Hy is die Hoëpriester

Deur Yolandie Mostert (Junie 2023)

 

Sy lippe is lelies wat van vloeiende mirre drup. (Hgl 5:13c) 

Daar is soveel wonderlike Skrifgedeeltes en waarhede oor hierdie faset van ons Koning se karakter. Hy is nie sommer net enige hoëpriester nie, Hy word deur die Vader genoem ‘n hoëpriester volgens die orde van Melgisédek.

 

Simboliek

Die simboliek in hierdie vers in Hooglied spreek van die volgende:

Lippe dui op heilige, suiwer woorde van waarheid. Dit is wat by Sy mond uitkom.

Wanneer ons na lelies kyk in die konteks van spraak, dui die trompetvorm van ‘n lelie op die uitspreek van proklamasies. Lelies in Hooglied verwys ook na reinheid en heiligheid.

Mirre verwys altyd na dood en die aflê van ‘n lewe. Die kruisdood van Jesus het gelei tot opstandingskrag wat deur Hom vloei. Ons lees in Hebreërs 8 dat elke aardse hoëpriester aangestel was om offers te bring. Jesus moet ook iets hê om te offer en het Homself gebring.

As gevolg van die volmaakte offer van Jesus Christus (die mirre) kan Hy nou intree en versoenende proklamasies spreek in heiligheid en waarheid (trompetvorm van ‘n lelie).

 

Genade

In Psalm 45, die lied wat die liefde tussen die Jesus Christus en Sy bruid vasvang, lees ons die volgende:

Genade is uitgestort op u lippe; daarom het God U geseën vir ewig. (Ps 45:3b)

Sy woorde is vol genade. Ons kan so maklik in die geestelike-prestasie strik trap waar ons dink dat ons ‘n sekere standaard van goedheid of heiligheid moet bereik om aanvaarbaar vir die Here te wees. Ons Koning is sagmoedig van hart. Ja, Hy is heilig ook, en geregtigheid, en daarom vereis Hy heiligheid van ons. Hy het immers met Sy Bloed betaal en alles vir ons in plek gesit om Hom te kan aanbid in heiligheid. Tog het Hy genade op ons menslikheid, ons moet dit net nie as ‘n verskoning vir vleeslikheid gebruik nie. Ek wil graag jou aandag op ‘n vers wat nogal buite konteks aangehaal word, vestig.

…dat julle nie moet sondig nie; en as iemand gesondig het, ons het ‘n Voorspraak by die Vader, Jesus Christus, die Regverdige. (1 Joh 2:1)

Johannes begin deur te skryf dat wanneer ons in Christus is ons nie vanonderstel is om te sondig nie. In die vorige hoofstuk sien ons hoe ons gereinig word wanneer ons ons sondes bely. Indien dit ons leefwyse is en ons onsself dan in ‘n situasie bevind waar ons gesondig het, hoef ons nie sonder hoop te wees nie. Jesus Christus is ‘n regverdige voorspraak vir ons by die Vader.

 

Hy het begrip vir ons menslikheid. Ongeag waarmee ons sukkel, of dit ongeloof, vrees, gebondenheid, pyn of verslawings is. Hy is vol barmhartigheid wanneer Hy na ons kyk. Nie om net te simpatiseer en ons so te los nie, maar sodat Hy ons kan help. Hierin is ook ‘n les vir ons. Die mens is so geneig om sy menslikheid as ‘n verskoning te gebruik vir sonde en slegte gewoontes. Dis nie wat die Skrif hier sê nie. Hy is genadig – om ons te help.

