Hy is die Onpeilbare

Deur Yolandie Mostert (Junie 2023)

 

Sy wange is soos … terrasbeddings van geurige plante. (Hgl 5:13b) 

Hierdie faset van die karakter van ons Koning behoort ons met opgewondenheid en bewondering te vul. Hy is onpeilbaar. Sy dieptes en rykdom kan nooit uitgeput raak nie. Ons sal nooit op ‘n punt kan kom waar ons dink nou weet ons alles van die Here af nie. Net as ons dink ons begin iets te verstaan omdat die Heilige Gees diepere dieptes van wie Hy is aan ons openbaar, moet ons maar net weereens soos Agur in Spreuke 30 uitroep:

I’ve yet to learn the wisdom that comes from the full and intimate knowledge of you, the Holy One. (Prov 30:3 TPT)

 

Die simboliek

Die terrasse in Hooglied 5:13 spreek van die verskillende vlakke van dieptes van wie Hy is en die geurige plante dui op Sy rykdom en heerlikheid.

O how deep are God’s riches, and wisdom, and knowledge! How unfathomable are his decisions and unexplainable are his ways! (Rom 11:33)

Nadat Paulus in Romeine die hele weg van geregtigheid en redding uitgelê het, roep hy in bewondering hierdie woorde uit. Is die Here se raadsplan nie wonderlik nie? Wie sou dit ooit kon uitdink of uitvoer as net die Allerhoogste? Die terrasse op terrasse van rykdom en heerlikheid sal nooit uitgeput kan word nie.

 

Rhema

So baie boeke probeer verduidelik wie die Here is en hoe Sy raadsplan werk. Sonder die inspirasie en leiding van die Heilige Gees sal die mens net tot op die eerste terras kom en nie verder kan gaan nie. Kopkennis, teoretiese verhandelinge en teologiese dokumente sal net dit bly, teorie en teologie, sonder die dieper openbaring deur die Gees van God. Die Heilige Gees is die Een wat alle dinge, insluitende die dieptes van God, ondersoek.

Maar God het dit aan ons deur sy Gees geopenbaar, want die Gees ondersoek alle dinge, ook die dieptes van God. (1 Kor 2:10)

Ons kan nie net op die geskrewe Woord staatmaak, sonder die inspirasie van die Rhema nie. Selfs hierdie reeks oor wie die Bruidegom is, sal nie veel tot ons geestelike groei bydra as die Heilige Gees dit nie vir ons lewendig maak nie. Ons kan al die name van die Here uit ons kop ken. Ons kan selfs die Hebreeuse name en betekenisse ken. Dis alles wonderlik en goed, maar wat help dit as dit nie lewendig in ons harte is nie?

 

Kan ons die dieptes van God ontdek?

Daar is waarheid in hierdie volgende vraag wat een van Job se onwyse vriende gevra het. Hy het dalk nie baie verstaan van wat in Job se lewe op daardie stadium aangegaan het nie, maar hy het wel verstaan dat geen mens ooit die volheid van wie die Here is sal kan begryp nie. Ten minste nie met vlees nie.

Can you discover the depths of God? Can you [by searching] discover the limits of the Almighty [ascend to His heights, extend to His widths, and comprehend His infinite perfection]?  (Job 11:7)

 

Ek wil jou regtig aanmoedig om weer deur elke faset van wie die Bruidegom is te lees of te luister. Vra die Heilige Gees om dit vir jou lewendig te maak sodat jou lewe van die ervaringskennis sal getuig. Wanneer ons werklik weet dat ons weet, nie met ons verstand nie, maar met ons gees, dat Hy die Oorwinnaar is, groei ons in outoriteit en krag. Hierdie is maar een voorbeeld. ‘n Volgende voorbeeld sal wees, liefde; as ons regtig Hom ken as liefde, sal ons nie anders kan as om ons self lief te hê nie. Want hoe sal ons ander kan liefhê net soos onsself as daar selfhaat in ons harte is. En so kan ek aangaan. Elke openbaring van wie Hy is, wat vir ons lewendig en persoonlik raak, is nog ‘n terras van Sy dieptes wat ons ontdek het en stel ons instaat om in Sy beeld op te groei. Ons kan nie opgroei of verander word in ‘n beeld wat ons nie kan sien of verstaan nie.

 

Om die vraag van Job se vriend te antwoord: ‘kan ‘n mens die dieptes van God ontdek?’… vir vlees sal dit onmoontlik wees. Wanneer ons in die voorhof en in die vlak water leef, sal ons nooit instaat wees om dit te verstaan nie. Hoor wat antwoord Jesus Sy dissipels op hulle vraag:

En die dissipels het gekom en vir Hom gesê: Waarom spreek U tot hulle deur gelykenisse? Toe antwoord Hy en sê vir hulle: Omdat dit aan julle gegee is om die verborgenhede van die koninkryk van die hemele te ken, maar aan hulle is dit nie gegee nie. (Matt 13:10-11) 

Die mate van ons soeke en begeerte om werklik die Here te mag ken, gaan bepaal in watter kategorie ons val: diegene met wie daar in gelykenisse gespreek word of die klein groepie wat die geheimenisse van die koninkryk van die hemele mag ken. In Engels is daar ‘n baie beskrywende woord om hierdie soeke en verlange na die Here te beskryf: to pursue. In Afrikaans is dit om na te streef. Na die mate wat ons die Here ‘pursue’, na daardie mate gaan ons Hom ontdek. Ons kan na hierdie reeks luister, en by onsself dink: ‘ja, ek weet Hy is liefde’ of ‘ja, hierdie is niks nuuts nie, Hy is die regter’. Of ons kan soos Agur sê: ‘Vader, eintlik weet ek nog niks soos ‘n mens behoort te weet nie, ek dink ek ken U, maar ek besef ek staan maar nog op die eerste terras’.

