Hy is die Bruidegom

Deur Yolandie Mostert (Augustus 2023)

 

Sy verhemelte is pure soetigheid (Hgl 5:16a) 

 

Ek wil vinnig weer konteks gee aan waar ons trek in Hooglied. Die meisie in Hooglied wat die bruid van Jesus verteenwoordig is besig om haar getuienis te gee. Sy vertel vir die dogters van Jerusalem wie haar beminde is.

Hierdie meisie verteenwoordig elkeen wat ‘n diep pad van intieme vriendskap met God betree het. Dis die mense wat nie net tevrede is met nominale Christenwees nie. Hulle dring deur vir dieper en nader in Hom. Die dogters van Jerusalem is dogters; hulle behoort ook aan die Vader en is gekoop deur die Bloed van die Lam. Maar hulle is tevrede daarmee om ‘n ‘goeie Christen’ te wees. Hulle lees hulle Bybels, bid, hoor dalk selfs die Here se stem, maar leef nog in vleeslikheid en nie deur die gees nie. Paulus noem hulle geestelike babas wat afhanklik is van melk. Daar is natuurlik niks fout daarmee om ‘n baba te wees nie, ons almal was babas aan die begin. Maar baba-wees is ‘n baie kort gedeelte van ons lewe. Ons moet opgroei tot geestelike volwassenheid, wat kom teen ‘n prys. Daardie prys is die opneem van ons eie kruis en om die vlees af te lê deur gelykvormig te raak aan die kruisdood van Jesus.

 

Die dogters het haar uitgevra na Hom en sy is besig om hulle te vertel van al sy verskillende fasette. Nou begin ons om die hoogtepunt van haar getuienis te bereik – vers 16. Haar beskrywing raak nou baie intiem en persoonlik. Daar is ‘n groot verskil wanneer ons iemand beskryf wat ons baie goed ken teenoor ‘n kennis of ‘n vreemdeling.

Ek wil ‘n bekende akteur as ‘n voorbeeld gebruik. Gestel iemand hou baie van ‘n sekere akteur en lees alles oor daardie akteur wat hulle in die hande kan kry. Hulle gaan jou van die akteur se geboorte, kinderlewe, geskiedenis en tot kos en kleresmake kan vertel. Dit gaan klink asof hulle daardie persoon baie goed ken. Maar dis nie ken nie. Dis weet van. Ken is eerstehands. Dis wanneer mens tyd met iemand spandeer en so die persoon leer ken. Ek hoef nie in ‘n boek te gaan lees of by iemand anders te hoor waarvan my man hou nie. Omdat ek elke dag saam met hom leef is dit vir my algemene kennis.

 

Daar is nog ‘n dieper vlak van ken en dit is om die hart van ‘n persoon te ken. Maak nie saak hoeveel artikels daar oor ‘n akteur geskryf word nie, diep sake van die hart word bewaar en nie gepubliseer nie. Dit werk dieselfde in ons verhouding met die Here.

Ons kan elke moontlike lering, profesie, openbaring en boodskap van die Here lees en ons gaan dink ons ken die Here. Ons weet dan alles wat daar te wete is. Hy openbaar Sy hart aan die wat tyd met Hom spandeer en in vriendskap met Hom wandel. Hierdie tipe kennis moet eerstehands oorgedra word. Waarom wil ons by ander, wat in so verhouding met Hom wandel, hoor hoe Hy is en wat Hy sê as dit vir elkeen van ons direk beskikbaar is?

 

Die meisie beskryf haar geliefde se verhemelte. Dit dui op diep intimiteit en vriendskap. In hierdie vergelyking sê sy: ‘hierdie Jesus wat elke faset is wat ek nou beskryf het, ken ek persoonlik’. Sy het nie net van Hom gehoor nie. Sy lees nie net van Hom nie. Sy proe Sy soetheid elke dag wanneer Sy tyd saam met Hom spandeer.

 

Ek wil vir ‘n oomblik praat oor tyd saam met Hom spandeer.

