Hy is die Prys

Deur Yolandie Mostert (Augustus 2023)

 

Dit is my beminde en dit is my vriend, dogters van Jerusalem (Hgl 5:16c) 

 

In hierdie boodskap bereik ons die einde van die meisie se getuienis; dis haar opsomming van alles wat sy sover gesê het. Haar getuienis was persoonlik en gebasseer op diep intieme kennis van haar geliefde. Daarom kan sy met krag en trots verklaar: ‘dit is wie Hy is en Hy is myne, ek behoort aan Hom’. Sy het nie sommer net vertel van enige iemand nie. Die persoon aan wie al die wonderlike eienskappe behoort, is haar vriend en geliefde.

 

Ek het dit nie vooraf so beplan nie, inteendeel ek het eers onlangs gesien dat die laaste faset die vier en twintigste faset gaan wees. Ek glo dat die Heilige Gees ook die bevestiging hierdeur gee op hierdie reeks se geldigheid. Die syfer 12 is baie prominent in die Bybel. Dink aan die 12 stamme van Israel, die 12 dissipels en die 12 poorte van die Nuwe Jerusalem. Ons kan aflei dat die syfer 12 verwys na regering, outoriteit en mag. Die syfer 24 is dubbel dit. Dink aan die 24 ouderlinge rondom die troon. Groter outoriteit, mag en heerskappy. Ek dink nie dis toevallig dat al die fasette van Jesus Christus in hierdie getuienis ook optel na 24 toe nie.

 

Die feit dat sy hierdie stelling aan die dogters van Jerusalem maak, gee vir ons ‘n duidelike onderskeid tussen haar en hulle. Ek het reeds verduidelik dat die dogters diegene is wat nog nie in so ‘n diepe vriendskap met Jesus Christus wandel nie. Nou kan ons dit nog verder afbreek en dit maak dit makliker vir ons om in ons eie lewens binnetoe te kyk. Miskien het ons nog altyd maar net aangeneem dat ons ‘n vriend of vriendin van die Koning is.

 

Dit is my beminde…

Die bruid van Jesus ken Sy soetheid persoonlik – sy identifiseer Hom as haar beminde. Hy is haar eerste liefde en haar hele lewe bestaan in en deur Hom. Sy ken Hom van naby, eerstehands en die bewys daarvan is dat Hy Sy hart direk aan haar openbaar.

 

En dit is my vriend…

Ek het eendag woorde gelees wat iemand in onkunde geskryf het. Die persoon het beweer dat ons nie moet sê dat ons die Here dien nie. Dan verneder ons onsself blykbaar; ons is nou almal vriende van Jesus. Hy het sy stelling gebasseer op ‘n half aangehaalde gedeelte uit Johannes 15 waar Jesus sê Hy noem ons nou vriende. Kom ons gaan kyk na wat ons kwalifiseer om ‘n vriend van Jesus Christus genoem te mag word. Want die realiteit is dat nie almal wat dink hulle vriende van Hom is, dit wel is nie.

Julle is my vriende as julle alles doen wat Ek julle beveel. Ek noem julle nie meer diensknegte nie, omdat die dienskneg nie weet wat sy heer doen nie. Maar Ek het julle vriende genoem, omdat Ek alles wat Ek van my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het. (Joh 15:14-15) 

Ek glo hierdie gedeelte vereis nie veel kommentaar nie; ek gaan net twee punte uitlig.

Jesus gee twee vereistes: gehoorsaamheid en openbaring. Daar is ‘n ‘as’ in die eerste sin: ons is Sy vriende as ons alles doen wat Hy ons beveel, met ander woorde ‘n lewenswyse van gehoorsaamheid. Ongehoorsaamheid diskwalifiseer ons dus om ‘n vriend van Jesus genoem te kan word. Die ongelukkige realiteit is dat die meeste Christene in ongehoorsaamheid wandel. Geestelike dissipline en onderwerping is nie gewilde onderwerpe van preke nie. Daar word nagelaat om jong dissipels in die belangrikheid van gehoorsaamheid te onderrig en daarom sit ons met so baie mense wat dink hulle is vriende van Jesus, maar lewe soos hulle wil.

