Deur Yolandie Mostert (Augustus 2023)
Hy is geheel en al die lieflikheid self (Hgl 5:16b)
Die meisie wat die bruid van Jesus verteenwoordig is steeds besig met haar getuienis. Vers 16 is die klimaks van haar beskrywing. Elke faset wat sy tot dusver beskryf het was vir haar persoonlik. Geen woord is vanuit ‘n teoretiese agtergrond gespreek nie. Sy het elke faset geproe en leer ken in ‘n mindere of meerdere mate. Ons sal natuurlik nooit Jesus se volheid en totale diepte bereik nie. Maar tog het sy al genoeg van elke faset gesien om net nog meer verlief te raak op wie Hy is.
Elke beskrywing tot sover was spesifiek; ons kon die simboliek herken en ‘n faset daaraan koppel. Maar nou is dit amper asof sy uit woorde raak. Hoe meer sy beskryf hoe wonderlik Hy vir haar is, hoe meer vind sy dat woorde ontbreek. Daar is net nie genoeg klanke en klinkers om Jesus Christus te beskryf nie.
Ek verbeel my hoe haar beskrywing spoed en intensiteit begin optel het met elke faset. Teen die tyd wat sy by vers 16 uitkom, is sy skoon uitasem. Daar is nie meer woorde en asem oor om Sy lieflikheid te beskryf nie. Net om van Hom te praat, behoort ons met dieselfde opgewondenheid te vul. Ek dink nou aan die konining van Skeba se woorde toe sy koning Salomo se lof besing het. Ons lees dat daar geen gees meer in haar oor was nadat sy alles aanskou en aangehoor het nie.
Toe die koningin van Skeba dan al die wysheid van Salomo sien en die huis wat hy gebou het, en die voedsel van sy tafel en hoe sy dienaars sit en sy bediendes staan, en hulle klere, en sy dranke en sy trap waarmee hy opklim in die huis van die HERE, was daar in haar geen gees meer nie. Daarop sê sy aan die koning: Die woord was waarheid wat ek in my land gehoor het oor u en oor u wysheid; en ek het die woorde nie geglo nie, totdat ek gekom en my oë gesien het; en kyk, die helfte is my nie meegedeel nie. U oortref in wysheid en in welvaart die gerug wat ek gehoor het. (1 Kon 10:4-7)
As dit haar reaksie was nadat sy persoonlik met ‘n aardse koning te doen gekry het, hoeveel te meer ons wanneer ons werklik Jesus Christus intiem begin leer ken het. Daar bly geen gees meer oor nie. Woorde ontbreek en ons raak ook uitasem van opgewondenheid.
Hoor hoe mooi beskryf die Passion Translation die eerste twee verse van Psalm 45. Ek deel dit omdat dit ‘n hartsbeskrywing is. Vir my persoonlik is die Passion Translation nie ‘n vertaling van die Bybel in die ware sin van die woord nie. Net soos die naam van hierdie boek sê: dis passievolle woorde om dit wat ons in die Skrif lees oor te dra. Dit sal nooit ‘n suiwer vertaling kan vervang nie, maar soms dien dit as goeie bykomende materiaal. Ek moes net dit uitklaar.
My heart is on fire, boiling over with passion. Bubbling up within me are these beautiful lyrics as a lovely poem to be sung for the King. Like a river bursting its banks, I’m overflowing with words, spilling out into this sacred story. Beautiful! Beautiful! Beyond the sons of men! Elegant grace pours out through every word you speak. Truly God has anointed you, his favored one, for eternity! (Ps 45:1-2 TPT)
Spring jou gees op van opgewondenheid wanneer jy hierdie woorde hoor? Is dit hoe Jesus Christus, die Koning en Bruidegom jou laat voel? ‘n Hart aan die brand en wat wil oorborrel van passie. Wil jou gees in jou binneste ook uitskreeu: ‘beautiful, beautiful, beyond the sons of men!’. Beleef jy ook hoe jou kapasiteit te klein is om Hom en Sy heerlikheid te bevat. Hy oorweldig ons met Sy skoonheid en heerlikheid. Hy oorrompel en neem ons in. En ons kan nie genoeg van Hom kry nie. Ek praat nie nou van hoendervleis oomblikke en sielservarings nie. Ek beskryf ‘n gees se diepste plekke wat Jesus Christus self wil hê.
