Deur Yolandie Mostert (Junie 2023)
Sy wange is soos balsembeddings. (Hgl 5:13a)
Vandag deel ek oor ‘n baie bekende, indien nie die mees bekendste faset van Jesus Christus nie – Hy is liefde. Alhoewel is so maklik kan sing: ‘God is liefde…”, dink ek nie ons sal ooit die volle omvang van Sy liefde vir die mens en die skepping kan begryp nie. Ons prentjie van liefde is so klein en gebrekkig gemeet teen Sy volmaakte liefde.
Simboliek
Die wange van die Bruidegom in hierdie vers in Hooglied wys op Sy deernis en liefde. Hy het vrywilliglik Sy wange gegee vir die wat Sy baard uitgepluk het.
Ek het my rug gegee vir die wat slaan, en my wange vir die wat die hare uitpluk; my aangesig het Ek nie verberg vir smaadhede en bespuwing nie. (Jes 50:6)
Ek het reeds in ‘n vorige faset se bespreking genoem dat Jesus nie ‘n slagoffer van die mens was nie. Geen mens het Sy lewe geneem nie. Hy het dit self afgelê. Dit was vanuit ‘n plek van krag en majesteit. En omdat Hy ons liefgehad het.
Niemand neem dit van My af nie, maar Ek lê dit uit Myself af. Ek het mag om dit af te lê en Ek het mag om dit weer te neem. Hierdie gebod het Ek van my Vader ontvang. (Joh 10:18)
Die woord balsem verwys na ‘n soet, aangename geur en die beddings vol balsem dui op ‘n oorvloed van hierdie aangenaamheid. Dis nie net een klein bedding in ‘n tuin nie, dis in die meervoudvorm. Sy liefde is nie net teoreties of iets waarvan ons in die Bybel lees nie. Hy het liefde aan die mens kom wys deur aarde toe te kom.
En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon—en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom— vol van genade en waarheid. (Joh 1:14)
Die hart van die Vader
Daar is een versie in die verhaal waar Abraham vir Isak moes offer wat my elke keer wanneer ek dit lees baie diep raak. Die Vader is aan die woord en sê die volgende:
Toe sê Hy: Neem jou seun, jou enigste, wat jy liefhet, Isak, en gaan na die land Moría en offer hom daar as brandoffer op een van die berge wat Ek jou sal aanwys. (Gen 22:2)
Hoor die hart van die Vader: ‘neem jou enigste wat jy liefhet’. Die liefde wat die Vader vir Sy Seun, Jesus, het is geweldig groot. Maar nie net vir die Seun nie, maar ook vir die mensdom. My brein kan dit werklik nie begryp nie. Ek lees soms berigte van politikuste, wêreldregeerders en goddelose persone van invloed en sien hoe hulle die vuis bal teenoor die Here in rebellie. Dan dink baie keer by myself dat die Here die mens met die punt van Sy vinger kan vermorsel. Dis hoe groot en magtig Hy is. Jesus Christus gaan die antrichris met die asem van Sy mond verdelg. Hoe genadig is Hy nie op ‘n goddelose, rebelse mensdom nie dat Hy steeds verdra en wil hê dat sondaars hulle moet bekeer.
Het Ek dan miskien ‘n behae in die dood van die goddelose? spreek die Here HERE. Nie liewer daarin dat hy hom bekeer van sy weë en lewe nie? (Eseg 18:23)
My getuienis
Ek deel graag hierdie persoonlike ervaring met julle. Dit wys ons ‘n stukkie van die Here se hart vir die mens. Dit was nou onlangs wat ek my kar by ‘n karwas laat skoonmaak het. Terwyl ek by die tafeltjie gesit en wag het, hou ek die outjies dop wat besig was om te was. Daar was seker so sewe of agt besig met my kar. Die volgende oomblik vra die Here my ‘n vraag: “Weet jy hoe ek oor hierdie mense voel?”. Voordat ek kon antwoord ervaar ek bonatuurlike liefde uit my vloei en ek beleef ‘n intense liefde en jammerte vir elkeen van hulle. In daardie intense oomblik kom die volgende vers toe by my op:
En toe Jesus uitklim, sien Hy ‘n groot menigte, en Hy het vir hulle innig jammer gevoel, omdat hulle soos skape sonder herder was (Mark 6:34a)
Hierdie selfde ervaring van Goddelike liefde wat uit my straal ervaar ek ook baie terwyl ek mense bedien of vir hulle bid. Daar vloei ‘n innige jammerte en liefde vanuit ‘n diep plek in my binneste. Ek weet hierdie kom nie uit my vlees nie, maar uit my gees. Die Heilige Gees laat my toe om ‘n stukkie van die liefde van Vader, Seun en Heilige Gees te mag beleef. Ek glo dis net ‘n klein stukkie; die mens se kapasiteit is nie groot genoeg om meer van daardie intensiteit te kan hanteer nie.
