Hy is Lig (Deel 4 van Wie is die Bruidegom)

Deur Yolandie Mostert, 7 April 2023

 

My beminde is skitterend wit (Hgl 5:10) 

 

Hierdie volgende gedeelte van die meisie in Hooglied, wat die bruid van Jesus verteenwoordig, gaan oor lig en heiligheid. Skitterend verteenwoordig die Lig en wit spreek van Sy heiligheid. Hierdie is twee eienskappe waaroor nie gereeld gepreek word nie. Die Lig konfronteer alles wat duisternis is, ook die skadus. Ek dink nie mense hou meer daarvan dat die Lig die duisternis in hulle uitwys nie. Dieselfde met heiligheid. Dis amper asof die moderne Christen ongemaklik beweeg rondom die konsep van heiligheid. Die Lig verander ons. Dit hou ‘n standaard op van die Heilige van Israel en roep ons op tot heiligmaking. Die Lig oorweldig die duisternis en veroorsaak die bron van duisternis om in rebellie op te staan binne die mens met tipiese uitsprake soos: “jy mag nie oordeel nie”. Elke keer wanneer ons buig voor die Lig en deur opregte belydenis van die duisternis binne ons ontslae raak, klim ons nog een trappie hoër teen die berg van die Here uit, die berg van heiligheid.

Wie mag klim op die berg van die HERE? En wie mag staan in sy heilige plek? (Ps 24:3) 

 

(Omdat daar so baie te sê is oor lig en heiligheid, sal hierdie oor twee boodskappe versprei word. Anders raak dit te lank.)

Hy is die Lig

In Hom was lewe, en die lewe was die lig van die mense. (Joh 1:4)

Ons het nodig om na die boek Openbaring te blaai sodat ons kan sien presies hóé skitterend ons Bruidegom is. Ons lees in hoofstuk 1 vers 16 dat Sy aangesig gelyk het soos die son wat skyn in sy krag. Dis verblindend helder. As ons na die voorkoms van die engel kyk wat die grafsteen weggerol het, gee die vergelyking van ‘n weerligstraal vir ons ‘n idee. Soos met elke faset van wie Hy is, gaan ons moet bid vir openbaring deur die Heilige Gees, anders gaan hierdie net teoreties wees. Onthou dat ek in die eerste deel reeds gesê het dat ons slegs ‘n waaragtige openbaring van die Jesus Christus kan ontvang wanneer die Vader die Seun aan ons openbaar. En daar was voorskrifte.

Nog ‘n Skrif wat vir ons ‘n idee gee dat daar nie net Lig uit Jesus skyn nie, maar dat Hy die essensie van die Lig is, is Openbaring 21:23. Die Lam van God is die lamp van die Nuwe Jerusalem. Hy is die bron.

En die stad het die son of die maan nie nodig om in hom te skyn nie, want die heerlikheid van God het hom verlig, en die Lam is sy lamp.

 

Lig openbaar duisternis

Een van die dinge wat die Lig doen is om die dinge van die duisternis te bestraf en te openbaar. Hoe verder ons vanaf ‘n ligbron is, hoe moeiliker is dit om kleure en vorms te onderskei. Kom ons nader, kan ons byvoorbeeld sien ‘n hemp is blou en nie grys nie. Nog nader en ons kan sien daar is ‘n swart oliekol op die hemp. Nog nader en die lig wys nog vuilkolle uit. Wanneer die lig vol op die hemp skyn, kan ons die kreukels, stoffies en skakering van die garing onderskei. Dis hoe dit in die gees ook werk. Iemand wat van ver af volg sal maklik dink dat daar geen duisternis in hulle is nie. Dat hulle lewe mooi en goed is. Maar kom so persoon net ‘n klein bietjie nader en die Lig bestraal hulle, word die duisternis bestraf. Dis die wese, die eienskap van die Lig – dit bestraf duisternis en openbaar dit. Wanneer die mens in berou erken en bely, word dit weggewas deur die Bloed van die Lam en word lig. Daarna kom die mens nog ‘n bietjie nader en die proses herhaal. Aanvanklik die ‘groot’ dinge, later die geheime van die hart en nog later die motiewe van die hart.

Maar al die dinge wat deur die lig bestraf word, word openbaar; want alles wat openbaar word, is lig. Daarom sê Hy: Ontwaak, jy wat slaap, en staan op uit die dode, en Christus sal oor jou skyn. (Ef 5:13-14) 

Kom ons deins nie terug vir hierdie eienskap van die Lig nie, maar verwelkom dit en raak lief vir dit. Vra Hom self om Sy Lig in die diepste kamers van jou hart te skyn en die dinge te openbaar waarvan jy nie eers weet nie.

Want elkeen wat kwaad doen, haat die lig en kom nie na die lig nie, dat sy werke nie bestraf mag word nie. Maar hy wat die waarheid doen, kom na die lig, sodat sy werke openbaar kan word, dat hulle in God gedoen is. (Joh 3:20-21) 

 

Lig gee lewe

Nog ‘n eienskap van die Lig is dat lewe daarin opgesluit is. Die Lig gee lewe. Hoe nader ons aan die bron van Lig kan kom, Jesus Christus self, hoe meer lewe sal daar in ons wees.

En Jesus het weer met hulle gespreek en gesê: Ek is die lig van die wêreld; wie My volg, sal sekerlik nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê. (Joh 8:12) 

 

Openbaring lei tot aanbidding

Een van die dinge wat met ons gebeur wanneer ons ‘n groter besef kry van wie Jesus Christus werklik is, is om in aanbidding voor Hom neer te val. Dis wat met Johannes gebeur het op die eiland Patmos. Onthou dat Johannes teen Jesus se bors tydens die laaste Pasga gelê het. Dis hoe intiem hy vir Jesus geken het. Jare later kry Johannes weer die geleentheid om vir Jesus, sy vriend, te sien. Maar hierdie keer openbaar Jesus Homself in Sy heerlikheid en Johannes val soos ‘n dooie aan Sy voete neer. Ek glo werklik dat daar minder sonde en dubbelhartigheid sal wees in die kerk wanneer meer mense ‘n groter openbaring kry van wie Jesus Christus werklik is.

Mag meer en meer in aanbidding voor dié Lig neerval met ‘n besef van Sy heiligheid.

 

Ek eindig met hierdie vers:

Want vroeër was julle duisternis, maar nou is julle lig in die Here—wandel soos kinders van die lig. (Ef 5:8) 

Wanneer ons eers die Lewe in die Lig geproe het, kan ons mos nie nié verander nie. Ons word opgeroep om te lewe soos mense wat direk in aanraking met die bron van Lig gekom het. Jesus Christus – die Lig van die wêreld.

In die volgende boodskap gaan ons na Sy heiligheid kyk.

 

Skakels

Om na die inleiding te luister asook die Woord deur die Heilige Gees rakende hierdie reeds, kliek hier.

Die audio weergawe van hierdie boodskap is beskikbaar op ons telegram kanaal: https://t.me/+1hYU7h46Jj1hZDc8

Deel 1 – Wie is die Bruidegom (agtergrond)

Deel 2 – Wie is jou beminde?

Deel 3 – Hy is my Beminde

 

css.php