Hy is die Oorwinnaar

Deur Yolandie Mostert, 24 April 2023

Deel 7 in die reeks oor Wie is die Bruidegom

My beminde is … uitnemender as tien duisend. (Hgl 5:10)

 

‘n Vers wat baie mooi by die tema van Oorwinnaar aansluit, vind ons in Psalm 45. Hierdie Psalm is die lied van die liefde. Dit beskryf hoe die bruid van Christus sowel as hoe die Bruidegom, Jesus Christus, lyk.

Therefore God, your God, has anointed You above Your companions with the oil of jubilation. (Ps 45:7 AMP)

 

Die Hebreeuse woord vir uitnemender in hierdie vers is dâgal en dit beteken om ‘n vlag op te hys, te pronk en om ‘n banier of ‘n standaard in ‘n oorlog op te stel.

En dit bring ons by die faset van die karakter van Jesus Christus waaroor ek gaan praat: Hy is die oorwinnaar. Dit beteken dat Hy reeds oorwin het. Hy het reeds die sleutels van die doderyk en van die dood.

en Ek was dood en kyk, Ek leef tot in alle ewigheid. Amen. En Ek het die sleutels van die doderyk en van die dood. (Rev 1:18) 

 

Die wêreld hou daarvan om Jesus uit te beeld as ‘n pieperige persoon wat verslaan was deur mense en geen mag of krag besit het nie. Dis bloot nie die waar nie. Dis nie die spykers wat Jesus aan die kruis vasgehou het nie. Hy was daar uit eie keuse en kon enige oomblik van die kruis afgeklim het. Hy sê tog immers dat as Hy sou bid vir twaalf legioene van engele, Sy Vader dit beskikbaar sou stel (Matt 26:53).

 

Hy het reeds oorwin, maar ons leef baie keer asof dit ‘n ver in die toekoms gebeurtenis gaan wees. Ek glo dat as ons werklik kan besef dat Hy die oorwinnaar is en dat wanneer ons ín Hom is, ons ook ‘n banier van oorwinning mag ophys, ons lewens baie anders sal lyk. Ons leef meer as een dag soos verslane mense wat nou maar uitgelewer is aan die mag en wil van regerings, geheime organisasies, magtige mense en die gebeure in die wêreld. Ons is nie. Ons is vanonderstel om bokant dit uit te styg en vanuit ‘n posisie van oorwinning te leef.

 

Jesus het nie net vir ons sondes gesterf nie, Hy is ook opgewek uit die dood. Sonder die opstanding, beteken dit niks nie, dan het ons nie eers ‘n geloof nie.

en as Christus nie opgewek is nie, dan is julle geloof nutteloos, dan is julle nog in julle sondes (1 Kor 15:17) 

Nie een van ons weet wat presies in daardie drie dae tussen die sterwe en opstanding van Jesus gebeur het nie. Die sendbrief van Petrus vertel iets daarvan en daar is baie spekulasies en doktrienes hierop gebou. Ons gaan nie in hierdie lewe verseker kan weet nie. Al wat ek weet en wat ek uit die Skrifte kan leer, is dat die opstanding van Jesus en die oorwinning oor die doderyk iets ongelooflik belangriks was. Dit is wat Hom die oorwinnaar maak. Nie net omdat Hy Sy lewe afgelê het nie. Hy was instaat om weer Sy lewe op te neem.

Daarom het die Vader My lief, omdat Ek my lewe aflê om dit weer te neem. Niemand neem dit van My af nie, maar Ek lê dit uit Myself af. Ek het mag om dit af te lê en Ek het mag om dit weer te neem. Hierdie gebod het Ek van my Vader ontvang. (Joh 10:17-18) 

 

Die laaste gedeelte van Sagaria 9:9 sê die volgende: Jou Koning kom na jou; regverdig en ‘n oorwinnaar is Hy. Hierdie Skrif is in die konteks van Jesus wat op die esel in Jerusalem ingery het. Ons sien in hierdie vers ook die oënskynlike onversoenbare karakterfasette van Jesus. Hy kom ingery in nederigheid en tog kom Hy as die Een wat oppad is om te oorwin.

 

Omdat Jesus die oorwinnaar is, was Hy die enigste een wat die sewe seëls kon breek. Hier verstaan ons dalk ook nie die volle implikasie nie, maar die vind van niemand om die seëls oop te kon maak nie, was ‘n baie ernstige saak. Johannes het geween omdat hulle niemand kon vind nie. Sommige mense sê hy het gehuil omdat hy nuuskierig was en graag wou weet wat op die boekrol geskryf was. Niemand huil bitterlik omdat hulle nuuskierig is nie. Hier was iets baie ernstig op die spel.

Die Leeu wat uit die stam van Juda is, die wortel van Dawid, het oorwin om die boek oop te maak en sy sewe seëls te breek. (Open 5:5b)

 

Hoe verstaan ons die oorwinning in verlede tyd saam met die Skrifte oor Jesus se toekomstige oorwinning?

Hy het reeds oorwin. Hy is reeds die oorwinnaar. Hy sit reeds aan die regterhand van die Vader as die Een wat oorwin het. Nou regeer Hy as Koning. Al Sy vyande is nog nie onder Sy voete gestel nie. Die finale vernietiging van al Sy vyande gaan gebeur tydens Sy terugkoms.