Daarom moes Hy in alle opsigte aan sy broeders gelyk word, sodat Hy ‘n barmhartige en getroue hoëpriester kon wees in die dinge wat in betrekking tot God staan, om die sondes van die volk te versoen. Want deurdat Hy self onder versoeking gely het, kan Hy dié help wat versoek word. (Heb 2:17-18) 

 

Die priesterorde van Melgisédek

Ek wil nou graag vir ‘n oomblik deel oor die priesterorde van Melgisédek. Die Hebreërs skrywer het heelwat hieroor te sê en haal Psalm 110:4 ‘n paar keer aan waar hierdie proklamasie vir die heel eerste keer gemaak was. Hierdie hele Psalm is ‘n kragtige beskrywing van Jesus Christus as ‘n regeerder, kryger, hoë priester sowel as regter.

where Jesus has entered [in advance] as a forerunner for us, having become a High Priest forever according to the order of Melchizedek. (Heb 6:20) 

Gaan lees asseblief die hele boek van Hebreërs stadig en biddend deur. Daar is so baie dieptes en waarhede oor hierdie onderwerp, dit gaan nie moontlik wees om alles in een boodskap in te pas nie. Die Heilige Gees het ‘n ruk gelede hierdie priesterorde op my hart begin druk. Ek besef dat daar dieper skatte ontdek moet word. Ons moet elkeen bid en vra vir openbaringskennis in hierdie verband. Net ‘n woord van waarskuwing: daar is ook baie nonsens hieroor daarbuite, so bly in die waarheid van die Skrif en in die leiding van die Heilige Gees.

 

Ek gaan kortliks Hebreërs 5:5-11 opsom. Jesus het nie Homself opgehef of aangestel in die rol as Hoëpriester nie. Deur Sy gehoorsaamheid tot die dood toe, het Hy ‘n bewerking van saligheid geword. Ons lees hier dat Jesus deur Sy aardse lyding gehoorsaamheid geleer het. Hier is ‘n les vir ons in opgesluit: lyding (sufferings) wat gepaard gaan met die neerlê van ons wil, leer vir ons gehoorsaamheid. Vir die wat gehoorsaam aan Hom is, bewerk Hy ewige saligheid.

Die skrywer van die brief wou graag dieper waarhede oor hierdie priesterorde deel, maar kon nie omdat die gemeente toe alreeds traag geword het. Hulle het vleeslike melk boodskappe verkies en was lui om vaste kosse te kou en te verteer. Elke keer wanneer ek hierdie gedeelte lees kan ek nie help om te wonder wat hy vir hulle wou geleer het nie.

So het Christus ook Homself nie verheerlik om Hoëpriester te word nie, maar Hy het Hom verheerlik wat vir Hom gesê het: U is my Seun, vandag het Ek U gegenereer. Soos Hy ook op ‘n ander plek sê: U is priester vir ewig volgens die orde van Melgisédek. Hy wat in die dae van sy vlees gebede en smekinge met sterk geroep en trane aan Hóm geoffer het wat Hom uit die dood kon red, en ook verhoor is uit die angs— Hy, al was Hy die Seun, het gehoorsaamheid geleer uit wat Hy gely het; en nadat Hy volmaak is, het Hy vir almal wat Hom gehoorsaam is, ‘n bewerker van ewige saligheid geword en is deur God genoem ‘n hoëpriester volgens die orde van Melgisédek; waaroor ons veel te sê het wat swaar is om te verklaar, omdat julle traag geword het om te hoor. 

 

Waar kom dit vandaan?

Kom ons gaan nou terug en kyk wat hierdie priesterorde behels. Ons lees van ‘n kort gebeurtenis in Genesis 14:18-19. Abraham het teruggekeer van ‘n aanval op die konings wat saamgespan het en onder andere Lot weggevoer het as buit.

En Melgisédek, die koning van Salem, wat ‘n priester van God, die Allerhoogste, was, het brood en wyn gebring en hom geseën en gesê: Geseënd is Abram deur God, die Allerhoogste, die Skepper van hemel en aarde. (Gen 14:18-19) 

Hierdie man met die naam van Melgisédek was beide ‘n koning en ‘n priester. Anders as die priesterorde van Aaron waar hulle slegs priesters was, maar die konings vanuit ‘n ander bloedlyn gekom het. Jesus Christus is dus nie net ‘n hoëpriester volgens die orde van die Ou Verbond, Aaron se priesterorde nie, maar Hy is Koning en Priester tegelyketyd. Hy regeer en Hy tree in. Dis die Nuwe Verbond se priesterorde. En dit gebeur vanaf die regterhand van die Vader (Psalm 110).

