Hy antwoord

Audio en PDF weergawe beskikbaar op Telegram: https://t.me/+1hYU7h46Jj1hZDc8

 

Trek my agter u aan, laat ons gou maak! Die koning het my in sy binnekamers gebring. Ons wil juig en ons in u verheug, ons wil u liefde prys meer as wyn. Met reg het hulle u lief. (Hgl 1:4) 

 

Hierdie vers het soveel lae op lae van diepte en betekenis. In hierdie hoofstuk gaan ek net die basiese verduideliking van die simboliek deel. Die hoofstukke wat volg behels die dieper openbaring rondom dit waaroor hier gepraat word.

 

Dis altyd belangrik om ons konteks te hou. Die meisie wat eens op ‘n tyd ‘n dogter was, begeer dieper. Sy het in vers 1 daarvoor gevra. Om Hom regtig te ken het haar alles oorheersende begeerte geword. Op die verhoog speel hierdie gedeelte af op die bo-punt van die trappe. Ek verbeel my imposante soliede hout dubbeldeure. Die deur is oop en die Koning staan in die ingang. Sy vra om te mag ingaan.

 

Ek wil graag die vers opbreek in kleiner verteerbare gedeeltes en die simboliek en betekenis verduidelik:

Trek my agter u aan

Sy besef dat alhoewel sy eerste aan die woord was en die een was wat gevra het vir dieper en nader, Hy alleen haar kan trek. Ons kan nie uit ons eie die paleis binnegaan nie. Hy moet ons inlaat. Dit gaan immers oor Hom. Die King James vertaling stel dit so: ‘draw me’. Wanneer ons na die oorspronklike woord betekenis kyk sluit dit ook in om iets uit sy plek te verwyder. Ons vra dat Hy ons uit roetiene godsdiens sal verwyder, Sy Hand sal uitstrek en ons in die paleis in trek – agter Hom aan.

Agter Hom aan – nie voor Hom uit nie. Nie ons plan, program en leiding nie. Hy loop voor.

 

Laat ons gou maak

Die Engelse vertalings stel hierdie gedeelte effens anders: ‘We will run after you’. Nietemin, die onderliggende toon van die woord is ‘n haastigheid. Iets moet gou gebeur. Daar is nie meer baie tyd oor nie. Geestelike groei is ‘n proses wat tyd neem. Om ekstra olie in ons lamp bymekaar te kry, vat lank. Hoe gouer ons binne die paleis kan kom en hierdie reis van diep verhouding, vriendskap en intimiteit stap, hoe beter. Die tyd vir uitstel is verby. Die uur is laat.

 

Die koning het my in sy binnekamers gebring

Die binnekamers in hierdie vers verteenwoordig die paleis van intimiteit in ons beeldspraak. Binnekamers het ook ander lae betekenis.

Wanneer ons erns meen en vra vir dieper en nader, word daardie gebed dadelik beantwoord. Die Koning neem hierdie meisie aan die hand en trek haar saam met Hom na binne. Dis wanneer ons opwindende reis begin.

Tydens die skryf van die eerste boek het ek eendag vir die Here gevra wat Hy graag wil hê die boek genoem moet word. Ek het geweet ek wou graag die woord Hooglied in die titel hê, maar het ‘n gepaste onderskrif gekort. Die sin: “die opwindende reis van bruidwees” het dadelik by my opgekom. Ek dink nie daar kan ‘n meer gepaste titel wees om ons reis van geestelike grootword te verduidelik nie. Dis opwindend, want dis saam met Hom. Bínne Hom groei ons tot Sý volle grootte.

 

Binnekamers

Daar is verskillende dieptes en betekenisse rondom binnekamers. Hier volg twee verduidelikings. Daar kan natuurlik nog baie meer wees, maar ek glo in breë trekke sluit hierdie twee lae die meeste variasies in.

Eerstens is dit ‘n permanente leefwyse van diep vriendskap (intimiteit) met God. Die hele prentjie oor die paleis wat geskep word, verduidelik hierdie laag. Ons is nie meer tevrede met net gewone Christenwees nie, ons soek dieper en nader en vra daarvoor. Dis ‘n leefwyse wat vanaf hierdie punt verdiep.

Dan is dit ook ‘n tydperk of plek van afsondering en voorbereiding. Dink hier aan Dawid wat in die woestyn voorberei was om Israel se koning te kon wees. Soms vra ons vir dieper en ‘n tydperk van eensaamheid breek aan in antwoord op daardie gebed. In hierdie eensame plek, leer Hy ons na Sy hart.

