Deur Yolandie Mostert (Julie 2023)
Sy gestalte is soos die Líbanon, uitgesoek soos die seders (Hgl 5:15c)
Líbanon is ‘n boomryke bergreeks aan die noordelike grens van Israel. Die woord Líbanon beteken ‘whiteness’ wat natuurlik na die spierwit sneeubedekte pieke verwys.
Wanneer die Skrif na iets as wit verwys, dui dit op die gebrek aan sonde en na reinheid. Dink byvoorbeeld aan Jesaja 1:18.
Kom nou en laat ons die saak uitmaak, sê die HERE: al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol.
En Openbaring 3:4
Maar jy het enkele persone ook in Sardis wat hulle klere nie besoedel het nie, en hulle sal saam met My in wit klere wandel, omdat hulle dit waardig is.
In die faset van Jesus Christus as die Lam van God het ek reeds die gebeurtenis in die troonkamer bespreek. Ek wil graag weer daarna verwys. Ons sal nooit genoeg van daardie wonderlike hoofstuk in Openbaring kan kry nie.
Johannes ween omdat daar niemand is wat die boekrol wat verseël is met sewe seëls kan oopmaak nie. Een van die ouderlinge sê vir hom dat hy nie hoef te ween nie. Die Leeu uit die stam van Juda is waardig. Johannes kyk toe en in die middel van die see van glas, waar hy ‘n leeu verwag het, staan ‘n lam asof hy geslag is.
Ek wil graag die hele hoofstuk 5 vir ons lees.
En ek het in die regterhand van Hom wat op die troon sit, ‘n boek gesien, van binne en van buite beskrywe en met sewe seëls goed verseël. En ek het ‘n sterk engel gesien wat met ‘n groot stem uitroep: Wie is waardig om die boek oop te maak en sy seëls te breek? En niemand in die hemel of op die aarde of onder die aarde kon die boek oopmaak of daarin kyk nie. En ek het baie geween, omdat daar niemand waardig bevind is om die boek oop te maak en te lees of daarin te kyk nie. (Open 5:1-4)
Hierdie boekrol was baie belangrik. Johannes moes die implikasie van die boekrol verstaan het, anders sou hy nie geween het nie. Hy was nie sommer maar net nuuskierig nie. Wat uitstaan hier is dat slegs ‘n waardige persoon die boekrol kon oopmaak om te lees wat daarin geskryf staan. Daar is gesoek, maar niemand in die heelal, bo, op en onder die aarde, was waardig gevind nie. Die Bybel sê nie vir ons wat die vereistes is om waardig verklaar te kon word nie. Die volgende vers gee vir ons ‘n idee – die waardige een moes oorwinning oor iets behaal het.
Toe sê een van die ouderlinge vir my: Moenie ween nie; kyk, die Leeu wat uit die stam van Juda is, die wortel van Dawid, het oorwin om die boek oop te maak en sy sewe seëls te breek. En ek het gesien, en kyk, in die middel van die troon en die vier lewende wesens en in die midde van die ouderlinge staan daar ‘n Lam asof Hy geslag is, met sewe horings en sewe oë, wat die sewe Geeste van God is wat uitgestuur is oor die hele aarde. (Open 5:5-6)
Die verwysing na die geslagsregister van Jesus as die wortel van Dawid is nogal opvallend. Daar word bevestig dat die een wat waardig verklaar word, dieselfde een is as waarvan die profete geskryf het.
Maar daar sal ‘n takkie uitspruit uit die stomp van Isai, en ‘n loot uit sy wortels sal vrugte dra; en op Hom sal die Gees van die HERE rus (Jes 11:1-2a)
Die verwysing na die Leeu van Juda neem ons so ver terug in profesie as Genesis.
Juda is ‘n jong leeu … Die septer sal van Juda nie wyk nie (Gen 49:9a en 10a)
Daar is geen twyfel dat hierdie die een is van wie daar gespreek was nie. Nadat dit bevestig is, kom die verwysing na die Lam. In ons gedagtes is ‘n leeu ‘n verskeurende dier en pas baie beter by die uitvoering van eindtyd oordele as ‘n lam. Ons sien ‘n lammetjie as ‘n sagte en amper brose dier. Maar die beeld van die lam word eerder regdeur Openbaring gebruik as die leeu. Let weer op na die verskillende fasette van ons Koning. Terwyl Hy die Leeu is, is Hy gelyktydig die Lam.
Hy het gekom en die boek geneem uit die regterhand van Hom wat op die troon sit; en toe Hy die boek neem, val die vier lewende wesens en die vier en twintig ouderlinge voor die Lam neer, elkeen met siters en goue skale vol reukwerk, wat die gebede van die heiliges is. (Open 5:7-8)
Die res van die hoofstuk beskryf die ongelooflike lofprysing en aanbidding omdat die Lam die boek geneem het uit die hand van die Vader. Hy was waardig om dit te kon doen en Hy het in daardie waardigheid opgetree.
Toe sing hulle ‘n nuwe lied en sê: U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie, en het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers. (Open 5:9-10)
Hierdie gebeurtenis was so belangrik dat ‘n nuwe lied gepas was. Die lied verklaar vir ons die rede waarom die Lam waardig gevind was. Die Lam van God het met Sy kosbare Bloed betaal vir die koop van mense wat in slawerny aan die koninkryk van duisternis behoort het. As gevolg van hierdie duur prys, kon mense oorgebring word van duisternis tot in die lig. Uit hierdie groep mense, is daar diegene wat totaal en al uitverkoop is om die Lam te volg. Dis hulle wat gemaak gaan word konings en priesters om op aarde te heers tydens die duisend jaar van vrede en ook daarna.
