Deur Yolandie Mostert (Julie 2023)
Sy bene rus op voetstukke van fyn goud (Hgl 5:15b)
Die vorige faset het gedeel met die standvastige sekerheid wat deur bene en heupe voorgestel word. Die ewige troon van Jesus Christus rus op voetstukke van fyn goud. Hierdie voetstukke is ‘n simbool vir die waarheid. Die woord waarheid kom 170 keer in die Bybel voor. Ek wens daar was meer tyd en spasie om in diepte oor die waarheid te kon praat. Toe ek die eerste keer ‘n studie gedoen het van die waarheid, wat dit alles behels en wat ons reaksie daarop moet wees, was ek regtig verstom.
Die Hebreeuse woord vir waarheid is ’emeth en beteken volgens die Strongs woordeboek: firmness, faithfulness, sureness, stability, truth.
Ons Koning se voetstukke is nie net waarheid nie. Hy is die waarheid self. Dis wie Hy is.
Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe (Joh 14:6)
So as ons moet prakties raak, hoe sal ons die waarheid beskryf. In die mees eenvoudigste vorm is dit dit wat ons glo en wat ons uitleef. Maar dis ook meer as dit. Dit gee sekerheid en stabiliteit. Net soos wat stewige voetstukke nodig is vir ‘n beeld om nie om te val nie, net so vorm waarheid ‘n voetstuk vir ons hele lewe.
Indien ons gevra sou word: ‘hoe aanbid mens die Here?’, sou ons ‘n hele klomp antwoorde kon gee. Baie van hulle sou dalk maniere en teologiese begrippe insluit. Jesus gee vir ons ‘n baie kort antwoord. Hoe moet die Vader aanbid word? In gees en in waarheid.
God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid. (Joh 4:24)
Ons moet deur die gees lewe en deur die Gees van God beheer word. Dit behels die wet van die gees van die lewe. Ek sal in ‘n latere boodskap meer hierop ingaan. Vir nou is die fokus die waarheid. Jesus is die waarheid, so ja, Hy is die enigste weg tot die Vader. Maar dis nie net iets wat ons weet of wat mooi klink nie. Die feit dat Jesus die waarheid self is, roep ons op tot ‘n lewenswyse van waarheid. Die waarheid is so belangrik in die Koninkryk van die hemele dat die Gees van die Here ook die Gees van waarheid genoem word. Jy kan dit gaan lees in Johannes hoofstuk 14, 15 en 16.
Net soos wat Jesus die waarheid is, word ons as die gemeente ook ‘n grondslag van die waarheid genoem.
… die gemeente van die lewende God, ‘n pilaar en grondslag van die waarheid. (1 Tim 3:15)
Alles wat ons glo en uitleef vorm die voetstukke van ons lewe. Waar Jesus se voetstukke suiwer goud is, met ander woorde, skoon en suiwer waarheid sonder ‘n tikkie leuen of misleiding, het ons voetstukke besmet geraak. Oor eeue heen het daar leuens en dwalinge ingesluip in ons manier van glo en lewe. Die enigste manier om hiervan ontslae te raak is om dit leuen vir leuen met waarheid te vervang. Indien ons Jesus as die Waarheid liefhê, sal ons nie anders kan as om die waarheid lief te hê en te soek nie. Ongeag hoe moeilik dit soms is om te erken dat ons voetstukke nie so suiwer goud is as wat ons dalk graag sou wou glo nie.
In Sagaria 8:19 kry ons die opdrag om die waarheid lief te hê en in Jeremia 5:1 vra die Here of darem ten minste een mens is wat die waarheid soek.
Ek het eendag ‘n baie treffende verduideliking gehoor van die waarheid. Indien ons in die straat afstap en die waarheid kom na ons toe aangestap. Wat is ons reaksie? Hardloop ons na die waarheid toe en verwelkom hom in ons lewe of stoot ons hom weg? Ons almal wil graag sê dat ons die waarheid verwelkom, maar dis nie die waarheid nie. Hoeveel keer kom ons in aanraking met geestelike openbaring, kennis en inligting oor waar ons of ons voorgeslagte dalk in afgodery of verkeerde dinge beland het. Ek hoor so baie mense vra: ‘maar is dit dan nou ook sonde?’. Was dit dalk die waarheid wat ons teëgekom het en ons het hom van ons af weggestoot omdat dit ons ongemaklik laat voel het of omdat dit verandering in ons lewe vra waarvoor ons nie kans sien nie.
