Hooglied in Upington, die naweek van die 24e en 25e September. Dieselfde naweek as die Fees van Basuingeklank. Dit kon nie meer gepas gewees het nie.
Voor elke Hoogliednaweek raak ek stil om te hoor wat op die Vader se hart is vir daardie spesifieke naweek. Ek deel graag:
Omdat hierdie naweek op ‘n baie strategiese datum plaasgevind het, was die boodskap vir die oorgang van die ou na die nuwe seisoen. Die beeld wat die Heilige Gees vir my gegee het was van ‘n deur wat moet oopmaak sodat ons die nuwe seisoen kan inbeweeg. Voor die deur was ‘n asdrom, baie soos die dromme by die lughawe waar klein dinge wat nie in handbagasie mag wees, ingegooi moet word. In die fisiese is dit dinge soos ‘n naelvyl of ‘n knipmes, maar geestelik het die Here spesifiek gepraat van ons heilige koeie.
Ons het oor die jare soveel van hierdie heilige koeie bymekaar gemaak. Reëls en regulasies, moets en moenies. Doen-dinge wat ons net ‘n kerfie heiliger maak as die volgende persoon. Dinge wat die geestelike hoogmoed in ons kunsmis gee. Hierdie koeie lyk vir ons baie heilig, daarom die term heilige koeie. Opsigself is dit ook nie verkeerde dinge nie. Maar die oomblik wanneer ons dink dat dit ons meer regverdig en goed maak as die volgende persoon, het ons moeilikheid. Ons enigste roem mag wees in die Bloed van die Lam. Buiten die Bloed, het ons nie ‘n voet om op te staan nie.
Die naweek in Upington was so geseënd. Daar is ‘n hartlikheid aan Kalahari-mense wat jou hart warm laat klop.
Iets wat vir my uitgestaan het, was hoe daardie omgewing kon assosieer met al die vrugte in Hooglied. Elke vrug wat ons bespreek het, was in die omgewing. Die pragtige geloofshuis Eden het oor die wingerde uitgekyk. Hoe gepas is die naam nie – terwyl ons aan ons hartstuin werk, was ons bymekaar in ‘n plek met die naam Eden. Dit was baie spesiaal.
Ons is baie dankbaar teenoor Wouter en Elaine Willers vir die venue en die organisasie. Julle hartlikheid het ons so welkom laat voel. Baie dankie ook aan Rozette Scheepers vir haar hulp en ondersteuning. Julle is ons hartsmense.