Die lofprysing het ook nie opgehou met net hierdie nuwe lied nie. ‘n Ontelbare hoeveelheid engele het nou ook saam gesing. Dis moes ‘n oorverdowende lofprysing gewees het. Hulle het almal met ‘n harde stem lof gebring. Hierdie behoort ook vir ons ‘n voorbeeld te wees. Dis gepas om op die top van ons stemme lof te bring. Wanneer ons so ewe bedees fluister, moet ons onsself afvra of ons regtig verstaan hoe groot die oorwinning is wat behaal was en hoe groot die prys is wat vir ons betaal is. Hoe groter ons besef daarvan, hoe luider en meer vol dankbaarheid sal ons lofprysings weerklink.
Toe sien ek, en ek hoor ‘n stem van baie engele rondom die troon en van die lewende wesens en die ouderlinge; en hulle getal was tien duisende van tien duisende en duisende van duisende; en met ‘n groot stem het hulle gesê: Die Lam wat geslag is, is waardig om te ontvang die krag en rykdom en wysheid en sterkte en eer en heerlikheid en lof. En elke skepsel wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde en wat op die see is, en alles wat in hulle is, het ek hoor sê: Aan Hom wat op die troon sit, en aan die Lam kom toe die lof en die eer en die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid! En die vier lewende wesens het gesê: Amen! En die vier en twintig ouderlinge het neergeval en Hom aanbid wat lewe tot in alle ewigheid. (Open 5:11-14)
Indien ons nie weet wat om te sê tydens lofprysing nie, kan ons gerus hierdie vers as ‘n voorbeeld gebruik. Dis die hoogste lof en grootste eerbetoning. In hierdie lofprysing word daar erkenning gegee vir die offer van die Lam en dit wat daardeur bereik is. Daarom mag Hy krag, rykdom, wysheid, sterkte, eer, heerlikheid en lof ontvang.
So wat is geskryf in die boekrol? Dit wat ek nou gaan verduidelik gaan dalk vir baie mense as ‘n skok kom omdat hulle nog nie al die verskillende fasette van die karakter van ons Koning leer liefkry het nie. Hy is nie net Liewe Jesus van die Kinderbybel met die skapies en kinders op Sy skoot nie. Ja, Hy is liefde, maar Hy is soveel meer. En in Openbaring is Hy die Lam van God wat die eindtyd gebeure en oordele aktiveer.
Wanneer die eerste seël gebreek word, begin die eerste perd ry: die gees van die antichris. Die tweede seël aktiveer die tweede perd: oorlog. Daarna volg hongersnood en dood. Let wel, hierdie is nog nie oordele nie. Dis nog waarskuwings sodat die mense hulle tot God kan bekeer.
Die feit dat Jesus as die Lam van God die seëls begin breek, aktiveer dit die eindtyd gebeure. Hierdie gebeure bou op. Eers die seëls en daarna die basuine. Hierdie is nog alles waarskuwings. Daarna volg die bakke van wraak wat die oordele van die Vader is wat oor ‘n goddelose wêreld uitgegiet word. As Jesus nie die eerste seël oopgemaak het nie, sou niks van die geprofeteerde eindtyd gebeure kon begin plaasvind nie.
Dis moeilik vir mense om Jesus in hierdie konteks te sien. Indien dit vir jou moeilik is om te verstaan hoe Hy as liefde die een kan wees wat die eindtyd gebeure aktiveer, bid vir groter openbaring, bewondering, maar ook vir Godsvrees vir Hom. Dis wie Hy is. Ons kan nie net sekere fasette kies waarmee ons gemaklik voel nie.
Hoe groter ons aanbidding vir wie Hy is, hoe meer gaan Jesus as die Waardige jou met ontsag vul. Toe Hy die eerste keer aarde toe gekom het was dit as die Lam wat geoffer moes word. Wanneer Hy terugkom is Hy die Lam wat waarsku en daarna diegene oordeel wat Sy Bloed as niks vertrap het nie.
Die Lam van God is magtig en kragtig. Hy is waardig!
Skakels
Om na die inleiding te luister asook die Woord deur die Heilige Gees rakende hierdie reeds, kliek hier.
Die audio weergawe van hierdie boodskap is beskikbaar op ons telegram kanaal: https://t.me/+1hYU7h46Jj1hZDc8
Deel 1 – Wie is die Bruidegom (agtergrond)
Deel 2 – Wie is jou beminde?
Deel 3 – Hy is my Beminde
Deel 4 – Hy is Lig
Deel 5 – Hy is Heilig
Deel 6 – Hy is die Krygsman en Wreker
Deel 7 – Hy is die Oorwinnaar
Deel 8 – Hy is die Hoof
Deel 9 – Hy is die Afgesonderde
Deel 10 – Hy is Onveranderlik
Deel 11 – Hy is die Yweraar
Deel 12 – Hy is die Regter
Deel 13 – Hy is Liefde
Deel 14 – Hy is die Onpeilbare
Deel 15 – Hy is die Hoëpriester
Deel 16 – Hy is die Skepper
Deel 17 – Hy is die Lam van God
Deel 18 – Hy is die Seun van YHVH
Deel 19 – Hy is die Ewige
Deel 20 – Hy is die Waarheid