Hy is die Regter

Deur Yolandie Mostert (Mei 2023)

 

Sy oë … in melk gewas, sittend by ‘n volle bron. (Hgl 5:12b) 

 

Ons is steeds besig met vers 12 waar die Bruidegom se oë beskryf word. In die vorige deel kon ons die vuur van Sy ywer in Sy oë sien brand met passie en toegewydheid. Oë wat stip op die Vader gerig was terwyl Hy op aarde was. Die vuur in Sy oë is die sewe Geeste wat voor van die troon van die Vader brand.

 

Melk en heuning & Oordeel

Vandag se boodskap deel met ‘n ander faset van Sy oë. Die verwysing na: ‘in melk gewas’ stuur ons in die regte rigting. Ons lees ‘n baie interessante vers in Jesaja 7. Die profeet Jesaja spreek van die geboorte van die Messias wat Immánuel genoem word.

Dikmelk en heuning sal hy eet as hy weet om te verwerp wat kwaad is en om te kies wat goed is. (Jes 7:15)

In hierdie vers kan ons die direkte verband sien tussen die oordeel tussen goed en kwaad en melk en heuning. Dit bring ons tot by die faset van Jesus Christus as die Regter wat regverdig oordeel tussen goed en kwaad en tussen die regverdiges en die goddelose.

 

Yâshab

Die volgende gedeelte van die vers: ‘sittend by die volle bron’ klink effens vreemd in Afrikaans. Ek gaan dit lees uit die New King James vertaling: ‘fitly set’. In die natuurlike sou ‘n mens kon sê Sy oë lyk asof ‘n juwelier dit versigtig op die regte plekke geplaas het met ‘n fyn gereedskap. Dis presies, netjies en volmaak neergesit op ‘n permanente plek en dit gaan daar bly. Die Hebreeuse woord yâshab gee die indruk van iemand wat in ‘n huis intrek om dit sy of haar woning te maak of iemand wat sit om op ‘n sekere plek te bly. Daar kan ‘n sekerheid in die woord se betekenis opgetel word.

 

Kom ons bring dit nou bymekaar. Jesus Christus is ‘n regverdige Regter. Hy oordeel met dieselfde oordeel waarmee die Vader oordeel.

Ek kan uit Myself niks doen nie. Soos Ek hoor, oordeel Ek; en my oordeel is regverdig, omdat Ek nie my wil soek nie, maar die wil van die Vader wat My gestuur het. (Joh 5:30) 

Sy oordele is regverdig – Sy oë kyk nie skuins nie. Hy het nie verskillende weegtoestelle vir verskillende mense nie. Ons lees in Spr 11:1 dat ‘n valse weegskaal ‘n gruwel vir die Here is.

‘n Regte weegtoestel en weegskaal kom van die HERE, al die weegstene in die sak is sy werk. (Spr 16:11) 

 

Oordeel begin binne die kerk

Terwyl ek die boodskap oor hierdie faset van Regter tik, bring die Heilige Gees ‘n visioen wat iemand in 2004 gehad het onder my aandag. Ek is altyd verstom en dankbaar oor Sy perfekte tydberekening. Die visioen was ‘n boodskap van oordeel oor die goddeloosheid binne die kerk. Terwyl Jesus Christus die Een is wat regverdig oordeel met die oordeel van die Vader, is Hy ook die Een wat vir ons swakhede intree. Beide van hierdie fasette het baie sterk in die boodskap van die visioen uitgekom. Ek gaan nie die hele boodskap deel nie, dit gaan te lank raak. Hier is net ‘n baie kort uittreksel:

“He said, “One of the greatest stumbling blocks within the Church is the complete lack of fear of God and the teaching of a cheap grace. Few there are who have any fear of the loss of their salvation through continued willful sin. They believe they can continuously live in pre­ meditated sin and still be forgiven and go to heaven. They have no fear of God’s chastisement on their lives. Indeed, when trouble comes into their life, not once do they ever think about the fact that it may be the result of their own actions.”

Die volgende Skrifgedeelte som die res van die boodskap op:

Want die tyd is daar dat die oordeel moet begin by die huis van God. En as dit eers by ons begin, wat sal die einde wees van die wat aan die evangelie van God ongehoorsaam is? En as die regverdige nouliks gered word, waar sal die goddelose en die sondaar verskyn? (1 Pet 4:17-18) 

 

Ek hoop hierdie boodskappe oor wie Hy is, beteken ook vir jou so baie soos vir myself. Hoe meer ek toelaat dat die Heilige Gees die Bruidegom aan my openbaar, hoe groter raak my outoriteit. En ook my aanbidding vir wie Hy is.

 

Sy oordele leer die mens geregtigheid

Hierdie faset van Regter behoort ons met Godsvrees te vul, maar ook met sekuriteit in Sy regverdigheid. Wanneer ons geregtigheid liefhet en ons lewe so inrig, kan ons bly wees oor Sy oordele. Daar is ‘n baie mooi vers in Jesaja 26.

