Hy is die Hoof

Deur Yolandie Mostert, 2 Mei 2023

Deel 8 in die reeks oor Wie is die Bruidegom

Sy hoof is goud. (Hgl 5:11)

 

In die vorige faset van Jesus se eienskappe, het ons gesien hoe Hy as Oorwinnaar oor hel, graf en dood aan die regterhand van die Vader sit. Van daardie posisie regeer Hy as Koning totdat al sy vyande vernietig is.

Net om jou geheue te verfris, die meisie in Hooglied is steeds besig met haar kragtige getuienis oor wie die Bruidegom is. Versteek in diep simboliek vertel sy wie Jesus Christus vir haar persoonlik is. Hierdie is nie net dinge wat sy iewers gelees of gehoor het nie. Dis hoe sy Hom elke dag beleef in haar diep wandel met Hom. Hy is haar Beminde, die Liefling van haar lewe. Sy ken Hom as die Heilige en beleef ‘n intense liefde en bewonderheid vir Sy heiligheid. Enige iets wat nie heilig is nie, maak nie saak hoe hoog die wêreld dit prys nie, lyk vaal en minderwaardig. Sy beleef Hom ook daagliks as die Lig en weet hoe Sy soeklig die duisternis in haar openbaar sodat sy daarmee kan deel deur belydenis. Die feit dat Hy die Een is wat die parskuip trap vul haar met ontsag en aanbidding. Nie met vrees vir straf nie, maar met ‘n diepe Godsvrees vir wie Hy is. Elke faset is ‘n persoonlike belewenis en soos wat ons dieper in die Vader se hart beweeg, openbaar die Seun Homself meer intens aan ons. Gehoorsaamheid en liefde is die twee sleutels. Die mate van openbaring wat ons van Jesus Christus ontvang, hang hiervan af.

 

Sy gaan voort in vers 11: “sy hoof is goud”. Die hoof van goud simboliseer die hoofskap van Jesus Christus oor alles. Ek wil dit graag weer herhaal. Hy is hoof oor ALLES.

Omdat Hy die oorwinning behaal het, sit Hy bo alle owerhede, magte, kragte en heerskappye. Sy Naam is ver hoër en kragtiger as enige ander naam of titel wat bestaan. Dit sluit die fisiese sowel as die geestelike realm in. Ook nie net in die tyd waarin ons nou leef nie, maar dit sluit ook die toekomste era in, met ander woorde die millenium. Jesus Christus is die Hoof bo alle dinge. Die Vader het alles onder Sy voete onderwerp.

… en Hom laat sit het aan sy regterhand in die hemele, bo alle owerheid en mag en krag en heerskappy en elke naam wat genoem word, nie alleen in hierdie wêreld nie, maar ook in die toekomstige. En Hy het alle dinge onder sy voete onderwerp en Hom as Hoof bo alle dinge aan die gemeente gegee  (Ef 1:20b-22) 

 

Hoe groter ons besef dat Jesus Christus regtig die hoof oor alles is, hoe makliker sal ons in Sy outoriteit kan staan. Ek glo die liggaam van Christus sal baie meer effektief kan wees, as ons werklik besef Hy het reeds die oorwinning behaal. Hy is reeds die hoof oor alles. Daar is nie ‘n owerheid, prinsipaliteit, mag of krag wat kan staan teen Jesus nie.

 

Luister wat sê hierdie Skrif in Kolossense 2:9-10.

For in Him all the fullness of Deity (the Godhead) dwells in bodily form [completely expressing the divine essence of God]. And in Him you have been made complete [achieving spiritual stature through Christ], and He is the head over all rule and authority [of every angelic and earthly power]. (Col 2:9-10) 

In Jesus Christus woon die volheid van die essensie van die Here. Omdat ons in Hom is, besit ons dieselfde volheid. En dan herinner Paulus ons weer dat die Een in wie ons is, die hoof is oor elke prinsipaliteit en mag.

 

In die Naam van Jesus

Ek wil graag vir ‘n oomblik deel oor wat dit beteken wanneer ons in Sy Naam iets doen. Hierdie is nie my illustrasie nie, ek leen dit by iemand anders. Dit verduidelik regtig prakties en verstaanbaar hoe dit werk as ons optree in Sy Naam.

‘n Pa het twee seuns en stuur die jongste na die oudste met ‘n boodskap om die gras te gaan sny. Die jongste boetie het geen outoriteit oor sy ouer broer nie. Sou hy in sy eie outoriteit na ouboet gegaan het met ‘n opdrag om die gras te sny, sou ouboet hom vinnig afgesê het. Maar nou begin hy sy sin met: “pappa het gesê jy moet die gras gaan sny”. Dis is dus nie hyself wat die opdrag gee nie, maar pappa.