Dit is wat hierdie vers in Hooglied beskryf: Hy is geheel en al die lieflikheid self; ‘He is altogether lovely’. Daar is niemand soos Hy nie en daar is niemand wat ons kan bevredig soos wat Hy kan nie. Wanneer ons eers Sy soet verhemelte van diep intieme vriendskap geproe het, sal die wêreld, begeertes, ambisies en drome nooit weer dieselfde lyk nie. Hy verander ons uitkyk en Hy verander dit wat ons wil hê. Soos wat die ou koortjie sing: ‘Take the whole world, but give me Jesus’. Dis diep woorde wat ons sommer so ydelik langs kampvure gesing het. ‘Take the whole world…’
Daar is niemand soos U onder die gode, Here, en daar is niks soos u werke nie. (Ps 86:8)
Ek het eendag ‘n treffende vertelling gehoor wat ek graag met jou wil deel. Ek is nogal lief om dit te vertel, juis omdat dit so treffend is, so verskoon maar, jy gaan dit waarskynlik vorentoe nog ‘n hele paar keer by my hoor.
Die bestuurder van ‘n klein motorfietsie kom by die polisiestasie aan om ‘n verslag te gee van ‘n ongeluk waarin hy betrokke was. Hy vertel dat hy op die hoofweg gery het in sy motorfietsie en ‘n massiewe vragmotor het kop-aan-kop met hom gebots. Hy vertel verder dat hy opgestaan het, sy motorfietsie opgetel het en verder gery het. Die konstabel kyk na die bestuurder en sien dat hy netjies aangetrek is, sonder ‘n skrapie of stoffie. Sy hare is netjies en hy kan deur ‘n ring getrek word.
Niemand sou die konstabel kwalik geneem het as hy nie die bestuurder se storie geglo het nie. Dis fisies onmoonlik vir ‘n klein motorfiets om met so ‘n groot vragmotor te bots en ongedeerd daarvan af te kom. Enige een wat op ‘n hoofweg met iets so groot soos ‘n vragmotor bots, gaan nie weer dieselfde wees nie.
Netso wanneer ons werklik Jesus Christus persoonlik leer ken het. Dis onmoonlik om ooit weer dieselfde te wees. Geen mens kan met iemand so groot en wonderlik soos Jesus van naby te doene kry en nie verander nie. Dis die vrug waarvoor ons moet soek. Eerste in ons eie lewe en daarna in die lewens van andere. Is daar ware en blywende verandering?
Hierdie verandering is ook nie net eenmaling tydens wedergeboorte nie. Dis ‘n voortdurende verandering soos wat ons daagliks in intieme vriendskap met Hom wandel. Hoe meer ons oorweldig raak deur Sy lieflikheid, hoe meer word ons in daardie lieflikheid verander.
Uit Sion, die volkomenheid van skoonheid, verskyn God in ligglans. (Ps 50:2)
Here Jesus, ek bid vir elkeen wat hierdie woorde lees of daarna luister. Mag ons elkeen net so volkome in skoonheid wees soos Sion sodat U uit ons kan skyn in Goddelike ligglans. Mag ons nooit tevrede wees met gemiddeld nie, terwyl U geheel en al die lieflikheid self is. Oorrompel ons, oorweldig ons totdat ons hele menswees met U lieflikheid deurdronge is.
Skakels
Om na die inleiding te luister asook die Woord deur die Heilige Gees rakende hierdie reeds, kliek hier.
Die audio weergawe van hierdie boodskap is beskikbaar op ons telegram kanaal: https://t.me/+1hYU7h46Jj1hZDc8
Deel 1 – Wie is die Bruidegom (agtergrond)
Deel 2 – Wie is jou beminde?
Deel 3 – Hy is my Beminde
Deel 4 – Hy is Lig
Deel 5 – Hy is Heilig
Deel 6 – Hy is die Krygsman en Wreker
Deel 7 – Hy is die Oorwinnaar
Deel 8 – Hy is die Hoof
Deel 9 – Hy is die Afgesonderde
Deel 10 – Hy is Onveranderlik
Deel 11 – Hy is die Yweraar
Deel 12 – Hy is die Regter
Deel 13 – Hy is Liefde
Deel 14 – Hy is die Onpeilbare
Deel 15 – Hy is die Hoëpriester
Deel 16 – Hy is die Skepper
Deel 17 – Hy is die Lam van God
Deel 18 – Hy is die Seun van YHVH
Deel 19 – Hy is die Ewige
Deel 20 – Hy is die Waarheid
Deel 21 – Hy is Waardig
Deel 22 – Hy is die Bruidegom