Daarna kom die einde, wanneer Hy die koninkryk aan God die Vader oorgee, as Hy alle heerskappy en alle gesag en mag vernietig het. Want Hy moet as koning heers totdat Hy al sy vyande onder sy voete gestel het. Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood. (1 Kor 15:24-26) 

maar Hy het, nadat Hy een slagoffer vir die sondes gebring het, vir altyd gaan sit aan die regterhand van God en wag nou verder totdat sy vyande gemaak is ‘n voetbank van sy voete. (Heb 10:12-13) 

 

Ons kan nie na Jesus as die Oorwinnaar kyk, sonder om ook na ons lewenswyse as gevolg daarvan te praat nie. Omdat Jesus oorwin het en ons ín Hom bly, het ons ook deel aan daardie oorwinning. Ons het Jesus gevolg in Sy dood deur die doop en is daarom lewend gemaak en geestelik is ons gepositioneer saam met Hom in die hemele ín Jesus Christus. Ons posisie ín Hom, maak dit moontlik. Dis die sleutel en vereiste. Ons kan dus ‘n oorwinningslewe lei. Jesus se vyande is ons vyande en al Sy vyande is nog nie vernietig nie. Dus moet ons ook heers. Ons kan dit slegs doen as ons in Hom bly. Dis slegs deur Jesus dat ons die outoriteit kan hê oor ons vyande. En ons het die outoriteit. Ons moet dit net opneem.

Julle is uit God, my kinders, en het hulle oorwin, omdat Hy wat in julle is, groter is as hy wat in die wêreld is. (1 Joh 4:4) 

 

Ons wedloop is nog nie voltooi nie. Jesus Christus se oorwinning het dit vir ons moontlik gemaak om te oorwin tot aan die einde. Ons het reeds die oorwinning in Jesus. Nou moet dit in ons lewens manifesteer, met ander woorde, dit moet gesien kan word. Ons moet eerstens werklik glo dat Jesus Christus die oorwinnaar is. Hy sit regtig aan die Vader se regterhand. Omdat ons in Hom is, dis die voorwaarde, is ons ook daar, en dit bemagtig ons om die lewe wat ons leef, vir God te leef as mense was dood is vir die sonde en lewendig is vir God.

Want die dood wat Hy gesterf het, het Hy vir die sonde eens en vir altyd gesterwe; maar die lewe wat Hy leef, leef Hy vir God. So moet julle ook reken dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewend is vir God in Christus Jesus, onse Here. (Rom 6:10-11) 

 

As ons hierdie dinge glo, dan vermaan Paulus ons in Kolossense 3:1 om ons gedagtes te vestig om die hemelse dinge. Hierdie dinge is net beskikbaar aan die regterhand van God. Ons moet seker maak dat ons in Jesus is, anders dink ons dalk ons is daar, maar dan mis ons dit. “Seated in heavenly places” word baie gekwoteer. Ek wonder net hoeveel van die wat dit vir hulle toe eien, werklik in Jesus Christus is. En hoeveel regtig verstaan wat dit beteken. Nietemin, ons moet die dinge daarbo soek. Dis die vermaning. Net soos alles in ons geestelike reis, gaan ons niks vind buiten dit wat ons IN Jesus Christus kry nie.

As julle dan saam met Christus opgewek is, soek die dinge daarbo waar Christus is en aan die regterhand van God sit. (Kol 3:1) 

 

Daar is ‘n dag waarna ons kan uitsien en dis die dag van ons finale oorwinning. Hierdie dag is baie nader as wat baie mense besef. Omdat ons in die geloof staan en Hom liefhet met ons hele wese, streef ons om die wedloop as ‘n oorwinnaar te voltooi. Dit lê nog in die toekoms, en dis waarom ons elke las en sonde nou moet aflê en die heiligmaking moet najaag.

Hy wat oorwin, sal alles beërwe; en Ek sal vir hom ‘n God wees, en hy sal vir My ‘n seun wees. (Open 21:7) 

Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om saam met My te sit op my troon, soos Ek ook oorwin het en saam met my Vader op sy troon gaan sit het. (Open 3:21) 

 

Volgens Openbaring 12:11 behaal ons die oorwinning deur drie dinge. Eerstens, deur die Bloed van Jesus Christus. Dis ons enigste roem. Tweedens deur ons getuienis. En laastens, die gedeelte wat nie so gereeld gekwoteer word nie – omdat ons bereid is om te sterf vir ons geloof. Geestelike beteken dit dat ons nou reeds ons lewe neerlê in onderwerping aan Sy wil en fisies beteken dit dat ons bereid is om te sterf as dit daarop neerkom.

En hulle het hom oorwin deur die bloed van die Lam en deur die woord van hulle getuienis, en hulle het tot die dood toe hulle lewe nie liefgehad nie. 

 

Ek wil graag weer die vers in Psalm 45 aanhaal.

Therefore God, your God, has anointed You above Your companions with the oil of jubilation. (Ps 45:7 AMP)

Jesus Christus het die vlag van oorwinning opgehys. Hy is die oorwinnaar. En Sy Vader het Hom gesalf met vreugde olie. Die NKJV sê: oil of gladness. Wanneer ons in Hom bly, kan ons nie anders as om vol vreugde te wees nie. Hy is met vreugde olie gesalf en daarom het ons ook daaraan deel. Deur vreugdevol te wees, verklaar ons lewens dat Jesus Christus die Oorwinnaar is.

 

Die audio weergawe van hierdie boodskap is beskikbaar op ons telegram kanaal: https://t.me/+1hYU7h46Jj1hZDc8

css.php