Wat behoort ons reaksie te wees wanneer ons gekonfronteer word met nuwe kennis of inligting? Ek sê verseker nie dat ons alles moet opeet vir soetkoekies nie. Ek glo is wyse benadering is om die waarheid in jou hand te neem en van al die kante af te bekyk. Gaan doen jou eie navorsing. Moenie net glo wat mense vir jou leer nie. Vind self uit. Lees die Bybel in konteks, nie net versie hier en versie daar nie. Gaan lees die geskiedenis en agtergrond van dinge op. Moenie ‘n eensydige ondersoek loots nie, ondersoek beide kante van die saak. Neem dit na die Here toe. Bid vir insig en bid ook vir ‘n gewillige hart. Indien dit wat oor jou pad gekom het, bevestig word as die waarheid, moet jy dit liefkry. Maak nie saak hoe moeilik nie. In die geval waar dit vals inligting, dwaaleer en buite konteks skrif aanhalings is, moet jy dit verwerp as die leuen.
Ons maak dinge so gekompliseerd. Daar is slegs twee koninkryke: die koninkryk van lig en die koninkryk van duisternis. Niks tussen in nie. Waarheid behoort aan die koninkryk van lig en leuens aan die koninkryk van duisternis. Alles tussen die suiwer waarheid en die leuen, is leuens in afgewaterde vorm. Besluit: is hierdie die volle suiwer waarheid of is dit ‘n mengel van bietjie waarheid en baie leuen. Dan is dit leuen. Dan behoort dit nie aan ons Koning Jesus nie; Hy is die volle waarheid en daar is geen mengsel in die suiwer goue voetstukke nie.
Wat gebeur wanneer ons nie die waarheid as waarheid aanneem en leer liefkry nie? Ons vind daardie antwoord in 2 Thess 2 en dis ‘n gevaarlike antwoord wat ons met respek en ‘n heilige vrees vir die waarheid behoort te vul. Indien die waarheid keer op keer na ons toe aangestap kom en ons hom elke keer verwerp, met ander woorde van ons af wegstoot, dan loop ons die risiko dat die Vader die krag van die dwaling na ons toe gaan stuur sodat ons die leuen glo. Dis ‘n bitter gevaarlike plek. Dit gaan beteken dat jy afkyk na jou voetstukke en goud sien en glo dis goud terwyl dit eintlik ‘n ander kleur byvoorbeeld grys is. Wat hierdie plek so gevaarlik maak is dat iemand anders die grys sien en dit uitwys, maar die dwaling het ‘n sluier veroorsaak wat dit onmoontlik maak om die leuen raak te sien. So ‘n persoon sal sy kop op ‘n blok sit dat dit wat hy of sy glo die waarheid is en sal dit selfs ernstig verdedig en bestry.
… omdat hulle die liefde tot die waarheid nie aangeneem het om gered te word nie. En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo. (2 Thess 2:10-11)
Is dit ‘n situasie was herstel kan word? Ek glo so, maar dit gaan diep introspeksie kos. Wanneer ons in desperaatheid uitroep vir redding, sal die Here ons hoor. Maar desperaatheid is nodig. So lank as wat ons nog wil redeneer, is ons nie desperaat nie. Dit sal ook ons elkeen betaam om gedurig in nederigheid vir die Heilige Gees te vra om vir ons die leuen in ons lewens uit te wys. Laat ons ‘n lewenswyse hê van leuen met waarheid vervang.
Wat is die teenoorgestelde van die waarheid? Ons sal dadelik antwoord: die leuen. Dis waar, maar die Bybel gaan dieper. Net soos wat daar twee koninkryke is: Lig en Waarheid teenoor duisternis en leuen, net so maak die vyand ook die Gees van Waarheid na. Die Bybel noem hierdie vals gees, die gees van dwaling.
