Yolandie Mostert, 14 April 2023
My beminde is skitterend wit (Hgl 5:10)
Heiligheid is soos die son
Wit verteenwoordig die heiligheid van ons Koning. Ek hou daarvan om die son te gebruik om die Here se heiligheid te verduidelik. Die son het ‘n sekere standaard van hitte waarmee dit skyn. Dis ‘n konstante. Net omdat ons dalk graag die son wil besoek, gaan die son nie sy standaard verlaag nie. Wanneer enige iets nader kom, gaan dit verteer word deur die hitte. Dis ook ‘n feit. Die essensie van die son is om te skyn en te verteer. Verbeel jou daar was dalk veilige hittebestande klere wat die hitte kon weerstaan. Dan sou jy slegs met daardie beskerming nader aan die son kon gaan. Elke ander poging sal ‘n verterende uiteinde tot gevolg hê.
Die Here se heiligheid werk presies dieselfde. Hy is heilig. Dis die essensie van Sy wese. Heiligheid staan nie apart van die Here nie. Dis nie ‘n kleed wat willekeuring aan en uitgetrek kan word nie. Dis ook nie ‘n knoppie wat afgeskakel kan word net omdat ‘n mens graag wil nader kom nie.
Heiligheid is wie die Here, die heilige van Israel is. En heiligheid verteer alles wat nie heilig is nie. Daarom kan die mens nie sommer maar net nader kom nie. Die mens sal verteer word deur die Here se heiligheid. Nie omdat Hy wreed is en graag mense wil laat sterf nie. Die essensie van wie Hy is, sy heiligheid, is dit wat verteer. Net soos die son enige iets verteer wat nader kom, verteer heiligheid enige iets onheiligs wat nader kom.
Lees wat sê die Here vir Moses in Eksodus 33:20:
Verder het Hy gesê: Jy kan my aangesig nie sien nie, want geen mens kan My sien en bly lewe nie.
Die heerlikheid en heiligheid van die Here sou Moses verteer het en hy sou sterf indien hy die volheid daarvan moes aanskou.
Oproep tot heiligheid
Die tema van heiligheid is sentraal in die Skrifte. Die Here het nie verander nie. Hy het sy volk opgeroep tot heiligheid onder die Ou Verbond en roep Sy Nuwe Verbondsmense op tot dieselfde vlak van heiligheid. Dis net die metode van toegang wat verskil.
So moet julle dan heilig wees, omdat Ek heilig is. (Lev 11:45)
Maar soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word, omdat daar geskrywe is: Wees heilig, want Ek is heilig. (1 Pet 1:15-16)
Onder die Ou Verbond moes die Israeliete die Torah onderhou. Onthou die Torah, oftewel die wet, is ‘n geheel. Die oomblik as een gebod verbreek is, val alles plat. Maar die volledige onderhouding van die Torah het die mens instaat gestel om heilig te wees. Dit maak sin om weer terug te verwys na ons voorbeeld van die son en die hitte bestande klere. Kom ons sê die kledingstuk is getoets en daar is geen opening of plek waar die hitte kan inkom nie. Dit verteenwoordig iemand wat elke gebod die hele tyd onderhou. Die oomblik wanneer daar ‘n klein gaatjie gemaak word, is die pak nie meer hittebestand nie. Die hitte kan in daardie stukkende plek inkom en van daardie swak plek af verteer. Dis waneer een van die gebooie oortree was. Dan is die mens nie meer heilig nie en kan nie toetree nie.
Die onmoontlikheid van die Ou Verbond se oplossing maak ons net ekstra dankbaar vir die Bloed van die Lam. Dis die enigste ander manier waarop ons kan toetree. Dis die perfekte hittebestande kledingstuk. Daarom kan ons met vrymoedigheid voor die troon van genade kom. Dis ons enigste roem – die Bloed van Jesus Christus, die Seun van God. Christene neem hierdie waarheid so ligtelik op en is amper roekeloos met hoe hulle omgaan en toetree. As dit nie was vir Jesus se Bloed en Liggaam nie, die tekens van die Nuwe Verbond, sou ons nooit kon nader kom behalwe deur die onderhouding van die volle Torah al die tyd.
Terwyl ons dan, broeders, vrymoedigheid het om in die heiligdom in te gaan deur die bloed van Jesus op die nuwe en lewende weg wat Hy vir ons ingewy het deur die voorhangsel heen, dit is sy vlees (Heb 10:19-20)
Die skoonheid van heiligheid
Daar is ‘n diep skoonheid aan die Here se heiligheid. Vir die wat in Hom bly, is dit ‘n skoonheid wat diep raak en die diepte in ons gees smag daarna. Dit begeer die heiligheid van die Heilige van Israel. Wanneer ons eers die lieflikheid van heiligheid leer waardeer het, lyk alles wat nie heilig is nie, minderwaardig. Dis dan wanneer ons uit liefde vir Hom, heiligmaking najaag soos wat die Hebreërs skrywer ons maan in hoofstuk 12 vers 14.
Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie
So twee verse terug vind ons een van die resepte vir heiligheid en dit is vermaning en dissipline. Hierdie beginsels is wat in die boek Hooglied hoofstuk 1 vers 11 bedoel word met die maak van pragtige goue en silwer juweliersware. Ons kan saam met die Heilige Gees werk en na heiligheid smag. Dan gaan die juwelemaak proses veel makliker as wanneer ons weerstaan en swaarder gereedskap ingespan moet word om elke juweel op sy plek te set.
Want húlle het ons wel ‘n kort tydjie na hulle beste wete getugtig; maar Hy tot ons beswil, sodat ons sy heiligheid kan deelagtig word. (Heb 12:10)
Heiligmaking
Heiligmaking is nodig om ons heilig te maak, presies soos die woord vir ons sê. En heiligheid is nodig sodat ons die Here kan sien. Heiligheid is nie opsioneel nie. Ons is uitverkies daarvoor; reeds voordat die wêreld se fondasies gelê was. Dis ernstig en tog is daar soveel in die kerk wat dink heiligmaking is iets ligteliks, ongemaklik en opsioneel.
soos Hy ons in Hom uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees (Ef 1:4)
Terwyl ek besig was om oor hierdie gedeelte in Hooglied te bid vir dieper openbaring: kom die volgende sin in my gees op:
“Heiligheid is die beloning van diegene wat bereid was om die mirre-behandeling deur te gaan.”
Deel van Ester se voorbereiding was ‘n ses-maande lange mirre-behandeling en daarna eers die skoonheidsmiddele en balsem. Ons vind hier ‘n patroon en volgorde. Hoor wat sê die Heilige Gees. Heiligmaking is nie ‘n straf of iets moeiliks waardeur ons nou maar moet deurgaan nie. Die eindresultaat is ‘n beloning. Die beloning is om reeds in hierdie lewe Sy lieflikheid te mag aanskou en versadig te word met Sy heiligheid.
Welgeluksalig is hy wat U uitkies en laat nader kom, dat hy kan woon in u voorhowe. Ons wil versadig word met die goeie van u huis, die heiligheid van u paleis. (Ps 65:5)
Skakels
Om na die inleiding te luister asook die Woord deur die Heilige Gees rakende hierdie reeds, kliek hier.
Die audio weergawe van hierdie boodskap is beskikbaar op ons telegram kanaal: https://t.me/+1hYU7h46Jj1hZDc8
Deel 1 – Wie is die Bruidegom (agtergrond)
Deel 2 – Wie is jou beminde?
Deel 3 – Hy is my Beminde
Deel 4 – Hy is Lig