Deur Yolandie Mostert (Julie 2023)
Sy liggaam is ‘n kunswerk van ivoor (Hgl 5:14b)
Wanneer ons lees van ivoor in Hooglied, verwys dit altyd na dood en die aflê van ‘n lewe. Daar word na baie edelgesteentes verwys regdeur die Bybel en elkeen van hulle kom uit die aarde. Ivoor is anders. Nou moet jy asseblief onthou dat die bewaring van olifante nie ‘n prioriteit in Salomo se leeftyd was nie. Edelgesteentes en kosbaarhede was ingevoer van orals af. Een van hierdie kosbaarhede was ivoor. Om ivoor te kon kry, moes ‘n dier sterf. En dit bring ons by die dood van Jesus as die perfekte Lam van God.
Jesus Christus, die Bruidegom wat in Hooglied 5 beskryf word, se liggaam was deur die Vader berei vir die offer. Ons lees hiervan in Hebreërs 5.
Daarom sê Hy, as Hy in die wêreld inkom: Slagoffer en spysoffer wou U nie hê nie, maar U het vir My ‘n liggaam berei. Brandoffers en sondoffers het U nie behaag nie. Toe het Ek gesê: Kyk, Ek kom—in die boekrol is dit van My geskrywe—om u wil te doen, o God. Nadat Hy hierbo gespreek het: Slagoffer en spysoffer en brandoffers en sondoffers wou U nie hê en het U nie behaag nie—wat volgens die wet geoffer word— het Hy daarna gesê: Kyk, Ek kom om u wil te doen, o God. Hy neem die eerste weg om die tweede te stel. Deur hierdie wil is ons geheilig deur die offer van die liggaam van Jesus Christus, net een maal. (Heb 10:5-10)
Om die ivoor, die vervulling van die Wil van die Vader te kon verkry, was die liggaam van Jesus Christus geoffer. Ek dink nie ons sal ooit werklik kan begryp dit wat die dood en opstanding van Jesus vermag het nie. Daardie doel wat bereik moes word, was so belangrik dat dit die Vader behaag het om Jesus te verbrysel. Wanneer ons hierdie vers lees, kan ons nie help om te vra hoe dit kon wees nie. Die Vader behaag? Het ek reg gelees?
Maar dit het die HERE behaag om Hom te verbrysel; Hy het Hom krank gemaak; as sy siel ‘n skuldoffer aangebied het (Jes 53:10)
Dieselfde Vader, wat Sy hart aan Abraham geopenbaar het tydens die opdrag om Isak te offer, is die Een wat die opdrag gegee het vir die offer van Jesus. Luister net na die hart van die Vader.
Toe sê Hy: Neem jou seun, jou enigste, wat jy liefhet, Isak, en gaan na die land Moría en offer hom daar as brandoffer op een van die berge wat Ek jou sal aanwys. (Gen 22:2)
Ek het ‘n hele ruk gelede ‘n sarkastiese aanhaling van ‘n ateïs gelees. Die persoon het die dood en opstanding van Jesus verkleineer tot iets wat vir niks tel nie. Hy het eintlik spot gedryf daarmee. Ek het net besef dat hierdie persoon nie die vaagste idee het van sy hopeloosheid sonder dit wat tydens daardie Pasga gebeur het nie. Ons kan maklik ons kop skud en met ons tong klik teen so ‘n persoon, maar dit dwing ons ook om binnetoe te kyk. Besef ons werklik? In die weste word ons groot met hierdie begrippe. Ons word dit geleer van jongs af en dink nie eers regtig diep daaroor nie. Dit word normale kopkennis en feite, maar meestal sonder betekenis of dankbaarheid. Dit word so algemeen geleer, dat ‘n praktiserende Hindoe eendag vir my vertel het van Jesus wat gesterf het vir die wêreld se sondes. Onthou hulle aanbid duisende afgode en vir hulle is Jesus maar net een van die baie. Tog het hierdie persoon daaroor gepraat asof dit ‘n algemene feit is. Maar daar was geen lewe in haar kennis nie.
Ons het nodig om ‘n vars openbaring van die ivoor liggaam van Jesus Christus te kry en om ‘n dieper verstaan te kry van wat regtig in die gees vermag is. Eers dan sal ons regtig met dankbaarheid en aanbidding kan feesvier. Die Lam is geslag! Hy het opgestaan en as dit nie vir dit was nie, sou ek en jy nooit ingesluit kon word in die Nuwe Verbond nie. Besef jy dat tydens die Ou Verbond die wêreld basies in twee groepe gedeel was, die fisiese nasate van Abraham (die Jode) en die res. Die enigste manier om ‘n aanbidder van YHVH te kon wees, was om ‘n Jood te wees. Daar was geen ander manier nie. Ons wat nie natuurlike Jode is nie, het geen kans gehad nie. Slegs die Bloed van die Lam van God het dit vir ons moontlik gemaak. Ons mag nooit ons dankbaarheid en verwondering vir die offer van die Lam verloor nie.