Ons is uit God; hy wat God ken, luister na ons; hy wat nie uit God is nie, luister nie na ons nie. Hieruit ken ons die Gees van die waarheid en die gees van die dwaling. (1 Joh 4:6)
Indien die leuen in sy blatante vorm na ons toe aangestap sal kom, sal dit baie maklik wees om om te herken en te verwerp. Maar nou kom hy in ‘n verbloemde vorm: dwalings. Een klein dwaaleer en een klein halwe waarheid op ‘n slag. Dink nou oor eeue heen hoeveel van hierdie klein dwalinge is al opmekaar gestapel. Ek glo dit sou vir ons net te erg gewees het indien die Here vir ons al die leuens wat ons leef en glo op een slag moes wys. Deur Sy genade wys Hy voordurend hierdie leuens een vir een uit sodat ons die verandering in ons lewens kan implementeer. Indien ons dan na ‘n hele klompie jare van skoonmaak en regmaak terugkyk, lyk dit hoe ons was en geglo het ligjare verwyder van waar ons nou is. Dis hoe dit behoort te wees. Maar dit gaan slegs gebeur indien ons die waarheid omhels en leer liefkry. Soms is dit moeilik om afstand te doen van dinge wat in ons kultuur ingeweef geraak het. Mense rondom ons gaan kwaad raak en ons kritiseer.
Is ons liefde vir die Waarheid, Jesus Christus, Homself, genoeg sodat ons bereid sal wees om ons voetstuk te laat lyk soos Syne – suiwer goud, sonder ‘n greintjie onwaarheid.
Voordat ek hierdie boodskap afsluit, wil ek regtig ‘n ernstige waarskuwing rig. Waarheid en leuen is nie sommer iets om net ligtelik op te neem nie – dit het ewigheidsbestemming implikasies. Geen vorm van leuen gaan toegelaat word in die Nuwe Jerusalem nie. Hierdie stad behoort aan die koninkryk van die Lam van God, wat die lamp van die stad is. Hy is die Waarheid en gaan geen toegang verleen aan enige een van leuens doen nie. Hoor die werkwoord: doen. Om leuens te kan doen moes ons eers die leuen glo.
En daarin sal nie inkom iets wat verontreinig en gruwelikheid en leuens doen nie; maar net die wat geskrywe is in die boek van die lewe van die Lam. (Open 21:27)
In hierdie vers word diegene wie se name in die boek van die lewe van die Lam geskryf is direk teenoor die wat leuens doen geplaas. Ons het werklikwaar nodig om met erns van elke leuen en dwaling in ons lewens ontslae te raak. Daar is nie meer tyd vir speel, redeneer en wag en kyk nie.
Ek eindig hierdie boodskap met ‘n lofprysing aan die Bruidegom.
Gord u swaard aan die heup, o held, u majesteit en u heerlikheid; ja, u heerlikheid! Ry voorspoedig ter wille van waarheid en ootmoed en geregtigheid (Ps 45:4-5a)
Here Jesus, die Waarheid wat ons liefhet: ry voorspoeding ter wille van waarheid! Gord u swaard en delg elke vorm van onwaarheid uit ons lewens uit.
Skakels
Om na die inleiding te luister asook die Woord deur die Heilige Gees rakende hierdie reeds, kliek hier.
Die audio weergawe van hierdie boodskap is beskikbaar op ons telegram kanaal: https://t.me/+1hYU7h46Jj1hZDc8
Deel 1 – Wie is die Bruidegom (agtergrond)
Deel 2 – Wie is jou beminde?
Deel 3 – Hy is my Beminde
Deel 4 – Hy is Lig
Deel 5 – Hy is Heilig
Deel 6 – Hy is die Krygsman en Wreker
Deel 7 – Hy is die Oorwinnaar
Deel 8 – Hy is die Hoof
Deel 9 – Hy is die Afgesonderde
Deel 10 – Hy is Onveranderlik
Deel 11 – Hy is die Yweraar
Deel 12 – Hy is die Regter
Deel 13 – Hy is Liefde
Deel 14 – Hy is die Onpeilbare
Deel 15 – Hy is die Hoëpriester
Deel 16 – Hy is die Skepper
Deel 17 – Hy is die Lam van God
Deel 18 – Hy is die Seun van YHVH
Deel 19 – Hy is die Ewige