Hy is die Yweraar

Deur Yolandie (Mei 2023)

 

Sy oë soos duiwe by waterstrome (Hgl 5:12a) 

 

Vandag se gedeelte fokus op Jesus se oë en die ywer daarin. Johannes het die voorreg gehad om vir Jesus in sy volle krag en heerlikheid te sien. Hy beskryf Jesus se oë as vuurvlamme. Hierdie vuurvlamme wys op Sy ywer. Ons kan sy ywer, passie en toegewydheid in Sy oë sien.

en sy oë soos ‘n vuurvlam (Open 1:14b)

…sal u ywer brand soos ‘n vuur? (Ps 79:5) 

 

Toegewyde duiwe oë

Kom ons staan eers stil by die Sy toegewydheid. Regdeur Jesus se lewe op aarde was Sy oë gefokus op Sy Vader. Die verwysing na Sy oë soos duiwe versterk hierdie beeld. Duiwe oë beweeg saam en fokus stip op dit waarna hulle kyk. Alles anders vervaag. Jesus het gekyk na die Vader en dan gedoen. Elke handeling wat Jesus dus op aarde gedoen het, het Hy by die Vader gesien.

Ek sê vir julle, die Seun kan niks uit Homself doen tensy Hy die Vader dit sien doen nie. Want alles wat Hy doen, dit doen die Seun ook net so. (Joh 5:19) 

Ons behoort met dieselfde toewyding ons oë gevestig te hou op Jesus Christus. Alles wat ons by Hom sien, dit is wat ons moet doen. Hy het vir ons die perfekte voorbeeld gestel. Wanneer ons lewe op hierdie manier ingerig word – luister en doen – sien en doen – sal mense Sy volheid en heerlikheid in ons sien. Dis hoe harte rondom ons gaan verander. Nie deur godsdienstigheid of baie praatjies nie. Nee, ‘n lewe van oë op Hom gevestig en doen wat ons Hom sien doen.

 

Hierdie klink baie poëties en die volgende vraag is: ‘maar hoe sien ek wat Hy doen?’. Op dieselfde manier as hoe Jesus gesien het wat Sy Vader doen. Hy het tyd saam met Sy Vader spandeer. Soms hele nagte deur alleen op die berge spandeer in gebed tot Sy Vader. Hoe meer tyd ons gaan uitkoop in Sy teenwoordigheid, hoe beter gaan ons leer sien sodat ons kan doen.

 

Sewe Geeste

Terug by Jesus se oë wat vol ywer brand. Wat was die vuur wat in Sy oë gesien kon word? Die Bybel gee vir ons die antwoord. Dit was die vuur van die Heilige Gees – die sewe Geeste wat voor die troon van God brand. Daardie selfde sewe Geeste is uitgestuur oor die hele aarde. Ons lees daarvan in Open 5:6

‘n Lam asof Hy geslag is, met sewe horings en sewe oë, wat die sewe Geeste van God is wat uitgestuur is oor die hele aarde. (Open 5:6)

Waarom word hierdie sewe Geeste uitgestuur in die konteks van oë. Ek glo ons kry die antwoord in 2 Kron 16:9.

want die HERE—sy oë deurloop die hele aarde om diegene kragtig te steun wie se hart onverdeeld op Hom gerig is

Sy oë soek nie die wat verkeerd doen om hulle te straf soos wat die ou Sondagskoolliedjie vir ons geleer het nie. Nee, Sy oë soek die harte wat onverdeeld op Hom gerig is. Hoekom soek Hy hulle? Sodat Hy hulle kragtig kan ondersteun. Is die ywer van ons God nie lofwaardig nie?

 

Skietlood

Daar is nog ‘n verwysing van die sewe oë van die Here wat die aarde deurloop. Die Here aanskou met blydskap die skietlood in Serubbábel se hand. Daar was ‘n skietlood in sy hand want hy was besig om die tempel te herbou.

Who [with reason] despises the day of small things (beginnings)? For these seven [eyes] shall rejoice when they see the plumb line in the hand of Zerubbabel. They are the eyes of the LORD which roam throughout the earth.” (Zec 4:10) 

Hierdie tempel het maar gering gelyk in die oë van die mense wat die vorige tempel gesien het. Die Here het nie so gedink nie. Hy was bly oor die proses van herbou. Dit behoort ook vir ons moed te gee. Al dink ons en die mense rondom ons dat dit wat vir die Koninkryk gedoen word klein en minderwaardig is, is die sewe oë van die Here nie gefokus op die wonderlikheid nie. Of altans dit wat die mens sien as groot en wonderlik nie. Nee, Sy sewe oë fokus op dit wat in ons hand is – die skietlood. Die instrument waarmee reguit gebou word. Geestelik is dit die instrument waarmee ons meet tussen waarheid en leuen. Hy kyk na die intensie van ons hart en hoe dit oorgaan in ywerige aksie.