Die tweede vereiste behels die bekendmaking van alles wat Jesus by die Vader gehoor het aan Sy vriende. Daar is ‘n ‘omdat’ in die laaste sin. Omdat ons hierdie bekendmaking by Hom ontvang het, noem Hy ons vriende. Hierdie punt bring ons weer terug by die gesprek oor eerstehandse openbaring deur Jesus aan Sy bruid. Iets belangriks wat ek moet uitlig: die dinge wat Jesus aan ons bekend maak het nie opgehou toe die Bybel saamgestel was of toe die eerste twaalf apostels gesterf het nie. Dis ‘n leuen dat alles wat gesê kon en moes word, reeds gesê is en dat die kanon nou gesluit is. Jesus sê dan self die volgende:

Nog baie dinge het Ek om aan julle te sê, maar julle kan dit nou nie dra nie. Maar wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei; want Hy sal nie uit Homself spreek nie, maar alles wat Hy hoor, sal Hy spreek en die toekomstige dinge aan julle verkondig. (Joh 16:12-13)

 

My hart met hierdie boodskap is nie om mense in veroordeling of hopeloosheid te bring nie. Ek wil juis hoop bring deur te sê dat dieselfde intimiteit wat in hierdie getuienis gesien kan word, vir ons elkeen beskikbaar is. Hierdie behoort ons elkeen se getuienis te wees. Maar dit sal oneerlik van my wees om mense te sus en te laat glo dat dit reeds ons elkeen se getuienis is, want dit is nie.

Indien jy hierna luister of hierdie boodskap lees en besef dat jy nie aan die vereistes van vriend voldoen nie, hoef jy nie op ‘n hopie te gaan sit nie. Daar is steeds tyd vir regstelling. Daar is steeds tyd om met ‘n begeerte na diep vriendskap na Hom te gaan en te vra daarvoor. Bely jou misleiding, ongehoorsaamheid en gebrek aan ywer. Bid en vas vir ‘n openbaring van Jesus Christus self, nie net teologiese kennis nie. ‘n Boek, lering of boodskap gaan ons nie tot diep vriendskap met Hom bring nie. Slegs persoonlike eerstehandse tyd saam met Hom. Aanbidding is ook ‘n groot sleutel wat ons tot daar kan bring. En dan natuurlik gehoorsaamheid; gehoorsaamheid tot die dood. Vir ons almal beteken dit die kruisiging van die vlees en vir sommige mag dit ook fisiese dood vir Sy Naam beteken.

 

Baie keer wanneer mense praat van die hemel of die ewige lewe is dit asof dit die beste en hoogste prys is. Solank iemand tog net in die hemel kan kom of solank iemand net die ewige lewe het…

Daar is ‘n baie groter prys as dit. Die hemel is ‘n bestemming en die ewige lewe is ‘n kondisie. Dis nie die prys nie. Jesus Christus, Yeshua HaMaschiah, die Messias van hierdie wêreld – Hý is die prys. Om Hom te mag ken en om hierdie verklaring in Hooglied te mag maak; dis die hoogste prys. Die res is bysake en seëninge. Wanneer ons Hom werklik op hierdie vlak leer ken het, kan ons saam met Paulus die volgende sê. Nie sommer maar net ydelik lees nie, maar verklaar as ons eie persoonlike waarheid:

Maar wat vir my wins was, dit het ek om Christus wil skade geag. Ja waarlik, ek ag ook alles skade om die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus, my Here, ter wille van wie ek alles prysgegee het en as drek beskou, om Christus as wins te verkry en in Hom gevind te word, nie met my geregtigheid wat uit die wet is nie, maar met dié wat deur die geloof in Christus is, die geregtigheid wat uit God is deur die geloof; sodat ek Hom kan ken en die krag van sy opstanding en die gemeenskap aan sy lyde terwyl ek aan sy dood gelykvormig word, of ek miskien die opstanding uit die dode kan bereik. (Fil 3:7-11)