Sou ons hierdie in geestelike terme stel sal dit so klink: “Ouboet, ek kom in die naam van pappa en sê vir jou jy moet die gras gaan sny”. Die jongste seun tree op in die direkte outoriteit van sy pa. Hy het die instruksie by sy pa gekry en voer dit uit. Hy tree nie op in eie outoriteit nie, maar in die outoriteit wat gesetel is in sy pa.

Geestelik werk dit dieselfde. Die ‘name and claim’ beweging het gebede en aksies in die Naam van die Jesus baie goedkoop gemaak. Daar word geleer dat enige persoon net die Naam van Jesus kan sê en hulle kan kry of doen wat hulle wil. Amper soos ‘n towerstaffie wat geswaai word.

Die sleutel tot optrede in die Naam van Jesus Christus is dat dit in Sy wil moet wees en dat Hy vir ons die opdrag daarvoor gegee het. Wanneer ons seker is van hierdie twee dinge is daar nie ‘n owerheid of prinsipaliteit wat ons kan teëgaan nie.

 

Hoe groter ons begrip van die Oorwinning en Hoofskap van Jesus, hoe sterker sal ons kan staan in Sy Naam. Die Een in wie se Naam ons optree, is hoof oor alles. Dis nie sommer maar net gaan in enige een se naam nie. Ons moet net seker maak ons hoor direk by Hom en tree op binne Sy wil. Dan kan ons in vrymoedigheid en outoriteit staan.

 

Gesag

Ons lees van ‘n gebeurtenis in Lukas 7. Hierdie is ‘n baie goeie illustrasie van hoe gesag deur geloof werk. ‘n Romeinse hoofman oor ‘n honderd se dienskneg het op sterwe gelê. Jesus is gevra om die dienskneg gesond te maak. Hierdie man het homself nie waardig geag dat Jesus eers in sy huis moes inkom nie en het daarom vir Jesus oppad ontmoet. Hy sê toe die volgende:

Daarom het ek my ook nie waardig geag om na U te gaan nie; sê dit maar met ‘n woord, en my kneg sal gesond word. Want ek is ook ‘n man wat aan gesag onderworpe is, en ek het soldate onder my; en vir hierdie een sê ek: Gaan! en hy gaan; en vir ‘n ander een: Kom! en hy kom; en vir my dienskneg: Doen dit! en hy doen dit. (Luk 7:8) 

Wat sê hy eintlik hier? Omdat hy die hoof is van sy soldate, gee hy net opdragte en het volle vertroue dat hulle dit sal doen. Hy verstaan hoe gesag en hoofskap werk. Omdat Jesus ook iemand is wat gesag het, kan Hy net ‘n woord spreek en dit sal gebeur. Hy het volle vertroue gehad in die gesag van Jesus Christus.

Toe Jesus dit hoor, was Hy oor hom verwonderd, en Hy draai Hom om en sê vir die skare wat Hom volg: Ek sê vir julle, selfs in Israel het Ek so ‘n groot geloof nie gevind nie. En toe die wat gestuur was, teruggaan na die huis, vind hulle die siek dienskneg gesond. (Luk 7:9-10) 

Jesus het hom verwonder in hierdie man se geloof. Hoeveel meer kan ons staan in geloof op die Skrifte wat ons sopas hierbo bestudeer het. As ons weet ons is in Sy wil en ons het ‘n opdrag by Hom gekry, kan ons hierdie selfde geloof as die Romeinse hoofman openbaar. Ons hoef nie te vrees vir enige iets in die koninkryk van duisternis nie. Die vyand wil ons laat glo dat hy die hoof is en dat ons magteloos is teen sy gesag. Dis ‘n leuen. Jesus Christus is hoof oor alles. Ons moet net seker maak dat ons in Hom bly.

 

Kom ons vra die Heilige Gees vir ‘n dieper openbaring van Jesus Christus as die hoof. Hoe groter ons besef, hoe meer sal ons in geloof waag in Hom.

 

Die audio weergawe van hierdie boodskap is beskikbaar op ons telegram kanaal: https://t.me/+1hYU7h46Jj1hZDc8

 

Skakels

Om na die inleiding te luister asook die Woord deur die Heilige Gees rakende hierdie reeds, kliek hier.

Die audio weergawe van hierdie boodskap is beskikbaar op ons telegram kanaal: https://t.me/+1hYU7h46Jj1hZDc8

Deel 1 – Wie is die Bruidegom (agtergrond)

Deel 2 – Wie is jou beminde?

Deel 3 – Hy is my Beminde

Deel 4 – Hy is Lig

Deel 5 – Hy is Heilig

Deel 6 – Hy is die Krygsman en Wreker

Deel 7 – Hy is die Oorwinnaar

css.php