Audio en PDF weergawe beskikbaar op Telegram: https://t.me/+1hYU7h46Jj1hZDc8
Hierdie twee Bybelboeke, Openbaring en Hooglied, is baie nou aan mekaar verweef. Beide bevat ryk simboliek en het Heilige Gees openbaringskennis nodig om te kan verstaan.
Die Bruidegom
Ons is oor baie jare in ‘n groot mate geindoktrineer om die Bybelboek Openbaring as iets verskriklik te beskou. Wanneer daar lesings aangebied word, is dit meestal om die totale verwoesting as ‘n meganisme van vrees te gebruik om mense in lyn te kry. Dit kan dalk as volg klink: “om al hierdie dinge te vermy, moet jy so en so…”.
Dis so jammer, want Openbaring is eintlik die hoogtepunt van die openbaring van wie Jesus Christus in Sy volheid is. Die boek begin immers met: “Die openbaring van Jesus Christus”. Hoor hoe mooi sê die Amplified vertaling dit:
This is the revelation of Jesus Christ [His unveiling of the divine mysteries]
In hierdie boek word Jesus nie profeties uitgebeeld soos deur die Ou Testamentiese profete nie. Ook nie net as die Verlosser van die wêreld soos in die Evangelies nie. Nee, in Openbaring beleef ons Hom in Sy volle opstandingskrag, heerlikheid en heiligheid. Sy mag en heerskappy word getoon. En ook Sy verdiende outoriteit om die Een te wees wat die oordele van die Vader in werking bring. Dan sien ons ook Sy ongelooflike genade op ‘n mensdom wat steeds weier om tot die waarheid te kom. Elke teken, gebeurtenis en oordeel, laat nog ‘n geleentheid toe vir mense om hulle te bekeer. Hy kon soos met Sodom en Gomorra alles in een oggend verwoes het, maar Hy gee keer op keer genade.
In Openbaring beleef ons ook Sy karakter, die essensie van wie Hy is. Hy is tegelyketyd heilig, geregtigheid, liefde, genade, oordeel, wreker, sagmoedig, koning en regter. Vir ‘n mens lyk hierdie eienskappe teenoorstaande, jy kan of die een wees of die ander, maar die teenpole gelyktydig nie. Jesus Christus is die enigste Een wat perfek is in elkeen van hierdie eienskappe. Hy offer nie die een op vir ander nie. Hy is die Een wat die Vader se parskuip trap in wraak en ywer, terwyl Hy nie Sy eienskap van liefde verwaarloos nie.
Die beste manier om dit te verduidelik is soos ‘n diamant met verskillende fasette, geslyp in dieselfde grootte. Elke faset is volmaak wanneer dit apart beskou word. Maar wanneer al hierdie fasette as ‘n geheel gesien word, is dit in perfekte harmonie. Nie een faset oordonder ‘n ander nie. Hulle werk saam om die mooiste beeld te vorm. Soms skyn die lig op een kant van die diamant en dit lyk asof daardie faset helderder is.
Dan word die diamant gedraai en ‘n ander faset word verlig. Spesifieke omstandighede en geleenthede skyn die lig op ‘n gedeelte van wie Jesus is. Soms beleef ons Sy teerheid en liefde intens, byvoorbeeld by die afsterwe van ‘n geliefde. Ander kere is Hy streng met ons en sidder ons voor Sy ywer. Daar is ook geleenthede waar Hy in geregtigheid oordeel wanneer ‘n mens of nasie se beker van ongeregtigheid vol geraak het. Ongeag watter faset belig word, is Hy nooit ontrou aan elke ander faset van Sy wese nie.
Wanneer ons hierdie begrip van Hom verstaan, vul ons net met nog meer verwondering vir wie Hy is. Verwondering lei tot aanbidding. Hoe meer ons Hom aanbid, hoe meer vervul Hy ons met Sy heerlikheid. Dit bewerk ‘n vreugde en vrede en ons bewonder Hom nog meer. En so word die siklus herhaal totdat ons geheel en al deur Sy wese en wonderlikheid ingeneem word. Daar is geen soeter smaak in hierdie lewe as dit nie.
Johannes, die geliefde
Die omstandighede in die Bybelboek Openbaring is van so aard, dat dit van al die boeke in die Bybel, die meeste fasette van Sy karakter belig. Tot Johannes was oorweldig deur die faset van Sy heerlikheid en majesteit. Dis ‘n faset wat hierdie apostel nie in die tyd saam met Jesus op aarde beleef het nie, alhoewel Hy ook op die berg van verheerliking was.
Ek dink my altyd in hoe dit vir Johannes moes gewees het. Hy was so intiem met Jesus bevriend, dat hy op sy bors gelê het die aand voordat Jesus doodgemaak was. Die laaste keer wat Hy Jesus lewendig gesien het, was toe Jesus aan die kruis, in geweldige lyding, aan sy moeder gedink het en haar in Johannes se sorg geplaas het. Hy het Jesus gesien nadat Hy opgewek was en het Hom ook gesien opvaar. Maar niks van hierdie belewenisse kon Johannes voorberei vir Jesus in Sy almag nie. Ons lees dat hy soos ‘n dooie aan Jesus se voete geval het (Open 1:17).
