Hersiening tot dusver

Deur Yolandie Mostert

 

Hierdie skrywe gaan ‘n kort opsomming wees om net saam te vat dit wat ons sover bestudeer en ontdek het.

Voordat ons dan verder gaan met ons studie van Daniël en die ander profete, gaan ons ook na van Jesus se gelykenisse oor die eindtyd kyk.

 

Ons werk sover

Toe ons die studie begin het, het ek ons pad tot ontdekking verduidelik en waarom ons glad nie meer glo in ‘n wegraping voor die verdrukkingstydperk nie.

Ek het my volgorde van studie gedeel: eerste Mattheus 24 as wegtrekpunt. Jesus verwys ons in Mattheus 24 na Daniël toe. Daarom was dit my volgende studie. Ek wou myself ook vereenselwig met wat die profete oor die Dag van die Here en die eindtyd geskryf het. Eers dan, het ek gevoel, sal ek beter toegerus wees om Openbaring te kan bestudeer. Hierdie uiteensetting kan jy onder Deel 1 vind.

 

In Deel 2 het ek verduidelik hoekom dit belangrik is dat ons tot die kennis van die waarheid moet kom en waarom ons nie maar net kan wag om te kyk wat gaan gebeur nie. Alles gaan oor ons geestelike en fisiese voorbereiding. Ek het ook verduidelik dat soveel mense hulle geloof kan verloor wanneer hulle ‘n wegraping verwag het, maar sien die openbaring van die antichris.

 

In die derde deel van ons studie het ons na ons uitkyk op verdrukking en swaarkry gekyk. Wanneer daar drukking is, is daar groei en groter salwing. Vrees is ons grootste vyand en daarom wil ons so graag ontvlug. Hierdie verlammende vrees veroorsaak dat ons nie kan insien dat hierdie geweldige moeilike tydperk op aarde die kerk se beste uur gaan wees.

 

Nadat ons hierdie besprekings as ‘n fondasie gelê het, kon ons begin het Mattheus 24. In hierdie hoofstuk vertel Jesus vir Sy dissipels presies stap-vir-stap wat gaan gebeur. Deel 4 en Deel 5 van die studiereeks handel hieroor. In deel 4 het ons deur gewerk tot vers 19, net voordat die groot verdrukking begin. Deel 5 handel oor die laaste drie en ‘n halwe jaar, die tydperk wat Jesus die groot verdrukking noem.

 

Om konteks te kry en ons tydlyn te begin bou, het ons in Deel 6, die voorspellings van Mattheus 24 bo-oor die voorspellings in Openbaring 6 gelê. Die ooreenkomste was verstommend.

 

In Deel 7 het ons begin om na die Bybelboek Daniël te kyk. Ek het begin met ‘n uiteensetting en opsomming van die verskillende drome en visioene. Die doel hiervan was om die boek minder intimiderend te laat voorkom. Daar is eintlik nie so baie verskillende drome en visioene om deur te werk nie. Dis verteerbaar en moontlik.

 

Deel 8, die vorige skrywe, was die langste en mees komplekste, omdat geskiedenis en datums ‘n groot rol gespreel het om die profesie van die 70 sewetalle te kon verstaan.

 

Wat het ons ontdek?

Daar gaan ‘n tydperk wees van geboortepyne. Jesus noem dit die begin van die smarte.

Die Bybel gee nie vir ons ‘n presiese punt wanneer ons oorgaan vanaf geboortepyne tot in die verdrukking nie. Daar word algemeen aangeneem dat dit aan die begin van die laaste sewe jaar periode is, maar die Skrif is nie so spesifiek daaroor nie.

Die laaste week van hierdie eeu of era word genoem Daniël se sewentigste jaarweek, of die laaste sewetal. Dis ‘n tydperk van 7 jaar en begin met die sluiting van ‘n sterk verbond tussen die antichris en baie. Die Skrif is nie duidelik met wie almal die verbond gesluit word nie. Wat ons wel weet is dat dit klousules gaan insluit wat die offerstelsel weer aktief gaan maak.

Die verbondsluiting is die eerste pertinente inskrywing wat ons op die tydlyn kan maak.

Jesus verwys ons na Daniël toe en gee ‘n volgende pertinente inskrywing: wanneer die groot verdrukking begin. Baie mense verwys na die volle sewe jaar as die groot verdrukking. Dis nie hoe dit Skrif dit definieer nie. Volgens Daniël word die verbond in die middel van die sewe jaar verbreek en ‘n gruwel van verwoesting word in die heiligdom opgerig. Die groot verdrukking begin dus in die middel van die laaste week.

Ons weet nie hoe lank die groot verdrukking gaan duur nie, aangesien Jesus sê dat dit ‘geamputeer’ gaan word – dit word kortgeknip ter will van die uitverkorenes wat op aarde is.

Direk na die groot verdrukking, breek die dag van die Here aan. Ander woorde wat die Bybel hiervoor gebruik is die Dag van God se wraak. Daar is spesifieke natuurverskynsels wat dit gaan kenmerk. Wanneer die uitverkorenes daardie tekens sien, kan hulle opkyk en weet dat hulle verlossing nou naby is. Die versameling van die uitverkorenes (wegraping) vind tussen die groot verdrukking en die dag van wraak plaas.

Die woord wegraping kom nie in die Bybel voor nie. Die Bybel verwys onder andere na hierdie gebeurtenis as die versameling van die uitverkorenes.

 

Vorentoe

‘n Baie belangrike konsep om onder die knie te kry is die Dag van die Here. Dis jammer dat daar so min aandag hieraan gegee word in studies. Ek glo as ons hierdie tydperk se gebeure kan verstaan, ons die Skrifte beter in konteks gaan kan plaas.

Sodra ons die Dag van die Here bestudeer het, gaan ons begin kyk na wat die apostels gesê het oor die wederkoms. Dan gaan dinge nog beter in plek begin val.

Wanneer ons van die geforseerde legkaart van ‘pre-trip’-rapture ontslae kan raak, en ons brein skoon kan kry van vooraf opgestelde idees, begin die Bybel soveel meer sin te maak. Ons kan in eenvoud die Skrifte lees vir wat dit sê.

css.php