Deur Yolandie Mostert (Julie 2023)
Sy bene is marmerpilare (Hgl 5:15a)
Hierdie faset van die karakter van ons Koning behoort ons in die onseker tye waarin ons leef met ongelooflike vrede en sekerheid te vul. Bene en heupe dui op standvastigheid. Stewige en sterk bene sal vas bly staan ongeag.
Die woord marmer is afkomstig van die Griekse woord mármaros wat ‘blink steen’ beteken. Ons almal is bekend met die wit steen waarin swierige stroke grys vasgevang is. Die duurste marmer is natuurlik spierwit sonder enige spatsels kleur. Dit herinner my sommer nou aan die bruid van die Koning. Na al die skoonmaak, belydenis, neerlê van die vlees en was in die Bloed van die Lam, gaan die bruid sonder vlek of rimpel wees (Ef 5:27). Jesus Christus kom terug vir ‘n skoon en rein bruid.
Jesus Christus, die Bruidegom, se standvastige bene word beskryf as pilare van marmer. Pilare staan vas; dis waarvoor hulle gemaak word. Ons het ‘n vaste sekerheid dat Sy troon vasstaan en dat niks dit kan verander nie. Ons het net nodig om hierdie feit as die waaragtige waarheid te glo. Dit sal ons uitkyk op elke omstandigheid bepaal. Glo ons regtig dat dat Hy nog nooit beheer verloor het nie? Ons Koning word nooit geskok deur gebeure nie. Niks is vir Hom ‘n verrassing nie. Hy word nooit onkant gevang nie. Hy ken die einde voordat iets ooit begin het.
Vul dit jou nie met net nog meer bewondering en aanbidding vir wie Hy is nie? Hy is al ons aanbidding en lof waardig en nog soveel meer.
Hoor wat sê die Vader van Jesus:
maar van die Seun: U troon, o God, is tot in alle ewigheid, die septer van u koninkryk is ‘n regverdige septer (Heb 1:8)
Sy troon, die troon van Jesus Christus gaan vir ewig bestaan. Sy koninkryk gaan nooit ophou bestaan nie. ‘n Septer verteenwoordig die tipe heerskappy. Jesus se septer is regverdig.
Ek wil net op hierdie punt vinnig oor Sy regverdigheid praat. Jesus is altyd regverdig met almal. Hy kies nooit kant nie. Hy het nie witbroodjies nie. As jy nie saamstem op hierdie punt nie, gaan lees weer Jesus se gesprek met Petrus in Mattheus 16. Jesus bevestig Petrus as die rots waarop Hy Sy gemeente gaan bou en bestraf Petrus as ‘n struikelblok net daarna toe Petrus nie op die koninkryk gefokus was nie, maar op emosie. Jesus se uitsprake is altyd een honderd persent regverdig. Dis ‘n baie lekker sentiment, veral wanneer ons die party is wat ‘n regverdige uitspraak nodig het. Maar dit geld ook wanneer ons die skuldige party is. Ja, Hy vergewe ons en is genadig, maar Hy bly regverdig. Sy ewige troon is uitgebeitel, blinkwit-regverdig, soos spierwit marmer.
Ek wil jou moedmaak. Dit maak nie saak hoe die ekonomie lyk nie. Dit maak nie saak watter politieke party aan bewind is nie. Dit maak nie saak watter bose agendas deur die koninkryk van duisternis gedryf word nie. Dit maak nie saak dat dit lyk asof daar nie ‘n toekoms vir ons kinders is nie. Dit maak nie saak wat voorlê nie. In die middel van dit alles is daar ‘n ewige, regverdige troon en daar vind ons vrede.
Uit Sion, die volkomenheid van skoonheid, verskyn God in ligglans. Onse God kom en kan nie swyg nie. Vuur verteer voor sy aangesig, en rondom Hom storm dit geweldig. (Ps 50:2-3)
Ons plek is IN HOM. Binne Hom is daar vrede en sekerheid. Vanuit daardie plek kan ons beloftes van lig en waarheid glo en proklameer. Wanneer ons onvrede, vrees en onsekerheid ervaar, kan dit wees dat ons dalk ‘n klein treëtjie weg van die troon beweeg het. Rondom Hom storm dit, maar binne Hom is dit stil. Ons het elkeen nodig om van tyd tot tyd ons posisie te bepaal. Is ek steeds binne Hom? Of het die gebeure in die wêreld my oog van die troon afgehaal en na die storm geskuif? Dan moet ek deur ‘n wilsbesluit my siel aanspreek, maar ook deur ekstra aanbiddingstyd in Sy teenwoordigheid te spandeer, weer terug skuif tot binne Sy volmaakte vrede van spierwit marmer sekerheid.