Kom ons lees verder in Hebreërs hoofstuk 7. Hier word Melgisédek opgehef as ‘n tipe van Jesus Christus. Lank voordat die Ou Verbond se finale snyding by die berg Sinai plaasgevind het en lank voor die priesterorde van Aaron ingestel is, is die heerlikheid van die Nuwe Verbond reeds aangekondig en gemanifisteer deur die gebeure in Genesis 14.

Ons kan nie anders as om verwonderd te staan voor die Here se raadsplan en fyn ingeweefde details nie.

Want hierdie Melgisédek was koning van Salem, priester van God, die Allerhoogste, wat vir Abraham tegemoetgegaan het by sy terugkeer toe hy die konings verslaan het, en hom geseën het; aan wie Abraham ook ‘n tiende deel van alles gegee het—hy was in die eerste plek, volgens uitleg, koning van die geregtigheid en dan ook koning van Salem, dit is koning van vrede; sonder vader, sonder moeder, sonder geslagsregister, sonder begin van dae of lewenseinde, maar gelykgestel aan die Seun van God, bly hy priester altyddeur. Let nou op hoe groot hierdie man was, aan wie selfs Abraham, die aartsvader, ‘n tiende van die buit gegee het. (Heb 7:1-4)

 

Die hoofsaak

Ons het nou heelwat gesê wat wonderlik is, maar nie veel beteken sonder ‘n praktiese toepassing nie. In Hebreërs 8, gee die skrywer vir ons die hoofsaak van alles. Jesus Christus is ons Hoëpriester. Omdat Hy ook Koning is en deur die Vader verhef is, bedien Hy in Sy intree rol vanaf daardie hoë posisie van heerskappy en gesag.

Die hoofsaak nou van wat ons gesê het, is dít: Ons het so ‘n Hoëpriester wat gaan sit het aan die regterhand van die troon van die Majesteit in die hemele, ‘n Bedienaar van die heilige dinge en van die ware tabernakel wat die Here opgerig het en nie ‘n mens nie. (Heb 8:1-2) 

 

Praktiese toepassing

Die praktiese toepassing vir ons word twee hoofstukke verder gevind. Jesus het vir ons ‘n pad gemaak tot binne die Allerheiligste. Ons almal kan so diep ingaan, dis nie net vir ‘n sekere klein groepie nie. Ek verduidelik meer hieroor in my vorige boodskap oor Dertig, sestig en honderdvoudig. Die Seun van God het met Sy Bloed betaal. Hy het reeds die weg gemaak. Is dit nie ‘n belediging in Sy gesig wanneer ons uit keuse en vleeslikheid in die vlak water van die voorhof ploeter, terwyl die pad oop is om die dieptes in Hom te ontdek nie.

 

Ons kwoteer graag dat ons met vrymoedigheid die heiligdom mag binnegaan en stop daar. Ek wil graag die hele paragraaf vir ons lees. Konteks is ongelooflik belangrik wanneer ons die Skrifte bestudeer. Ons kan nie net versie-hier en versie-daar doen nie.

Terwyl ons dan, broeders, vrymoedigheid het om in die heiligdom in te gaan deur die bloed van Jesus op die nuwe en lewende weg wat Hy vir ons ingewy het deur die voorhangsel heen, dit is sy vlees, en ons ‘n groot Priester oor die huis van God het, laat ons toetree met ‘n waaragtige hart in volle geloofsversekerdheid, die harte deur besprenkeling gereinig van ‘n slegte gewete en die liggaam gewas met rein water. 

Laat ons die belydenis van die hoop onwankelbaar vashou, want Hy wat dit beloof het, is getrou; en laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor; en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom. 

