur en die hele vergadering van die kinders van Israel toegespreek en gesê: Die land wat ons deurgetrek het om dit te verken, is ‘n buitengewoon goeie land. As die HERE ‘n welbehae in ons het, sal Hy ons in hierdie land inbring en dit aan ons gee, ‘n land wat oorloop van melk en heuning. 

Wees net nie teen die HERE opstandig nie, en wees julle nie bevrees vir die volk van die land nie, want hulle is ons spys. Hulle beskutting het van hulle gewyk, en die HERE is met ons. Wees nie bevrees vir hulle nie! 

Toe sê die hele vergadering dat hulle gestenig moet word. Maar die heerlikheid van die HERE het in die tent van samekoms verskyn voor al die kinders van Israel. 

Daarop het die HERE aan Moses gesê: Hoe lank sal hierdie volk My verag? En hoe lank sal hulle in My nie glo nie, ondanks al die tekens wat Ek onder hulle gedoen het? (Num 14:6-11)

 

YHVH in ons harte en woorde

Let op hoeveel keer Kaleb na die Here verwys in sy verslag. Mag die Here ons elkeen genadig wees sodat ons identiteit vas sal wees in wie Hy is en dat dit by ons monde sal uitkom elke keer wanneer ons spreek.

“Ja, die olieprys is belaglik, MAAR YHVH laat die olie nie opraak nie.”

“Ja, die prys van koring is problematies, MAAR YHVH is die God wat koring vermeerder.”

“Ja, die diesel prys maak dit moeilik om so baie soos voorheen te ry, MAAR YHVH kan die meter se vingertjie laat stil staan.”

Elke uitdaging is ‘n potensiaal vir ‘n wonderwerk. Dis wat by ons monde moet uitkom. Maar dit kan slegs daar uitkom as dit in ons harte is.

 

‘n Ander gees

Ons lees meer as een maal hoe die Here vir Kaleb gekomplimenteer het. Waarop? Omdat hy volgehou het om die Here te volg. Sy gees het anders gelyk en anders gereager as die res. Hoekom? Want sy identiteit was vas in wie die Here is. Hy was nie bang om uit te staan teen ‘n oormag nie. Sy geloof was vas in wie sy God was.

Maar my kneg Kaleb, omdat ‘n ander gees in hom was en hy volhard het om My te volg—hom sal Ek bring in die land waarin hy gekom het, en sy geslag sal dit in besit neem. (Num 14:24) 

behalwe Kaleb, die seun van Jefúnne, die Kenissiet, en Josua, die seun van Nun; want hulle het volhard om die HERE te volg. (Num 32:12) 

behalwe Kaleb, die seun van Jefúnne; hy sal dit sien, en aan hom en sy kinders sal Ek die land gee waarop hy geloop het, omdat hy volhard het om die HERE te volg. (Deut 1:36) 

 

My kneg

Die Here noem Kaleb sy kneg. Kaleb was in baie goeie geselskap gewees. Daar is nie baie mense wat die Here sy knegte noem in die Skrif nie, slegs hierdie paartjies: Abraham, Jakob, Moses, Dawid, Serubbábel, Jesaja. Nie eers Joshua, die leier wat vir Moses opgevolg het, word so genoem nie. Ons hoef nie in leiersposisies te wees of baie groot gawes te besit om ‘n kneg van die Allerhoogste te wees nie. Al wat ons moet doen is om die Here met ons hele hart te volg. En volhard om hom te volg, selfs wanneer die res teen ons staan.

 

Draai terug

Wat ‘n geweldige teleurstelling moes dit nie gewees het toe hulle moes terugdraai nie. Vir veertig jaar moes Kaleb saam gely het onder die nagevolg van die ongeloof van die res. Ek kan my net voorstel hoe hy die eerste ruk, of dalk self later, met bitterheid moes gestoei het. Hy kon al ‘n rustige lewe gelei het, hy kon al geboer het en nou sit hy nogsteeds in dieselfde woestyn. Dit was nie eers sy skuld nie. Maar Kaleb het volhard om die Here te volg. Hy het nie die belofte van die mooi land vergeet nie. Sy oog en hart was nogsteeds op Hebron.

 

Hy het nie van Hebron vergeet nie

Ons lees dat veertig jaar verby gegaan het. Toe die laaste persoon gesterf het, kon hulle eers die land betree. Kaleb het vir nog vyf jaar geveg en die land ingeneem. Vyf-en-veertig jaar later praat Kaleb en Joshua. Hy herinner Joshua aan alles waardeur hulle is en die belofte van Hebron wat Moses aan hom gemaak het. Daardie grondstuk, die berg, waarop Kaleb sy voete gesit, het hy nie vergeet nie. Dit was die stad wat gemaak het dat mense die Here se almag in twyfel getrek het. Daardie stad was die een wat aan Kaleb belowe was. Die Here was hom so genadig dat op vyf-en-tagtig jarige ouderdom was hy nog net so sterk soos hy op veertig was.

Dit was nou tyd…

 

Gee my die berg

Hebron was ‘n stad wat die eer en almag van die Here beledig het. Die blote feit dat Hebron steeds bewoon was deur Enakiete moes vir Kaleb dwars in die krop gesteek het. Daardie een stad, wat gemaak het dat miljoene mense omgekom het, moes ingeneem geword het deur die krag van die Here wat deur Kaleb werk. Hy en sy seuns sou die eer herstel en bewys dat daar niks is wat te groot of te moeilik is vir die Here nie.