Ons kan nie oor die heerlike, ewige troon vas Jesus praat sonder om ook na ons ewigheidsbegrip te kyk nie. Besef ons regtig dat ons ook vir ewig gaan leef? Elke mens op aarde is ‘n ewig-lewende gees. Ons keuses op aarde bepaal ons lewe in die ewigheid. Op hierdie noot is baie mense tevrede om te sê ‘ek gaan vir ewig in die hemel leef’. Besef jy dat dit nie net oor hemel of hel gaan nie? Dit gaan oor ‘n verhouding tot in ewigheid met ons Hemelse Vader, met Jesus Christus, die Seun, sowel as met die Gees van die Lewende God. Ons leef nie net om hemel toe te gaan nie. Aan die einde van Openbaring sien ons hoe die Nuwe Jerusalem aarde toe kom. Ons fokus moet nou wees op voorbereiding vir die duisend jaar van vrede. Dis amper soos ‘n oorgangstydperk na die ewigheid. In hierdie tydperk gaan die ewige troon van Jesus fisies op aarde gevestig word en Hy gaan regeer. Die wat nou IN HOM lewe, nie almal nie, gaan as konings regeer. Maar nie net in die duisend jaar van vrede nie. Ook tot in ewigheid. Ons is nou in opleiding en deel daarvan is om ‘n ware ewigheidsbesef te ontwikkel.
En hy het my getoon ‘n suiwer rivier van die water van die lewe, helder soos kristal, wat uitstroom uit die troon van God en van die Lam. In die middel van sy straat en weerskante van die rivier was die boom van die lewe wat twaalf maal vrugte dra en elke maand sy vrugte gee, en die blare van die boom is tot genesing van die nasies. En daar sal geen enkele vervloeking meer wees nie, en die troon van God en van die Lam sal daarin wees, en sy diensknegte sal Hom dien. En hulle sal sy aangesig sien, en sy Naam sal op hulle voorhoofde wees. En nag sal daar nie wees nie; en hulle het geen lamp of sonlig nodig nie, omdat die Here God hulle verlig; en hulle sal as konings regeer tot in alle ewigheid. (Open 22:1-5)
Daarom, broeders, moet julle jul des te meer beywer om julle roeping en verkiesing vas te maak; want as julle dit doen, sal julle nooit struikel nie. Want so sal ryklik aan julle verleen word die ingang in die ewige koninkryk van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus. (2 Pet 1:10-11)
Vandag wil ek hierdie woorde van Petrus bid. “Vader, help ons om ons roeping weer met ywer vas te maak. U belowe dat ons dan nie sal struikel nie. Dankie dat ons vandag kan kies om op die ewige troon van U Seun te fokus en nie op omstandighede nie. U is ons hulp en in U alleen vind ons volmaakte vrede.”
Skakels
Om na die inleiding te luister asook die Woord deur die Heilige Gees rakende hierdie reeds, kliek hier.
Die audio weergawe van hierdie boodskap is beskikbaar op ons telegram kanaal: https://t.me/+1hYU7h46Jj1hZDc8
Deel 1 – Wie is die Bruidegom (agtergrond)
Deel 2 – Wie is jou beminde?
Deel 3 – Hy is my Beminde
Deel 4 – Hy is Lig
Deel 5 – Hy is Heilig
Deel 6 – Hy is die Krygsman en Wreker
Deel 7 – Hy is die Oorwinnaar
Deel 8 – Hy is die Hoof
Deel 9 – Hy is die Afgesonderde
Deel 10 – Hy is Onveranderlik
Deel 11 – Hy is die Yweraar
Deel 12 – Hy is die Regter
Deel 13 – Hy is Liefde
Deel 14 – Hy is die Onpeilbare
Deel 15 – Hy is die Hoëpriester
Deel 16 – Hy is die Skepper
Deel 17 – Hy is die Lam van God
Deel 18 – Hy is die Seun van YHVH