Wat sê Paulus? Alles wat voorheen vir hom belangrik was, beteken nou vir hom niks. Daar is niks so belangrik as diep kennis van Jesus vir hom nie. Jesus is die prys wat hy najaag met sy hele lewe. Jesus, nie die hemel nie, nie bruidwees nie, nie ‘n roeping, gawe of ‘n bediening nie. Nee – net vir Jesus. Hy gaan verder en beskryf twee dinge van Jesus wat hy graag wil ken – Jesus se dood, om daaraan gelyk te mag raak, en die krag van Jesus se opstanding. En dan, na hierdie diep verklaring van oorgawe en aanbidding, matig hy homself nie eers die opstanding uit die dode aan nie. Hoe anders lyk hierdie nederige beeld teen baie Christene wat in ongehoorsame arrogansie lewe en die opstanding uit die dode verwag as iets wat hulle toekom omdat hulle kerkgangers was of ‘n gebed tot redding agter iemand aangesê het?

 

Wie wil ons wees?

Die bruid, die meisie in Hooglied wie se lewe en woorde spreek van diep kennis van Jesus se dood en opstanding, van Sy soetheid asook elke faset van Sy karakter? Of die dogters wat van ver af volg en by ander moet hoor wie Jesus is.

 

Dis vir elkeen van ons beskore om te mag sê:

Dit is wie Jesus Christus vir my persoonlik is. Elke faset van Hom is vir my pure skoonheid en lieflikheid. Ek het Hom geproe en kan nie genoeg van Hom kry nie. Totdat my vleeslikheid gelykvormig geraak het aan Sy dood, totdat daar niks van my vleeslike natuur oor is nie, totdat Sy volle opstandingskrag deur my werk, totdat ek alles van Hom ontdek het wat daar is om te ontdek, totdat ek Sy hart ken, tot dán sal ek alles skade ag.

 

Ek vertrou dat hierdie reeks jou geseën het en steeds sal seën soos wat jy groei in ‘n groter en dieper openbaring van Hom.

Mag elke nuwe openbaring lei tot dieper aanbidding.

Mag die dieper aanbidding lei tot nog meer neerlê van die vlees.

Mag elke stukkie van jou vleeslike natuur wat minder en minder word ‘n offer van aanbidding wees wat beloon word met ‘n nuwe, vars en dieper openbaring van wie Hy is.

Mag hierdie siklus van openbaring en aanbidding nooit ophou totdat ons die volheid van Sy heerlikheid weerspieël nie.

 

Shalom vir jou en joune!

 

Skakels

Om na die inleiding te luister asook die Woord deur die Heilige Gees rakende hierdie reeds, kliek hier.

Die audio weergawe van hierdie boodskap is beskikbaar op ons telegram kanaal: https://t.me/+1hYU7h46Jj1hZDc8

Deel 1 – Wie is die Bruidegom (agtergrond)

Deel 2 – Wie is jou beminde?

Deel 3 – Hy is my Beminde

Deel 4 – Hy is Lig

Deel 5 – Hy is Heilig

Deel 6 – Hy is die Krygsman en Wreker

Deel 7 – Hy is die Oorwinnaar

Deel 8 – Hy is die Hoof

Deel 9 – Hy is die Afgesonderde

Deel 10 – Hy is Onveranderlik

Deel 11 – Hy is die Yweraar

Deel 12 – Hy is die Regter

Deel 13 – Hy is Liefde

Deel 14 – Hy is die Onpeilbare

Deel 15 – Hy is die Hoëpriester

Deel 16 – Hy is die Skepper

Deel 17 – Hy is die Lam van God

Deel 18 – Hy is die Seun van YHVH

Deel 19 – Hy is die Ewige

Deel 20 – Hy is die Waarheid

Deel 21 – Hy is Waardig

Deel 22 – Hy is die Bruidegom

Deel 23 – Hy is die Onbeskryflike

css.php