Wat Johannes verstaan het
Die apostel Johannes het iets van die liefde van die Here begryp. Wanneer ons sy evangelie en sendbriewe lees, kan ons die liefde ervaar. Lees asseblief sy drie briewe. Ter wille van tyd gaan ek net ‘n paar verse aanhaal en kommentaar lewer. Kom ons hou die spieël voor ons en besef dat die ekklesia as ‘n geheel, maar ook ons elkeen individueel ernstig kortkom wanneer dit by liefde kom.
Geliefdes, laat ons mekaar liefhê; want die liefde is uit God, en elkeen wat liefhet, is uit God gebore en ken God. Hy wat nie liefhet nie, het God nie geken nie, want God is liefde. (1 Joh 4:7-8)
Liefde is die vrug en die teken dat ons God ken. Ons is maklik om te verklaar ons ken die Here, maar as daar nie liefde in ons is nie, weet ons dalk van Hom, maar ken Hom eintlik glad nie.
Hoe groter ons openbaring van Jesus Christus as liefde, hoe meer sal ons mekaar liefhê. Nie net Jesus se liefde nie, maar ook die Vader en die Heilige Gees se liefde. Al drie het ons waarlik lief en ons kan niks doen om daardie liefde te verdien nie. Ons kry wel ‘n opdrag om mekaar lief te hê omdat die Here ons liefhê. Dis ‘n wilsbesluit en wanneer ons dan agterkom hoe gebrekkig ons liefde is, raak ons afhanklik van Hom om deur ons lief te hê.
Geliefdes, as God ons so liefgehad het, behoort ons ook mekaar lief te hê. Niemand het God ooit aanskou nie. As ons mekaar liefhet, bly God in ons en het sy liefde in ons volmaak geword. (1 Joh 4:11-12)
Jesus gee vir ons opdrag om in Hom te bly en Hy in ons. Jy kan dit lees in Johannes 15. Ek het vir jare daardie vers gelees en dit vurig begeer. Reeds as ‘n jongmeisie het ek geweet dis ‘n kragtige waarheid wat my verhouding met die Here tot dieper dimensies sal neem. Ek het net nie geweet hoe nie. Hoe bly ‘n mens prakties in Hom? Dit was my vraag en niemand kon op daardie stadium vir my ‘n verstaanbare antwoord gee nie. In die volgende vers leer ons hoe. Wanneer ons in die liefde bly, bly ons outomaties in Hom. Die liefde is die sleutel.
En ons het die liefde wat God tot ons het, leer ken en geglo. God is liefde; en hy wat in die liefde bly, bly in God, en God in hom. (1 Joh 4:16)
Geen vrees in liefde nie
Volmaakte liefde gee vir ons vrymoedigheid in die oordeelsdag. Daar is niks te vrees wanneer ons vol liefde is nie. Hierdie is ook nie net van toepassing op dan nie. Dit geld vir nou. Hoe voller ons met liefde is, hoe minder plek is daar vir vrees. Ons vrees vir so baie dinge: siekte, dood, armoede, om ons werke te verloor, die toekoms, wat mense van ons dink en of ons aanvaarbaar is. Liefde is die medisyne wat ons gaan genees van hierdie vrese.
Hierin het die liefde by ons volmaak geword, dat ons vrymoedigheid kan hê in die oordeelsdag; want soos Hy is, is ons ook in hierdie wêreld. Daar is geen vrees in die liefde nie; maar die volmaakte liefde dryf die vrees buite, want die vrees sluit straf in, en hy wat vrees, het nie volmaak geword in die liefde nie. (1 Joh 4:17-18)
Gees openbaring is nodig
Ons kan boeke en boeke lees en na honderde preke luister, maar as die Heilige Gees ons nie help om waarlik lief te hê nie, sal ons dit nie regkry nie. Ons sal met ons mond sê dat ons liefhet, maar ons dade sal die teendeel bewys. Dit sal ook nie moontlik wees om werklik ‘n openbaring van die Here se volmaakte te liefde te kry sonder dat Hy dit aan ons openbaar nie.
