Hy is werklik vir my

Deur Yolandie Mostert (14 Februarie 2023)

Gisteraand terwyl ek bietjie klavier gespeel het vir die Here in aanbidding, blaai ek na hierdie liedjie toe. Dis ‘n ou-ou koortjie, maar die diepte is onmeetbaar. Vandat ek hierdie woorde die eerste keer gehoor het, het dit iets diep binne my geroer. En dit het steeds dieselfde effek. Ek kon nie anders as om dit net oor en oor te speel terwyl ek bid vir nog meer egtheid en werklikheid nie.

He’s real to me

He’s real to me

The Son of God is real to me

My soul demands reality

The Son of God is real to me

My soul demands reality. Ek wil dit eintlik amper verander na my wese, my gees, siel en liggaam soek na realiteit en sal met niks minder tevrede wees nie.

Ek soek dit wat eg is. Nie ‘n evangelie sonder lewe of krag nie. Nie ‘n godsdiens om aan te behoort nie. Nie iets wat net mooi en blink gemaak word deur goed uitgewerkte programme, dekor en beplanning nie. Nie wonderwerke wat net die emosies vir ‘n kort rukkie voed en dan vergeet mense weer nie. Wonderwerke is goed. Jesus beloof wonderwerke wat diegene sal volg wat Sy dissipels is. Maar die doel van wonderwerke is nie wonderwerke nie. Dis vanonderstel om ons nader te bring aan die hart van die Vader.

Dit wat eg is kan in die vorm van woorde wees, wanneer daar krag, opregtheid en nederigheid in die woorde is.

Nederigheid… Dis onmoontlik vir die Seun van God om ‘n realiteit te wees wanneer ons in trots is. Dis ‘n harde stelling om te maak. Maar dis die waarheid.

 

Vas in trots

Ons kan in trots vasgevang wees en ‘n begrip van die Here hê. Ons kan Hom dien. Ons kan selfs Sy stem hoor. Maar dis alles met mate. Dis soos om deur ‘n filter te kyk en te hoor. Die filter is daar ons hele lewe lank, daarom dink ons dis normaal.

Wanneer ons die trots kan herken in ons lewe en dit neerlê, lig die filter. Dan hoor ons anders, want ons tel nie ander klanke in die gees op nie.

Ons sien ook anders. Ons sien die Here anders. Ons begin Hom in al Sy fasette te sien en kan nie help om Hom te aanbid nie. Dis asof ‘n damwal in jou binneste oopbreek.

 

Oop en bloot

Ons sien onsself raak soos ons regtig is. Waar ons voorheen gedink het ons is okey, nie so slegs nie, ‘n goeie mens, ‘n goeie Christen, iemand wat kan hoor, kan profeteer, iemand wat ‘n steunpilaar is in die gemeenskap ensovoorts. Dan begin ons onsself anders sien. Vir die eerste keer verstaan ons regtig wat die Bybel bedoel met Skrifte soos:

  • Daar is niemand goed nie (Mark 10:8)
  • Ons beste pogings is soos stukkende lappe voor die Here (Jes 64:6)
  • Die hart van die mens is bedrieglik bo alle dinge (Jer 17:19)

Voordat die filter gelig het, was dit onmoontlik om ons eie geestelike kondisie van trots te herken. Ek weet, ek was daar. Nadat die filter gelig het, raak mens baie bang vir trots. Nie bang in die vorm van ‘n vrees-manier nie. Eerder versigtig om dit nooit weer te laat wortel skiet nie. En wortel skiet gaan dit. Dis een van die geestelike sade wat net weer en weer opkom. Onthou trots lê diep in ons DNA en ons het dit al met die sondeval geërf.

Ons kan trots oorkom. Die Bloed van die Lam het daarvoor betaal. Ons moet dit oorkom, anders sal ons altyd in godsdiens bly en nooit die werklikheid hê van ‘n verhouding met die Seun van God nie. Ons sal altyd reëls en lysies probeer onderhou om ons geregtigheid te bewerk. Dis die moeilikste ding vir die mens om te kan insien. Al ons beste pogings is soos stukkende lappe. Ons kan hoeveel Bybelse feeste vier, ons kan hoeveel heidense feesdae nie vier nie. Ons kan ons Bybel uit ons kop ken. Ons kan vir ander preek. In die mense se oë kan ons ‘n ‘groot Christen’ wees. Dis nogal ‘n term waarin ek ‘n baie groot weersin het. Daar bestaan nie so ding soos ‘n ‘groot Christen’ nie.

Daar bestaan twee soorte Christene. Die wat YHVH aanbid en wat nie.

Die mense aanbid altyd iets. Ons is so gemaak – om te aanbid. As jy nie YHVH aanbid nie, aanbid jy jouself in die meeste gevalle.

 

Introspeksie

Hoe eg wil ons hê dat die Seun van God vir ons moet wees? Wil ons HOM regtig ken?

Kan ons met ons hele hart sê: “He’s real to me”. As jy dadelik ja antwoord op hierdie laaste vraag, wil ek jou waarsku. Pasop vir trots. Trots blokkeer jou vermoë vir dieper introspeksie. Dis veiliger om dit voor die Here te neem en Hom te vra: “is U so werklik vir My soos wat ek op hierdie stadium van my groei moet wees?”. Laat toe dat Sy Gees jou wys watter filters en blokkasies daar nog is. As jy antwoord “nee”, of nie seker is nie, is my raad: gaan soek HOM. Soek Sy aangesig. Vra dat Hy Homself aan jou sal openbaar. Hoe Hy regtig is. Nie hoe ons dink Hy is of moet wees nie.

He is a rewarder of those who diligently seek Him. (Heb 11:6)

 

Kom uit trots uit

Dit blokkeer jou. Moenie dink jy het nie geestelike trots nie. Dis ‘n leuen van die vyand om jou vas te hou. Hoe meer jy glo dat jy nie trots het nie, hoe sterker is die vesting van trots in jou. Dis ongelukkig die harde waarheid. Mag die Waarheid ons vrymaak!

Trots beperk ons geestelike visie. Dit keer dat die Vader, Seun en Heilige Gees vir ons so eg en werklik is soos wat hulle moet wees. Ons gees sal nooit met enige iets anders tevrede wees as ‘n ware en werklike leefwyse dat Jesus Christus die Seun van God is nie. Dit moet vir ons so werklik wees soos die stoel waarop ons sit. En as Hy die Seun van God is, aanbid Hom. Die hoogste vorm van aanbidding is gehoorsaamheid aan die Gees van God.

Jesus – die Waarheid en die Weg en die Gees van die Lewe. Dis die enigste aanvaarbare manier om die Vader te aanbid.

 

Shalom!

css.php