Hy is die Seun van YHVH

Deur Yolandie Mostert (Julie 2023)

 

Sy liggaam is bedek met saffierstene (Hgl 5:14c) 

 

In die vorige faset het die ivoorliggaam van Jesus die aflegging van Sy lewe verteenwoordig. Dis nodig om daardie konteks in jou gedagtes te hou wanneer ons na die volgende simboliek kyk. In hierdie gedeelte van vers 14 word Sy liggaam beskryf as bedek met saffierstene.

 

Die eerste verwysing in die Bybel na saffier vind ons in Eksodus 24:10. Dit was toe die sewentig oudstes saam met Moses, Aäron, Nadab en Abíhu teen die berg opgeklim het. Ons lees dat hulle die voorreg gehad het om die God van Israel te kon sien. Daar word die vloerwerk onder YHVH se voete beskryf as helder saffierstene.

Wanneer ons praat van iets wat onder ons voete is, dui dit op oorwinning oor daardie iets en ook die onderwerping daarvan. Dis ‘n posisie van gesag, oorwinning en outoriteit as jou vyande byvoorbeeld onder jou voete gestel word.

 

Twee van die vorige fasette van die karakter van Jesus Christus was dat Hy die Oorwinnaar en die Hoof is. Hierdie faset van Jesus as die Seun, sluit ook by daardie twee aan. Wat maak Jesus met die oorwinning wat Hy behaal? Hy hou dit nie vir Homself nie, maar onderwerp dit aan die Vader.

Want Hy moet as koning heers totdat Hy al sy vyande onder sy voete gestel het. Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood. Want Hy het alles aan sy voete onderwerp, maar wanneer Hy sê dat alles onderwerp is, is dit duidelik dat Hy uitgesonder is wat alles aan Hom onderwerp het. En wanneer alles aan Hom onderwerp is, dan sal ook die Seun self Hom onderwerp aan die Een wat alles aan Hom onderwerp het, sodat God alles in almal kan wees. (1 Kor 15:25-28)

Wanneer die laaste vyand, die dood, aan die einde van die duisend jaar van vrede in die poel van vuur gegooi gaan word (Open 20:14), het Jesus sy laaste vyand vernietig. Al Sy vyande is dan finaal geonderwerp. Daarna plaas Jesus Homself op die saffiervloerwerk as die Seun van God en onderwerp Homself aan die Vader. Hy offer dus Sy oorwinning aan die Vader in nederige onderwerping.

 

Ons kan so baie leer by hierdie mooi faset van die karakter van ons Hemelse Bruidegom. Al is Hy die Seun van God, was en is Sy fokus en hoofdoel die wil van die Vader. Toe Hy op aarde was, het Hy altyd eer verwys na die Vader toe. En dis steeds net so. Hy het nooit Sy eie eer gesoek nie, maar altyd die eer van die Vader.

Toe het Ek gesê: Kyk, Ek kom—in die boekrol is dit van My geskrywe— om u wil te doen, o God. (Heb 10:7)

 

Paulus bespreek hierdie beginsel van onderwerping in nederigheid in Fillipense 2. Nadat hy Jesus vir ons as ‘n voorbeeld voorgehou het, skryf hy die volgende:

Want hierdie gesindheid moet in julle wees wat ook in Christus Jesus was. (Fil 2:5) 

Net soos wat Jesus Homself in alles, ook Sy oorwinning, aan die Vader onderwerp het, so moet ons dieselfde doen. Ons is so geneig om ons plan, wil en eer te soek. Dit hoort nie so nie. Jesus het nie ‘n greintjie hoogmoed in Hom nie. Hoogmoed en onderwerping sit nie om dieselfde vuur nie. Dit gaan baie moeilik vir ons wees om ons wil geheel en al neer te lê op die pragtige saffiervloerwerk by die Vader se voete as ons nog nie bevryding van ons trotse natuur gekry het nie. Elke keer wanneer ons onder die leiding en gesag van die Heilige Gees buig, dit wat Hy vir ons uitwys bely en ‘n omkeer in ons lewens implementeer, onderwerp ons onsself aan die Vader en volg ons die voorbeeld wat Jesus vir ons gestel het.