Hierdie faset is een van die diepste om werklik in balans te kan verstaan. Die mens is of geneig om alles as liefde te bestempel en te leef asof die Here se liefde ‘n vrystelling tot ‘n sondige bestaan is. Die redenasie is dat omdat God liefde is, vergewe Hy en bestaan daar geen gevolge nie. Hierdie denkwyse spruit vanuit ‘n wanbegrip van die volheid van wie die Here is. Hy het volmaak lief terwyl Hy in geregtigheid oordeel. Die ander teenpool is om aanstoot te neem aan die Here se liefde. Vrae soos: ‘ek kan nie verstaan hoe die Here vir daardie mense kan liefhê nie’ of ‘’n God van liefde sal nie toelaat dat slegte dinge gebeur nie’. Weereens kom hierdie gedagtes vanuit vlees. Die mens het geen begrip van wie die Here werklik is nie en verwag daarom dat Sy liefde soos ons sin moet lyk; voorwaardelik, partydig en wisselvallig.
Ons het Hom lief, omdat Hy ons eerste liefgehad het. (1 Joh 4:19)
Liefde onder mekaar
Mense sal baie keer stellings maak soos: ‘my saak is nie met die mens nie, my saak is met die Here’ of ‘ek gee nie om vir die mense nie, solank ek in lyn is met die Here’. Hierdie stellings is direk teen wat die Bybel vir ons leer. Ons vertikale verhouding met die Here word direk beïnvloed deur ons horisontale verhoudings met mense. Ons kan nie die een sonder die ander hê nie. Hierdie waarheid wys vir ons nog ‘n stukkie van die Here se liefde. Dis ‘n liefde wat in praktyk en aksie gesit word. Dit word bewys deur ons handelinge. Hierdie volgende gedeelte in Johannes se eerste brief sny die waarheid diep en reguit. As ons nie ons broers en susters in die Here liefhê nie, kan ons nie sê dat ons vir die Here lief is nie. Dit dwing ons om bietjie rondom ons te kyk. Is ons lief vir almal in die gemeenskaplike byeenkomste? Bid ons vir hulle? Seën ons hulle? Ongeag hoe moeilik hulle is en of ons persoonlikhede bots. Ons bewys ons liefde vir die Here deur vir hulle lief te wees. Net soos wat die Vader Sy liefde in aksie gesit het deur Jesus te offer vir ‘n mensdom wat dit werklik nie verdien het nie.
As iemand sê: Ek het God lief—en sy broeder haat, is hy ‘n leuenaar; want wie sy broeder wat hy gesien het, nie liefhet nie, hoe kan hy God liefhê wat hy nie gesien het nie? En hierdie gebod het ons van Hom dat hy wat God liefhet, ook sy broeder moet liefhê. (1 Joh 4:20-21)
Ons kan die Here vra om ons kapasiteit vir Sy liefde te vergroot. “Here, help my om U nog liewer te kry en ook vir mense lief te wees, laat U liefde deur My vloei, leer my U liefde, vul my met U liefde”. Ons het soveel goeie intensies. ‘Van vandag af gaan ek die Here dien’ en kom Maandagmiddag en die nuwe voorneme het by die deur uitgewaai saam met die moeilike vergadering of argument met ‘n kollega. Dis nie hoe Goddelike liefde werk nie. Ons sal nooit uit ons eie die Here kan liefhê sonder Sy hulp nie. Dis hoe ellendig die mens eindelik is. Ons kan nie eers die Here liefhê as Hy ons nie help nie. Dis ‘n goeie plek om in daardie afhanklikheid te leef.
Wat sal Ek met jou doen, o Efraim; wat sal Ek met jou doen, o Juda? aangesien julle liefde is soos ‘n môrewolk en soos ‘n dou wat vroeg weer verdwyn. (Hos 6:4)
Sonder liefde…
Die gedeelte oor die liefde in 1 Korintiërs 13 word baie keer slegs by troues gelees. Dit word maar min as ‘n daaglikse lewenswyse toegepas. Dit sal ons goed doen om weer stadig en biddend te lees terwyl ons binnetoe kyk. Dit gee ons nog ‘n dieper kykie in dit wat vir die Here belangrik is. Hy soek nie ons dinge nie, Hy soek ons liefde.