 

Hy is passievol

Ons het nodig om die ywer van ons Koning te verstaan sodat ons ook in daardie selfde ywer kan optree. Daar is heelwat Skrifte wat praat van die Here se ywer. Ek wil net drie deel ter wille van spasie. Dis wie ons Koning is. Hy sit nie passief op Sy troon nie. Hy is passievol. Hy is die toegewyde Yweraar.

Die HERE sal uittrek soos ‘n held; Hy sal die ywer opwek soos ‘n krygsman; Hy sal die strydkreet aanhef, ja uitskreeu, teen sy vyande Hom as held openbaar. (Jes 42:13) 

Ons het reeds in ‘n vorige faset van wie Hy is na Jesus Christus as die Krygsman gekyk. Hier kan ons weer dieselfde faset sien. Dit wat Hy doen, doen Hy met ywer. Ons Afrikaans laat soms die woord ywer afgewater klink. In Engels beteken dit zeal. Hy is zealous. Dis die krag agter die woord ywer – zeal. Die beeld wat ons baie keer van Jesus het is ‘n stil, sagte stem. Hy is dit ook, maar hier word Hy beskryf as Een wat uitskreeu, ‘n held, ‘n krygsman vol ywer – zeal.

 

As hierdie jou skok of jou beeld van wie Hy is deurmekaar maak, wil Ek jou regtig aanmoedig om die Skrifte te gaan ondersoek. Dis wat Hom so wonderbaar en onpeilbaar maak. Ons sal nooit by Sy volle diepte uitkom nie. Hy is al hierdie fasette gelyktydig. Sag en liefdevol, terwyl Hy in ywer ‘n krygsgeskreeu aanhef. Raak lief vir elke faset van wie Hy is. Moenie net die fasette uitkies waarvan jy hou nie. Vra vir ‘n openbaring deur die Heilige Gees vir Sy volheid.

 

Nog ‘n Skrif oor Sy ywer. Hy trek ywer aan soos wat ‘n mens ‘n mantel sal aantrek.

En Hy het geregtigheid aangetrek soos ‘n pantser, en die helm van heil was op sy hoof; en die klere van wraak het Hy aangetrek as kleding en Hom gewikkel in die ywer soos in ‘n mantel. (Jes 59:17) 

Let op waarmee Hy Hom beklee het: geregtigheid, verlossing (heil), wraak en ywer. Kan jy die vier fasette in hierdie vers herken. Hy is al vier tegelyketyd.

 

Vuur van Sy ywer

Die volgende Skrif is ‘n voorspelling vir die laaste dae. Ons vind dit in Sefanja 3:8. Hy praat oor die vuur van Sy ywer. Die vuur van Sy passie. Dieselfde vuur wat nou in die vorm van sewe oë die aarde deursoek vir onverdeelte harte en skietlood, gaan ook die vuur van oordeel op die aarde laat losbreek. Ons het nodig om bewondering te kry vir wie Hy is.

Therefore, wait for me,” says Adonai, “for the day when I rise to witness against you, when I decide to assemble nations, to gather kingdoms together, to pour on them my indignation, all my furious anger; for all the earth will be consumed in the fire of my passion. (Zep 3:8 CJB) 

 

Ons ywer in Sy ywer

Noudat ons na die vuur van Sy ywer gekyk het, gaan ons sien hoe ons in Sy ywer moet ywer. Daardie selfde sewe geeste voor die troon van God – die volheid van die Heilige Gees woon binne ons. Dit kan nie anders dat ons passievol moet wees oor die dinge waaroor ons God passievol is nie. As ons nie passievol ywer nie, is daar fout.

Pínehas, die kleinseun van Aäron, het vir ons ‘n baie mooi voorbeeld gestel. Jy kan self die hele verhaal gaan lees in Numéri 25. Ek wil net jou aandag op vers 11 vestig. Hierdie jong priester het ingetree vir die volk op ‘n radikale wyse. Die Here was gereed om Sy oordeel uit te stort. Hoor hoe stel die Here dit wat daar gebeur het: Hy sê dat Pínehas Sy ywer onder die volk geywer het. Met ander woorde, Pínehas het se ywer was nie sy eie nie, dit was God se ywer. Die resultaat hiervan: YHVH het met Pínehas ‘n vredeverbond gesluit.