Dis nie vreemd dat dit juis ‘n amper-onmoonlike teiken is waarvoor Kaleb vra nie. Kaleb se identiteit was vas in sy God en vir diegene wat leef vanuit die krag van YHVH, is hierdie tipe uitdagings nie ‘n probleem nie. Hy hoef dit nie in sy eie krag aan te pak nie. Die Here sal hom help.

 

Ons eie Hebron

Ek glo ons het elkeen ‘n uitgestelde belofte. Dalk is daar iets wat die Here aan ons belowe het wat nog nie in vervulling gekom het nie. Miskien vertrou ons die Here vir die redding van ‘n familielid. Daar het dalk al soveel profetiese woord en beloftes uitgegaan. Ons is dalk vir veertig jaar in die woestyn as gevolg van iemand anders se ongeloof. Dalk stoei ons met ‘n verslawing of iets dergeliks waarvan ons bevryding moet kry.

Volhard, net soos Kaleb, om die Here te volg. Bid vir ‘n ander gees. Wanneer ander opstaan en sê dat ons maar dit moet laat vaar, dis onmoontlik, moet ons dié wees wat sê: “MAAR YHVH!”.

Daar gaan ‘n tyd kom wat ons voor die Here gaan moet staan en vra: “gee my hierdie berg wat U my belowe het”.

 

Aksie

Kaleb het nie vir die Here gevra om die Enakiete namens hom te verdryf nie. Hy het nie by ‘n leë Hebron aangekom nie. Hy moes self die werk doen. Die verskil is dat hy nie nodig gehad het om op sy eie krag staat te maak nie. Die wonderwerkende krag van die Here sy God het hom bonatuurlik gehelp.

 

Hoe kyk ons?

In elke omstandigheid wat ons padlangs kom, sien ons net die reuse raak? Of sien ons die potensiaal vir ‘n wonderwerk? Maak ons staat op die Here se krag of probeer ons menslike redenasie en planne maak?

Die lamp van die liggaam is die oog. As jou oog dan reg is, sal jou hele liggaam verlig wees.  Maar as jou oog verkeerd is, sal jou hele liggaam donker wees. As dan die lig in jou donkerheid is, hoe groot is die donkerheid nie! (Mat 6:22-23)

Ons beeld van wie ons in die Here is, sal veroorsaak dat ons oog reg of verkeerd kyk. Wanneer ons met ‘n oog van vertroue kyk is ons hele liggaam verlig en sal dit by ons mond uitkom. Maar wanneer ons met ‘n oog van vrees en ongeloof kyk, dan sal daar duisternis in ons wees en ons woorde sal ons weggee.

 

‘n Volkome hart

Is ons hart volkome gerig om die Here te dien of hou ons ‘n stukkie vir onsself terug. Behoort ‘n stukkie van ons hart aan die gees van vrees?

Is ons eerste gedagte om ‘n menslike plan te maak, of hardloop ons instinktief na die Here toe vir Sy antwoorde. Verwag ons nog wonderwerke of dink ons die tyd daarvoor is verby? Glo ons vrees, bedink ons vrees, leef ons vrees?

Is ons verspreiders van vrees of verspreiders van lewe en hoop. Nie vanuit ‘n plek van kunsmatige heiligheid nie, maar vanuit ons identiteit was vas is in wie die ons God vir ons persoonlik is.

 

Volhard

Ons is nou in die laaste pylvlak en kan nie bekostig om nou uit te val, moeg te word of te gaan stil sit nie. Dis nou die tyd vir volharding. Slegs die wat volhard tot die einde toe, sal gered word. (Matt 24:13)

Kaleb kon maklik ‘n ander stad gekies het. Hy kon geredeneer het dat hy nou ouer is, dinge makliker wil hê. Hy kon van Hebron vergeet het. As die Here vir jou ‘n Hebron belowe het, moenie opgee nie. Volhard en oorweldig die reuse. Neem jou erfdeel in. Nie ter wille van jou gerief, jou begeerte of jou eer nie. Maar ter wille van die eer van Sy Naam.

 

Waarskuwing

Paulus waarsku die Korintiërs dat alles wat die Israeliete in die woestyn oorgekom het, opgeskryf is as voorbeelde vir ons. Gaan lees bietjie 1 Kor 10. Hulle het almal dieselfde dinge beleef, hulle het almal gevoed op die brood van die lewe, hulle het gedrink van die geestelike water. Tog het die Here nie ‘n welbehae in die meeste van hulle gehad nie. Die dinge waarteen ons gewaarsku word is: begerigheid, afgodery, hoerery en murmerering. Let op hoe iets wat in ons gedagtes nie ‘n ernstige oortreding is nie, saam met ‘groot’ dinge soos afgodery en hoerery genoem word. Om te kerm en te kla is baie ernstig in die Here se oë.

Hoekom? Want ons verag sy beloftes van voorsiening en trou. Dit reflekteer die ongeloof en identiteitskrisis binne ons. Wanneer ons murmereer, sê die woorde van ons mond wat binne-in ons hart is. Dit spel uit dat ons nie regtig die Here ken nie, dat ons nie weet wie ons is as gevolg van wie Hy is nie.

 

Maar YHVH…

Kom ons let op wat by ons monde uitkom wanneer winde van omstandighede waai. Is ons eerste gedagte, maar YHVH (BUT GOD) of praat ons eers uit ‘n plek van vrees. Mag die Here ons genadig wees om ‘n hart soos Kaleb te hê, ‘n ander gees. Mag ons identiteit vas wees in wie die Here is. Ons is sterk omdat Hy binne ons sterk is.

 

Yolandie

css.php