Want Ek het ‘n behae in liefde en nie in offerande nie, en in kennis van God meer as in brandoffers. (Hos 6:6)
Doen ons al die regte geestelike dinge? As ons antwoord ja is, is die volgende vraag: ‘het ons liefde wat gesien kan word in ons handel en wandel?’. As ons dit nie het nie, is alles wat ons doen en bereik nutteloos. Dit beteken niks. Luister na al die wonderlike dinge wat ons kan doen wat dalk tot niks kan tel nie. Ons kan in tale spreek of dalk selfs sing. Ons kan akkuraat profeteer. Ons kan baie Bybelkennis hê en diep insien in die Skrifte. Miskien kan ons dit selfs vir ander oordra. Nie baie van ons se geloof het al ‘n berg laat skuif nie. Dis nogal geloof wat vir iets kan tel. Maar as daar nie liefde in ons lewe is nie; praktiese liefde wat gesien kan word nie, gaan hierdie dinge vir niks tel nie.
Paulus gaan voort deur iemand te beskryf wat al sy besittings, sy huis, sy voertuie, al sy klere, meubels – alles – weggee. In ons oë is dit ‘n groot ding om te doen. Tot dit sal tot niks tel as daar nie liefde in so persoon se lewe is nie. Die laaste voorbeeld wat hy lys is ‘n martelaar. Ook dit tel tot niks sonder liefde nie.
Kan ons sien hoe belangrik liefde vir ons Koning is? Hierdie wonderlike dinge wat vir ons amper onmoontlik klink om te kan regkry, tel in Sy oë as niks, gemeet teen die liefde in ons lewe. Hy is Liefde – dis die essensie van wie Hy is. Hoe meer ons in Hom bly en deur die Gees lewe, sal daar liefde in ons wees. Dit kan nie anders nie. As liefde nie uit ons vloei nie, is daar ‘n groot probleem by ons en moet ons waaragtig werk maak om by die wortel van die blokkasie uit te kom.
Hoe lyk Goddelike liefde?
Ek lees ‘n paar verse uit 1 Korintiërs 13. Dis hoe ons Koning is en dit is hoe Sy mense behoort te wees. Ek glo ons hoef net binnetoe en rondom ons te kyk en ons sal sien hoe ver die kerk van Sy standaard weg beweeg het. Ons vind meer kere as wat ons wil erken die teenoorgestelde van dit wat ek nou gaan lees in ons en in ons boeties en sussies in die Here.
Die liefde is lankmoedig en vriendelik; die liefde is nie jaloers nie; die liefde praat nie groot nie, is nie opgeblase nie, handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, word nie verbitterd nie, reken die kwaad nie toe nie, is nie bly oor die ongeregtigheid nie, maar is bly saam met die waarheid. Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles. (1 Kor 13:4-7)
Ek wil op ‘n blymoedige noot afsluit. Ons hoef nie op ‘n hopie van hopeloosheid te gaan sit omdat ons so ver te kort skiet nie. Met die hulp van die Heilige Gees kan ons verander. Ons moet net wil en as die wil ontbreek kan ons tot vir Hom vra om in ons te wil sodat ons kan wil. Solank as wat ons ‘n hart het wat die Here ons God soek en Hom aanbid, sal Hy ons help. Ons kan Hom vra om deur ons lief te hê. Ons kan bid vir Sy liefde om deur ons oë te vloei wanneer ons na ander kyk. Baie keer as ek nie woorde het nie, vra ek dat Sy liefde uit my gees na die persoon oorkant my se gees sal vloei. Hy doen dit, Hy is getrou.
Want ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie. (Rom 8:38-39)
Daar is niks wat ons van Sy liefde kan skei nie. Geen trauma, pyn, dinge wat in ons verlede gebeur het, mense wat ons weerstaan om die Here te dien nie, dinge wat in die toekoms lê, gebondenhede, demone of vestings binne ons nie. Sy liefde is sterker as dit alles. Hy is liefde. Ons God is nie net ‘n God van liefde nie. Hy is liefde self.
Skakels
Om na die inleiding te luister asook die Woord deur die Heilige Gees rakende hierdie reeds, kliek hier.
Die audio weergawe van hierdie boodskap is beskikbaar op ons telegram kanaal: https://t.me/+1hYU7h46Jj1hZDc8
Deel 1 – Wie is die Bruidegom (agtergrond)
Deel 2 – Wie is jou beminde?
Deel 3 – Hy is my Beminde
Deel 4 – Hy is Lig
Deel 5 – Hy is Heilig
Deel 6 – Hy is die Krygsman en Wreker
Deel 7 – Hy is die Oorwinnaar
Deel 8 – Hy is die Hoof
Deel 9 – Hy is die Afgesonderde
Deel 10 – Hy is Onveranderlik
Deel 11 – Hy is die Yweraar
Deel 12 – Hy is die Regter