Want as ons opsetlik sondig, nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, bly daar geen offer vir die sondes meer oor nie, maar ‘n verskriklike verwagting van oordeel en ‘n vuurgloed wat die teëstanders sal verteer. (Heb 10:19-27) 

As gevolg van alles wat geskryf is in Hebreërs 1 tot 10, verstaan ons waarom ons met vrymoedigheid die heiligdom (die Allerheiligste) mag binnegaan. Die enigste manier is deur die Bloed van Jesus Christus, nie deur ons goeie dade nie.

Nou dan, moet ons op ‘n sekere manier binnegaan. Ons kan nie net instap in arrogansie soos ons wil nie. Ons hart moet opreg wees en ons moet deur die geloof in Jesus Christus inkom. Dis nie al nie. Ons harte moet gewas wees met die Bloed van die Lam. Dit gebeur tydens wedergeboorte en daarna hou ons aan met die skoonwasproses (Open 7:14). Nog ‘n ding wat tydens wedergeboorte moet gebeur is ons doop en hierby bedoel ek die doop van die gelowiges – onderdompeling in water nadat ons tot geloof gekom het.

Daarna vind ons verdere instruksies wat behoort te volg in gehoorsaamheid nadat ons die wonderlike voorreg het om binne te mag gaan. Hou vas aan die geloof, wees lief mekaar, moedig mekaar aan om goeie werke te doen, wees getrou om die byeenkomste by te woon en vermaan mekaar as ons verkeerde gewoontes en dinge sien. Hoe nader die wederkoms, hoe ywerig moet ons mekaar op hierdie maniere ondersteun. Kan jy sien hoe ons vertikale verhouding met die Here altyd beinvloed word en ‘n invloed het op ons horisontale verhoudings met mense?

Laastens sê die skrywer, as ons dán, na alles wat ons ontvang het, die kosbare Bloed van die Lam verwerp in opsetlike sonde en rebelle, is daar niks verder vir ons te doen nie. Wat moet Jesus dan nog doen? Hy het reeds alles gegee en beskikbaar gestel. Dit is moontlik om ons saligheid te verloor. Daar is nie ‘n ding soos een keer gered altyd gered nie. Daar is ‘n lyn wat ons kan oorsteek wanneer ons Voorspraak en Hoëpriester ons Regter word.

 

Jesus Christus – ons Hoëpriester

Sy lippe vloei van mirre. Hy treë vir ons in, Hy het reeds die volmaakte offer betaal sodat ons Hom as die Voorloper mag volg. Elkeen van ons word geroep tot ‘n lewe in die Allerheiligste. Alles is in plek vir ons, ons moet net toetreë. Wanneer ons hart opreg is en ons graag wil, maar sukkel en voel asof ons omstandighede, verlede, pyn of gebondenhede ons terughou, het ons ‘n oplossing. Ons kan vrymoedig voor Hom kom. Sy troon is een van genade. Daar sal ons barmhartigheid en genade vind en Hy sal ons help.

Terwyl ons dan ‘n groot Hoëpriester het wat deur die hemele deurgegaan het, naamlik Jesus, die Seun van God, laat ons die belydenis vashou. Want ons het nie ‘n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde. Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word. (Heb 4:14-16) 

 

Skakels

Om na die inleiding te luister asook die Woord deur die Heilige Gees rakende hierdie reeds, kliek hier.

Die audio weergawe van hierdie boodskap is beskikbaar op ons telegram kanaal: https://t.me/+1hYU7h46Jj1hZDc8

Deel 1 – Wie is die Bruidegom (agtergrond)

Deel 2 – Wie is jou beminde?

Deel 3 – Hy is my Beminde

Deel 4 – Hy is Lig

Deel 5 – Hy is Heilig

Deel 6 – Hy is die Krygsman en Wreker

Deel 7 – Hy is die Oorwinnaar

Deel 8 – Hy is die Hoof

Deel 9 – Hy is die Afgesonderde

Deel 10 – Hy is Onveranderlik

Deel 11 – Hy is die Yweraar

Deel 12 – Hy is die Regter

Deel 13 – Hy is Liefde

Deel 14 – Hy is die Onpeilbare

css.php