 

Ons wil juig en ons in u verheug

Op hierdie punt is sy reeds binne die paleis (die binnekamers). Daar is ander wat reeds hierdie dieper pad saam met Hom stap. Hulle verheug hulle in elkeen wat ook dieper en nader wil kom. Dis die ‘ons’ in hierdie vers. Elkeen in Christus wat deel van die bruid uitmaak. Ons is onlosmaaklik deel van mekaar. Ons verheug ons in mekaar se groei, openbarings, gawes en oorwinnings.

Ons vertikale verhouding met die Here word direk beïnvloed deur ons horisontale verhoudings. Dit gaan nie net oor ons nie. Dit gaan oor mekaar. Elke individuele persoon wat deel van die bruid van Christus uitmaak, is bly oor mekaar. Daar is ondersteuning, nie jaloesie nie. Daar is liefde, nie wedywering nie.

Niemand het God ooit aanskou nie. As ons mekaar liefhet, bly God in ons en het sy liefde in ons volmaak geword. (1 Joh 4:12) 

Hoe kry ons dit reg? Die antwoord lê opgesluit in hierdie vers. Ons verheug ons in Hóm. Hý is ons bron van vreugde. Elkeen is vertikaal besig om hulle in Hom te verlustig en om dieper in Hom op te groei. Dit is wat ware eenheid is. Wanneer ons elkeen ín Hom is, sal ons outomaties in die eenheid wees.

 

Ons wil u liefde prys meer as wyn

Die beweegrede vir haar soeke na dieper is Sy liefde wat beter as enige iets in hierdie lewe is wat moontlik vir haar plesier kan gee. Hierdie gedeelte herhaal dieselfde beginsel, maar op ‘n korporatiewe manier – ons. Saam wil ons Sy lof besing. Saam wil ons uitroep dat Hy beter is as enige iets wat hierdie wêreld kan bied. Diep, ware eenheid – elkeen individueel gefokus om lof en eer te bring aan die Een aan wie dit toekom.

Wanneer ek hierdie vers lees, dink ek altyd aan die gelykenis van die pêrel. Wanneer ons hierdie liefdesverklaring maak, sê ons dat Jesus vir ons soos die kosbare pêrel is wat ons ontdek het. Niks kan beter wees as om daardie pêrel vir ewig te besit nie. Ons lê dan alles neer, ons laat ons ou lewe agter, ons offer alles op wat ons terughou, sodat ons daardie pêrel kan kry. Geen opoffering is te groot nie. Paulus beskryf hoe dit lyk wanneer hy twee dinge op ‘n weegskaal plaas. Op die een skaal lê om Christus as wins te verkry en op die ander skaal alles wat hy in sy lewe besit en bereik het. Dan kan hy dit nie eers vergelyk nie. Christus as wins weeg so swaar dat hy die res as drek beskou.

Ja waarlik, ek ag ook alles skade om die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus, my Here, ter wille van wie ek alles prysgegee het en as drek beskou, om Christus as wins te verkry (Fil 3:8) 

(Terloops, die gelykenis het twee vlakke van betekenis, Jesus as die pêrel wat ons vind, of ons as die pêrel waarvoor Hy met sy lewe betaal het.)

 

Met reg het hulle u lief

Omdat Hy so lieflik is, is dit net logies en reg dat die bruid Hom liefhet. Dis die basiese verduideliking van hierdie kort sin. Hy verdien ons liefde oor en oor.

Wanneer ons Hooglied bestudeer, is dit altyd goed om verskillende vertalings, sowel as woordeboeke wat die oorspronklike woord betekenisse verduidelik, te gebruik. Die Engelse vertaling uit die King James, voeg ‘n ekstra dimensie by:

‘the upright love thee’

Die woord upright spreek van geregtigheid, om ‘n reguit pad sonder allerhande draaie te stap en om regverdig te wees. Die wat ‘n reguit pad loop het Hom lief en het ook Sy geregtigheid lief. Sondaars en die in die wêreld kan hom nie liefhê nie, want Sy karakter van geregtigheid en regverdigheid word verafsku.

Kyk wat ‘n groot liefde die Vader aan ons bewys het, dat ons kinders van God genoem kan word! Om hierdie rede ken die wêreld ons nie, omdat dit Hom nie geken het nie. (1 Joh 3:1) 

 

Hierdie is ‘n uittreksel uit die boek: Diep skatte in Hooglied deur Yolandie Mostert.

css.php