Ek het agtergekom dat mense ook ‘n wanindruk hiervan het. Alles wat ek nou gaan lys, is wonderlike dinge wat goed is vir ons geestelike groei. Moet asseblief nie dink dat ek dit minag of afmaak as iets verkeerds nie. Ek lys dit bloot omdat mense dit sien as tyd saam met Hom spandeer en dit is nie. Om elke oggend ‘n boodskap op jou foon te ontvang is nie tyd saam met Hom spandeer nie. Hy gebruik dit soms om met ons te praat, maar dis nie eerstehandse kommunikasie nie. Dit kan nie jou tyd met Hom vervang nie. Dieselfde met dagstukkies en liedjies luister. Om na profetiese woord en boodskappe soos hierdie te luister is nie tyd met Hom spandeer nie. Dis slegs bykomende lering en woord wat tot ons voordeel strek.

 

Stel jouself ‘n verloofde paartjie voor. Die tweetjies sit op ‘n kombersie op die gras om bietjie tyd saam te spandeer. Ewe skielik ruk die meisie ‘n boek uit en begin ‘n beskrywing wat iemand anders van haar verloofde geskryf het te lees. Hy kry skaars tyd om ‘n woord daaroor in te kry, of sy begin luister na ‘n stemboodskap van iemand wat gister iets opgeneem het wat hy gesê het. Sonder om hom eers daaroor uit te vra, begin sy daarna ‘n boodskap te lees oor hoe om kwaliteit saam met jou geliefde te spandeer. En so hou dit aan vir ‘n uur. Sy staan op en voel tevrede dat sy ‘n uur tyd saam met haar verloofde gespandeer het.

Dit klink vir ons sinneloos en amper belaglik. Ongelukkig is dit baie mense se realiteit van tyd met die Here spandeer. Daar is bittermin direkte tweerigting gesprekke. Dit bestaan uit boeke, leringe, profetiese woord en oggendboodskappe. Wanneer ons tyd en gedagtes gevul word deur ander stemme, raak dit al hoe moeiliker om die stem van ons Bruidegom direk te hoor.

 

Waar lees ons dat Jesus die Bruidegom is?

Jesus self vertel vir ons ‘n gelykenis in Mattheus 22. Hy vergelyk die koninkryk van die hemele met ‘n vader wat ‘n bruilof vir sy seun reël.

Die koninkryk van die hemele is soos ‘n koning wat ‘n bruilof vir sy seun berei het (Matt 22:2) 

Hierdie is een van die mooiste en duidelikste vergelykings wat my elke keer oorweldig wanneer ek dit lees. Hoe is dit dat El-Elyon, die Allerhoogste, ‘n bruid uit mense vir Sy wonderlike Seun soek? Daar is geen groter voorreg as dit nie.

 

Wanneer gaan hierdie bruilof plaasvind? Aan die einde van hierdie eeu. Ons lees eers daarvan in Openbaring 19. Dis ‘n vals doktriene wat leer dat die bruid voor die groot verdrukkig weggeraap gaan word om bruilof te vier. Die Bybel leer dit nêrens nie. Ook nie elkeen wat sê hy of sy is ‘n Christen gaan deel van die bruid wees nie. Die bruid is diegene wat hulle self gereed maak.

Laat ons bly wees en ons verheug en aan Hom die heerlikheid gee, want die bruilof van die Lam het gekom en sy vrou het haar gereed gemaak. (Open 19:7) 

Die bruid van Jesus reinig haarself van elke vorm van vleeslikheid, gebondenheid en duisternis. Sy was haar klere in die Bloed van die Lam (vergelyk Open 7:14).