Met my siel begeer ek u in die nag; ook met my gees in my binneste soek ek U; want as u oordele op die aarde is, leer die inwoners van die wêreld geregtigheid. (Jes 26:9)

Die mens leer geregtigheid deur middel van die Here se oordele. Mense leer maar swaar. Dis amper asof hulle eers die gevolge van hulle goddelose dade wil beleef voordat hulle tot inkeer kom. Ons bid so hard vir ons familie en vriende om by die Here uit te kom, maar die oomblik wanneer die Here se oordele hulle ongeregtigheid aan die lig bring, dan smeek ons vir genade sodat hulle tog net nie ongerief moet beleef nie. Ek sê nie ons moet sleg vir ander wens nie. Geensins, moet my asseblief nie verkeerd verstaan nie. Wat ek sê is dat ons die Here se regverdige oordele moet leer onderskei.

Want die HERE is ons Regter, die HERE is ons Aanvoerder, die HERE is ons Koning: Hy sal ons verlos. (Jes 33:22) 

 

Daar is so baie mense wat sê dat die Here nie meer oordeel nie. Dis bloot nie waar nie. Abraham beskryf die Here as ‘n Regter in Genesis 18 en ons lees ook in Openbaring 19 dat Jesus oordeel in geregtigheid. Ons kan nie hierdie faset ignoreer net omdat dit ons ongemaklik laat voel nie.

 

Wanneer ons leer lief raak vir elke faset van die Here, kan ons ook soos Jesaja sê dat ons vir Sy oordele gewag het. Ons soek nie net Sy Hand vol seëninge, liefde en vrede nie. Ons verwag ook met blydskap sy oordele. Nie omdat ons ons verlekker in die nagevolge wat mense of onsself beleef nie. Nee, omdat ons weet dat deur Sy oordele die mens geregtigheid leer.

Indeed, in the path of Your judgments, O LORD, We have waited expectantly for You; Your name, even Your memory, is the desire and deep longing of our souls. (Isa 26:8) 

 

Die hart van die Regter

Ek vind heelwat Skrifgedeeltes wat handel oor ons God as die Regter. Een daarvan is die gelykenis wat Jesus vertel aangaande die onregverdige regter. Hoor die hart van ons regverdige Regter. Hy sal die wat Syne is, die uitverkorenes wat Sy Naam aanroep, regverdig behandel.

Toe sê die Here: Hoor wat die onregverdige regter sê. Sal God dan nie reg doen aan sy uitverkorenes wat dag en nag tot Hom roep nie, al is Hy ook lankmoedig in hulle geval? Ek sê vir julle dat Hy gou aan hulle reg sal doen; maar as die Seun van die mens kom, sal Hy wel die geloof op die aarde vind? (Luk 18:6-8)

 

Die volgende Skrifgedeelte wat ek wil deel kom uit Openbaring.

En ek het die engel van die waters hoor sê: Regverdig, Here, is U wat is en wat was, U, die Heilige, omdat U hierdie oordeel uitgevoer het; want hulle het die bloed van heiliges en profete vergiet, en U het aan hulle bloed gegee om te drink, want hulle het dit verdien. En ek het ‘n ander een uit die altaar hoor sê: Ja, Here God, Almagtige, waaragtig en regverdig is u oordele. (Open 16:5-7) 

In hierdie gedeelte belowe Hy om ons te verdedig en te wreek op ons vyande. Die wraak kom ons nie toe nie. Ons het nodig om in vrede binne Hom te bly terwyl ons ons harte bewaar teen enige vorm van bitterheid en onvergewensgesindheid. Ons beleef dalk nou onreg in ‘n sekere mate ter wille van ons geloof in Hom. Maar daar kom ‘n dag, en ons lees daarvan in Openaring 16, waar die Here al die bloed van profete en heiliges wat vergiet was oor eeue heen, gaan oordeel. Dit strook dalk nie met ons beeld van wie Hy is of hoe Hy vanonderstel is om op te tree nie. Maar die Skrif sê vir ons dat dit ‘n regverdige oordeel gaan wees.

 

Godsvrees

Hierdie faset van ons God se karakter, behoort ons ook met ‘n heilige Godsvrees te vul. Godsvrees is werklik iets wat ontbreek by die Here se mense. Ons hoef nie bang te wees nie, maar die volheid van wie Hy is behoort ons met ontsag en respek te vul. En ons moet verstaan dat daar gevolge is. Die regverdige Regter van die ganse heelal is altyd regverdig met almal. Hy gaan nie ons part vat wanneer ons die verkeerde party is nie. Hoe dieper ons wandel met Hom, hoe nouer raak nie pad. As gevolg van die heiligheid van wie Hy is, toets Hy ons en bring die duisternis binne ons aan die lig sodat ons ons kan bekeer en nog dieper met Hom kan wandel. Hierdie proses hou natuurlik nooit op nie, dit raak net fyner.