Hy is die prys
Ons dink altyd so ydelik aan ons vereniging met Jesus. Party mense droom om vir hom vrae te kan vra oor die onverstaanbare dinge in hulle lewe. Ander wil Hom graag omhels. En so is daar baie begeertes in die mens. Ek glo elkeen van hierdie en nog meer as wat ons kan dink of droom gaan vervul word. Maar ek wonder hoe ons sal reageer wanneer ons Hom in Sy heerlikheid en almag sien. Sal ons op dieselfde manier as Johannes oorweldig word deur wie Hy is? Sal ons ooit genoeg van Hom kan kry, genoeg van Sy teenwoordheid en heerlikheid?
Mag ons reeds op aarde so vervul word met Jesus Christus Homself, dat wanneer ons krone as belonings ontvang, ons nie anders sal kan of wil nie, as om dit voor Hom neer te gooi en Hom te aanbid nie. Hy is alle aanbidding werd. Elke faset van Hom is wonderlik en verdien ons lof en aanbidding. Hy is ons prys en grootste beloning.
…om Christus as wins te verkry (Fil 3:8b)
Hoe meer ons geestelik opgroei tot ‘n volwassene, hoe meer kry ons Sy volheid lief. ‘n Jong baba in Christus soek net die fasette van liefde. Dit klink ontstellend dat die Een wat sopas hulle uit die koninkryk van duisternis gered het, harde oordele kan vel.
Maar hoe meer ons groei en na die mate wat ons toelaat dat die Heilige Gees ons leer, raak ons lief vir die fasette wat vir ‘n mens se oog en oor verkeerd voorkom. Ons staan dan in verwondering voor Hom.
Aanstoot
Jesus waarsku dat ons nie aan Hom moet aanstoot neem nie. Ons sal sommer dadelik sê: “nooit Here, nie ek nie, ek is dan so lief vir U”. Die probleem is dat baie mense lief is vir ‘n prentjie wat hulle het van wie Jesus is en hoe Hy behoort op te tree. Baie keer is dit hoe ons sou optree en verwag dat Jesus moet straf waar ons sou straf en genadig moet wees waar ons genadig sou wees. Indien Hy nie dit doen wat by ons raamwerk inpas nie, neem mense aanstoot. Ons hoor dit in woorde soos: “maar hoe kan ‘n God van liefde dit toelaat?” of “die Here sal jou straf, wag maar net”. Ek het selfs al gehoor hoe Christene dit wat hulle glo met heidense gelowe meng byvoorbeed karma. Dit kom alles terug na hoe ons die verskillende fasette van die karakter van die Here verstaan.
En salig is elkeen wat aan My nie aanstoot neem nie. (Matt 11:6)
Vind Hóm in die woestyn
Later in hoofstuk vyf van Hooglied, te midde van ‘n woestynseisoen, getuig sy kragtig van wie Jesus Christus vir haar persoonlik is. In die mooiste simboliek lig sy baie van Sy fasette in bewondering uit. Haar getuienis is so kragtig dat diegene vir wie sy getuig Hom ook wil soek.
Na die mate wat ons onsself oopstel vir die Heilige Gees om ons deur die verskillende seisoene en lesse te lei, sal ons ‘n dieper openbaring van Jesus ontvang. Kom ons skop nie teen die prikkels nie, kom ons rebelleer nie teen woestyntye nie en kom ons kerm nie in ondankbaarheid oor uithouvermoë-lesse nie. Laat dit die gebed van ons hart en mond wees om Jesus Christus te leer ken. Ons sal nooit aan hierdie kant van die ewigheid die volheid van elke faset kan beleef nie. Maar dit is moontlik om ‘n stukkie van die verskillende fasette te kan sien en liefkry. Mag ons nie fokus op net een faset nie, maar meer en meer fasette ontdek deur die openbaring van die Gees.
Maar God het dit aan ons deur sy Gees geopenbaar, want die Gees ondersoek alle dinge, ook die dieptes van God. (1 Kor 2:10)
Die bruid
Dis nie verbasend dat die twee boeke in die Bybel wat die meeste simboliese taal bevat aan mekaar gekoppel is nie.
Net soos die boek Openbaring ‘n openbaring van die Bruidegom is, so is die boek Hooglied ‘n openbaring van die bruid.
Die bruid se pad van diep geestelike honger tot totale bevrediging word beskryf. Haar genesingspad, identiteitsverandering en uitkyk op die lewe kan tussen die lyne van die storie gelees word. Ons kry ‘n bloudruk van hoe geestelike volwassenheid behoort te lyk. Wildernis-seisoene en seisoene van huppel op die berge word verduidelik. Niks op ons geestelike reis behoort onverwags te wees nie, dis reeds eeue gelede vasgevang deur Salomo se pen. Die Bruidegom se hart vir Sy bruid kan ook in die dialoog gesien word.
Gekoppel
Die laaste woorde in beide boeke verbind ook hierdie twee Bybelboeke met mekaar. Openbaring eindig met:
He who testifies to these things says, “Surely I am coming quickly.” Amen. Even so, come, Lord Jesus! (Open 22:20)
En Hooglied eindig met:
Hurry, my beloved and come quickly (Hgl 8:14 Amp)
Hierdie is ‘n uittreksel uit die boek: Diep skatte in Hooglied deur Yolandie Mostert.