Eers wanneer ons in hierdie realiteit kom en vra vir dieper openbaring, gaan Hy Homself aan ons openbaar. Daar is soveel beskikbare terrasse wat ons mag ontdek – dieper en dieper in Sy hart. Verby teorie, verby teologie. Direkte openbaring van die Heilige deur die Gees wat daardie dieptes ken en aan ons openbaar. Dan sal onsself en mense rondom ons, hierdie van ons getuig. Dis die woorde wat Jesus vir Sy dissipels gesê het omdat hulle die dieper geheime kon sien en verstaan:

Maar julle oë is gelukkig, omdat hulle sien; en julle ore, omdat hulle hoor. Want, voorwaar Ek sê vir julle, baie profete en regverdiges het begeer om te sien wat julle sien, en het dit nie gesien nie, en om te hoor wat julle hoor, en het dit nie gehoor nie. (Matt 13:16-17) 

 

Sy weë en Sy dade

In Psalm 103 vind ons ‘n kort vers met diepte wat ons maklik mis lees.

Hy het aan Moses sy weë bekend gemaak, aan die kinders van Israel sy dade. (Ps 103:7) 

Die kinders van Israel het onderaan die berg gebly. Hulle was slegs tevrede wanneer hulle wonderwerke kon sien, en nog beter wanneer die wonderwerke tot hulle voordeel gestrek het. Die Here het aan die kinders van Israel sy dade, met ander woorde sy wonderwerke, bekend gemaak. Maar aan Moses het Hy Sy weë bekend gemaak – His ways. Deel van die terrasse van Sy diepte is Sy manier, Sy orde, Sy weë – dis die dinge wat Hy aan ons bekend wil maak. Ons oë sal ook die wonderwerke en magtige dade sien, maar dis nie die volheid van wie Hy is nie. Hoe Sy koninkryk werk, Sy hart vir Sy skepping, Sy raadsplan vir nou, vir regdeur die duisend jaar van vrede en tot in ewigheid is die dinge wat die Bruidegom met Sy bruid wil deel.

Wanneer sal ons uit die vlak water beweeg en besit neem van die volheid van ons erfenis in Hom – die terrasse van Sy heerlikheid en kennis?

 

Liefde is nodig

In beide hierdie sowel as die vorige faset word die wange van die Bruidegom geskryf. Die eerste beskrywing het ons na Sy liefde geneem. Ons sal nooit Sy volheid kan ontdek sonder die liefde nie. Sonder oorvloedige liefde wat vrylik uit ons vloei, sal al die kennis ons niks help nie. Dan gaan dit nie help ons ken die geheime van die koninkryk van die hemele nie.

En al sou ek die gawe van profesie hê en al die geheimenisse weet en al die kennis, en al sou ek al die geloof hê, sodat ek berge kon versit, en ek het nie die liefde nie, dan sou ek niks wees nie. (1 Kor 13:2) 

Mag ons elkeen groei in Sy liefde. Ek glo dat dieper openbarings van wie Hy is, afhanklik is van die mate van ons liefde. Dis vir ons eie beswil. Indien ons wonderlike openbarings kry en diep insien in geestelike geheimenisse, sonder liefde, gaan ons hoogmoedig word. En dit lei tot ‘n val. In so ‘n geval is dit dan beter dat ons eerder gelykenisse hoor en bid vir insig.

 

Who is like You among the gods, O LORD? Who is like You, majestic in holiness, Awesome in splendor, working wonders? (Eks 15:11) 

Wie is soos U, ons Koning en Bruidegom? Hoe mooi is die terrasse van U rykdom en heerlikheid. My gees binne my smag om U te mag ken in U volheid. Maak die kennis van wie U is, vir my lewendig en gee my genade sodat ek elke faset mag aanbid.

 

My prayer is… that we may come to know [practically, through personal experience] the love of Christ which far surpasses [mere] knowledge [without experience], that you may be filled up [throughout your being] to all the fullness of God [so that you may have the richest experience of God’s presence in your lives, completely filled and flooded with God Himself]. (Eph 3:19) 

 

Skakels

Om na die inleiding te luister asook die Woord deur die Heilige Gees rakende hierdie reeds, kliek hier.

Die audio weergawe van hierdie boodskap is beskikbaar op ons telegram kanaal: https://t.me/+1hYU7h46Jj1hZDc8

Deel 1 – Wie is die Bruidegom (agtergrond)

Deel 2 – Wie is jou beminde?

Deel 3 – Hy is my Beminde

Deel 4 – Hy is Lig

Deel 5 – Hy is Heilig

Deel 6 – Hy is die Krygsman en Wreker

Deel 7 – Hy is die Oorwinnaar

Deel 8 – Hy is die Hoof

Deel 9 – Hy is die Afgesonderde

Deel 10 – Hy is Onveranderlik

Deel 11 – Hy is die Yweraar

Deel 12 – Hy is die Regter

Deel 13 – Hy is Liefde

css.php