Pínehas, die seun van Eleásar, die seun van die priester Aäron, het my grimmigheid van die kinders van Israel afgewend deurdat hy my ywer onder hulle geywer het, sodat Ek die kinders van Israel in my ywer nie verteer het nie. Daarom spreek: Kyk, Ek sluit met hom my vredeverbond (Num 25:11-12) 

 

Ywer sonder kennis

Ons het ook nodig om na die vleeslike en menslike aspek van ywer te kyk. Wanneer ons nie die regte beeld van die Here het nie, ywer ons dalk, maar ons ywer in vlees en uit ons eie krag. Dis altyd belangrik om die volgorde reg te kry: eers ‘n besef van wie Hy is. Die volheid van wie Hy is. Daarom is dit so belangrik om ‘n openbaring deur die Heilige Gees te kry.

Selfs ywer is sonder kennis nie goed nie (Spr 19:2) 

 

Hoe lyk dit wanneer ons ywer sonder ‘n openbaring van Jesus Christus as die Yweraar? Dan eindig ons in ‘n liefdelose godsdienstige onderhouding van reëls en regulasies op.

Die Galasiërs het in hierdie strik getrap. Hulle het geywer, maar dit was nie goeie ywer nie, want hulle het gehoorsaamheid aan die Here se gebooie verkeerd verstaan. Hulle het gedink dat dit geregtigheid sal bewerkstellig. Verkeerde volgorde. Eers moet ons radikale liefde vir Hom wees en dan sal Hy deur ons ywer om gehoorsaam te wees aan Sy instruksies.

Paulus skryf dat die Jode presies dieselfde ywer gehad het. Hulle het nie kennis van die Allerhoogste gehad nie. Tog het hulle vreeslik baie ywer gehad. Waartoe het hulle ywer gelei – tot die uitwerk van hulle eie geregtigheid.

Want ek getuig van hulle dat hulle ‘n ywer vir God het, maar sonder kennis. Want omdat hulle die geregtigheid van God nie ken nie en hulle eie geregtigheid probeer oprig, het hulle hul aan die geregtigheid van God nie onderwerp nie. (Rom 10:2-3) 

 

Dit blyk dat ywer sonder openbaringskennis van die Koning altyd lei tot godsdienstigheid. Waar jy lyste en lyste reëls en regulasies aantref, kan jy maar weet dat dit ywer sonder eerstehandse kennis is.

 

Traag in ywer

Ons word ook gewaarsku oor die teendeel. Om nie traag in ywer te wees nie. As ons Jesus werklik ken as die Yweraar, sal ons nie anders kan as om in Sy ywer te ywer nie.

wees nie traag in die ywer nie; wees vurig van gees; dien die Here (Rom 12:11) 

Die King James vertaling gebruik ‘n baie beskrywende woord vir traag: “slothful”. Ons almal ken daardie stadige, lui diere wat in Suid Amerika voorkom. Mag ons nie so lyk in ons toegewydheid, passie en ywer vir ons Koning nie. As ons so traag, stadig en lui is, moet ons werklik gaan selfondersoek doen saam met die Heilige Gees.

 

Kom ons vra die Heilige Gees om weer die passie in ons aan die brand te steek. Kyk in die oë van Jesus Christus en laat toe dat die vuur in Sy oë jou aansteek. Laat toe dat die vuur van YHVH in jou ywer om te ywer.

 

Skakels

Om na die inleiding te luister asook die Woord deur die Heilige Gees rakende hierdie reeds, kliek hier.

Die audio weergawe van hierdie boodskap is beskikbaar op ons telegram kanaal: https://t.me/+1hYU7h46Jj1hZDc8

Deel 1 – Wie is die Bruidegom (agtergrond)

Deel 2 – Wie is jou beminde?

Deel 3 – Hy is my Beminde

Deel 4 – Hy is Lig

Deel 5 – Hy is Heilig

Deel 6 – Hy is die Krygsman en Wreker

Deel 7 – Hy is die Oorwinnaar

Deel 8 – Hy is die Hoof

Deel 9 – Hy is die Afgesonderde

Deel 10 – Hy is Onveranderlik

css.php