 

Die volgende Skrif in Jakobus is baie gewild: ‘weerstaan die duiwel, en hy sal van jou wegvlug’. Maar dis half aangehaal. Die vers begin met: ‘onderwerp julle aan God’. Ons kan einlik nog een vers terug lees:

Maar Hy gee groter genade; daarom sê Hy: God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade. Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug. (Jak 4:6-7) 

Konteks is regtig belangrik wanneer ons die Skrifte bestudeer. Ons kan nie net versie hier en versie daar aanhaal as ‘n geheime wapen nie. Daar is altyd ‘n ‘as’. Ons het ‘n deel om te doen sodat ‘n belofte op ons van toepassing kan wees. Die vyand gaan nie van ons wegvlug net omdat ons hom weerstaan nie. Mense gebruik ook baie keer ‘In die Naam van Jesus’ soos ‘n towerformule. Dis nie hoe dit werk nie. Ons het eerstens nodig om ons te onderwerp aan God. Dit beteken om stuk vir stuk ons wil, begeertes, sondige natuur en vleeslikheid neer te lê. Gehoorsaamheid skuif ons in ‘n posisie van outoriteit. Dan kan ons met vrymoedigheid die vyand weerstaan en die belofte dat hy van ons sal wegvlug kan in vervulling kom. Wanneer ons in doelbewuste ongehoorsaamheid is, kan ons weerstaan tot ons blou is en die vyand gaan vir ons lag. Dis ongelukkig die realiteit.

 

Dis geen toeval dat die vorige vers die kontras uitwys tussen hoogmoed en nederigheid nie. Hoogmoed kan homself nooit onderwerp nie. Hoogmoed sal vra: ‘is dit dan nou ook verkeerd?’ of ‘hoekom moet my vlees sterf?’. Hoogmoed wil gedurig redeneer en homself regverdig met ‘so gemaak, so gelaat staan’. Nederigheid vra: ‘Here, watter gedeeltes van my is nog nie ten volle oorgegee aan U nie?’ en bid ‘help my sodat ek my alles by U voete kan neerlê en niks van myself terughou nie’.

 

Die Seun van YHVH se liggaam is bedek met saffierstene. In gehoorsaamheid het Hy Homself onderwerp aan Sy Vader se wil; gehoorsaamheid tot die dood. Kom ons volg Sy voorbeeld en lê deur gehoorsaamheid aan die Heilige Gees se leiding ook daagliks ons vleeslike natuur neer.

 

Hoe mooi sal dit wees wanneer daar eendag van die bruid van Jesus ook gesê kan word dat haar liggaam met saffierstene bedek is. Dat sy nie haar lewe liefgehad het tot die dood nie. Sy het haar kruis opgeneem en gewillig na die offerplek gestap waar haar vleeslike natuur kon sterf.

Hoor, o dogter, en kyk en neig u oor, en vergeet u volk en die huis van u vader; en as die Koning u skoonheid begeer—want Hy is u Heer—buig u dan voor Hom neer. (Ps 45:11-12) 

 

Skakels

Om na die inleiding te luister asook die Woord deur die Heilige Gees rakende hierdie reeds, kliek hier.

Die audio weergawe van hierdie boodskap is beskikbaar op ons telegram kanaal: https://t.me/+1hYU7h46Jj1hZDc8

Deel 1 – Wie is die Bruidegom (agtergrond)

Deel 2 – Wie is jou beminde?

Deel 3 – Hy is my Beminde

Deel 4 – Hy is Lig

Deel 5 – Hy is Heilig

Deel 6 – Hy is die Krygsman en Wreker

Deel 7 – Hy is die Oorwinnaar

Deel 8 – Hy is die Hoof

Deel 9 – Hy is die Afgesonderde

Deel 10 – Hy is Onveranderlik

Deel 11 – Hy is die Yweraar

Deel 12 – Hy is die Regter

Deel 13 – Hy is Liefde

Deel 14 – Hy is die Onpeilbare

Deel 15 – Hy is die Hoëpriester

Deel 16 – Hy is die Skepper

Deel 17 – Hy is die Lam van God

css.php