Johannes die doper het Jesus aan die mense voorgestel as die Lam van God. Dit was die faset van die karakter van die Bruidegom wat toe geopenbaar was. Omdat die volk bekend was met die offerstelsel, moes hierdie paar woorde eintlik dadelik vir hulle die volle prentjie geskets het.
…Dáár is die Lam van God! (Joh 1:36b)
‘n Boodskap oor die Lam van God sal onvoltooid wees as ons nie na die gebeure in die troonkamer in Openbaring kyk nie. Gaan lees eers self hoofstuk 4. Maak jou oë toe en sien dit wat Johannes beskryf. Die troon met die reënboog oor, die see van glas, die vier en twintig trone met die ouderlinge op en die vier lewende wesens. Hoor die lofprysing en die klankgolwe: “heilig, heilig, heilig”. Voel die heilige atmosfeer. Dis die hoogste en mooiste plek in die heelal – die troonkamer. Laat dit jou bestemming wees. Wanneer ons ons lewe inrig volgens die standaard wat hier geskep word, kan ons nie anders as om heiligheid met ons hele wese lief te kry nie. En dan sal ons heilig wees in ons hele lewenswandel.
Tydens hierdie heilige atmosfeer, het iets anders gebeur. Daar was ‘n boekrol wat verseël was. Niemand was gevind om dit oop te maak nie. Wanneer ek oor Jesus as die Waardige gaan praat, sal ek meer hieroor uitbrei. Vandag wil ek fokus op die Lam. Dit was baie belangrik om hierdie boekrol oop te kry. Johannes het die gewigtigheid daarvan verstaan en het geween. Toe antwoord een van die ouderlinge hom: “die Leeu uit die stam van Juda mag die boekrol oopmaak”. Stel jouself net voor. Johannes kyk vir die ouderling wat met Hom praat. Die ouderling praat van ‘n leeu. Dis ‘n kragtige dier. Hy draai toe om en in die middel van die trone van die ouderlinge, staan daar toe nie ‘n leeu nie, maar ‘n lam wat lyk asof hy geslag is. Elke keer wanneer ek hierdie gedeelte lees, vul dit my gees met soveel emosie. Daar is die Lam van God!
Toe sê een van die ouderlinge vir my: Moenie ween nie; kyk, die Leeu wat uit die stam van Juda is, die wortel van Dawid, het oorwin om die boek oop te maak en sy sewe seëls te breek. En ek het gesien, en kyk, in die middel van die troon en die vier lewende wesens en in die midde van die ouderlinge staan daar ‘n Lam asof Hy geslag is (Open 5:5-6a)
Ons kyk na ‘n ivoor liggaam, ‘n lam wat geslag is, as ‘n slagoffer. Iets swaks. Maar in die Koninkryk van Lig, wat soveel anders as ons manier van dink werk, is die Lam die sterkste, kragtigste en mees waardige.
Kom ons neem vandag die tyd om die Lam van God te eer vir Sy liggaam van ivoor. Mag ons nooit ontbreek in dankbaarheid vir dit wat Hy vir ons gedoen het nie. Hoe groter ons besef van ons hopeloosheid sonder Hom, hoe groter word ons liefde vir Hom.
Skakels
Om na die inleiding te luister asook die Woord deur die Heilige Gees rakende hierdie reeds, kliek hier.
Die audio weergawe van hierdie boodskap is beskikbaar op ons telegram kanaal: https://t.me/+1hYU7h46Jj1hZDc8
Deel 1 – Wie is die Bruidegom (agtergrond)
Deel 2 – Wie is jou beminde?
Deel 3 – Hy is my Beminde
Deel 4 – Hy is Lig
Deel 5 – Hy is Heilig
Deel 6 – Hy is die Krygsman en Wreker
Deel 7 – Hy is die Oorwinnaar
Deel 8 – Hy is die Hoof
Deel 9 – Hy is die Afgesonderde
Deel 10 – Hy is Onveranderlik
Deel 11 – Hy is die Yweraar
Deel 12 – Hy is die Regter
Deel 13 – Hy is Liefde
Deel 14 – Hy is die Onpeilbare
Deel 15 – Hy is die Hoëpriester
Deel 16 – Hy is die Skepper