Maar, o HERE van die leërskare, regverdige Regter, wat niere en hart toets (Jer 11:20) 

 

Barmhartigheid wat teen oordele roem

Mense is so lief om die volgende vers te kwoteer, of altans gewoonlik word net ‘n gedeelte van die vers aangehaal: ‘Sy barmhartigheid roem teen Sy oordeel’. Kom ons lees die hele vers.

Want die oordeel sal onbarmhartig wees oor die wat geen barmhartigheid bewys het nie; en die barmhartigheid roem teen die oordeel. (Jak 2:13) 

In hierdie vers kan ons weereens die hart van die Regter van die heelal sien. Hy soek barmhartigheid in ons lewens. Wanneer ons geen genade op ‘n ander het nie, sal Hy ‘n regverdige oordeel teen oor ons voltrek waarin ons die volle maat van straf sal ontvang. Maar wanneer ons vol genade vir andere is, sal die barmhartigheid van ons hart en dade die oordeel in ‘n goeie mate beinvloed. Ons vergeet so maklik dat die waarheid ‘n tweesnydende swaard is – dit sny beide kante toe. Ons kan nie barmhartigheid wil ontvang, maar is net gereed om altyd kritiek, foutvind, geen genade en hardheid uit te deel nie.

Terloops, in die konteks kan ons sien dat hierdie barmhartigheid wat teenoor oordeel roem ‘n beginsel is wat op ons as mense van toepassing is. Dit word verkeerdelik aangehaal as iets wat net aan die Here behoort of wat Sy oordele nie meer van toepassing maak nie.

 

Ons vind nog ‘n gedeelte wat hierdie selfde beginsel uitwys, ook in Jakobus se brief. Ek haal aan uit die Amplified vertaling.

Do not complain against one another, believers, so that you will not be judged [for it]. Look! The Judge is standing right at the door. As an example, brothers and sisters, of suffering and patience, take the prophets who spoke in the name of the Lord [as His messengers and representatives]. (Jas 5:9-10) 

Hy praat nie hier met ongelowiges nie. Hy praat met die wat in die Here is – broers en susters. Ek moet erken, hierdie gedeelte het regtig diep tot my gespreek vandag. Ons kan so maklik moedeloos raak met mekaar en kla oor wat die volgende persoon verkeerd doen. Ons moet oppas en word gewaarsku dat die Regter by die deur staan, met ander woorde, die oordeel kan binnekort gebeur. Dan word ons verwys na al die profete wat soveel ongerief moes deurmaak ter wille van Sy Naam. Ons moet hulle as ‘n voorbeeld onthou wanneer ons by mekaar oor mekaar wil kla.

 

Heuning en melk onder die bruid se tong

Voordat ek afsluit wil ek graag meldig maak van die heuning en melk wat onder die tong van die bruid van Jesus is. Jy kan dit gaan lees in Hooglied 4:11. Hoe meer ons verander word in die beeld van Jesus Christus, ons Bruidegom, hoe regverdiger sal ons in ons uitkyk op mense en omstandighede word. Daar is soveel bakleiery oor mag ons oordeel of mag ons nou nie en Bybelverse word aangehaal om beide argumente te staaf. Voordat ons verder redeneer, kom ons maak net eers seker dat daar barmhartigheid binne ons is en dat ons oë ook in melk gewas is. Mag die Heilige Gees vir jou verdere openbaring gee in dit wat ek nou gesê het.

 

Kroon van geregtigheid

Mag ons elkeen met afwagting en opgewondenheid uitsien na die kroon van geregtigheid. Die regverdige Regter is die Een wat daardie kroon op ons kop gaan neersit as ons die wedloop met volharding voltooi het.

In the future there is reserved for me the [victor’s] crown of righteousness [for being right with God and doing right], which the Lord, the righteous Judge, will award to me on that [great] day–and not to me only, but also to all those who have loved and longed for and welcomed His appearing. (2 Tim 4:8) 

 

My gebed is dat ons vurig sal uitsien na Sy verskyning en dat ons dit sal liefhê. Nie net dan wanneer Hy gaan terugkeer nie, maar ook nou. Dit is moontlik om die soetheid van Sy verskyning alreeds elke dag in ons wandel saam met Hom te beleef.

 

 

Skakels

Om na die inleiding te luister asook die Woord deur die Heilige Gees rakende hierdie reeds, kliek hier.

Die audio weergawe van hierdie boodskap is beskikbaar op ons telegram kanaal: https://t.me/+1hYU7h46Jj1hZDc8

Deel 1 – Wie is die Bruidegom (agtergrond)

Deel 2 – Wie is jou beminde?

Deel 3 – Hy is my Beminde

Deel 4 – Hy is Lig

Deel 5 – Hy is Heilig

Deel 6 – Hy is die Krygsman en Wreker

Deel 7 – Hy is die Oorwinnaar

Deel 8 – Hy is die Hoof

Deel 9 – Hy is die Afgesonderde

Deel 10 – Hy is Onveranderlik

Deel 11 – Hy is die Yweraar

css.php