For I am jealous for you with God’s kind of jealousy; since I promised to present you as a pure virgin in marriage to your one husband, the Messiah (2 Cor 11:2 CJB) 

 

Terwyl ek eendag voorberei het vir ‘n Hooglied konferensie, het die Vader met my begin praat. Sy woorde was min of meer die volgende:

“Hoe vermetel is die mens om te dink dat Ek My Seun gaan gee aan ‘n onheilige, vuil, vleeslike bruid. My Seun is heilig en slegs ‘n heilige bruid sal deug.”

sodat Hy die gemeente voor Hom kon stel, verheerlik, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks; maar dat dit heilig en sonder gebrek sou wees. (Ef 5:27) 

Daarom moet die man sy vader en sy moeder verlaat en sy vrou aankleef en hulle twee sal een vlees word. Hierdie verborgenheid is groot, maar ek sê dit met die oog op Christus en die gemeente. (Ef 5:31-32) 

Dis nie net die bruid wat heilig en sonder vlek of rimpel moet wees nie. Die gaste moet ook elkeen beklee wees met geregtigheid. Ons sien in die gelykenis oor die bruilof in Mattheus 22 dat die gas wat nie die regte klere aangehad het nie, uitgegooi was.

Die Bruidegom, Jesus Christus, die Seun van die Lewende God is heilig en Sy bruilof gaan heilig wees. Daar is geen plek vir onreinheid nie.

 

Wat moet ons reaksie op hierdie boodskap wees?

Heel eerste moet ons seker maak dat ons die soetheid van Sy verhemelte persoonlik ken. Introspeksie saam met die Heilige Gees is nodig hiervoor. Daar waar ons tyd spandeer met Hom dalk verkeerd verstaan het, moet ons veranderinge implementeer. Gebed en aanbidding moet ‘n sentrale plek in hierdie tyd inneem.

Waar ons verkeerd geglo het en dalk gedink het elke liewe persoon in die kerk is die bruid, gaan belydenis kos en ‘n verandering van denke tot die waarheid. Raak verlief op elke faset van ons Bruidegom Koning se karakter. Doen jou eie studies oor wie Hy is en bid vir intense liefde. Ons Bruidegom-bruid verhouding met die Seun van YHVH is gees en daar is geen ruimte vir vlees nie.

Pasop ook vir vrees en om in werke in te gaan. Die Heilige Gees is die Een wat die goeie werk in ons sal voltooi. Ons kan nie onsself heilig maak deur reëls en regulasies te onderhou nie. Slegs ‘n lewe van luister en doen, van die aflê van vleeslikheid en van intieme vriendskap, kan lei tot bruidwees.

Ons fokus moet nie wees om die perfekte bruid te wees nie, maar op ‘n daaglikse vriendskap vanuit ‘n plek van liefde en oorgawe. Dan sal heiligheid en die res volg. Hoe meer tyd ons met Jesus spandeer, hoe meer sal ons verander word in Sy beeld. ‘What we gaze upon, we become’.

 

‘n Bruid word nie uitgenooi na haar eie troue nie. Sy stuur die uitnodiging uit.

Laat die stem van die Heilige Gees en die stem van die bruid van Jesus Christus weergalm wat die gaste na die bruilof uitnooi.

En die Gees en die bruid sê: Kom! En laat hom wat hoor, sê: Kom! En laat hom wat dors het, kom; en laat hom wat wil, die water van die lewe neem, verniet. (Open 22:17) 

 

Skakels

Om na die inleiding te luister asook die Woord deur die Heilige Gees rakende hierdie reeds, kliek hier.

Die audio weergawe van hierdie boodskap is beskikbaar op ons telegram kanaal: https://t.me/+1hYU7h46Jj1hZDc8

Deel 1 – Wie is die Bruidegom (agtergrond)

Deel 2 – Wie is jou beminde?

Deel 3 – Hy is my Beminde

Deel 4 – Hy is Lig

Deel 5 – Hy is Heilig

Deel 6 – Hy is die Krygsman en Wreker

Deel 7 – Hy is die Oorwinnaar

Deel 8 – Hy is die Hoof

Deel 9 – Hy is die Afgesonderde

Deel 10 – Hy is Onveranderlik

Deel 11 – Hy is die Yweraar

Deel 12 – Hy is die Regter

Deel 13 – Hy is Liefde

Deel 14 – Hy is die Onpeilbare

Deel 15 – Hy is die Hoëpriester

Deel 16 – Hy is die Skepper

Deel 17 – Hy is die Lam van God

Deel 18 – Hy is die Seun van YHVH

Deel 19 – Hy is die Ewige

Deel 20 – Hy is die Waarheid

Deel 21 – Hy is Waardig

css.php